Daniël 2:1-13
Het jy al ooit ‘n droom gehad wat jou só ontstel het dat dit by jou bly spook? Iemand kom vertel my eendag dat sy so ‘n ontstellende droom gehad het en toe vra sy my of ek dit dalk vir haar sou kon uitlê? Sy wou weet wat sou dit beteken? Natuurlik is ek nie ‘n Josef of ‘n Daniël nie en van sulke dinge weet ek niks! Die vraag is of drome ooit ‘n betekenis het? Toe ek kind was, het die oumense ‘n betekenis geheg aan elke droom - as jy sús droom, dan sou só gebeur. En dikwels was mense bitter ontsteld, want daar sou dood in die familie kom omdat iemand iets gedroom het wat dit kwansuis sou voorspel. Het drome ooit énige betekenis?
Die antwoord hierop is: “Ja” én “Nee”. “Nee”, omdat drome maar net ‘n ontlading is van jou onderbewussyn en dat jy verder absoluut géén waarde daaraan kan heg nie. Dit gaan byvoorbeeld nie vir jou die toekoms voorspel nie! Maar dan moet ek dadelik byvoeg, dat God almagtig is en dat Hy op wonderbaarlike wyses kan werk. Op verskeie plekke in die Bybel lees ons van gevalle waar God in ‘n droom met mense gepraat het. Moet asseblief nie God se stem in elke droom sien nie - hierdie is raar gebeurtenisse en daar het dikwels honderde jare verloop tussen die geleenthede waar God só met mense gepraat het. Dit was slegs by uitsonderlike geleenthede, en wanneer iets van uiterste belang sou gebeur.
Nebukadnesar het so ‘n droom gehad - ‘n Godgegewe droom.
Maar nou is daar eers ‘n ander sakie wat ons moet oplos - ‘n “teenstrydigheid” in die verhaal. Hierdie perikoop begin deur te vertel dat die gebeurtenis in die tweede jaar van Nebukadnesar se regering plaasgevind het. Uit die vorige hoofstuk weet ons dat Daniël eers drie jaar opleiding gekry het - dit maak nie sin nie! Verder lyk dit asof Daniël totaal onbekend was in die paleis - net ‘n Judese balling. Ons moet onthou dat hierdie boek geskryf is meer as 300 jaar na Daniël geleef het. Dit was vertellings en oorlewerings wat tóé eers geboekstaaf is. Ons moet ook baie goed besef dat hierdie boek nooit bedoel was as ‘n geskiedenisboek om Daniël se geskiedenis te vertel nie - hy was slegs die aanknopingspunt van die verhaal. Hierdie boek handel oor God en nie oor Daniël nie! Ons moet dan ook elke perikoop in die boek op sy eie lees wat die geskiedenis betref en baie dieper kyk as net ‘n storie - dan sal ons vir God agter die storie sien. Eers dán sal Daniël vir ons sin maak.
As ons dit hierbo in ag neem, dan sien ons dat die boodskap wat die skrywer in hierdie verhaal vir ons wil tuisbring, behels dat “die God van die Hemel” absoluut alles weet en dat Hy alles beheer. Verder wil die verhaal vir ons sê dat God wél reddend kan ingryp! Dit is die troos wat die skrywer aan sy lesers wou bied terwyl hulle onder vreemde oorheersing moes leef. Geskiedenis troos mense nie - dit is gewoonlik totaal te mistroostig! Wat wél waar is, is dat verhale mense wél kan troos. Aangrypende verhale kan mense weer sin gee in die lewe, asook hoop. Die skrywer van hierdie boek het dit terdeë besef. Jesus het natuurlik ook mildelik gebruik gemaak van sulke verhale om sekere waarhede vas te lê, en met baie groot sukses! Die vraag wat dalk by jou opkom is: Was hierdie dan net ‘n storie? Geensins! Dit is inderdaad ‘n ware verhaal, maar moenie dit bloot as geskiedenis lees nie!
Die skrywer kom en bou die verhaal stelselmatig op na ‘n klimaks. Eers word al die Babiloniese droomuitlêers bymekaargeroep. Dit is asof die koning sy net so wyd as moontlik gooi. Hierdie droom pla hom verskriklik en nét miskien is daar iemand wat dit kan uitlê. “Ek wil weet wat die droom beteken”, gooi hy eers die aas uit.
“Aag, dis maklik!”, het die wyse manne seker gedink, maar dan los die koning die bom: “Gee my die droom én die uitleg”.
“Maar dis onregverdig!” kerm hulle - hoe kan hy dit van hulle verwag? Mens kan tog nie ‘n droom uitlê as jy nie eers weet waaroor die droom gaan nie! Dis soos om vir ‘n dokter te sê om iemand gesond te maak sonder dat hy die pasiënt sien of vertel word wat hom makeer. Dis onlogies en absurd!
Maar die koning bulder voort: “Die droom, anders is julle dood!”
“Maar daar is géén mens op aarde wat dit kan doen nie”, kerm hulle, “ons is mense, nie gode nie! Wees asseblief redelik!”
Die opdrag word gegee dat die hele lot wreedaardig doodgemaak moet word. Daniël en sy vriende se lewens is natuurlik ook in die gedrang, aangesien hulle ook onder die koning se raadgewers tel. Die donkerste nag in die lewens van die raagewers het aangebreek. So bitter, bitter onregverdig!
Maar dit berei die verhoog voor, dat God se almag aan die heidene bekendgestel word. Dikwels is dit in die héél donkerste nag waar God se lig die helderste skyn. Wanneer dit menslik lyk asof daar absoluut géén uitkoms is nie - dan sê God: “Maar Ek is in beheer! Ek het hierdie duisternis toegelaat om My almag te demonstreer!”
Hoe gaan God Sy almag hier demonstreer? More sal ons DV sien!
Gebed:
Here, dankie vir hierdie wonderlike verhaal van Daniël, en vir die troos wat dit selfs vandag nog vir ons bied!