‘n Paasoordenking vir Goeie Vrydag
Louis Nel
Op ‘n afstand het ek Hom gevolg, my Meester. Ek het my gesig bedek sodat niemand my herken nie. Ek was skaam, kwaad vir myself omdat ek Hom daardie vorige nag so verskriklik verloën het. Maar ek was ook bang vir die woedende skare wat so aangehou het om Hom uit te jou.
Hy het moeisaam teen die opdraende uitgeloop, gedryf deur die genadelose soldate. Ek kon sien hoe die kroon van dorings pynlik in Sy kopvel steek, bloed het oor Sy gesig en nek geloop. En Sy klere was deurdrenk met bloed soos hulle Hom gegésel het. Toe struikel Hy, die kruishout was duidelik te swaar vir Sy uitgemergelde liggaam. Iemand het die swaar vrag by Hom oorgeneem, Simon van Sirene, het ek later verneem.
Ons was almal daar, maar almal het ver gestaan, te bang dat ons óók vervolg sou word, almal buiten Johannes. Hy was vreesloos by die vrouens, Maria en die ander. En toe kruisig hulle Hom. Ek het my kop weggedraai toe hulle die dik, ruwe spykers deur Sy hande en enkels kap, my ore toegedruk om nie te hoor toe Hy skreeu van pyn nie.
Dit was die langste dag van my lewe. Daar aan die vloekhout het my Meester gehang in die bloedige son, nakend, gestroop van al Sy klere en waardigheid. Rondom Hom, die Romeinse soldate en die spottende, jillende skare. Selfs die moordenaar aan die kruis langs Hom het spottend na Hom gekyk en Hom uitgelag. En toe die ander moordenaar sy maat berispe, het my Meester die totaal onverstaanbare gedoen. Hy het hom vrygespreek! “Vandag sal jy saam met My in die paradys wees,” het my Meester vir die moordenaar gesê. Later het ons duidelik gehoor hoe Jesus tot God bid oor die spottende skare wat Hom gekruisig, gespot, gepynig het: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!” Ek kon dit nie verstaan nie! Sou dit beteken dat selfs ék vergewe is vir my gruwelike verloëning die vorige aand?
Daar was ‘n aardbewing en ‘n sonsverduistering, grafte het oopgegaan, dooies het opgestaan, die voorhangsel het middeldeur geskeur - tekens dat God uit die hemel met ons gepraat het. En toe hoor ek hoe my Meester hard uitroep: “Eli, Eli, Lama Sabagtani!” Ek het yskoud geword by die aanhoor van hierdie woorde – “My God, My God, waarom het U My verlaat?” Ek het in trane uitgebars en onbeskaamd gehuil voor almal.
Toe sterf Hy.
Die geharde Romeinse soldaat langs die kruis het geskok die woorde uitgestotter: “Waarlik, waarlik, Hy wás die Seun van God!”
Ons het Hom afgehaal van die vloekhout
Sy liggaam nou leweloos
Die liggaam wat sovéél lewe gegee het
Nou gebroke, doodsbleek, bloedbevlek
Lewenssap wat uit Sy deurboorde sy vloei
Water en bloed.
Sy Hande, deurboor
Hande wat sovéél genees het, gedien het
Skares gevoed het, gebid het
Nou dood, verskeur deur ruwe spykers
Sy liefdevolle dierbare hande.
Sy voete, vergruis
Voete wat soveel myle geloop het om sondaars te soek
Wyd en syd die goeie nuus te versprei
Voete, gewas met trane, gesalf met nardus, afgedroog met hare
Ander se voete het Hy gewas
Sy stukkende voete, nou yskoud.
Sy hoof, stukkend gesteek
Waarop ‘n koninklike kroon moes rus
Nou bekroom met ‘n doringkroon
Koninklike hoof, bloedbevlek.
Sy oë, dof en dood
Het eens gesprankel, lewe gespreek
Vol liefde, medelye, sielsverrykend
Oë vol vuur wat sondes deurboor
Oë so sag, wat sondaars roep
Sy deurdringende oë, nou dof en blind.
Sy stem, doodstil
Eens sagmoedig, vol wysheid
Vol liefde, bemoediging
Spreek lewe, vergifnis
Nou stil en dood
Sy dierbare stem, nou stil en dood.
Ons het Hom afgehaal van die kruis
Neergelê in die klipgraf, koud.