Melgisedek

6 June, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Melgisedek

Hebreërs 7:1-28

Politiek en Godsdiens is twee perde wat beslis nie saam voor dieselfde kar hardloop nie. Wanneer hierdie twee vermeng raak, is daar groot spanning. Kort voor die verkiesing van 1994 lei ons leraar die oggend sy preek in deur net te verwys na die politieke situasie in die land. Iemand het dit egter as politiekery beskou, en met ‘n groot lawaai by die kerk uitgestorm. As ‘n leraar met politiek deurmekaar raak, dan sê sy gemeente baie gou vir hom dat hy sy baadjie moet vat en liewer loop. Jy kan nie hierdie twee dinge saam bedryf nie.

Daar is ‘n baie goeie rede waarom politiek en godsdiens nie om dieselfde vuur sit nie: politiek word bitter selde volgens Bybelse reëls gespeel. Nou wil ek nie net vinger wys na ons eie regering nie, want hierdie verskynsel vind regoor die wêreld plaas. In politiek gaan dit slegs om eie belang. Die politikus wat nie selfsugtig sy pad na bo baklei nie, kom nêrens, want dit gaan slegs oor mag van die indiwidu. Sy party word slegs gebruik in sy eie strewe na mag. Dit maak ook nie saak wie in die slag bly nie, solank hy net bo kan kom. Die politikus wat nie hierdie beginsels volg nie word as ‘n swakkeling beskou. Buiten vir die indiwiduele pogings, is daar natuurlik ook die groot stryd tussen partye, en klippe word gereeld na mekaar gegooi.

Waaroor gaan dit in die Godsdiens? In die eerste plek gaan dit om God. Hy is uiteraard die Alfa en die Omega van die Godsdiens, en alles wentel om Hom alleen. Daar is slegs een wet wat hier geld, die wet van opofferende liefde. In die Godsdiens is daar géén nut om op iemand se kop te trap om êrens te kom nie, maar onbaatsugtige liefde vir God en jou medemens is eerder die norm. G’n wonder dat hierdie twee nie saam kan werk nie!

In die lig hiervan lees ons in Hebreërs van die priesterkoning Melgisedek. In Genesis 14 word die verhaal geskets van ‘n oorlog waarby nie minder nie as nege konings betrokke was. Abraham het ook in die oorlogsone gewoon, maar hy het geensins daarin belang gestel nie. Toe sy nefie Lot, wat op daardie tydstip in Sodom gewoon het, egter ontvoer word, moes Abraham noodgedwonge ingryp en vir Lot gaan red. In die nag het hy met sy 300 slawe ‘n aanval geloots op die belhamel-konings. Lot is gered, en saam met hom ‘n klomp krygsgevangenes, waaronder ook vrouens en kinders. Hierna lees ons dat die koning van Salem, Melgisedek, vir Abraham kos en wyn gebring het, en hom geseën het. Abraham het ’n tiende van die oorlogsbuit vir Melgisedek gegee as ’n dankoffer. Melgisedek word beskryf as priester van God die Allerhoogste. Sy naam word nêrens verbind met die oorlog nie. Verder weet ons absoluut niks van hierdie merkwaardige koning nie.

n Aangrypende stukkie geskiedenis! Hier is skielik ‘n koning wat volgens God se belang regeer. Absoluut ongehoord! Sy naam is merkwaardig. Melgisedek beteken “koning van geregtigheid.” Maar hy was ook die koning van Salem, wat vertaal kan word met “Koning van Vrede”. Dit is iets waarna elke mens strewe, geregtigheid en vrede. En dit kry ons in hierdie priesterkoning, Melgisedek. Hy word gesien as ‘n skadubeeld van Jesus, iemand wat sou vooruitwys na die ware, ewige Priesterkoning, Jesus Christus. Was Salem dalk dieselfde plek wat later Jerusalem geword het? Joodse oorlewering glo wel so.

Politiek het deur die eeue sy eie selfsugtige paadjie van magsug geloop. Geregtigheid en vrede kan egter alleen geskied wanneer Jesus Christus die ware koning is. In die kerk mag daar dus geen sprake wees van die onreg en onvrede wat jy in die wêreldse politiek kry nie. Dit is so hartseer dat kerkpolitiek dikwels ook gepaard gaan met venyn, onreg, onvrede en selfs knoeiery en konkelary. Op menige kerkraadsvergadering gooi mense mekaar met klippe - klippe van lelike, harde woorde wat bedoel is om seer te maak. Jesus het die voorbeeld kom stel, oor hoe om waarlik te regeer. Die Koning van alle tye, was bereid om te dien eerder as om te hiet en gebied. Hy het nie gaan sit sodat ander Sy voete was nie, maar het sélf neergebuig om Sy dissipels se vuil voete te was, beslis nie ‘n aangename taak nie! Hy het nie in ‘n paleis gaan sit en mense na Hom ontbied nie, maar Hy het persoonlik na die mense op die straat en in dikwels gure plekke geloop om die blye boodskap te verkondig. Geen mens was ooit te laag of sleg vir Hom nie, en selfs die uitgeworpenes in die samelewing het Hy soos konings behandel.

Om waarlik jou Christenskap uit te leef, beteken om Jesus se voorbeeld te volg. Inderdaad is ek en jy, wat God se kinders is, profete, priesters en konings. Die vraag is, wat ons met hierdie “titels” van ons doen? gebruik ons dit selfsugtig soos ‘n politikus, of gebruik ons dit soos Jesus dit gebruik het, tot eer van God en in diens van ons medemens?

Gebed:

Here, ek staan dikwels skuldig as ek selfsugtig my eie belang soek. Leer my om Jesus se voorbeeld na te streef.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Hy Leef!
30 April, 2024
Kruisig Hom, Kruisig Hom!
29 April, 2024
Petrus se Verraad
26 April, 2024
Hosanna, Hosanna!
25 April, 2024
Nasaret Verwerp Jesus
24 April, 2024