Sluipmoordpoging

28 April, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Sluipmoordpoging

Ester  2:20-23

Ester kan nog nie werklik glo dat sy nou die koningin van die magtige Persiese Ryk is nie. Is dit nie alles maar net ‘n droom nie? Binne een enkele jaar het alles verander. Haar armoedige huisie, het sy skielik verruil vir ‘n paleis waar alles in oordadige rykdom en luuksheid gebaai is. Sy het alles wat enige vrou se hart kan begeer, en sy wonder dikwels wat sy dan gedoen het om dit alles te verdien. Maar net wanneer sy haar wil verlekker in al die weelde, onthou sy Pa Mordegai se woorde: “Jy mag nooit vergeet waar jou wortels lê nie!”

En dan is daar die donker geheim wat sy met haar saamdra, dat sy eintlik gladnie deel is van hierdie heidense wêreld met al sy afgode en heidense feeste nie. Sy mag die geheim egter met niemand deel nie, nie eers haar lyfbediendes en vriendinne nie!

Ester se gedagtes is gedurig by Pa Mordegai. Hy het nou al permanent sy intrek geneem in die poort van die koninklike paleis. Hy is feitlik elke dag daar, en hy verlustig hom aan alles wat daar aangaan. Daar is nie ‘n enkele vervelige oomblik in hierdie besige poort nie. Mordegai hoop om net so af en toe sy meisiekind te siene te kry, en dan swel sy hart van trots. Eintlik het Mordegai so deel van die bedrywighede van die poort geword, dat niemand hulle meer aan hom steur nie, so asof hy gladnie meer bestaan nie. En dit pas Mordegai baie goed, want hoe minder hy met die heidene te doene kry, hoe beter vir hom.

Op ‘n dag merk Mordegai hoedat twee van die poortwagte baie diep in gesprek met mekaar is. Hy kan sommer sien dat iets baie groot die twee rowwe manne pla. Kort-kort is hulle in mekaar se geselskap, en aan die manier wat hulle gesels, is dit baie duidelik dat daar ‘n groot gekonkel is. Waarom kyk hulle so senuweeagtig oor hulle skouers, so asof hulle bang is dat iemand hulle dalk sal hoor? Mordegai ruik ‘n rot!

Ewe ongemerk gaan staan Mordegai binne hoorafstand van die twee, en maak asof botter nie in sy mond kan smelt nie. Die ene onskuld! Wat hy egter hoor laat hom yskoud word. Mordegai skud sy kop om doodseker te maak dat hy nie verkeerd gehoor het nie. Die twee manne is nou so ernstig in gesprek, dat hulle hom gladnie opmerk nie. Mordegai het reg gehoor! Hierdie twee manne is besig om ‘n sluipmoord te beplan, op niemand anders nie as Koning Ahasveros homself!

Mordegai skrik so groot, dat hy eintlik duiselig voel. Hy bewe behoorlik van skok. “Ek moet die koning gaan waarsku!” Maar hy het ‘n probleem: watter koning sal dan nou luister na ‘n doodgewone ou man wat dag-vir-dag in die poort rond sit? Nee, dit sal nie werk nie! Hulle sal hom sonder seremonie uitsmyt!

Dan skielik gaan daar ‘n liggie vir hom op: “Ester! Sy kan mos die koning gaan waarsku! Ahasveros sal vir haar luister!” Wanneer een van die diensmeisies verbyloop, wink Mordegai haar nader: “Gee asseblief vir Koningin Ester ‘n boodskap. Sê dis van lewensbelang dat sy my baie dringend kom sien.”

Die meisie is eers baie huiwerig om van die ou man ‘n boodskap te neem, maar as sy die pleitende kyk in sy oë sien, haas sy haar na die koningin. Ester voel hoe haar knieë lam raak wanneer Pa Mordegai haar die nuus meedeel. “Hoe gaan ek dit aan die koning oordra?” wonder sy. Ester is baie deeglik bewus van al die protokol en rompslomp in die paleis, en dat dit eintlik die amptenare is wat die koning se lewe beheer.

Wanneer Ester die nuus wil oordra, moet sy baie mooi aan die belangrike manne verduidelik dat dit ‘n saak van lewe en dood is. Hulle wil nog hierdie kant toe en daardie kant toe, maar Ester sit haar voet neer. As sy nie nóú met die koning praat nie, kan dit dalk sy dood beteken!

Dit is met vrees en bewing dat Ester vir Koning Ahasveros vertel van die komplot om hom te vermoor. ‘n Reuse las val van haar skouers af as hy reageer deur sy amptenare te beveel om die saak te ondersoek. Die skuldiges word aangekeer en dan word bevind dat Mordegai se bewerings die waarheid is. Die sluipmoordenaars word tereggestel.

Mordegai se lojaliteit teenoor die heidense koning wat deels verantwoordelik was vir sy ballingskap, laat ons skaam kry. Dit maak nie saak teen wie ‘n onreg gepleeg word nie, dit bly steeds verkeerd! So maklik wil ons dikwels anderpad kyk as ‘n onreg gepleeg word teen iemand vir wie ons geen liefde het nie. Dis mos sy saak! Dalk verdien hy dit!

Jesus het dit baie duidelik gestel dat ons nie alleen ons vriende of medegelowiges moet liefhê nie, maar ook ons “naaste”, en dit sluit selfs ook ons vyand in. Ja, hy is ook my naaste, al is hy ook al wié.

Gebed:

Here gee vir my ware liefde in my hart - liefde, selfs vir my vyande.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Stille Nag
21 May, 2024
Die Ware Jesus?
20 May, 2024
‘n Omgee-gemeenskap
17 May, 2024
Wát ‘n Wonderwerk!
16 May, 2024
Geloofsontploffing
15 May, 2024