Vark in die Nag

30 May, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Vark in die Nag

Hebreërs 4:12-13

Diere is in ‘n sekere opsig so ontstellend voorspelbaar. As jy deur die wildtuin ry, sal jy dadelik weet, sonder om eers te kyk, wat die rooibokke doen. Hulle loop en wei, en paartyd brul die ramme soos leeus en baklei van sonop tot sononder, en reg deur die nag tot wéér sonop! Leeus slaap. Wel, so wil dit voorkom, want al wat jy leeus óóit sien doen is slaap. Ek dink dis 'n mite dat leeus bokke vang. Het jy al ooit 'n leeu 'n bok sien vang? Dit gaan my verstand te bowe hoe die ouens wat die natuurflieks maak die leeus so ver kry om te jag. My leeus slaap! ’n Visarend sit in ‘n boom en mooi lyk. Soms gaan vlieg hy 'n draai daar hoog in die lug, maar meestal sit hy net. Visvang? Nog nooit een gesien wat visvang nie! Diere is so voorspelbaar!

En vlakvarke? Hulle grawe vir wortels of knip die kort grassies nog korter. En as hulle skrik, wapper hulle vlaggies aan ‘n lugdraad. Hulle rol ook graag in die modder. Interessante diere, want hulle het nogal ’n groot repertoire! Snags sien jy hulle natuurlik nooit, óóit, want dan kruip hulle weg in ‘n gat. Vlakvarke is só voorspelbaar! Rêrag?

Een aand sit ons by ons kampvuurtjie in die bos. Dis al pikdonker, en die leeus is lekker aan die gesels daar onder langs die Krokodilrivier. Terloops, leeus brul ook soms, so hulle slaap darem nie áltyd nie! Selfs die ou “wolf-met-die-mank-been” is al hard besig om sy droewige lied te sing vir ‘n maat wat iewers op soek is na ‘n stukkie oorskietvleis. Alles is rustig hier om die vuur, báie rustig.

Dan skielik is daar ‘n geritsel. ‘n Takkie wat kraak. My hart slaan bollemakisie, en Mosbolletjie gryp na die flitslig. Wat kan dit wees? Uit die digte bos loer die lelikste gesig wat ek al óóit in my lewe gesien het, met twee opkrultande en bloedbelope oë wat tussen die vuil, rowwe plooie deur vir ons loer. Hy gee ‘n ongeërgde snork en stap verby na waar daar ‘n paar mieliepitte op die grond lê. ‘n Vlakvark! In die nag? Hierdie vark het beslis ‘n duister kant aan hom! Hulle loop mos NOOIT snags rond nie! Duikertjies en muskeljaatkatte ja, maar vlakvarke? Beslis nee!

Die verskrik-gevreet vark gee ‘n vulgêre snork, gluur ons arrogant aan en begin dan slurp-slurp die duikertjie se appel oopbek opvreet. Dan ontdek hy ‘n hopie mielies. Mieliepit-vir-mieliepit word hulle opgelek uit die grond deur die wielneus. En as dit lyk of daar niks meer oor is nie, dan suig hy nog ‘n paar pitte uit die stof op. Ek gril! Hy gee ‘n paar treë in ons rigting en staar ons aan. Ek vererg my vir die ongemanierde vark, tel ‘n stuk hout op en gooi hom. Dis raak maar hy maak asof hy dit nie gevoel het nie. En dan, soos hy gekom het, verdwyn hy weer die nag in.

En ek wonder! Jy dink jy ken iemand, maar eintlik weet jy niks van hom af nie!

Maar wag so ‘n bietjie, moenie die fout by ander gaan soek nie. Dalk moet ek eers by myself begin! Almal dink hulle ken my, hierdie vriendelike, lieftallige ouderling. Maar weet hulle rêrag wie ek is? Weet hulle van die donker kant van my lewe? Weet hulle dat daar agter hierdie vriendelike lag, soms ‘n donderwolk in my binneste hang? Een met blitsende weerligstrale? Nee, natúúrlik sal hulle nooit weet nie, want ek kan dit baie goed wegsteek! Net ek en my vrou alleen weet daarvan! My geheim is veilig, baie, baie veilig.

Maar is my geheim ooit so vreeslik veilig weggesluit in my Fort Knox kluis? Die Hebreërskrywer waarsku: “Die Woord .... is skerper as ‘n swaard met twee snykante, en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en in gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart.” Absoluut niks is vir die Here onsigbaar nie, en alles lê oop voor Hom! En die ergste is, dat ons sal moet rekenskap gee.

Ons bly nou maar eenmaal mense, propvol swakhede. Versoekings kom oor jou pad, en partymaal val jy pens en pootjies binne-in hierdie versoeking. Sondes ry ons bloots, en al probeer jy ‘n vroom gesiggie opsit voor die mense, is daar tóg die sondes in jou donker binneste waarvan niemand anders weet nie. Die sielkundiges praat van die skadukant van die mens. Freud noem dit die Id, die DIT, die dier, die nag-vlakvark in ons. Natuurlik wil ons almal sekerlik maar ‘n heel mens wees, verlos van die duistere dinge in jou wat jou dinge laat doen wat onaanvaarbaar is.

Het ek nou ‘n verskriklike donker prentjie geskilder? Inderdaad! Maar dalk is dit nodig dat ons van tyd tot tyd introspeksie doen, en weer tot besinning kom. Maar gelukkig is dit nie waar die Hebreërskrywer eindig nie. Hierdie is die inleiding om vir ons die wonderlike nuus te gee van Jesus se ingryping in die donker situasie. Maar daaroor berig ons DV in die volgende dagstukkie. Moenie dit misloop nie!

Gebed:

Here, U alleen ken my hart - die duister dinge wat ek met my saamdra. Dankie dat ek dit vir U mag bring. Vergewe my asseblief, en was my skoon.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Wát ‘n Wonderwerk!
16 May, 2024
Geloofsontploffing
15 May, 2024
Onverskrokke
14 May, 2024
Vuur uit die Hemel
13 May, 2024
Om te Wag op die Gees
10 May, 2024