.

.

.

Inhoudsopgawe

.

1 Goeie Nuus!

2 Vriend van God

3 Sagaria

4 Maria

5 Swanger

6 Baba vir God

7 Volkstelling

8 Skaapwagters

9 Wetsgehoorsaam

10 Jesus in die Tempel

11 Johannes die Doper

12 Jesus se Doop

13 Seun van God

14 Versoekings

15 Verwerp in Nasaret

16 Welkom in Kapernaum

17 Vissers van Mense

18 Die Melaatse

19 Man deur die Dak!

20 Levi 

21 Uitgevang op die Sabbat!

22 Twaalf Apostels

23 Seëninge

24 Lééf jou Liefde Uit

25 Gelykenisse en Vrugtebome

26 Fondamente

27 Twee Wonderwerke

28 Twyfel

29 Kritiek

30 Simon en daardie vrou

31 Vroue saam met Jesus

32 Die Saaier

33 Die Olie Lampie

34 Storm op die See

35 Die Besetene

36 Twee Dramas

37 Uitgestuur in die Wêreld

38 Wie is hierdie Jesus?

39 Petrus se Belydenis

40 Om Jesus te Volg

41 Verheerlik op die Berg

42 Onvermoë

43 Respek

44 Navolging van Jesus

45 Uitgestuurdes

46 Wie is my Naaste?

47 Marta, Marta.....

48 Ons Vader

49 Gebed

50 Jesus en Beëlsebul

51 Die Tropleier

52 Prioriteite

53 Drie Preke

54 Gierigheid

55 Is jy gereed?

56 Die Tyd raak Min!

57 Waar was God?

58 Mosterdsaadjie

59 Is God Onregverdig?

60 Jerusalem, Jerusalem!

61 Beskeidenheid

62 Die Fees

63 Bereken die Koste

64 Die Verlore Skaap

65 Die pa wat byna albei sy seuns verloor het

66 Die Slinkse Bestuurder

67 Die Wet en die Koninkryk

68 Lasarus en die Ryk Man

69 Moeilike Opdragte

70 Tien Melaatse Manne

71 Die Seun Kom Weer!

72 Gebed

73 Jesus en die Kindertjies

74 Begeertes

75 Ek gaan Sterf

76 Jerigo se Blinde

77 Die Mannetjie in die Boom

78 Tien Goue Munte

79 Die Groot Intog

80 Reiniging van die Tempel

81 Jesus se Gesag

82 Die Boere en die Wingerd

83 Belasting?

84 Is daar Lewe na die Dood?

85 Die Grysneushoring

86 Twee Muntstukkies

87 Die Val van die Tempel

88 Eindtye

89 Verskrikking in Jerusalem

90 As die Vyeboom Bot

91 Wees Waaksaam

92 Judas Struikel

93 Opdrag van die Meester

94 Die Nagmaal

95 Wie is Baas?

96 Petrus, Petrus!

97 Twee Swaarde

98 Getsemane

99 Pikdonker Duisternis

100 Petrus se Verraad

101 Jesus voor die Joodse Raad

102 Jesus voor Pilatus

103 Herodus se Ontnugtering

104 “Kruisig Hom, kruisig Hom!”

105 Op Pad na Golgota

106 Jesus Gekruisig

107 Twee Misdadigers - Een Belofte

108 Jesus Sterf

109 Jesus word Begrawe

110 Hy het Waarlik Opgestaan

111 Die Pad na Emmaus

112  Jesus is Hier!

113 Die Hemelvaart



.

.

.

.



Dinsdag 13 Julie 2021

Goeie Nuus!

Inleiding tot Lukas

VIDEO OUDIO

Ek skakel gretig die TV aan om nuus te kyk. Sommer met die intrapslag is daar die mooiste verhaal van hoop. Nie ‘n enkele geval van Kovid is aangemeld nie. Die Staatspresident het ‘n splinternuwe kabinet saamgestel uit leiers van al die verskillende kerke.

