| Terug na |
| |
Giant's Castle |
Giant’s Castle Deel 1: Boesmanspas “Kom
ons gaan klim Giant’s Castle” stel Louis (Snor) Fourie voor. Ek is
dadelik opgewonde - hy en Stinkie (Arthur Pringle) en ‘n paar ander het
al hierdie ou grote aangepak, en dan kan dit mos nie so onmoontlik wees
nie. ‘n Klomp hande gaan op vir hierdie groot avontuur, en die
beplanning begin. Dit sal ‘n vier dae staptog wees - met Boesmanspas op
- oor die plato en dan weer af by Langalibalele pas. Klink vir my
eenvoudig! Ek
begin draf om fiks te word, want hierdie in ‘n stewige klim. Die meeste
van die ander ouens het (nes ek) absoluut geen ervaring van bergklim
nie. Die beste wat ons gedoen het was om die kettingleer van Mont Aux
Sourses aan te durf een Desember langnaweek. Maar dit is ‘n héél ander
storie! Maar die Mont Aux Sourses ervaring het ons almal watertand vir
Giant’s Castle! My
grootste bate vir die staptog is my ou paar goed uitgetrapte
weermagstewels uit my dienspligjare. ‘n Week voor die groot klim gaan
koop Tienie vir hom ‘n splinternuwe paar vellies. “Jy sal nooit die
berge oor kom met hulle nie”, waarsku ek hom, “hulle gaan jou voete rou
skaaf!” Maar Tienie is vol vertroue dat hulle heerlik sag op die voet
is. En
dan breek die groot dag aan. Voorrade is noukeurig beplan en aangekoop.
Daar is genoeg tente vir almal. Ek sorg vir die mediese voorrade -
slangbytserum, moeti vir maagaandoenings, baie pleisters vir geskaafde
voet ens. Die rugsakke is gepak, en pikdonkeroggend vat ons die pad
berge toe. Maar
die dag begin nie goed nie. In gietende reën vertrek ons uit Durban. En
wanneer ons die berge bereik is dit ysig koud en ‘n sagte misreën sif
op ons neer. Misbanke maak dat ons nie eers kan sien waarheen ons op
pad is nie. (Dalk is dit ‘n bedekte seën, want dit sou dalk ons moed
breek as ons sou sien tot watter hoogtes ons moes klim.) Laaste
instruksies van Parkeraad, voordat ons in die pad val, is dat ons onder
geen omstandighede teen die berghang moet uitkamp nie. Ons eerste nag
moet héél bo wees, op die plato. Geen probleem nie - dis mos ‘n lekker
halfdag se stappie! 21
Jong, lewenslustige stappers streep weg op die kronkel-voetpaadjie oor
die eerste bulte van die voetheuwels - ons rugsakke gelaai met tente,
potte, panne, slaapsakke, klere vir elke seisoen van die jaar, en
natuurlik kos vir vier dae. Ons lyk almal soos ‘n spul pakdonkies. Ek
kry die meisies jammer - hulle is mos nie veronderstel om sulke swaar
goed te dra nie! Soos ‘n lang vaal slang kronkel die paadjie teen die
lowergroen bulte uit - op, op, op, al hoër en hoër. Af en toe moet ons
deur ‘n klokhelder kabbelende bergstroom, en dan is dit mooi trap om
nie jou nat skoene nog natter te maak nie. “Kyk!” hyg Piet Rabe, en hy beduie na die oorkant van die kloof. Ek kan my oë nie glo nie - Elande! Rustig staan die troppie Elande en wei aan die oewer van die bergstroom ver onder ons. ‘n Uur later roep Louis halt, en ons kan vir ‘n paar minute sit en rus en ‘n ietsie kou vir energie. “My vellies byt my!” kla Tienie. “Ek het jou mos gesê,” kap ek terug, “jy wou mos nie luister nie!” Intussen
het Willie haar enkel geswik - hy is bitter seer, maar sy kners op haar
tande en byt vas. Niemand sal agterkom dat sy in groot pyn die berg op
hinke-pink nie. Maar
tyd vir kla is daar in elkgeval nie, en dis weer “Voorwaarts” deur die digte
miskombers wat steeds oor ons koppe hang. Die nat voetpaadjie is
plek-plek seepglad en keer op keer maak iemand hard met moeder aarde
kennis as sy voete onder hom uitgly. “Hoe ver nog?” wil iemand weet.
“Net so ‘n myl of wat!” is Louis se antwoord. “Omtrent tyd dat ons nou
bo kom!” dink en in my stilligheid - ek begin nou lam raak. “Wag
eers!” protesteer een van die meisies, “My voet - ek dink ek het my
enkel verswik!” Ons stop, en haar enkel word gemasseer. Dan is dit weer
“Voorwaarts”. Maar haar voet wil maar net nie saamwerk nie, en die
vordering is bitter stadig. Vir twee ure hou dit so aan, en dan besluit
sy dat sy dit beslis nie gaan maak met hierdie seer enkel nie - sy gaan
omdraai. Almal is bitter teleurgesteld. Middagete
het gekom en gegaan, en ons is nog nie eers naastenby bo nie, ten spyte
van Louis se “Nog net ‘n myl of wat”. Wanneer ons die volgende
blaaskansie vat, sit Louis en Stinkie en Piet in druk gesprek, en
kort-kort beduie hulle na hulle horlosies. Hulle lyk bekommerd, en ek
wonder waaroor die gesprek gaan. Ons moet darem nou al baie naby aan bo
wees! Ons
kronkelpaadjie oor die grasbulte loop skielik uit op ‘n baie klipperige
terrein wat skrikwekkend-steil na bo gaan. “Boesmanspas!” kondig Louis
aan. Skielik lig die miskombers, en wat ek daar voor my aanskou laat my
hart ineen krimp. Voor ons troon vertikale kranse hemelwaarts. My oog
volg die ongenaakbare rotsmuur, op en op en op - tot amper in die
oneindigheid. My moed sak in my skoene - moet ons nog tot daar héél bo?
