Blydskap en Dankbaarheid

29 October, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Blydskap en Dankbaarheid

1 Tessalonisense 5:12-18

Video - Oudio

Ek het al so dikwels in die wandelgange gehoor: “Daardie predikantjie moet darem nou regkom,” en dan fluister die persoon: “Hy doen nie genoeg huisbesoek nie; sy preke is te lank; sy preke is gans te kort; sy preke praat nie met my nie; hy herhaal te veel; hy preek die hele tyd net oor sonde; hy preek die hele tyd net oor genade en liefde; sy preke is kinderagtig - ek is immers ‘n geleerde man; sy preke is gans te ingewikkeld.......”

Het jy al hierdie redenasies gehoor? Kritiseer jy dalk sélf so? Ek ken mense wat van kerk na kerk na kerk hardloop, want hulle kry nêrens ‘n prediker wat na hulle smaak preek nie! Moenie my verkeerd verstaan nie: Natúúrlik moet enige prediker se prediking die suiwer Woord van God reflekteer, en as dit nie gebeur nie, durf ons nie na hom luister nie, want dan is hy ‘n vals profeet! Maar die redenasies hier bo hoort nie in ‘n gelowige se woordeskat nie!

Jy vra dalk, of ons dan die predikers op ‘n verhogie moet plaas? Is hulle verhewe bo die “gewone” mense? Nee, dit wil ek vir geen oomblik sê nie. Maar luister ‘n bietjie wat Paulus vir die gemeente in Tessalonika sê: “Erken die mense wat so hard onder julle werk en julle in opdrag van die Here lei en teregwys. Betoon in liefde die hoogste agting aan hulle ter wille van hulle werk.” (1 Tess 5:12-13) Die opdrag wat God deur Paulus aan my en jou gee, is om ‘n slag te gaan nadink oor hoe ons aan ons leraar en die ander leiersfigure in ons gemeente hulde kan bring. Nee, dit beteken nie dat hulle vereer moet word nie, maar die minste wat ons kan doen is om vir hulle te sê dat ons die werk wat hulle doen waardeer. Sê vir hulle dat hulle leierskap en onderwysing jou help, en bedank hulle vir dít wat hulle bediening in jou lewe beteken. As ek en jy nie ons waardering uitspreek nie, sal hulle dit nooit weet nie. Natuurlik moet dít wat jy sê opreg uit jou hart kom. Vleitaal is uit die bose! Maar jou woorde moet ook bevestig word deur jou dade: aanvaar hulle leiding sonder om te mor en kla. En net so terloops: as jy dalk gedink het dat ek ‘n predikant is wat erkenning vra - nee: ek is ‘n doodgewone lidmaat!

In die slothoofstuk van Paulus se brief aan die gemeente in Tessalonika, raak hy enkele teer puntjies aan. Ja, die manier wat hulle die gemeenteleiers behandel, is ‘n bekommernis. Maar daar is ook ander dinge wat krap. Hy skryf dat as iemand die Here se persoonlike liefde ervaar, dan moet sy verhouding met medegelowiges ook wys dat hy met elkeen ‘n unieke persoonlike verhouding het. Verséker gaan jy anders optree teenoor mense met spesifieke probleme. Iemand wat byvoorbeeld swak is, gaan jy nie hanteer asof hy net moedswillig ongehoorsaam is nie. Dit vra van ons om oordeelkundig en in die grootste liefde op te tree teenoor elke medegelowige, en so die liefde van God aan elkeen uit te dra.

In vers 16-18 vra Paulus ons om te besin oor ons daaglikse innerlike houding. Ek het eenmaal ‘n dierbare ou vriend gehad, ‘n uitgesproke en baie diep gelowige. Hy het egter een groot probleem in sy lewe gehad: swartgalligheid. Die liefde van Jesus het letterlik uit die man gestraal, maar elke keer as ek hom sien, dan lyk dit asof die wêreld se laste op sy skouers rus. Die politieke situasie, misdaad, korrupsie en goddeloosheid van die mensdom, alles wou hy saamdra. Natúúrlik mag ons nie van daardie dinge vergeet nie, maar sulke goed wat ek en jy nie kan oplos nie, kan ons gerus maar in God se bekwame hande oorlaat. Paulus sê dat ‘n gelowige se lewenshouding moet spreek van die Here se liefdevolle sorg, want “dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag” (1 Tess 5:18). Wat behels hierdie innerlike houding? As jy weet wat God in Christus vir jou gedoen het, kan jy net eenvoudig nie anders nie as om altyd te borrel van blydskap. Dit maak dat jy biddend leef en in alle omstandighede steeds dankbaar kan wees.

In Filippense 4:4 bulder Paulus dit uit: “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!” Hierdie volgehoue blydskap, gebedslewe en dankbaarheid wat daarmee saamgaan, mag nooit afhang van jou omstandighede, jou gemoedstoestand of jou emosies nie. Aan hierdie drie oproepe moet jy gehoorsaam wees, al voel dit vir jou dat jy genoeg rede het om dit nie te doen nie. Blydskap kan jy aankweek en beheer. En die wonderlike is, dat as jy ‘n donker dag beleef, en jy sê vir jouself: “Ek is bly!” en jy sit ‘n glimlag op jou gesig, dan is dit asof daardie donker wolk sommer so vanself oplig. En O! Is sulke blydskap aansteeklik! Dankbaarheid is amper ‘n natuurlike uitvloeisel van sulke blydskap. Maar dit is ook iets wat ons moet oefen, dit kom nie sommer so vanself nie. En dan gebed: Weereens, gebed is nie noodwendig daardie formele stiltetyd nie, maar ‘n gedurige gesprek met God, regdeur die dag. Jesus is net ‘n gedagte ver! Gesels met Hom!

Gebed:

Here, vul asseblief vandag my hart met dankbaarheid en blydskap.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Wát ‘n Wonderwerk!
16 May, 2024
Geloofsontploffing
15 May, 2024
Onverskrokke
14 May, 2024
Vuur uit die Hemel
13 May, 2024
Om te Wag op die Gees
10 May, 2024