Wedloop van die Lewe

17 April, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Wedloop van die Lewe

2 Timoteus 4:6-8

VIDEO | OUDIO

Paulus is in die dodesel en wat presies op hom wag, weet hy sélf nie! Gaan hy onthoof word? Moontlik vir die leeus gevoer word soos wat só baie van sy mede-gelowiges te beurt geval het? Of sou hy dalk ook met teer besmeer word en aan die brand gesteek word om te dien as ‘n lewende straatlig? Enige oomblik kan sy tronkhek oopswaai en die soldate hom uitsleep. Paulus ontken nie die feit dat sy dood op hande is nie en hy ignoreer dit ook nie. Hy praat daaroor, gesels daaroor en maak dit effektief deel van sy verkondigingstrategie. Hy staan immers in diens van God in lewe en in sterwe!

‘n Mens se hele lewe behoort ‘n offer te wees tot eer van God. Dit is dáárom dat Paulus dan ook simbolies sy laaste dae sien as deel van die Ou Testamentiese voorskrifte van die offerproses, waar ’n drankoffer vir die Here uitgegiet word. So wil hy ook vir oulaas ‘n lieflike offer wees en só tot die laaste minuut nog bruikbaar wees vir die Here.

Vir baie mense beteken ouderdom om op die stoep te gaan sit, hande gevou en te sê: “Nou het ek genoeg gedoen, nou rus ek!” So ‘n stoepsittery kan dikwels baie jare aanhou, jare wat baie vrugbaar deurgebring kon word. ‘n Mooi voorbeeld van iemand wat besluit het dat sy lewe nie op ‘n stoepsittery kan uitloop nie, is Ds. Samuel Blom. Na sy aftrede het hy in Durban gaan bly. Tot sy skok moes hy sien hoedat die eens-borrellende Middestadgemeente in Smithstraat doodgegaan het, bloot omdat daar nie geld was nie. Hy het dadelik ingespring en begin werk om herder te wees van ‘n brandarm gemeente wat nie eers die ou kerkgebou kon onderhou nie. Van enige vorm van vergoeding vir hom as leraar was daar géén sprake nie, maar hy het sy werk vir etlike jare met liefde en vreugde gedoen sonder vergoeding.

Paulus sê in vers 6 dat die tyd van sy dood voor die deur is. Die woord wat hy hier gebruik is een wat letterlik beteken dat ‘n skip wat op die punt staan om uit die hawe te vertrek, losgemaak word van die kaai. As jy al op ‘n kaai gestaan het, sal jy weet dat dit dalk nou nie een van die mooiste plekke is nie. Dis stowwerig, vuil, rof en verinneweer deur duisende skepe wat daar al deur die jare vasgemeer was. Wanneer daardie skip losgemaak word, kies sy koers na die wye oop oseaan waar die vars, skoon water teen haar boeg opspat en die seebries vars ruik, baie anders as die stinkende ou hawe!

In jou lewe is jy ook vasgebind aan baie dinge. Daar is jou besittings, skuld, sonde, mense, familie, geliefdes, selfs jou eie liggaam! Jy moet voorbereid lewe sodat jy nie te styf “vasgemaak” is aan jou geld en aardse besittings nie anders kan só ‘n losmaakproses baie moeilik wees! Onthou ook altyd dat wanneer ‘n boot wegvaar, dit nie vir ewig vaarwel is nie en dat haar passasiers weer op ‘n ander bestemming mekaar sal sien. Die heilige Woord van God belowe immers dat ons mekaar weer sal sien, só lees ons onder meer in 1 Tess 4:16-17.

Net soos wat ‘n pragtige passasiersboot haar plek aan die kaai volstaan en dit voel asof haar vertrek ‘n reuse leemte daar gaan laat, so voel dit dikwels ook vir jou. Jy voel dat jou vertrek ‘n groot verlies vir almal gaan wees. Wie sal óóit by jou kan oorneem? Gaan die kaai leeg en verlate wees sonder jou? Niemand is onvervangbaar nie en weldra is die spasie weer gevul, dalk selfs nog deur ‘n mooier en luukser boot!

Ja, maar die lewe is ook soos ‘n wedloop, so sê Paulus. Hy hardloop alreeds daardie laaste entjie van die pylvak. Voor hom wink die eindstreep nader en nader en dit is met groot opgewondenheid wat hy sy laaste kragte inspan. Dit was vir Paulus ‘n uitmergelende wedloop, maar hy het vasgebyt tot die bittere einde!

Ek en jy is ook nog in daardie wedloop. Dikwels is die opdraendes sieldodend. Soms voel dit asof jou geloofspiere net eenvoudig nie ‘n tree verder kan gaan nie, maar dan doem ‘n waterstalletjie uit die bloute op en jy kry weer krag om met moed aan te gaan. Ons geloofswedloop is in baie opsigte soos die Comrades. Sommige mense gaan totaal onvoorbereid in daardie wedloop in en val sommer vroeg-vroeg al uit. Ander oefen hard daarvoor en hulle pluk die vrugte by die wenstreep.

Net soos wat atlete, dikwels totaal onbekendes mekaar bystaan, ondersteun en aanmoedig in die Comrades, so is daar medegelowiges op jou geloofswedloop wat jou gedurig aanmoedig en ondersteun. Dit is van uiterste belang dat jy nooit probeer om hierdie wedloop alleen te hardloop nie. Gelowiges versterk mekaar. Daar is egter een baie groot verskil: in die Comrades is dit jou eie krag wat jou by die wenstreep kry. In die geloofswedloop is dit egter God se krag wat jou daar kry! Jy moet net gewillig wees om te hardloop.

Laastens is daar die prys: vir sommige is dit ‘n goue medalje, vir ander ‘n sertifikaat. Vir elkeen wat die Comrades voltooi wag daar egter ‘n prys. Vir elkeen wat die geloofswedloop voltooi wag daar óók ‘n wonderlike prys, die Ewige Lewe saam met Christus. En vir diegene wat die wedloop met onderskeiding voltooi het, wag daar nog baie meer!

Gebed:

Here, maak my gewillig om al my krag te gee in die wonderlike wedloop van die geloof!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Hy Leef!
30 April, 2024
Kruisig Hom, Kruisig Hom!
29 April, 2024
Petrus se Verraad
26 April, 2024
Hosanna, Hosanna!
25 April, 2024
Nasaret Verwerp Jesus
24 April, 2024