Matteus 15:29-39
Ons lees vanoggend ‘n verhaal gevul tot oorlopens toe met liefde en deernis. Jesus en sy dissipels is terug by die See van Galilea waar so ‘n groot deel van Sy bediening afgespeel het. Hierdie keer klim Hy in ‘n afgeleë gebied teen ‘n berg op, en van heinde en verre word siekes na Hom aangekarwei: verlamdes, gebreklikes, dowes, stommes, blindes. Jesus het hulle almal gesond gemaak. Die stroom van “pasiënte” is nimmereindigend, en die wonderlike is dat die mense die hand van God hierin raaksien en God daarvoor loof en prys. As ons tussen die lyne lees, moet ons agterkom dat die enkele genesings wat vir ons opgeteken is in die vier Evangelies, maar ‘n druppel in die emmer is van wat Jesus werklik gedoen het.
Vir drie dae lank hou dit so aan, en die skaar van mense word al hoe groter en groter. Maar daar is ‘n probleem: op hierdie verlate plek is daar nêrens ‘n plek waar die klomp mense kan gaan kos kry nie. Hulle is baie ver van die naaste dorp af, en vir drie dae het meeste van hulle nog niks gehad om te eet nie. Jesus het die mense innig jammer gekry, en Hy lê Sy bekommernis oor hulle voor die voete van die twaalf manne. Hulle kyk vir mekaar: “Waar sal ons in hierdie verlatenheid kos kry vir so baie mense? Hier sit vierduisend honger mans, en dan is daar nog hulle vrouens en kinders ook! Ons kan tog nie vir almal kos optower nie….”
Ai, die twaalf manne het al lankal weer vergeet van die vorige geleentheid waar hulle in ‘n byna identiese situasie vir ‘n reuse skare kos gegee het, en dit met net vyf brode en twee vissies! Hoe kan dit moontlik wees dat hulle so ‘n wonderwerk kan vergeet? Of sou hulle dalk gedink het dat so ‘n wonder beslis nie herhaal kon word nie?
Jesus moes sekerlik baie moedeloos met Sy leerlinge gewees het. Hoe lank gaan dit hulle nog neem om te begin leer? Wanneer kry hulle eendag die boodskap? Drie dae gevul met asemrowende wonderwerke, en nog steeds is die manne kleingelowig!
“Hoeveel brood het julle?” wil Jesus weet.
Sewe brode, ja dis al wat hulle het. En darem ‘n paar vissies ook. Dan doen Jesus dit weer: Hy dank God vir die kos en die manne word aangesê om die kos te begin uitdeel. Hoe verder hulle vorder, hoe meer word die kos! Daar is net eenvoudig nie ‘n einde nie! En wanneer almal versadig is bly daar nog baie meer oor as wat hulle uitgedeel het, sewe mandjies vol brood.
Hoe ironies dat hierdie einste mense wat met soveel verwondering na Jesus geluister het, wat so elke woord wat uit Sy mond gekom het ingedrink het, Hom uiteindelik verwerp het. Ja, dit was dieselfde mense wat met soveel oorgawe die nimmereindigende stroom van siekes en blindes en gebreklikes en dowes na Jesus toe aangebring het! Ons lees dat Jesus hierdie mense innig jammer gekry het. Ons sien telkemale hoedat Hy Hom afsloof om in hierdie mense se behoeftes te voorsien. Ons sien hoedat Hy dae aanmekaar moet werk om die stringe en stringe siekes gesond te maak, en dat Hy Hom boonop nog bemoei daarmee om vir reuse skares kos te gee. Hoeveel deernis was daar nie opgesluit in Jesus se onselfsugtige werk nie! Nogtans is dit dieselfde mense wat Hy met soveel liefde oorlaai het wat net ‘n rukkie later gevul met haat, woedend geskreeu het: “Kruisig Hom! Kruisig Hom!”
Vandag veroordeel ons die Jode oor hulle kortsigtigheid. Maar ons moenie te gou oordeel nie, want is dit nie maar die geskiedenis van die moderne mens ook nie? Sien ons nie vandag hierdie sélfde dinge voor ons oë afspeel nie? Inderdaad kan ons vinger wys na die hordes en hordes mense wat Jesus vandag openlik verwerp. En dit is nadat die Evangelie, die blye tyding so helder en duidelik regoor die wêreld uitgebasuin word oor die TV, radio en internet. Net soos die Jode van ouds kan almal vandag eerstehands die wonderdade van God aanskou. Die oorgrote meerderheid van mense lag egter maar net oor hierdie Evangelie, en dan gaan hulle ongestoord voort met hulle roekelose lewens.
Steeds moet ons nie te gou wees om te oordeel nie, want ek en jy as Christen-gelowiges, wat Jesus se wonderlike liefde eerstehands ervaar het, en wat vandag weet dat Hy ons gered het uit die ewige verdoemenis - hoe leef ons ons dankbaarheid teenoor Hom uit vir hierdie groot genade?
Inderdaad skree ons darem nou nie “Kruisig Hom!” nie, maar seer selde weerspieël ons lewens daardie wonderlike liefde wat Jesus aan ons betoon het. As ek moet terugdink aan die liefde en deernis waarmee Hy my uit die poel van sonde en verderf gered het, staan ek vandag met groot skuld voor Hom. Ek kan nie eers naastenby begin om met my lewe daarvoor dankie te sê nie! In Matteus 28 vra Jesus ‘n klein dingetjie van my: om te gaan vertel. Met hoeveel mense het ek al ooit in my leeftyd die Evangelie gedeel? Vir hoeveel het ek vertel?Vir hoeveel mense wat smag na die Evangelie, het ek al ooit ‘n traktaatjie in die hand gestop?
Die wêreld is honger vir die Woord. Maar sonder ons, God se boodskappers, kan hulle nie versadig word nie.
Gebed:
Here, ek loof en prys U, want U is so goed vir my. U oorlaai my dag-vir-dag met ryke seëninge. Help my asseblief om ook iets hiervan vir U terug te gee.