Hebreërs 10:19-25
Klip-klop-klip-klop word die doodse stilte versteur, as sy agter by die kerk ingestap kom. Ek rek my nek om te kan sien wie die heiligheid so verbreek. Sy het ‘n blinknuwe paar hoëhakskoene aan wat duidelik ‘n nommer te groot is en ‘n hoed met plastiekblommetjies op. “Kyk voor jou!” sis Ma as sy my in die ribbes pomp. Wanneer die tannie gaan sit, kraak die kerkbank, en ‘n paar koppe word gesteurd in haar rigting gedraai. Dan stilte, heilige, voelbare, ongemaklike stilte. ‘n Ou omie kug, en die klank weergalm deur die kerkgebou…..
Uiteindelik, perfek gesinkroniseerd, presies op die sekonde 9-uur gaan die konsistoriedeure oop. Die kerkklok lui tweemaal, en soos een man staan die gemeente op terwyl die ouderlinge en diakens stywenek en met stroewe gesigte ingestap kom en in hulle spesiale banke stelling inneem. “Here Jesus, ons is saam”, sing almal outomaties as Oom Fred Geyser die orrel met volle oorgawe laat bewe. Ek verwonder my aan al die omies wat presies eenders aangetrek is - swart manelpakke en spierwit dasse, nes pikkewyne!
Dan volg die rituele van wet en geloofsbelydenis en opstaan en sit en opstaan en sit, en ek weet nooit wanneer ek my oë moet toehou en wanneer ek mag kyk nie. Soms loer ek maar wat die grootmense doen, en dan maak ek ook maar so. Van die preek verstaan ek g’n kop of stert nie, want die dominee praat in ‘n verhewe taal met so ‘n heilige klank, selfs aan doodgewone woorde wat hy sê. En wanneer hy 'n woord soos “Mesopotaaahmië” sê, en dit so mooi uitrek, dan klink dit so heilig....... Die diens is bitter lank en die kerkbank pynlik hard en al die mense so verskriklik nors. Ek wens dit was al verby!
Dankie tóg dat daardie manier van kerkhou lankal finaal verby is!
Oor ‘n aantal jare het daar ‘n wonderlike vernuwing in die kerk gekom, en die stywe, ongenaakbare atmosfeer het totaal verdwyn. Dit is vir my amper simbolies van wat daar in die heel eerste kerk plaasgevind het. Die ou Jode het slegs in die tempel in Jerusalem aanbid. Net ‘n paar uitgesoekte mense is daar toegelaat. As jy nie ‘n Jood was nie, dan was jy beslis nie welkom nie. Vrouens het absoluut géén status daar gehad nie, en nog minder kinders, en hulle was ook nie in die tempel toegelaat nie. Hulle moes tevrede wees om maar tot in een van die voorhowe te vorder.
En toe word die kerk van Christus “gebore”. Skielik het almal vrye toegang tot die heiligdom, maak nie saak wie of wat jy is nie. En boonop hoef jy nou nie meer na Jerusalem se tempel toe te gaan nie, maar enige plek waar mense bymekaar kan kom is goed genoeg, selfs onder 'n boom!
Die dag toe Jesus aan die kruis gesterf het en die voorhangsel in die tempel geskeur het, is die gordyn wat God van die mense geskei het simbolies weggeskeur. Skaars dertig jaar later is die ganse tempel vernietig en gelykgemaak met die aarde, om nóóit weer herbou te word in hierdie bedeling nie.
Die vraag is vanoggend, wat kerk vandag vir ons beteken? In die eerste plek is ek en jy, die gelowiges die kerk en baie beslis nie die grênd gebou wat ons graag kerk noem nie. Dikwels wil mense nog probeer om daardie gebou heilig te verklaar, maar die feit is dat dit maar net ‘n gebou is. Wat wél van uiterste belang is, is dat die lidmate van die gemeente op ‘n gereelde basis bymekaar moet kom. “Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie”, pleit die Hebreërskrywer. As ‘n gemeente vandag baie gelukkig is, sal daar dalk 40% van die lidmate op ‘n Sondag by die erediens uitkom. 20% gaan waarskynlik nooit, óóit in ‘n erediens kom nie. Was jy Sondag deel van die samekoms van jou gemeente?
Waarom is dit so belangrik dat jy by die gereelde samekomste van die gemeente betrokke raak? Waarom is dit dat die skrywer vra dat gemeentelede mekaar moet aanmoedig om te kom deelneem? Is dit vandag nog relevant in ons moderne samelewing? Kan jy nie maar net ‘n kerkdiens op TV kyk nie?
In die eerste plek is dit die geleentheid waar jou geloof versterk word op verskillende maniere. Die doop en Nagmaal is byvoorbeeld tasbare dinge wat jou herinner aan Jesus se verlossingswerk. Die Woordverkondiging is ‘n uiters belangrike deel van die byeenkoms, want hier hoor jy wat God se wil is vir jou lewe. Dikwels moet daar hard met jou gepraat word, en ander kere vind jy troos en krag om weer die lewe in die oë te kan kyk.
Die samekomste het egter ook ‘n ander, baie belangrike funksie: dit bring gelowiges bymekaar - mense wat hulle laste met mekaar kan deel. Deur mekaar se laste te help dra, genesende woorde te sê, mekaar se blydskap en vreugde te deel, trane af te droog en hande te vat, word die Koninkryk van God opgebou. Elke gemeente moet só kerk wees dat mense kan hande vat, medelye kan hê en mekaar se swaarkry kan deel. Die stroewe atmosfeer voor die erediens soos van weleer, het mens laat dink aan ’n dooie kerk waar die kerkgebou belangriker is as mense. Dankie tóg dat die geleentheid vandag geskep word vir mense om betrokke te raak by mekaar, en so waarlik lewende kerk kan wees!
Gebed:
Here, baie dankie dat ek vandag deel kan wees van ‘n gemeente wat lewe, en waar mense vir mekaar omgee!