Ek sal dit nooit, ooit maak nie! ‘n
Uur later roep Louis weer Halt. “Ons het ‘n probleempie”, lig hy ons
in, “ons sal hier moet kamp maak vir die nag, want die donker gaan ons
vang voordat ons bo is.” In
volslae ongeloof kyk ek rondom my: Hier? Maar hier is g’n plek om te
kamp nie - die paar ou kolletjies oop grond is nimmer as nooit genoeg
spasie om 20 mense slaapplek te gee nie. Hier is net klippe en groot
rotse, en boonop is dit nog skuins ook. Maar Louis het al begin afpak
en tente uitpak vir die nag - wie is ek in elkgeval om te stry? My
lyf is seer en ek is deur-nat van die hele dag se sagte reën. My voete
is seer, en ek voel boonop ook nie te lekker nie - half naar. Ek slaan
my eenmantentjie - wat ek so terloops met ‘n ander kêrel moet deel - op
‘n operige kolletjie op. Dis nie juis gelyk nie, en reg in die middel
van die tent bult ‘n rotspunt uit. Die donker trek sy pikswart kombers
oor ons en ek besluit om die kooi op te soek. Elders is almal baie
gesellig besig om aandete te maak. Ek voel te siek om saam te eet, en
met my nat klere kruip ek in die slaapsak. Ek lê ‘n boog rondom die
klip, en die grond is bitter hard en klipperig. “Hier
is vir jou ‘n ietsie vir die koue Louis” hoor ek ‘n stem buite die
tent. Deur die opening verskyn ‘n blikbeker, en ek vat dit dankbaar. ‘n
Vreemde geur van sop gemeng met iets anders vul my neus. Ek vat ‘n
sluk. Dit slaan my asem skoon weg. “Sjerrie!” hyg ek, en vat nog ‘n
sluk. Iemand het sop gedrink uit die beker, en ‘n dik laag gestolde sop
klou nog hardnekkig aan die binnekant van die blikbeker. Maar dit pla
my nie - die sjerrie brand al die pad af tot reg onder en laat ‘n gloed
deur my binneste vloei. Nou is ek reg vir die nag! Dit
is ‘n bitter lang nag. Ek is kort-kort wakker, en dan probeer ek die
klippertjies wat my so karnuffel ‘n bietjie uit die pad skuif - sonder
veel resultate - daar kom net nuwes by! My kamermaat het intussen ook
sy intrek geneem, en tussen ons twee en die groot klip is dit bitter
beknop in die eenmantentjie. Ek verlang na my bed.... Ek
skrik wakker. Buite is dit helder lig: “Uiteindelik het die dag
aangebreek!” jubel dit in my. In die groot tent langsaan hoor ek die
meisies gesels. “Ek gly by die tent uit!” kla een, en dan hoor ek hoe
daar gewerskaf word om weer teen die skuiste uit behoorlik in die tent
te kom. Iewers in die kranse begin ‘n bobbejaan die aller-vieslikste
dinge sê - gelukkig verstaan nie sy taal nie. Vol hoop vir die nuwe dag
loer ek by die tentopening uit. Dan sak my moed in my skoene: ‘n Helder
volmaan skyn oor die kranse en verlig die wêreld rondom ons soos helder
daglig. Ek kyk op my horlosie: Dis 12-uur - middernag! Daar is nog
bitter baie nag oor, en dit is bibberend koud. “Drie grade onder
vriespunt!” vertel iemand my die volgende oggend. Uiteindelik
breek die dag tóg aan en na ‘n heerlike ontbyt durf ons ’n baie mistige
Boesmanspas aan. As ek sê dit is kinderspeletjies, dan lieg ek erger as
Karel Grootlieg. Dit is ‘n uitmergelende klim - nie omdat ons onfiks is
nie, maar die gebrek aan suurstof. Jy voel of jy net eenvoudig nie
genoeg asem kan kry nie. En dan is daar die alewige rotse om oor te
klouter. Tien treë klim - rus - tien treë klim - rus - so gaan dit aan
en aan. En ek breek amper my nek om te sien waarheen ons nog moet gaan.
Dit voel asof daar nie ‘n einde is aan die loodregte krans wat hier
langs ons optoring nie. “Ons
is bo!” skree iemand van daar voor af, en sy jubeling weergalm tussen
die kranse. Ek kry sommer nuwe moed, en ek klim vir al wat ek werd is -
aanhou; vasbyt; deurdruk. En sowaar! Dan, skielik is ek ook bo! Ek
kyk terug om die uitsig te bewonder, maar die teleurstelling is groot -
‘n digte misbank maak dat jy skaars die punt van jou neus kan sien.
“Dit is gevaarlik om nou verder te stap” besluit ons leierskorps, en
dus sit ons maar en wag dat die mis opklaar. So maklik kan ons oor die
rand van die afgrond tuimel, want jy kan nie sien waar jy loop nie. En
dan, terwyl ons daar sit, gemaklik geleun teen ons rugsakke, skuif die
gordyn stadig voor ons oop. Ek snak na my asem. Reg voor ons is ‘n
loodregte afgrond, ‘n kilometer hoog. Ons kyk uit oor die hele Natal -
absoluut asemrowend, onbeskryflik mooi, die grasgroen heuwellandskap
wat daar ver onder ons ontvou.. Dit alles was deur en deur die moeite
werd! Wat ‘n wonderlike, absoluut onvergeetlike gesig! Onthou jy nog? |