Ag nee wat, dis sommer ‘n wolhaarstorie! Jy hoor selde indien óóit goeie nuus. Baie mense weier om 'n koerant te koop of TV nuus te kyk, want alles maak jou morbied. Daar is ‘n honger by mense na iets wat mooi en goed is, iets wat redding kan bied uit hierdie stinkende modderpoel waarin ons ons bevind. Ons finansies is in n haglike toestand. Hierdie liederlike virus eis by die dag meer lewens en ons is almal al swaar getref met geliefdes wat gesterf het. Ons regering is in ‘n gemors. Kyk maar na die verwoesting wat die afgelope paar dae gesaai is op al die paaie in KwaZulu-Natal. Staatskaping, korrupsie, bendegeweld - noem maar op!

En dan kom Lukas en vertel ‘n verhaal van hoop, van ‘n God wat omgee en ‘n plan het vir die wêreld se ellende. Hierdie is nie maar net nóg een van die talle skemas wat nie werk nie – nee, die Plan waarvan Lukas skryf is die enigste een wat waarlik werk, want hy vertel van Iemand, n Verlosser wat ons mense se blydskap en voorspoed op die hart dra. Natuurlik is hierdie Iemand waarvan hy skryf God die Skepper van die heelal, wat duisende jare tevore alreeds aan Adam sy plan van bevryding bekend gemaak het.

Lukas wasn mediese dokter en hy het in ‘n Hellenistiese wêreld grootgeword. Aleksander die Grote het die Griekse taal en kultuur in die wêreld ingedra, sowat 400 jaar voordat Lukas sy boek geskryf het. In Lukas se tyd het daar omtrent 4 miljoen Jode rondom die Middellandse See gewoon, waarvan ‘n halfmiljoen in Palestina gebly het. Nie minder nie as sesduisend van hulle was Fariseërs. Aleksander se mag was natuurlik al lankal iets van die verlede, en die hele gebied rondom die Middellandse See was in die greep van die Romeine. Ten spyte hiervan was daar wél ‘n Joodse koningshuis wat ‘n klein bietjie mag gehad het, en daar was ook ‘n Joodse Raad, die Sanhedrin, waar die Joodse Godsdienstige leiers die septer geswaai het. 

Op die platteland het dit dikwels baie swaar gegaan, want baie grondeienaars het stede toe getrek. Daar was swaar belastings, en bedelary en rowers was aan die orde van die dag. Opstande as gevolg van armoede en onderdrukking, het die samelewing verder gedestabiliseer. Baie mense het hulle tot toorkuns, astrologie en allerhande nuwe godsdienste gewend vir ‘n uitkoms.

Alhoewel Palestina swaar onder Griekse invloed was, was daar tóg ‘n baie hoë waardestelsel onder die Joodse bevolking. Judaïsme het hoë morele standaarde gehad en ‘n geloof in ‘n persoonlike God. Streng wette was gehandhaaf, veral soos die Fariseërs dit vertolk het. Meeste Jode het hulle heil hierin gevind. Eer en skande het ‘n baie belangrike rol gespeel in mense se waardes. Binne hierdie waardestelsel moet ons die Evangelie van Lukas verstaan.

Lukas het nie sommer maar net gaan sit en begin skryf nie. Hy was ook nie die eerste een wat so ‘n Evangelie aangedurf het nie. Hy skryf dan ook dat daar al baie voor hom was wat die verhaal aangedurf het. So het Markus se Evangelieverhaal toe alreeds die lig gesien. Lukas het juis Markus se verhaal gebruik as een van sy bronne. Hy het deeglik navorsingswerk gedoen voordat hy begin skryf het. Hy wou baie seker maak dat sy inligting absoluut korrek en suiwer was, en dat die volgorde van sy verhaal reg was. Die feit dat die volgorde van die ander evangelies nie altyd korrek is nie, maak hulle natuurlik nie minder betroubaar nie. Die klem word net op ander aspekte geplaas. En natuurlik het Lukas baie inspirasie gekry van die groot sendeling, Paulus. Hy het soms vir Paulus op sy reise vergesel en hom as sekretaris gehelp met sy briewe. Dalk was hierdie een van die groot aansporings om sélf te skryf. Later het hy dan ook ‘n “opvolgepisode” geskryf toe hy Handelinge die lig laat sien het.

