Vriende deur Dik en Dun

16 February, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie Vriende deur Dik en Dun

1 Tessalonisense 1:1

Dit was vroeg in die somer van die jaar 50nC. toe Paulus en Silas, vergesel van die jong kêrel, Timoteus in die stad Tessalonika aankom. Hulle doel was baie eenvoudig: soveel moontlik mense in die stad moes die verlossingsboodskap van Jesus hoor en aanneem. Sy strategie is om eers die Jode te bearbei, want hulle het alreeds 'n agtergrond oor God. Aangesien Paulus ‘n gerespekteerde Fariseër en leermeester is, kry hulle toegang tot die plaaslike sinagoge, en daar preek hulle vir drie weke. Dit gaan goed en ‘n paar Jode kom selfs tot bekering. Maar dit is die Grieke, en veral ‘n klomp vooraanstaande Griekse vrouens wat aan hierdie sendelinge se lippe hang.

Toe die Jode sien hoe die Grieke reageer, raak hulle afgunstig, en beraam ‘n slinkse plan om van Paulus ontslae te raak. Hulle koop ‘n paar leeglêers om om ‘n opstand te bewerkstellig. Skaars drie weke na hulle aankoms moet Paulus en sy geselskap vlug vir hulle lewens.

Timoteus en Silas bly in die omgewing agter by Berea, terwyl Paulus verder gaan na die stad Atene. Maar die bloedjong gemeentetjie van Tessalonika bly deurentyd in Paulus se gedagtes: sal hulle dit ooit oorleef? Sal hulle geloof staande kan bly? Skaars het hy in Atene aangeland, of Paulus skryf ‘n brief. Hy wil nie hê dat hierdie gemeentetjie sommer moet verdwyn nie. Die waarhede wat hy vir hulle in daardie bitter kort drie wekies geleer het, mag nie vergete gaan nie.

Hy sal vir Timoteus na Tessalonika stuur met sy brief. Liewe Timoteus, half Joods, half Grieks, maar ‘n wonderlike toegewyde gelowige en vriend. Natuurlik sal Timoteus, soos gewoonlik, nie skroom om terug te gaan na daardie vyandige stad nie. Daardie jongman gaan dit nog baie ver bring in die lewe! Inderdaad was Timoteus se lewe nie sonder sy probleme nie. Omdat sy pa ‘n Griek is, is hy natuurlik nooit besny soos die ander klein Joodjies nie. Paulus het moeilikheid sien kom, as hy vir Timoteus in ‘n sinagoge sou invat sonder dat hy besny is. Die arme Timoteus moes toe mooitjies maar op sy tande byt terwyl Paulus die pynlike operasietjie uitvoer, daar in sy tuisdorp, Listra. Vir die volgende week of twee het dit maar hinke-pink en eina-eina gegaan, maar toe is Timoteus gereed om enige sinagoge aan te durf. ‘n Paar jaar later sou Paulus nog vir Timoteus na die gemeente van Efese stuur om daar die herder van die gemeente te word. Boonop sou hy ook nog saam met Paulus ‘n paar briewe skryf.

Van Paulus, Silvanus en Timoteus.” skryf hy “Aan die gemeente van die Tessalonisense, wat aan God die Vader en die Here Jesus Christus behoort.” Paulus het baie lief geword vir daardie mense! “Genade en vrede vir julle!” bid hy inniglik vir elke gelowige daar, terwyl hy die brief skryf.

Paulus se gedagtes dwaal: Hoeveel het hy en sy twee metgeselle nie al deurgemaak nie! Saam kon hulle ‘n bruisende bediening tot stand bring in verskeie stede. Natuurlik was dit slegs moontlik deur die wonderlike krag wat die Heilige Gees hulle gegee het! Maar saam moes hulle ook al ‘n paar keer vlug vir hulle lewens, veral wanneer die Jode hulle sin kry! En dan was daar die keer toe Silas saam met hom opgesluit was in die kerker. Hy onthou nog hoe seer hulle lywe was nadat hulle gegésel was, en hoe hulle daar in Filippi se tronk vasgeketting was. Toe hulle nie kon lê van die rou sere aan hulle lywe nie, het hulle maar begin sing. Dit het immers die pyn verdryf. Later het hulle twee se vrolike lofliedere dwarsdeur die skrikwekkende nag weergalm deur die hele tronk. En toe, die ongelooflike wonderwerk, toe ‘n engel hulle kom bevry het. Hy het die kettings gebreek en die tronkdeure oopgegooi. Paulus glimlag as hy dink aan die tronkbewaarder se vreesbevange gesig. “Ja, ou Silas, ek en jy het al saam ‘n sak sout opgeëet! Wat sou ek doen sonder julle twee ou staatmakers?”

Natuurlik kom Silas al ‘n baie lang pad saam met Paulus. Selfs nog voor die eerste sendingreis plaasgevind het, het die ringkoppe in Jerusalem vir Silas saam met Paulus en Barnabas na Antiogië gestuur om dinge daar te gaan uitsorteer.

Ware vriende, wat bereid is om saam met jou te staan deur dik en dun, is goud werd. Dit is hemels om te weet dat daar iemand is wat sy lewe vir jou sal opoffer, en enigiets vir jou sal doen - onselfsugtig. Die vraag is egter of ek en jy bereid is om dieselfde vir iemand anders te doen. Dit gaan nie in die lewe oor die goeie vriende wat jy het nie, maar of jy sélf ‘n goeie vriend vir iemand is. Jesus het vir ons die voorbeeld gestel van wat ‘n goeie vriend behoort te doen. Hy het absoluut alles in die lewe opgeoffer om die evangelieboodskap tot stand te bring. Hy was bereid om reuse skares mense te trotseer om mense gesond te maak, kos te gee, te leer. Vir Sy twaalftal binnekring-manne het Hy Hom afgesloof, om hulle te leer en op te lei vir hulle groot lewenstaak. Toe Sy intieme vriende Hom verlaat, weggehardloop en selfs verloën het, het Hy steeds Sy liefde vir hulle behou. Hy het verder gegaan en Sy lewe op die grusaamste moontlike wyse gegee sodat hulle kon lewe. Wat doen ek en jy?

Gebed:

Here, dankie vir wonderlike vriende deur my lewe, maar veral dankie vir wat U vir my gedoen het. Here, maak my asseblief ‘n goeie vriend.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Wát ‘n Wonderwerk!
16 May, 2024
Geloofsontploffing
15 May, 2024
Onverskrokke
14 May, 2024
Vuur uit die Hemel
13 May, 2024
Om te Wag op die Gees
10 May, 2024