Kolossense 2:20-3:4
Ek stap die kerkgebou binne. Dis stil. Tjoepstil! Iewers kug iemand saggies, gesmoord in haar sakdoek. Daar hang ‘n swaar, dik atmosfeer oor die “heilige” gebou. Ek voel bitter ongemaklik. My das wurg my en die pak klere, die einste een waarin ek aangeneem en voorgestel is, sit ongemaklik om my lyf. Ek gaan sit versigtig op die harde kerkbank. Dit kraak weergalmend! Iemand draai vererg om en gluur my aan. Ek weet nie waarheen om te kyk nie. Agter op die galery speel die orrel swaar, onverstaanbare doodsmusiek. Die atmosfeer is somber.
’n Tante met ’n reuse blommerangskikking op haar kop kom sit hier reg voor my. Ek rek my nek om te sien of ek darem nog die preekstoel kan sien. Skielik hou die orrelis op speel. Die konsistorie se deure swaai oop en die hele gemeente staan soos een man op. Die kerkraad kom ingestap met die dominee vooraan in sy waardige, pikswart fluweeltoga en die res almal geklee in swart pakke en wit dasse. Ons sing: “Here Jesus, ons is saam, hier op U bevel vergader.”
Onthou jy nog? Dankie tog: daardie dae is verby! Maar dit het nie só maklik verbygegaan nie. Ek onthou nog die aand toe ons 'n hele kerkraadsvergadering deurgeworstel het, slegs oor die kleredrag van die kerkraad. Dit was ‘n vuurwarm debat en die vonke het behóórlik gespat. Die vergadering was in Stanger en die sweet het ons behóórlik afgetap terwyl ons, natuurlik geklee in ons swart pakke en wit dasse in die snikhete, bedompige kerkgebou ons vurige menings gelug het oor wat betaamlik is. Gedurende die ganse kerkraadsvergadering, wat tot ná middernag geduur het, was daar bitter min gepraat oor koninkrykswerk, want hierdie enkele ding oor tradisie het almal se gedagtes oorheers!
Uiteindelik is daar onder luide protes van sommige ou vuurvreters besluit dat tradisie moes plek maak vir ‘n meer sinvolle kleredrag. Maar die arme predikant word gestraf! Hy moes nog steeds sy swart pak, wit das en toga dra en dit Sondag-na-Sondag uitsweet op die snikhete kansel!
Vandag kan ons maar net lag oor daardie simpele tradisies soos die hoed en alles wat daarmee gepaard gegaan het!
Dis presies sulke dinge waaroor Paulus in sy brief met die gemeente in Kolosse gesels. Hulle was vasgevang in ‘n web van tradisies, soos oor wat hulle mag eet en wat nie. Dit het ‘n hele wettiese ding geraak, want sonder om daardie wette na te kom, was jy nie deel van die gemeente nie. Nog erger, dan het jy nie deel gehad aan die saligheid nie! Paulus stel dit baie duidelik dat hierdie ‘n selfgemaakte godsdiens is wat absoluut geen ewigheidswaarde het nie. Ek dink dat as Paulus in ons tyd sou lewe, sou hy presies dieselfde sê oor daardie klere-debakel van die kerkraad!
Paulus stel dit baie duidelik vir die Kolossense, maar terselfdertyd óók vir ons vandag: “As julle saam met Christus die kosmiese elemente afgesterf het, waarom is julle, asof julle nog as deel van die wêreld leef, steeds gebonde aan voorskrifte soos: “Moenie daaraan vat of proe of raak nie”?” En dan skryf hy ‘n bietjie later, in hoofstuk 3: “As julle dan saam met Christus opgewek is, streef na dit wat daarbo is.”
Jy sal opmerk dat hier twee elemente betrokke is. Eers moet jy ontslae raak van die ou nuttelose tradisies, maar in die plek daarvan moet daar iets kom wat verhewe is, want jy het nie alleen saam met Jesus gesterwe nie, maar jy LEWE nou saam met Hom! Byvoorbeeld: waaroor moet die gesprek ‘n kerkraadsvergadering gaan? As die gesprek nie minstens oorheers word deur sake van geestelike waarde, soos sending, evangelisasie, barmhartigheid en die geestelike welstand van die gemeente nie, dan het daardie kerkraad ‘n groot probleem!
Kom ons beweeg ‘n bietjie nader na ons persoonlike lewe: watter dinge oorheers my geestelike lewe? Gaan ek kerktoe omdat tradisie dit vereis? Lees ek Bybel en bid ek omdat ek so geleer is? Baie mooi en edel tradisies, maar as hulle slegs ‘n “wet” in my lewe is, dan is dit betekenisloos! As ek maar net Bybel lees omdat dit die regte ding is om te doen, dan kan ek dit net sowel maar los. As my geloofslewe werklik lewendig is, sal daar by my ‘n honger wees na die Woord van God en as daar iets is wat nie sin maak nie, gaan ek daaroor oplees in ‘n Bybelkommentaar of met 'n kundige daaroor gesels. Dan gaan die erediens, mannebyeenkoms, Bybelstudiegroep ens. elke keer vir my ‘n belewenis wees. Dit gaan dinge wees wat ek nie WIL misloop nie! Dan gaan dit ook nie meer saakmaak watter predikant die Sondag preek nie, want dit gaan oor ‘n ontmoeting met God wat ek deel met my mede-gelowiges. Inderdaad sal my gebedslewe ook anders wees. Dit sal nie maar net ‘n “wenslysie” wees waar ek my bestellings by God plaas vir hierdie en daardie nie, maar ‘n ware gesprek met God.
Kom ons vergeet van die uitgediende tradisies, en begin waarlik lewe!
Gebed:
Here, daar is so baie ou tradisies waaraan ek nog vasklou. Help my asseblief om vry te raak daarvan, en my hele lewe slegs op U te rig.