Habakuk 3:8-15
Almal ken die Krokodilrivier maar as nie veel meer as ‘n ou stroompie nie, veral in die winter. Plek-plek loop hy dan skaars vyf of tien meter wyd. Rustige rivier is hy, as hy lui-lui tussen die riete deurkronkel. Waterbokke, bosbokke en olifante kuier in sy rietbeddings, en seekoeie en krokodille lê en bak op sy sandbanke. Nie rêrag ‘n aanskoulike rivier nie - dit is nou as jy gaan op sy grootte.
Maar as dit die dag goed reën in sy opvangsgebied, dan is hy ‘n perd van ‘n totaal ander kleur! Binne ‘n ommesientjie verander hierdie selfde rustige stroompie in ‘n bruisende massa rooibruin water wat wegvoer wat voorkom. Toe die millennium draai, in 2000, was daar ‘n besonderse saamloop van omstandighede, toe wydverspreide reëns die ganse opvangsgebied van die Krokodil en die Sabirivier tref. Binne ‘n baie kort tydjie styg die vlak van die Krokodil met ‘n volle tien meter. Dalk klink dit nie na veel nie, maar as jy reken dat hierdie rivier ‘n baie wye bedding het, dan verander dit die prentjie. Op plekke het die Krokodil deur Marloth Park byna ‘n halfkilometer wyd geloop. Nee, eintlik het hy gladnie geloop nie, hy het woedend voortgestorm en alles wat in sy pad was weggevee. Niks, maar niks kon staande bly voor die woede van die bruisende bruin massa nie. Reuse ou bome is geknak soos vuurhoutjies, en talle diere is eenvoudig van die gesig van die aarde afgevee.
Die Krokodil se buurman, die Sabi, het met dieselfde woede reageer. In Skukuza het die rivier selfs die beroemde restaurant, wat baie hoog bo die watervlak is, verswelg. Ek was daar kort na die vloed, en ek het die verwoesting aanskou. Dit was verskriklik!
Dit is nie net riviere wat so woedend kan reageer nie. Jy sal nog onthou hoe kwaad die see was in 2007. Die gesig van ons dorpie, Ballito, het toe binne ‘n enkele dag totaal verander. Woedende golwe het aangestorm op die rustige vakansiedorp en alles verpletter wat in sy pad gestaan het. Die see het die ganse strand kom haal en daar diep in sy binneste gaan bêre. Slegs die kaal rotse het daar in hulle naaktheid bly lê, gestroop van hulle goue sandkombers. Ballito se trots, sy gewilde wandelpaadjie al langs die strand af, is weggeruk, die dieptes in. Geboue is verpletter deur die geweld van die woeste golwe, en mense moes inderhaas vlug vir hulle lewens!
Ek was ook dáár en ek het die verwoesting aanskou. Dit was nét so verskriklik as 2000 se vloed!
In die Ou Testament verteenwoordig water dikwels die magte van chaos wat dreig om die wêreld te oorweldig. In Habakuk se loflied veg God teen hierdie chaos, en verslaan Hy hulle. Interessant is dan ook die insident waar Jesus en Sy dissipels op die see deur ‘n storm oorweldig is, en dieselfde “magte van chaos” gedreig het om hulle te laat vergaan. Daar sien ons ook hoe Jesus die chaos (storm) verslaan deur slegs te beveel dat die storm moet stil word.
Habakuk besing die almag van die Here, en ons sien dat Hy volle beheer het oor al die elemente. Nie alleen kan Hy die storm stilmaak nie, maar Hy kan ook ’n storm ontketen. Met ‘n enkele woord kan Hy “die aarde oopbreek en riviere laat stroom” (Hab 3:9). Op Sy bevel bewe die berge; op Sy woord kom die stormwaters verbygespoel; as hulle Hom sien, kom die golwe in beroering. Die ganse skepping buig voor die Here, die Almagtige.
Waarom besing Habakuk die almag van die Here op so ‘n wyse? Om hiermee te sê dat die Here ook magtig is om Sy volk te red. Die goddelose word verpletter deur die toorn van God, net soos daardie vloedwaters van 2000 en die woeste golwe van 2007. Maar net soos wat Jesus die verskriklike storm op die see gestuit het met ‘n enkele woordjie, so stuit die Here die goddelose se verskriklike aanslag.
Ons moet onthou dat God Self die Waarborg is dat Sy volk nie vernietig sou word nie. Uit daardie volk moes die Messias gebore word. Uit daardie volk moes God se groot reddingsplan vir die wêreld voortkom. Sou Hy dan toelaat dat die volk tot niet gaan?
Die Here se almag was ‘n werklikheid in Habakuk se tyd. Is dit vandag nog steeds só? Rondom ons woed die storms van die goddelose. Dag-vir-dag sien ons die geweld daarvan. Dikwels voel dit vir ons asof die storms ons gaan oorweldig, en dan wonder ons of God ooit nog iets daaraan kan doen? Moedeloos moet ons aanskou hoedat die Moslem-geloof soos ‘n vloedgolf oor die aarde spoel, en dan wonder jy hoe dit ooit gestuit kan word? Is God ooit by magte om dit te stuit?
Dan moet ons maar net weer Habakuk se loflied gaan lees. Die goddelose vloedgolf van die Galdeërs het gedreig om die ganse wêreld te verswelg. Habakuk het die volk probeer troos, dat God in beheer is, en dat Hy selfs dít kan keer. Het dit gebeur? Inderdaad! Die Here was almagtig in Habakuk se tyd. Hy is steeds dieselfde God! Hy het nog nooit verander nie. Vandag is Sy almag steeds net so groot. Vertrou net op Hom!
Gebed:
Here, ek dank U dat U steeds die elemente beheer, en steeds net so almagtig is as in Habakuk se tyd. Dankie dat ek op U kan vertrou.