1 Samuel 16:1-11
“Isai, is dit ál jou seuns hierdie?”
Israel was besig om af te stuur op ‘n ramp, want die land se heel eerste koning, Saul, het nie volgens God se voorskrifte regeer nie. As sy seun hom sou opvolg, sou hy dieselfde paadjie as sy pa loop, dalk selfs nog erger! Samuel was ‘n baie bekommerde man, want hy het gesien waarheen dit op pad was. Hy het probeer regmaak waar Saul verbrou het, maar dit was ‘n onbegonne taak!
Een ding waarmee Samuel nie rekening gehou het nie, was dat die Here al lankal besig was om ‘n nuwe koning voor te berei en op te lei. Nie in die paleis en raadsale nie, maar in die veld – dáár was die grondslag gelê vir die volgende koning van Israel. Hierdie aspirant-koning moes eers leer om die Here lief te hê. Hy moes Hom leer ken en vertrou in die klein dingetjies. Maar hy moes ook leer om taai te wees, en nie bang te wees vir enigiets nie. Boonop moes hy leer om ‘n vegter te wees, want die volk van God het baie swaar gekry tussen al die heidense volke wat hulle so afgeknou het, veral die Filistyne.
En dan een mooi dag kry Samuel ‘n opdrag van die Here wat hom yskoud laat word. “Samuel, maak ‘n horing vol olie en gaan na Betlehem toe. Jy moet daar vir My ‘n nuwe koning gaan salf.”
Die arme Samuel se knieë het onder hom geknak, want as Saul te hore moes kom dat hy iemand anders koning sou gaan maak, sou Saul hom beslis doodmaak! Die Here stel hom egter gerus, dat hy na Betlehem moes gaan onder die dekmantel dat hy ‘n offer sou gaan bring, en dan vir Isai moes uitnooi om saam met hom te offer. Die nuwe koning sou Isai se seun wees.
Toe Samuel by Isai opdaag, vra hy vir Isai om sy seuns te laat kom vir die offer.
Met groot genoegdoening kyk Samuel na die lenige jong man wat voor hom kom staan. “Eliab” stel hy homself voor aan die profeet. “Ideaal!” dink Samuel met ‘n glimlag, “Hierdie man het beslis die karakter en houding en gespierde lyf wat ‘n koning moet hê.” Saggies bid Samuel: “Here, moet ek hom sommer nou salf?”
Maar dan kom die Here se skokkende antwoord: “Nee Samuel, hierdie is nie die nuwe koning nie! Moenie kyk na sy voorkoms nie, of sy lengte nie - hy is nie die een wat Ek gekies het nie.”
Natúúrlik is Samuel teleurgesteld, maar die volgende seun, Abinadab beïndruk hom eweneens. Maar weereens moet hy hoor dat hierdie ook nie die uitverkorene is nie. Met ‘n hart wat in sy leersandale sink, sien Samuel uiteindelik die sewende seun voor hom staan. “Here, sê asseblieftog vir my dat dit hierdie een is!” bid hy. Maar steeds kom die Here se antwoord dat dit nie hy is nie. “Nou verstaan ek gladnie Here,” sug Samuel, “Wie is dit dan?”
“Isai, is dit ál jou seuns hierdie?”
“Nee, daar is nog die ou jongetjie, klein Dawid - hy pas skape op.”
“Here, dit kan tog nie die skaapwagtertjie wees nie? Ek kan tog sékerlik nie ‘n skaapwagter as koning salf nie?” Maar dan wéét Samuel: Die Here werk baie anders as mense. “Laat haal daardie seun - ons eet nie vanaand voordat hy hier is nie!”
Die slaaf moes ver hardloop om vir Dawid op te spoor by die skape: “Hulle soek jou dringend by die huis! Die groot profeet, Samuel is daar.”
Vlug soos ‘n ribbok draf Dawid opgewonde oor die rante na Betlehem. By die huis wag die ou profeet op hom, en wanneer hierdie gespierde jong kêrel voor Samuel kom staan, hoor hy duidelik God se stem: “Samuel, staan op en salf hom, want dit is hy.”
Voor die verbaasde oë van Dawid se pa en broers, haal die gryse ou Samuel die horing uit en giet die olie oor Dawid se kop uit. Dis so stil in die vertrek dat jy ‘n speld kan hoor val. “Dawid, seun van Isai, in die Naam van die Here, God van Abraham en Isak en Jakob, salf ek jou tot koning oor Israel.”
Dawid sou egter nie die koningskap oorneem voordat Saul sterf nie.
Dawid se lewe het onherroeplik verander. Nee, hy was nie skielik verhef nie - hy was steeds die jongste seun en hy moes stééds skape oppas terwyl sy ouer broers kon gaan oorlog maak en allerhande ander opwindende dinge doen. Maar een ding het met Dawid gebeur wat hulle nie beskore was nie - die Gees van die Here het van daardie dag af kragtig in hom gewerk. God was besig om hom nou in alle erns voor te berei vir sy koningskap!
Op ‘n dag word hy ontbied van sy skape af: “Die koning het jou nodig! Bring jou lier saam - jy gaan vir koning Saul musiek maak.”
Dawid se naam het hom vooruit geloop, want in die paleis het dit gegons oor hierdie aantreklike jong man, nog lank voor sy aankoms: “Hulle sê dat hy ‘n goeie vegter is – was wél nog nooit in die oorlog betrokke nie, maar hy het glo ‘n leeu met sy kaal hande doodgemaak! En boonop is die kêreltjie glo baie wél ter tale - skryf selfs liedere en gedigte!”
So sien ons weereens God se groot genade. Na Israel se afvalligheid en hulle koning wat ver van God af lewe, voorsien Hy uit genade ‘n magtige koning wat hulle so optel uit hulle ellende en hulle ‘n groot volk maak!
Gebed:
Here, dankie dat U so getrou en genadig is en dat U alles voorsien wat nodig is vir my om U taak uit te voer!