Die Here se Bevel

16 April, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Here se Bevel

2 Timoteus 4:1-5

VIDEO | OUDIO

Om die Woord te verkondig is nie maar net ‘n opsie vir ‘n Christenleier nie. Dit is ‘n bevel van God!

Dit was winter 1966 en bitter koud in die Vrystaat. Ek was gelukkig om ‘n sagte werkie te hê om in die militêre kamp in Betlehem se sentrale te werk, terwyl my maters almal geswoeg het in ‘n skyn-oorlog by Harrismith. Op ‘n dag kom die opdrag: “Pak jou goedjies, jy ry oor ‘n uur Harrismith toe!” Ek wou nog protesteer: “Nee, dis nou rêrag nie nodig nie....,” toe blaf die offisier: “Dis ‘n bevel!” Jy stribbel nie teë as jy 'n militêre bevel kry nie en ‘n uur later was ek agter op die Bedford se bak op ‘n hoop voorrade op pad na Harrismith.

Agtuur die aand word ek in ‘n wagbeurt ingeboender. Dis pikdonker en ysig koud en ek sien nie die gat raak waar die kokke vrot pampoen weggegooi het nie en ek val pens en potjies daarin! Deurnat kruip ek daar uit. En ek stink! ‘n Uur later kruip ek, steeds sopnat en stinkend in my slaapsak onder die sterre met ‘n snerpende windjie wat my byt. ‘n Lagie ys vorm oor my slaapsak. My bene pyn van die bittere koue. My geweer se ysige loop raak per ongeluk teen my gesig en ek ruk van die pyn!

Skielik gil iemand ‘n bevel: “Die terroriste het Harrismith ingesypel! Ons moet hulle gaan uithaal!” Vyf minute later sit ek op ‘n oop vragmotor. Die ysige wind sny soos lemmetjies deur my vel, maar ek durf niks sê nie. Vieruur die oggend val ons Harrismith binne. ’n Kort geveg volg. Een van die “terroriste” gooi ’n donderbuis na my. Dit ontplof by my voete met ‘n oorverdowende slag en beskadig my gehoor onherstelbaar sodat ek vandag steeds doof is. Die “terroriste” gee hulleself byna sonder verset oor, nie omdat ons so goed was nie maar verslaan deur die bittere koue!

Hierdie operasie was nie pret nie, dit was ‘n pyniging in meer as een opsig! Ek het dit gedoen omdat ek die bevel gekry het. Ek het die bevel nie durf ignoreer nie anders was die detensiekamp (DB) my voorland!

Elke gelowige kry van God ook ‘n bevel, een om die Woord uit te dra. Daar is groot ooreenkomste tussen daardie bevel en die militêre een, maar ook baie groot verskille. Net soos ek die Majoor se bevel om op die mees onmoontlike tyd die dorp te gaan binneval nie durf ignoreer nie, so durf ek ook nie God se bevel om Sy Woord uit te dra op die mees onmoontlike tyd, ignoreer nie. En net soos wat daar bitter moeilike tye, pyn en selfs ongevalle betrokke is by die militêre bevel, so is dit ook soms met die uitvoering van God se bevel. Dit is beslis nie altyd maklik nie en jy kan bitter seerkry in die proses. Dit vra van jou volharding, vasbyt en deurdruk en as die “koue” voel of dit te erg word, moet jy steeds voortgaan. Dikwels vra dit van jou om op ‘n uiters ongeleë tyd die Woord te bedien, selfs soms in die middel van die nag terwyl ander mense snoesig slaap. Dalk vra dit om jou geselligheid wreed te onderbreek. Ons mag egter in die proses nooit onbeskof en liefdeloos optree nie.

Daar is egter ook ‘n paar baie groot verskille: In die eerste plek sal jy nooit uitgevloek of gestraf word as jy weier nie. God se bevel is nie verdoemend nie maar ‘n vriendelike “asseblief” bevel. Jy gehoorsaam nie God se bevel uit vrees nie maar uit liefde. Jy doen dit nie om geestelik te kan oorleef nie maar omdat jy alrééds die geestelike lewe as geskenk gekry het. Jy is dankbaar vir wat die Here alreeds vir jou gedoen het en nou sal jy mos alles in jou vermoë doen om God te behaag, nie só nie? Inderdaad is daar soms swaarkry en seerkry, maar jy knyp oë toe en gaan voort want die doel waarvoor jy werk is ‘n heerlike een!

Jou groot doelstelling is nie maar ‘n gejaag na wind en skyngevegte nie en beslis ook nie oorlogsgeweld waar mense kan sneuwel nie! Dit is júís om lewe te bring en om vir iemand wat besig is om verlore te gaan ‘n reddingstou te gooi. Met elke mylpaal wat bereik word in jou arbeid is daar ‘n skare van engele in die hemel wat jubel en juig! Die vyand is boonop nie maar ‘n denkbeeldige een, soos in my “oorlog” in Harrismith nie. Die vyand hier ter sprake is 'n werklikheid, die draak waarvan Johannes in Openbaring skryf, die duiwel sélf! Sy soldate is diegene wat allerhande soorte dwaalleer verkondig en mense probeer verlei na die ewige verdoemenis!

Toe ons daardie dag in Harrismith die “terroriste” finaal verslaan het, het almal gejuig. Toe moes ons gaan kamp oppak en terugry na Betlehem, waar die gewone ou vervelige militêre werk op ons gewag het. Ons het die dae pynlik afgetel na ons uiteindelike ontslag…..

O ja, die gelowige jubel en juig óók met elke oorwinning. Maar daarna word die stryd van vooraf aangepak. Die reuse verskil is egter die wonderlike vooruitsig dat wanneer die stryd die dag verby is, is dit nie maar net weer terug na die ou meulsteen toe nie. Anderkant “Betlehem” begin die glans van die nuwe Jerusalem alreeds deurslaan. O, ek kan nie wag vir daardie wonderlike, opwindende dag nie wanneer ek vir Jesus, my Verlosser van aangesig tot aangesig sal sien en by Sy voete sal kan gaan sit. Sal Hy dan vir my kan sê: “Mooi so, my goeie en getroue dienskneg! Jy het getrou gedoen wat Ek van jou gevra het!”

Gebed:

Here, gee asseblief vandag vir my ‘n brandende passie in my hart om U bevel getrou en met volle ywer uit te voer!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Omgee-gemeenskap
17 May, 2024
Wát ‘n Wonderwerk!
16 May, 2024
Geloofsontploffing
15 May, 2024
Onverskrokke
14 May, 2024
Vuur uit die Hemel
13 May, 2024