Jerusalem

5 August, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Jerusalem

Jesaja 22

Juda leer 'n baie duur les: hulle is nie die bevoorregte volk wat al God se oordele vryspring nie. Alle volke is in die hand van God, óók Juda! Hierdie uitspraak van God is teen “die plek waar visioene gesien word,” dáár waar die tuiste van profesie is, Jerusalem.

In Jerusalem gaan dit vrolik. Daar word uitbundig en uitgelate feesgevier. Dit raas en lag en rumoer, want hierdie stad is mos onaantasbaar. Waarom sal enigiemand dan nou bekommerd wees?

En dan skielik is daar 'n dreigende gevaar. Mense skrik só dat hulle op die huise se dakke klim. Baie hardloop weg. Die leiers slaan op die vlug, maar sonder dat daar 'n enkele pyl afgeskiet is, word hulle gevang. Jesaja is ontroosbaar as hy aan hierdie ramp dink, want Jerusalem se vreugde sal baie gou in smart verander. Wat het tog verkeerd geloop?

Dan sê Jesaja vir Jerusalem hierdie verdoemende woorde in vers 5: “Die Here my God, die Almagtige, bring oor die plek waar visioene gesien word 'n dag waarop Hy die plek in beroering sal bring, waarop Hy dit sal vertrap en vernietig, die stadsmure sal afbreek. Sy inwoners sal na die berg toe roep om hulp.” Jerusalem het alle rede om bekommerd te wees, want God se oordeel sal ook Jerusalem tref, al dink hulle dat hulle so onaantasbaar is. Selfs daardie “plek waar visioene gesien word” sal in beroering kom. Hulle roep verniet om hulp na die “berg”, die tempel, want God sal nie uit daardie heiligdom antwoord nie.

Hieruit moet ons verstaan dat goddelose mense geen hulp van God kan verwag nie. Gebed is ‘n eksklusiewe kommunikasiekanaal wat God daar gestel het vir Sy kinders, die gelowiges. Wanneer daar ‘n verhouding is met God, is Hy te enige tyd daar om na jou te luister. Maar dit geld slegs vir gelowiges. Juda het ver van God af weggedwaal, dus kan hulle nie van God hulp verwag nie. Hulle het Hóm dan verwerp!

Nou sien Jesaja alreeds die strydwaens van Elam en Kir wat optrek teen Jerusalem. Ry-op-ry staan die oorlogsvaartuie ingeryg en die vyand beleër die stad. Jerusalem se einde is op hande!

Die volk probeer wanhopig om hulleself te verdedig. Hulle hardloop na die “paleis in die bos” om wapens te gryp. In 1 Konings 7 lees ons van die Libanonsbosgebou wat Salomo opgerig het. Dit is later gebruik om wapens te stoor. 

Verbete probeer die inwoners van Jerusalem om die stadsmure te versterk. Die watertoevoer na die stad word oorhaastig beveilig.

Jerusalem kry sy water van die Gihon fontein wat in ‘n grot in die Kidronvallei geleë is. Dan is dit met ‘n kanaal in die stad ingelei en loop deur die bad van Siloam. Sonder hierdie standhoudende fontein is die stad verlore. Dus is dit van uiterste belang dat dit ten alle koste beskerm moet word, veral tydens ‘n beleg soos hierdie.

Al Jerusalem se verbete pogings om die stad te beveilig, is egter tevergeefs. Hulle was ongehoorsaam, en nou kry hulle net wat hulle toekom.

In verse 12 tot 14 hoor ons die rouklagte van die volk weergalm. Die dag van God se afrekening is op pad. Die uitbundige vreugde wat hulle nou nog ondervind, maak baie gou plek vir rou. Uitgelate en vol bravade sing hulle nog: “Laat ons eet en drink, want môre is ons dood!” Maar as iemand God blatant ignoreer, moet hy weet dat Sy oordeel onvermydelik is.

Vandag hoor ons dikwels dat iemand ewe ongeërg sê: “Aag, ek gaan seker maar eendag warmplek toe!” God se oordeel is egter géén ligsinnige grappie nie!

Ons moet ook hierdie uitspraak van Jesaja sien as ‘n waarskuwing teen enige vorm van vormgodsdiens. Dit is wat in Jerusalem gebeur het. Hulle het die tempel gehad en hulle het offerandes gebring. Maar van ‘n verhouding met God was daar géén sprake nie. Ware Godsdiens beteken dat ek en jy elke dag in ‘n lewende verhouding met Hom leef. Hy is nie soos ‘n “noodwiel” wat jy vinnig uit die kattebak gryp wanneer jy ‘n spyker in die wiel kry nie. Hy wil hê dat ons te alle tye, in voorspoed en teëspoed Sy afhanklike kinders sal wees.

Jesaja sluit hoofstuk 22 af deur ‘n waarskuwing te rig aan Sebna en Eljakim, beide hoë amptenare in diens van die koning. Jesaja konfronteer Sebna waar hy buite Jerusalem besig is om ‘n praalgraf vir homself te bou. “Wat maak jy?” wil hy weet. Sebna se hoogmoed en selfverheffing sal hom absoluut niks in die sak bring nie. Die Here onthef die verwaande Sebna as Hy hom as ‘n balling laat sterf, ver van Jerusalem af.

God stel Eljakim aan as Sebna se opvolger. Maar dan misbruik Eljakim sy mag. Sy familie is só trots op hom, dat hulle hom “soos kombuisgereedskap aan 'n spyker ophang.” God trek egter die “spyker” uit en Eljakim kom tot ‘n groot val.

Gebed:

Here, bewaar my asseblief van selfverheffing en magsmisbruik. Ek is slegs van U afhanklik.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Petrus se Verraad
26 April, 2024
Hosanna, Hosanna!
25 April, 2024
Nasaret Verwerp Jesus
24 April, 2024
Jesus se Doop
23 April, 2024
Géén Plek vir Jesus
22 April, 2024