Die Bruilofsfees

9 March, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Bruilofsfees

Matteus 22:1-14

Jesus het ‘n harde gesprek met die Joodse leiers gehad. Maar steeds stroom mense na Hom! O, hoe wonderlik moes dit nie wees om te kon insit by een van Jesus se leer-sessies nie! Elke woord wat Hy gesê het, kon jy indrink soos ‘n dorstige spons.

Jesus vertel weer ‘n storie, dié slag oor ‘n bruilof. Onthou, sy tydjie as “gewone” mens op aarde is besig om uit te loop, en Hy het geweet presies wat op Hom wag. Nogtans gaan Hy voort asof daar absoluut niks fout is nie, en Hy vertel stories. Maar beslis nie sommer enige stories nie. Hierdie vertellings is propvol simboliek. Sy hoorders moet iets daaruit leer, maar nog meer belangrik, is dat hulle ernstig moet reageer op die boodskap in die storie. Die verhale is tydloos, dus is dit nog steeds nét so relevant vir jou en my vandag.

Jesus se storie gaan oor ‘n koning wat ‘n verruklike bruilofsfees vir sy seun voorberei het, maar die genooide gaste het hulle nie aan sy uitnodiging gesteur nie. Sommige het selfs sy boodskappers vermoor! Natuurlik was dit ‘n reuse belediging vir die koning, en hulle straf vir so ‘n klap in die gesig was verskriklik!

Toe stuur hy sy slawe die strate in om vir hom ander gaste bymekaar te maak uit al die hole en agterstraatjies. Hulle moes sommer enigeen wat hulle in die hande kon kry, uitnooi. Uiteindelik was daar ‘n reuse fees vir al die uitgeworpenes van die samelewing. Almal by die fees was egter nie daar met goeie bedoelings nie: een kêrel het geweier om feesklere te dra, om sodoende sy hulde te bewys. Dit was sommer pure slegte maniere! Hy is hardhandig uitgesmyt!

Natuurlik het hierdie storie in die eerste plek direk te doen met Israel. God het Sy slawe, die profete na die genooide gaste, Israel en veral die Joodse leiers gestuur. Hulle moes kom deel in die groot bruilofsfees van Jesus, Sy Seun. Deur die eeue is die profete mishandel. Die laaste profeet, Johannes, is geminag en wreedaardig doodgemaak. Dit was ‘n klap in die gesig van God, toe veral die kerkleiers Jesus, die Bruidegom hardnekkig verwerp het. Hulle het Hom later vermoor ten spyte van al Sy mooi pogings om hulle vertroue te wen.

God se reaksie is, heel regverdig, ‘n verskriklike straf vir almal wat Hom verwerp het. Die wonderlike vreugdeklanke wat egter hier opstyg, verdwerg absoluut die straf. Nou kry ál die ander wat nóóit voorheen kon deel in so ‘n wonderlike vreugdefees nie, die geleentheid om deel te wees. Hy begin met eenvoudige vissermanne en gehate tollenaars, en uiteindelik brei dit uit na veragte Samaritane en heidene. Ja, daar was selfs 'n Samaritaanse vrou met ’n slegte reputasie en ’n ander vrou wat egbreuk gepleeg het en so byna-byna met klippe doodgegooi is. Wat ‘n wonderlike geleentheid wat God skielik hier aanbied aan elkeen wat wil kom, maak nie saak wie of wat jy is nie! Die vreugdevure brand hoog!

Maar alles is nie heeltemal pluis nie. Ten spyte van God se opregte bedoelings is daar iemand teenwoordig met 'n verskuilde agenda. Alhoewel hy by die bruilofsfees is, neem hy nie deel nie. Hy wys openlik sy misnoë deur nie sy bruilofsklere aan te trek nie.

Hierdie insident sê vir ons dat om deel te hê aan God se Koninkryk, beteken dat jy nie alleen maar passief dit kan aanvaar sonder om iets te doen nie. As uitgenooide het jy ‘n verantwoordelikheid om aktief deel te neem aan die fees. Dissipelskap vra volle lojaliteit sowel as inspanning, met ander woorde dinge soos dade van liefde en barmhartigheid.

Inderdaad sien ek daagliks gelowiges sonder bruilofsklere, mense wat maar net saamry op die gemeentetrein. Hulle is altyd gereed met kritiek of om met ‘n bakhand te staan, maar hulle weier om hulle gewig in te gooi en aktief in te skakel by gemeentebedrywighede. Die kerk is slegs daar om hulle te bedien! Trek aan jou bruilofsklere! Word deel van die groot fees!

Jesus sluit sy storie af deur te sê dat baie geroep is, maar min is uitverkies. Presies wat bedoel Hy daarmee? Beteken dit dat ons hard moet werk aan ons eie redding? Of dat ‘n gelowige gedurig onder ‘n wolk van onsekerheid moet leef?

Inderdaad nie! God se bewaring sluit nie ons eie inspanning uit nie. Dit moet dien as ‘n aansporing om te volhard. Daar is ‘n paralelle band tussen God se uitverkiesing en ons verantwoordelikheid. Dit is 'n konsep wat nie logies deursigtig is nie. Hier gaan dit beslis nie daaroor dat jy jou gedurig aan God moet bewys nie, maar eerder oor die egtheid van jou dissipelskap. As jy ‘n ware dissipel is, sal jy vreugde vind in die teenwoordigheid van die Seun op die bruilofsfees. Jy wys dit deur “bruilofsklere” aan te trek. Dit behels ‘n lewe van reg doen en lewe volgens die riglyne in die Woord.

Gebed:

Dankie Hemelse Vader, dat ek mag deel in hierdie wonderlike bruilofsfees van U Seun, Jesus. Gee my die ywer om my vreugde daadwerklik te kan uitleef.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Stille Nag
21 May, 2024
Die Ware Jesus?
20 May, 2024
‘n Omgee-gemeenskap
17 May, 2024
Wát ‘n Wonderwerk!
16 May, 2024
Geloofsontploffing
15 May, 2024