Die dagstukkies is 'n inisiatief van Ballito Gesinskerk se Evangelisasie span en word geskryf deur Louis Nel.
 
Gratis E-boeke     -    BROODKRUMMELS
  

Petrus se Verraad

26 April, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Petrus se Verraad

 

Lukas 22:54-62

VIDEO | OUDIO

Wanneer Jesus in die tuin gevange geneem word, hardloop al Sy dissipels weg, volgens Matteus se beskrywing van die gebeure (Mat 26:56). Hulle het Jesus nét daar en dan in die steek gelaat. Een van hulle het egter die moed gehad om op ‘n afstand agter Jesus se vervolgers aan te stap. Hy kon nou darem nie sy Meester sommer so versaak nie, veral nie nadat Jesus voorspel het dat hy sy Meester sou verloën nie. Ons wil so maklik vir Petrus veroordeel oor die feit dat hy Jesus verloën het maar ons vergeet van die ander dissipels wat almal totaal afwesig was! Hulle het net aan hulleself gedink en gevlug toe hulle Meester hulle die nodigste gehad het. Het selfs Jesus se dissipels nou teen Hom gedraai?

Die toneel verskuif nou na die binnehof van die hoëpriester se huis. Vanaand slaap die mense nie soos gewoonlik nie. Daar is baie aksie in hierdie ruim binnehof, want daardie Man wat die Fariseërs en Skrifgeleerdes soveel hoofbrekens besorg het is mos gevang en Hy wag vir die verhoor om te begin. Almal is nuuskierig om te sien wat gaan gebeur. Van slaap is daar vannag géén sprake nie. Dit is ysig koud. In die middel van die binnehof brand ‘n vuurtjie waar die manne saamkoek vir ‘n bietjie warmte en geselligheid. Petrus skuif ongemerk tussen die manne in, niemand sal hom mos hier in Jerusalem herken nie, hy is immers 'n vreemdeling daar ver uit Galilea…...

‘n Jong diensmeisie loop verby die manne om die vuur. Skielik steek sy vas. Daardie vreemdeling tussen die klomp - sy het hom voorheen al êrens gesien, maar waar? Haar nuuskierigheid word geprikkel en sy bekyk hom behóórlik. Dan onthou sy: “Haai, maar jy is mos een van die ouens wat altyd so saam met hierdie Jesus was!”

Petrus probeer sy kleed laer oor sy oë trek: “Nee, nee juffrou, jy maak 'n fout, ek ken Hom nie!” Sy hart klop in sy keel - as hulle hom darem nou hier moet herken is sy doppie geklink! Sy draai om en skud haar kop, séker dat sy hierdie man saam met die sogenaamde Profeet gesien het!

Petrus se gedagtes is in ‘n warboel. Hy verstaan nie mooi wat besig is om te gebeur nie. Voor hom sien hy ál die afgelope drie jaar se wonderlike ervaringe besig om te verkrummel. Is dit dan nou die einde van die pad? “Haai jy! Jy is mos ook een van hierdie Man se aanhangers!” Uit die bloute word Petrus gekonfronteer en hy skrik hom yskoud!

“Man, ek is nie!” Petrus se hande bewe van frustrasie en angs!

Harmansdrup stadig sleep die tyd verby. Dit is die langste nag óóit in Petrus se lewe. Hy worstel met sy emosies. Dáár aan die anderkant van die binnehof kan hy sien hoedat hulle met sy Meester die spot dryf en Hom verneder. Petrus kry seer diep in sy hart, maar hy durf nie nader staan om Hom te help nie. “Gevoellose spul skurke!”

Petrus kry sy Meester so bitter jammer – hoe eensaam en verlate is Hy nie, daar tussen die spul heidene!

Hy voel mense se oë op hom brand. Hy kan sien hoe hulle vir mekaar fluister terwyl hulle in sy rigting kyk. “Wat?!” wil hy nog vererg vra, maar dan wys een van die manne ‘n vinger rég in sy gesig: “Jy is mos ‘n Galileër? Kyk, jou aksent gee jou sommer dadelik weg! Sowaar, jy wás saam met daardie Man!”

“Is nie! Is nie!” Petrus is bloedrooi van woede. “Ek weet nie waarvan jy praat nie, man! Ek ken Hom nie, hoor jy!”

Dan kraai die haan…...

Jesus draai stadig om en kyk reguit vir Petrus. “Petrus, Ek bid vir jou,” wil Sy oë sê.

“Wat het ek gedoen!” Rou snikke skeur deur Petrus se verwarde hart terwyl hy die nag inhardloop met trane wat oor sy wange stroom.

Daardie verskriklike nag sou Petrus nooit, óóit in sy lewe kon vergeet nie, die nag toe hy sy geliefde Meester verloën het!

Maar die Here is genadig en almagtig en dieselfde Petrus wat so verskriklik hard geval het word skaars twee maande later uit hierdie pikdonker put van ellende opgehef tot die hoogste hoogtes om as onverskrokke leier van die nuwe kerk uit te troon. Toe hy op sy eie krag staatgemaak het, was dit ‘n katastrofe maar toe hy homself aan die Heilige Gees oorgegee het, was sy Bron van krag onuitputlik, eindeloos.

Dalk sit jy vandag in daardie put waarin Petrus beland het. Jy weet nie meer herwaarts of derwaarts nie. Moontlik lyk dit vir jou na die einde van jou geloofspad en jy wil ook soos Petrus huilend die nag inhardloop! Dan het ek vir jou baie goeie nuus want dieselfde Heilige Gees wat vir Petrus later so opgehef het, wag ook vir jou om jouself aan Sy sorg oor te gee. Ja, dieselfde Heilige Gees het vanoggend, toe ek vir Hom sê: “Here, ek weet nie wat om te skryf nie!” my gedagtes kom vul met hierdie boodskap aan jou!

Inderdaad is Hy rééds in jou en Hy hunker daarna om die bestuur van jou wankelrige lewe vir jou te rig. Maar Hy sal dit slegs doen as jy vir Hom die stuurwiel gee. Doen dit - jy sal nooit, óóit spyt wees nie!

Gebed:

Here, neem my totale lewe oor en gebruik dit tot U eer!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Petrus se Verraad
26 April, 2024
Hosanna, Hosanna!
25 April, 2024
Nasaret Verwerp Jesus
24 April, 2024
Jesus se Doop
23 April, 2024
Géén Plek vir Jesus
22 April, 2024