Van ‘n relatief jong ouderdom af het sy reeds die tekens begin sien van rumatiek in haar liggaam, ‘n dierbare vriendin van ons. Sy het aktief tennis gespeel, maar gaandeweg het dit al moeiliker geword om ‘n raket vas te hou, en boonop het die pyne in haar rug haar naderhand so opgekeil dat sy moes ophou. Maar dit het nie gekeer dat haar klokhelder lag weerklink nie, blymoedig, altyd opgeruimd en vrolik, en sy kon nooit ophou praat van haar Verlosser nie. Haar pragtige vleuelklavier het sy later vir die kerk gegee, toe die rumatiek in haar vingers so erg begin raak dat sy nie meer die betowerende klanke daaruit kon laat vloei nie. Maar steeds was sy ‘n bemoediging vir elkeen met wie sy in aanraking gekom het.
Etlike rugoperasies was uiteindelik onafwendbaar, want die pyn het haar opgevreet. Komplikasies met narkose, het telkens byna haar lewe gekos, en die nagevolge was verskriklik. Maar steeds bly sy ‘n borrelende mens, ‘n inspirasie vir elkeen wat haar ontmoet. Sy moes later ’n loopraam gebruik om oor die weg te kom. Kry jy haar daar waar sy besig is om inkopies te doen agter haar loopraam, dan weet jy dat jy eers ’n wyle sal vertoef, want sy kan nie ophou praat nie, en haar borrelende lag weergalm deur die winkel. Nóg operasies het gevolg, elke keer met katastrofale gevolge. Een operasie het haar totaal verlam gelaat. Volgens die dokters sou sy nooit weer loop nie. 'n Paar maande later was sy alweer skuifelend agter haar loopraam, kromgetrek deur die rumatiek en pyn, maar steeds sprankelend soos altyd, en steeds vol moed. Haar ou tentwoning was verwronge en dikwels was dit slegs die groot kanonne soos morfien wat die pyn effens kon verlig. Maar moed opgee, en ophou getuig van die liefde van Jesus, het sy nooit! Rochellé was vir elkeen wat haar ontmoet het, ‘n ware bemoediging.
Ons raak so maklik moedeloos, of selfs kwaad vir die Here, as die geringste ou terugslaggie ons tref. Paulus praat van ‘n tentwoning. Hy het sékerlik baie goed geweet waarvan hy praat, want hy het sélf tente gemaak, en hy weet presies hoe verganklik die goed kan wees. En as die storms so ‘n tent tref, dan is dit maar bitter broos, en kan dit maklik weggewaai word. Ek het persoonlik al menigmaal bibberend in ‘n tent gelê as die storms buite woed. Dis g’n grap nie! So is ons ou aardse liggaam ook maar net ‘n tydelike tentwoning wat aan allerhande storms uitgelewer is. Sommige tente is gemaak van sterk seil, en kan die ergste storms weerstaan. Ander weer is gemaak van ligte materiaal wat lek as dit reën of skeur as die wind te sterk waai. Sommige van ons is dikwels ook maar baie broos, en ons word soms platgeslaan deur net ‘n briesie.
Maar ‘n tent is iets waarin jy gewoonlik net vir ‘n beperkte tydjie bly. Jy het mos jou huis waarin jy permanent bly! Sommige se huise is maar klein en armoedig, ander weer paleise, afhangende van hoe jy gevorder het in die lewe. Dieselfde geld vir ons lewe hier op aarde: jou liggaam is maar baie tydelik, net vir solank jy hier op aarde “vakansie hou”. Jou regte liggaam wag vir jou wanneer jou tentjie die dag finaal die gees gee, want dan gaan jy intrek in jou permanente woning. Sommige gaan nou nie juis ‘n grênd huis hê nie, want ons het maar bitter min vir Jesus gedoen tydens ons “vakansie”. Ander gaan weer ‘n paleis kry omdat hulle waarlik die Koning gedien het op aarde.
Het jy al ooit ‘n vakansie deurgebring in ‘n tent waar dinge nou rêrag miserabel gaan? Een waar die reën en storms jou teister? Jy het twee keuses: Jy kan in jou tentjie bly sit en die dae met ’n lang gesig omwens, die hele vakansie vir jouself en almal om jou ‘n nagmerrie maak. Of jy kan besluit om te gaan dans in die reën en deur die waterpoeletjies te plas en te lag en jouself gate uit te geniet ten spyte van die eendeweer. Dieselfde geld vir ons tentwoning waarin ons op aarde verkeer: As die storms jou teister, kan jy gaan sit en jouself bejammer, en dalk die Here blameer vir jou toestand. Of jy kan die storms gebruik tot jou eie, én ander mense se voordeel, en jubelend die Here loof ten spyte van die storms. Moenie dat lewensstorme jou onderkry nie. Styg uit bo jou probleme soos Rochellé. Toe die ergste storm in my lewe my tref, wou ek eers my kop in die sand gaan druk. Maar toe neem ek ‘n wilsbesluit om die Here te vertrou om my in die krisis in Sy arms vas te hou. Die resultate was wonderlik! In plaas daarvan dat ek in sak en as gaan sit en huil het, kon ek skielik lag en die lewe aanpak met ‘n huppel in my stap. En ek het tonne hulp gekry van dierbare vriende om my te help om te kon huppel. Ek huil deesdae nogal baie. Ek huil egter nie van droefheid nie, maar van dankbaarheid en verwondering oor die wonderlike troue sorg van die Vader in my lewe.
Al hierdie dinge maak maar net dat jy nie anders kan as om met nuwe ywer die wonderbare lig van Jesus te weerkaats. Hoe wonderlik sou dit nie wees, as die Here my vandag al in die hemelse woning sal laat woon! Maar aan die ander kant, maak Hy die lewe in my ou tentwoning vir my ‘n ewigdurende fees. Ek loop oor van dankbaarheid!
Gebed:
Dankie vir al die wonderlike dinge wat U vir my doen, Here, ek loof en prys U grote Naam!