
| Terug na Hoofblad. |
| |
Voor links na regs: Anita, Zoë, Louise (skoonsus), Bettie, Claudette. Agter: Richard, Ria, Louis, Jaco. (Foto op 18-12-2011) | ![]() | |
|
My lewe sedert KJV In
1969, na ’n paar baie gelukkige jare in Durban Noord KJV verhuis ons
van La Lucia na Ballito. Alhoewel ek nie meer amptelik deel van Durban
Noord KJV is nie, het ek steeds baie kontak, en ek ’n gereelde
besoeker. En uiteindelik ontmoet ek dan ook my bruid in Durban Noord -
Bettie Wiehahn. Op 29 Junie 1974 trou ons in Durban Noord NG kerk - Dr.
Attie Barnard bevestig ons in die huwelik. 1974
is egter ‘n jaar wat ek vir iets anders sal onthou - die jaar waarin
ek, kort voor ons troue, Jesus as my Verlosser ontmoet het. Een aand,
alleen in ‘n klein kamertjie in Amatikulu, het Hy my aangeraak en het
ek Sy kind geword. Al die jare in die KJV het ek met die donker geheim
in my hart geloop - ek het al die kennis gehad, maar nooit ‘n ware
verhouding met Jesus nie. Ons
eersteling, Jaco is ‘n jaar later gebore. ‘n Jaar later, in 1976, tref
die ongeluk ons, toe my ouers se maatskappy bankrot raak. Ek is my werk
kwyt. Ons trek na Welkom waar ek ‘n Christelike boekwinkel bestuur.
Daar word ons tweede kind, Anita gebore. Twee jaar later trek ons na
Bloemfontein waar ek deeltyds studeer. Ons derde kind, Ria word gebore.
Ons het toe ook twee pleegkinders na wie ons omsien. My studies werk
nie uit nie, en ons keer terug na Ballito in 1982, waar ons ‘n
suksesvolle sakeonderneming opbou. In
2010 tref die ongeluk ons egter weer, en ons besigheid gaan bankrot.
Ons verloor alles wat ons deur die jare opgebou het. Maar een ding wat
egter nie van ons weggeneem kan word nie is ons blydskap in die Here.
2010 Is finansieel vir ons ‘n baie slegte jaar, maar geestelik is dit
seker een van die grootste hoogtepunte in my lewe. Ons ervaar die Here
se hand op ‘n baie besonderse manier elke dag in ons lewe, en sien
daagliks wonderwerke gebeur in God se voorsiening. Ons
gemeente het my in diens geneem op deeltydse basis as pastorale hulp.
Ek publiseer ook boeke in my vrye tyd, en skryf ook boeke. Ek het reeds
sowat 55 boeke die lig laat sien (kyk maar by dagstukkie.co.za/eboeke En dit is waar my lewe nou is. Intussen is ons twee oudste kinders getroud, en ons het ‘n pragtige kleinkind, Zoë bygekry. |