Die Evangelie van Lukas was baie meer as maar net ‘n verhaal. Dit het mense hoop gegee in ‘n baie deurmekaar wêreld. Vandag is ons wêreld dalk nog meer deurmekaar, en steeds is Lukas se boek vars en nuut en ‘n absolute verkwikking in ‘n tyd waar ons nie herwaarts of derwaarts weet nie. Lukas vertel vir ons van God se Verlossingsplan, iets wat dalk vir baie mense al ou nuus is. Maar dikwels kry ek nog te doene met mense wat desperaat is vir hierdie wonderlike verlossingsplan. Lukas se verhaal mag dalk 2000 jaar oud wees, maar die inligting en die boodskap is steeds kraakvars relevant. In ons moderne wêreld van tegnologie en wetenskap bied hierdie boek steeds net soveel hoop as in die Hellenistiese wêreld waarin Lukas en sy eerste lesers geleef het.

Gebed:

Dankie Hemel Vader vir die wonderlike hoop wat U aan ons gee in hierdie onseker tye.

.

.

.

.



Woensdag 14 Julie

Vriend van God

Lukas 1:1-4


VIDEO OUDIO

Dokter Lukas sit by die skryftafel, gansveer in die hand. Dit is nie die eerste keer dat hy 'n brief skryf nie, hy het dit al menigmaal gedoen namens Paulus. Maar hierdie keer is dit anders, hierdie slag is dit sy eie skryfwerk.

Hooggeagte Teofilus!” begin hy sy verhaal. 

Lukas glimlag, die man se naam “Teofilus” beteken letterlik “Vriend van God.” Hy het al verskeie kere met Teofilus gesels oor Jesus, en nou het hy besluit om die volledige verhaal van Jesus vir hom neer te skryf presies soos wat dit alles gebeur het. Alhoewel Lukas vir Teofilus skryf, is hierdie boek bedoel vir enige “Vriend van God” wit dit wil lees!

Inderdaad het Lukas 'n klomp navorsing gedoen en met verskeie ooggetuies gepraat oor presies wat alles gebeur het. Hy het ook Markus se verslag gelees en verskeie ander verslae wat geskryf is oor Jesus. Nou wag daar 'n groot taak op hom om alles te verwerk en dit noukeurig in die regte volgorde neer te skryf. Hierdie boek sal dus baie meer as net ‘n “storie” wees, eerder ‘n akkurate kombinasie van kuns, wetenskaplike rapportering, en die belangrikste, die boodskap van God aan Teofilus en elkeen wat dit lees. 

Vir Lukas het daar ‘n moeilike taak voorgelê om hierdie verhaal te skryf, want hy was nie persoonlik betrokke nie. Anders as die ander drie Evangelieskrywers was hy nie ‘n ooggetuie van wat met Jesus gebeur het nie. Dit is soveel makliker as jy sélf die dinge ervaar het. Ek skryf dikwels sketse uit die Laeveld, en ek kan dit in fyn detail vertel want ek het die dinge persoonlik beleef. Dit was vir twintig jaar deel van my lewe, en dit is dus maklik om daaroor te skryf.

Vir Lukas was dit egter anders, en hy moes met talle mense gesels wat die gebeure beleef het, en probeer sin maak van wat hulle vertel. ‘n Lang tyd het boonop reeds verloop sedert die dinge plaasgevind het, en elke persoon se verhaal moes hy evalueer en in perspektief plaas. Belangriker nog, hy moes hierdie verhaal wat voor hom ontvou het soos wat hy met mense gesels, sy eie maak, en dit sélf in sy gedagtes beleef. 

Nadat Lukas die honderde brokkies opgeteken het, wag daar nog ‘n groter taak op hom. Hy moes probeer sin maak van alles en dit in volgorde saamvoeg in ‘n verhaal wat kronologies sin maak. Dit was ‘n reuse taak!

