Altyd ‘n Christen?

15 March, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Altyd ‘n Christen?

Hebreërs 10:26-31

VIDEO * OUDIO

Daar heers ‘n angswekkende spanning in die kamp van die vryheidsvegters. Hoe het die regering uitgevind waar hulle wegkruip? Gisteraand was hulle uitmekaar geskiet! Die leiers hou ‘n dringende beraad om die misterie uit te pluis. Stadigaan begin dinge duidelik word. “Fernando!” bulder die leier. Fernando krimp ineen. Hy spring op en probeer weghardloop, maar dis reeds te laat….. Nou weet almal: Fernando is 'n verraaier! Hy word hardhandig gegryp. Hy is immers verantwoordelik vir die dood van etlike van hulle makkers tydens die vorige aand se skermutseling! Die vuurpeleton is nou sy voorland!

Verskriklike storie! Verskriklike einde vir ‘n arme mens! Maar hierdie man het presies geweet wat hy doen toe hy sy maats, sy sielsgenote verraai het. Die ideologie waarin hy eenmaal geglo het, het vir hom waardeloos geword, en hy het dit weggegooi om homself met die vyand te vereenselwig.

Vir die vroeë kerk was dit dikwels ‘n oorlewingstryd. Christengelowiges is deur die wrede Nero uitgeroei, en hulle moes ‘n ondergrondse bestaan voer om te probeer verhoed dat iemand uitvind dat hulle Christene is. Geheime tekens, soos die vis was gebruik om mekaar te herken as mede-gelowiges. Wanneer iemand uit die heidendom tot bekering gekom het, het hy sy eie lewe op die spel geplaas. Waarom het mense soveel gevare en onderdrukking getrotseer om die Christelike geloof aan te neem? O, die voordele was natuurlik oneindig groot! Om ‘n kind van God te wees, het beteken dat jy verlos was van die mag van sonde. Daarmee saam natuurlik die ewige lewe en dat jy vir Jesus kon ken. Dit het genade beteken!

Wanneer ‘n gelowige egter sou besluit dat hy nie meer kon aangaan met hierdie geloof nie, sou dit verskriklike gevolge inhou. Skielik sou hy ‘n gevaar wees vir al die gelowiges wat hy leer ken het, want as hy sou terugkeer na die heidendom, die groot vyand, dan kon hy nie anders as om sy lojaliteit aan húlle te bewys nie! Dit sou beteken dat hy ‘n verraaier sou word wat enige gelowige se marteling of dood kon beteken.

Dit is teen hierdie agtergrond wat ons die gedeelte in Hebreërs 10 moet lees. Die gemeente was van mekaar afhanklik vir hulle oorlewing, en enige afvalligheid was letterlik ‘n saak van lewe en dood. As ons dan lees dat afvalligheid so verskriklik swaar gestraf sou word, dan moet ons nie verbaas wees nie want afvalligheid was ‘n baie ernstige saak!

Maar wat wil die skrywer hier vir my en jou vandag sê? Beteken dit nou dat ‘n persoon wat afvallig geword het baie swaar gestraf sal word deur God? Jou onmiddelike reaksie is: “Maar dit rym nie! God is dan genadig! Liefde! Wat het daarvan geword?”

Wat beteken dit om afvallig te raak? Sannie was ‘n verlore siel, vasgevang in die wêreld se sondes. Op ‘n dag kom sy tot bekering. Haar lewe was brandend vir Jesus, en sy het deelgeneem aan al die gemeente aktiwiteite. Op ‘n dag kry sy ‘n teleurstelling toe dinge nie gebeur soos sy dit graag wou hê nie. Sy was kwaad, en bly weg van die kerk af. Weldra het sy al minder en minder by die gemeente uitgekom, en uiteindelik verval sy weer in ‘n lewe van sonde. As iemand met haar gepraat het oor haar geloof, het hy ‘n afjak gekry. Haar vertroue in Jesus was weg! Sy word ‘n verraaier wat weer by die vyand aangesluit het. Sommige mense sê dat dit onmoontlik is, ander beweer weer dat dit wél moontlik is en dat jy jou geloof kan “verloor!”

Wat gebeur dan met so ‘n persoon? Ek is geleer dat as jy eenmaal ‘n Christen is, dat jy altyd ‘n Christen sal bly, en dat NIKS ons uit die hand van God kan ruk nie! Die Bybel leer ons egter in baie duidelike taal dat God wél oneindig genadig is en red, maar dat die straf vir ongeloof verskriklik is. Matt. 25:41 beskryf die straf as ‘n ewige vuur. “Daar sal hulle huil en op hulle tande kners,” sê Jesus oor die hel in Matt. 25:30.

Is dit dan moontlik om jou geloof te “verloor”? Iemand wat so afdwaal en totaal teen God draai, het waarskynlik nooit waarlik vir Jesus aanvaar as Verlosser nie. Vir só ‘n persoon is die ewige verderf sy voorland.

As dit dalk jy is van wie jy vandag hier lees, kan ek jou egter vandag ook baie goeie nuus gee: daar is steeds genadetyd! “Al was julle sondes skarlakenrooi,” sê Jes. 1:18, sal God steeds red en vergewe. God se genade is duisendmaal groter as Sy straf. Selfs Dawid en Paulus, altwee moordenaars, is totaal vergewe. Selfs al het jy totaal afgedwaal en Jesus verloën, staan Hy steeds daar en pleit by jou om terug te kom en weer God se kind te word. Wil jy nie vandag vir Hom “Ja” sê nie?

Gebed:

Here, ek kan so maklik in sonde verval en U verloor. Gee my asseblief volharding om staande te bly en U hand styf vas te hou!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026
Brief aan die Efesiërs
21 July, 2026