Oesdag

22 June, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Oesdag

Openbaring 14:14-20

Soos ‘n ligte deining oor ‘n see van goud, lewe die ryp koringland, swaar gelaai met spekvet koringare, golf-op-golf as die briesie daaroor waai in die laatmiddagsonnetjie op die Vrystaatse vlaktes.

Ek het ‘n boekwinkel in Welkom bestuur, en ons het op ‘n plaas in ‘n grasdak rondawelhuis gebly, ‘n entjie buite die stad. Daardie Vrystaatse vlaktes is genadeloos. Stofstorms was ‘n algemene verskynsel. As so ‘n stofbank oor die vlakte aangerol kom en die lug oor jou toemaak, dan raak dit donker en die verstikkende stof beroof jou van jou asem. In ons grasdakhuisie voel dit amper asof dit reën, soos die korreltjies mynsand en rooi stof stadig deur die dekgras sif en alles in ‘n lagie rooi bedek! Genadiglik gaan so ‘n stofstorm ook verby.

Hierdie is ‘n plek van alle uiterstes. In die somer is die versengende hitte van die Vrystaat byna ondraaglik. Die kurkdroë lug brand jou longe, en die reën bly weg. In die winter is dit weer die snerpende koue wat alles laat vries. Dit is dán wanneer die grond begin kraak, en die huis se mure bars daarmee saam, sodat krake in die mure, so groot dat jy jou hand daardeur kan druk, gevorm word. En die ysige wind loei daardeur!

Maar die grond is vrugbaar, en as die reën net genoegsaam en betyds kom, dan lewer die lande ‘n ryk oes op. Dáárdie jaar was die reën betyds en genoeg, en die lande het hoogswanger gestaan met koringare wat uit hulle nate wou bars. Die verhoog was gereed, en die afwagting en spanning kon jy aanvoel in die lug.

Een mooi oggend, kort voor dagbreek, word ek wakker van ‘n onaardse dreuning wat al harder en harder deur my binneste vibreer. Half deur die slaap spring ek op om te kyk wat aangaan. ‘n Lang streep stof kom in die plaaspad opgewarrel. Voor die stofbank beur ‘n reuse groen monster uit. Hy het ‘n stel tande wyer as die plaaspad, en in sy stofstreep volg nog ‘n vyftal stropers en vragmotors al stikkende in die rooi stof.

Dadelik is ek opgewonde. Dis oestyd! Vir die volgende paar dae dreun die stropers op en af deur die landerye en spuit hulle ’n goue stroom koringkorrels in die vragmotors se wagtende bakke in, totdat daar uiteindelik net die stoppels oorbly op die kaalgestroopte lande. ‘n Doodse stilte sak oor die plaas toe, en die windjie suis weemoedig oor die geraamtes in die koringland.

In Johannes se visioen sien hy hoedat die tyd vir die groot oes aanbreek, die groot oes van Jesus se oordeel. Hierdie is ‘n wonderlike beeld, tot oorlopens toe volgelaai met simboliek. Dink maar net hoedat ‘n koringkorreltjie in die grond begrawe word, letterlik doodgaan voordat dit begin groei as ‘n tenger koringplantjie. Nét so moes jy as ongelowige eers doodgaan. Maar dan gebeur die wonder, want God gee jou nuwe lewe as wedergebore gelowige, nog broos in jou babageloof, nés daardie klein koringplantjie. Nét soos wat die koringplant groei, groei die nuwe gelowige ook in sy geloof totdat die are uiteindelik begin vorm en hy vrug dra. Net soos wat die koringplant talle terugslae moet beleef, droogtes, wurms, luise - so moet elke gelowige ook baie storms en terugslae in sy geestelike lewe deurstaan. Wéét egter dat hierdie kastydings jou geestelik sterk maak.

En dan breek die groot oesdag aan! Dis nie ‘n dag om te vrees nie, maar ‘n heugelike dag om na uit te sien vir elke gelowige. Ook in die oes is daar soveel simboliek opgesluit. Dink maar hoedat daardie koringkorrels van die moederplant gestroop word, in reuse silo’s saamgegooi word en dan gemaal word tot ‘n ragfyn meel. Hierdie meel is die grondstof om heerlike, spierwit, stomende brode te bak wat hulle aangename geur versprei. Net so word die gelowige ná die groot oes omvorm van ‘n “droë koringkorrel” om ‘n splinternuwe verheerlikte liggaam te kry.

Oestyd het egter ook sy droewige kant, want almal word nie soos koring ge-oes nie. Ja, ook die ongelowiges word ge-oes, maar soos druiwe in ‘n parskuip vertrap word, en die rooi druiwesap daaruit vloei, so sal die ongelowige vertrap en vermorsel word en van hulle lewensbloed ontneem word. ’n Dik stroom bloed wat die aarde bedek, borshoogte diep en vir ’n afstand van 1600 kilometer, dui aan dat God se oordeel die ganse skepping sal raak. Dit is vreesaanjaend en wêreldomvattend. Dit gebeur buitekant die stad, weg van die gelowiges af (vers 20). Ja, Jesus moes ook buitekant die stad betaal vir die sondes van almal wat in Hom glo, ook vir jou en my. Daar het Sy bloed gevloei aan die vloekhout. Daarom staan ons vandag op God se koringland, opgewonde-wagtend op die dag van die groot oes!

Gebed:

Here, ek dank U vanoggend dat ek met sekerheid kan weet dat ek nie bestem is vir die parskuip van U toorn nie, maar dat ek, saam met ‘n reuse skare gelowiges, opgewonde kan wag vir die dag van U groot oes. Dankie dat U ook vir my kom red het uit die ewige verderf.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Wát ‘n Wonderwerk!
16 May, 2024
Geloofsontploffing
15 May, 2024
Onverskrokke
14 May, 2024
Vuur uit die Hemel
13 May, 2024
Om te Wag op die Gees
10 May, 2024