God Reinig

16 July, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie God Reinig

Jesaja 3

Toe ek vanoggend hoofstuk 4 van Jesaja begin lees, gaan my gedagtes terug na ‘n paar jaar gelede, toe ek ‘n tekenaar was en onder baie groot druk gewerk het. Die werk het in stapels opgehoop, en ek moes nagte deurwerk om deur alles te kom. My stresvlakke het die hoogte ingeskiet. Tot op ‘n dag, toe ek en Mosbolletjie besluit: genoeg is genoeg! Ons pak op en vat die pad bos toe om net ‘n slaggie weer terug te kom aarde toe.

Ons uitspanweek in die bos begin terwyl ek nog rustig in my kooi lê en sluimer in die pragtige dorpie, Marloth Park. Ek word wakker van die rustige gekoer van ‘n tortelduif se liedjie: “Slaap rustig, slaap rustig, so salig, slaap rustig.” Hoe salig!

Maar die saligheid is van korte duur, want met ‘n luidrugtige vlerkgefladder word my half-aan-die-slaap gemoed tot in sy fondamente geskud wanneer ‘n twintigtal rooiborsduifies met luidrugtige vlerkgeklap die mieliepitte om die braaiplek ontdek.

Uit die lang gras loer Meneer Fisant versigtig, en dan tree hy voetjie-vir-voetjie na vore. Mevrou volg flink op sy hakke, gevolg deur ‘n string van ses skatlike, donsige fisantkuikentjies. Onder die vaalbos ontdek hulle ‘n klont pap wat die duikertjie die vorige aand misgekyk het, en daar koek hulle saam in ‘n stywe bondeltjie.

‘n Paar geelbek neushoringvoëls maak hulle uitspattige opwagting. Wydsbeen, stert-in-die-lug laat hulle mens altevol baie dink aan arrogante Cowboys, gereed om daai Colt uit te pluk en te baklei! ‘n Paar piepklein poeierblou blousysies en ‘n geelvlekmossie kom sit eenkant beskeie en pik-pik aan fyn saadjies. Een vir een val kweljas uit die sekelbos om hulle by die sysies aan te sluit. Maar ’n rustige brêkvis is hulle nie beskore nie, want ’n suurgevreet neushoring kan nie die ou piepkleintjies om sy pote duld nie, en hulle kry met sy geniepsige geel snawel te doene. “Ons is alweer terug by die lelike dinge waarvan in Jesaja 3 geskryf is!” dink ek in my stilligheid. Maar God se oordeel is regverdig! Hy sál ingryp.

Die fisantgesin se klontjie pap hou nie lank nie, en op ‘n streep tou die hele spannetjie agter pa aan om te kom deel in die fees by die braaiplek. Twee tarentale draf oor die grasperk in hulle pynlik-netjiese spikkelmanelbaadjies en swart sykouse. Hulle ontdek ‘n paar verlore mieliepitte onder die vaalbos, en maak dit hulle lewenstaak om enige ander pitte wat moontlik nog onder die grond begrawe mag lê, uit te skrop. Hulle voer hulle missie met groot ywer uit, te midde van vlieënde gras en takkies en klippies. Mevrou Tarentaal skop per ongeluk stof in haar heer en meester se oë. En dan is die duiwel los, en met uitgespreide vlerke en groot lawaai word sy venynig van die partytjie verwilder, al om die vaalbos, dat jy net sien stof en klippe spat!

Van hierdie bakleierige spul het Pa Fisant nou net mooi genoeg gehad! Sy geduld is tot die uiterste toe beproef, en op haastige rooi beentjies vertrek hy die lang gras in. Kort op sy hakke volg ma en die string kuikens, hulle beentjies soos klein opwensoldaatjies waarvan die veer te styf opgewen is.

Met ‘n luidrugtige skaterlag hop-hop ‘n gesin katlagters oor ‘n boomstomp op soek na ‘n vleiserigheidjie. Haastig maak hulle die rooster skoon en dan vertrek hulle weer met ‘n groot gejuig na groener weivelde. Asof dit die teken is, vertrek die malende massa tarentale. Die einde van die partytjie het aangebreek, en een vir een verdwyn die laaste gaste, totdat daar net ‘n kaalgestroopte plaveisel oorbly.

En stilte! Brêkvis is verby!

Met ‘n selfvoldane sug van genoegdoening sak ek terug in die kussings.

Só het dit ook vanoggend vir my gevoel toe ek Jesaja 4 lees, ‘n salige gevoel van genoegdoening ná die liederlike dinge van Jesaja 3 wat my so omgekrap het, en natuurlik die gevolglike oordeel van God. “Daardie dag sal alles wat die Here laat uitspruit, mooi en weelderig wees.” Só begin die perikoop in Jesaja 4. Die Here belowe verlossing vir dié wat bly vashou het aan die Here, ten spyte van die volk se afvalligheid. Hy bring nie nét oordeel nie, maar ook verlossing vir God se kinders.

Vir diegene wat Hom verwerp het bring Hy vernietiging, vir die gelowiges die begin van ‘n splinternuwe lewe. In vers 4 skryf Jesaja: “Die Here sal die inwoners van Sion reinig van hulle wandade.” Hoe wonderlik is dit om vandag te kan weet, dat as God my gereinig het van sonde, dan is ek ‘n nuwe mens. Dan is God by my, en Hy is my toevlug en skuilplek te alle tye, ook in tye van nood.

Gebed:

Dankie dat U my ook gereinig het van al my wandade, Here. Dankie dat U my U kind gemaak het.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Wát ‘n Wonderwerk!
16 May, 2024
Geloofsontploffing
15 May, 2024
Onverskrokke
14 May, 2024
Vuur uit die Hemel
13 May, 2024
Om te Wag op die Gees
10 May, 2024