Die Onderhoud

24 April, 2020

Ester 2:8-10

Ester se mond hang onbeskaamd oop wanneer sy die stad Susan binnestap. Oral waar sy kyk staan daar groepies jong meisies rond, almal haar ouderdom. En die een wil mooier wees as die ander! Wanneer sy egter vriendelik groet, kom sy agter dat niemand haar verstaan nie! Almal praat verskillende tale. Die meisies hier bymekaar is van regoor die wêreld vir die groot skoonheidskompetisie. Sy word aangepor deur die amptenaar in die rigting van ‘n groot gebou. Alles is so mooi versier, die kunstige klipwerk is pynlik netjies. Oral is dit net marmer en goud, en waar sy ookal kyk pryk die mooiste beeldhouwerke. Maar dit is eers wanneer die reuse swaar deure aan hulle kunstige koperskarniere oopswaai, wat sy die wáre skoonheid van die gebou sien. Sy snak na haar asem. Silwer kandelare met olielampe verlig die kollosale vertrek met sy marmervloere en rye beeldhouwerke. “So dit is dan hoe die koning se paleis lyk!” In haar wildste drome kon Ester nie vir haar so ‘n asemrowende prentjie voorstel nie.

Hulle stap deur eindelose gange tot hulle te staan kom voor ‘n swaar deur met twee wagte wat die ingang bewaak. In ‘n weelderige vertrek sit ‘n man druk besig agter sy lessenaar. Die amptenaar maak senuweeagtig keel skoon om die man se aandag te trek. As hy opkyk buig die amptenaar diep. “Dit is Hadassa” kondig hy aan.

Die man agter die lessenaar kyk gesteurd na Ester, en dan vorm daar ‘n glimlag op sy gesig - ‘n glimlag van totale waardering. “Waar het jy haar gekry?” wil hy weet, “Sy is mooi, báie mooi!”

As Ester nie so bang was vir hierdie man nie, het sy uitgebars van die lag. Sy het nog nooit in haar lewe ‘n man gehoor praat met so ‘n hoë stemmetjie nie!

“Hadassa? Kom nader dat ek mooi kan sien. Ek is Hegai. Al die koning se vrouens is onder my sorg.” Hegai bekyk Ester van alle kante af, voel hier, druk daar, totdat sy later voel soos ‘n skaap op die mark wat deur sy kopers geïnspekteer word. “Hmm, niks wat ‘n bietjie olietjies en kruie nie kan regmaak nie. Vat haar na die vrouekwartiere toe, sy is beslis ‘n baie goeie kandidaat!”

Wanneer hulle die gang afstap wil Ester weet: “Wat makeer Hegai dat hy so snaaks praat?”

“Hy moes ‘n duur prys betaal om hierdie aanstelling te kry,” verduidelik die amptenaar. “Om in beheer van die koning se vrouens te wees, moes hy eers onskadelik gestel word, as mens dit so kan stel. Hy is nou ‘n Eunog.” Die amptenaar skud sy kop meewarig.

Ester ril by die blote gedagte, maar dan is hulle alweer voor reuse, swaarbewaakte deure. Daar mag die amptenaar nie ingaan nie, en Ester word in die sorg geplaas van ‘n vrou wat baie belangrik lyk.

Daar is ‘n klomp vrouens bymekaar in ‘n groot vertrek, en almal lyk asof hulle niks te doen het nie. Alle oë is gerig op Ester, en skielik voel sy verskriklik selfbewus. Dan breek een van die jong meisies die ys as sy opstaan en haarself aan Ester kom voorstel en haar welkom heet. “Wie is jy, en waar kom jy vandaan?” wil die meisie weet.

“Hadassa,” sê sy, en dan begin sy vertel: “Ek is ‘n Israeliet, een van die Volk van God,” wil sy trots vir die meisie vertel, maar net betyds onthou sy wat Pa Mordegai gesê het, dat sy vir niemand moet sê wat haar herkoms is nie.

Die volgende oggend word Ester vroeg-vroeg wakkergeskud: “Die matrone soek jou!” word sy meegedeel. Wanneer sy in die vertrek instap, wag daar nie minder nie as sewe vroue vir haar, almal geklee in die netjiese uniform van paleisbediendes. “Húlle gaan jou van nou af versorg,” deel die matrone haar mee. “Jy’s ‘n baie bevoorregte meisie, jy word nou verskuif na die beste kwartiere. Ou Hegai moet báie van jou hou as jy sulke behandeling kry!”

Haar nuwe kwartiere is luuks verby. Maar Ester het skaars tyd om haar te vergaap aan al die mooi, want sy moet sommer dadelik begin met haar eerste skoonheidsbehandeling. “Hegai se bevele!” lig die diensmeisies haar in. Sy word van kop tot tone gemasseer met mirre-olie. Nog nooit in haar lewe het Ester so spesiaal gevoel nie. Die heerlike geur van die olie vul die hele vertrek, ‘n geur amper soos mos. Sy kan eintlik voel hoe die olie haar soepel vel nog meer ferm maak.

Daardie aand bid Ester tot die God van haar voorvaders, en sy sê dankie dat Hy haar so bederf. Dit is nie lekker om ‘n balling te wees in ‘n vreemde land nie, maar nou kry sy so ‘n wonderlike behandeling. “Here, wat het ek gedoen om dit te verdien? Dit is net U genade alleen. Al is ek hier alleen tussen al die heidense meisies, weet ek dat U steeds God is. Ek sal U nooit vergeet nie Here, en ek sal my volk - U volk - ook nooit vergeet nie. Help my asseblief om U altyd in my gedagtes te hê.”

Gebed:

Here, wanneer dit met ons goed gaan, is dit so maklik om van U te vergeet. Hou my asseblief elke oomblik van die dag gefokus op U sodat ek U nooit vergeet nie.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Stille Nag
21 May, 2024
Die Ware Jesus?
20 May, 2024
‘n Omgee-gemeenskap
17 May, 2024
Wát ‘n Wonderwerk!
16 May, 2024
Geloofsontploffing
15 May, 2024