Vandag is dit relatief maklik om so ‘n taak aan te pak. Met die moderne tegnologie van Internet, vinnige vervoer, georganiseerde argiewe en opgeleide wetenskaplikes, is navorsing relatief eenvoudig. Ons moet egter onthou dat Lukas nie sulke tegnologie beskikbaar gehad het nie. Dit was dus ‘n reuse taak, en ek neem aan dat hy dikwels lang afstande moes aflê wat weke geduur het om enkele feite te kon boekstaaf.

Wat maak dat ‘n mens soveel moeite doen? ‘n Skrywer hoop gewoonlik dat sy navorsing uiteindelik gaan beteken dat sy boek goed verkoop, en dat hy ‘n paar Rand daaruit sal maak. Lukas het egter nooit daardie vooruitsig gehad nie. Wat was dan sy doel? Hy wou aan Teofilus al die feite deurgee sodat hy die Christelike waardes wat hy geleer is kon vasmaak met die ware feite.

Daar is egter ‘n ander aspek rondom hierdie verhaal wat ons dééglik in gedagte moet hou. Alhoewel Lukas dit nie pertinent noem nie, weet ons uit ander Skrifgedeeltes dat hierdie asemrowende stukkie werk nooit ooit die lig kon sien as die Heilige Gees nie Persoonlik die inspirasie hier agter was nie. Dit het nie maar toevallig gebeur dat Lukas begin skryf het nie. Hy het met Paulus te doene gekry, en dáár het hy die liefde vir skryf aangeleer toe hy Paulus se briewe namens hom moes skryf om die swaksiende ou man te help. Die tye wat hy saam met Paulus deurgebring het, moes hom ‘n wonderlike insig gegee het oor waaroor dit alles gaan. Dit het hom sekerlik ook in kontak gebring met van die ooggetuies wat eerstehands hierdie dinge ervaar het. Op hierdie wyse het die Here wonderlik voorsien om ‘n begaafde man te kry om die verhaal van Jesus op te teken.

Maar daar het dit baie beslis nie opgehou nie, want elke oomblik van sy navorsing en sortering en dwarsdeur die hele skryfproses was die Heilige Gees teenwoordig en het Hy vir Lukas inspirasie gegee om die regte dinge te kon skryf. Nee, Hy het nie woord-vir-woord vir Lukas gedikteer nie. Ons sien duidelik hoedat Lukas se eie persoonlikheid dikwels na vore kom. Maar wat ons wel baie deeglik moet verstaan is dat die Heilige Gees vir Lukas gebruik het om die verhaal te skryf.

Jou naam is óók Teofilus, want jy is mos ‘n “Vriend van God!” Daarom is hierdie verhaal persoonlik vir jou en my geskryf. Die Outeur is in werklikheid die Heilige Gees, en daarom praat Hy deur hierdie wonderlike verhaal met jou en met my. Kom ons lees dit dus met ‘n oop gemoed, en drink elke woord in wat die Heilige Gees vir ons met hierdie verhaal wil sê. Omdat Hy persoonlik met elkeen van ons hierdeur praat, gaan elkeen se boodskap anders, uniek en persoonlik wees.

Gebed:

Here, dankie vir Lukas, en dankie dat U ook deur sy skryfwerk met my persoonlik praat.

.

.

.

.



Donderdag 15 Julie

Sagaria

Lukas 1:5-25 


VIDEO OUDIO

Eendag, lank, lank gelede....” Dis hoe sprokiesverhale begin. Die storie speel iewers in die verre verlede af met fiktiewe karakters. Lukas se verhaal is soveel anders. Dit het ‘n besliste plek in die geskiedenis, in die tyd toe Herodus die Grote oor Judea regeer het. Die karakters in die verhaal is bekende mense.

Ons ontmoet die priester Sagaria uit die priesterorde Abia, een van 18’000 priesters en Leviete in Palestina. Elkeen van die 24 priesterordes moes twee keer per jaar vir ‘n week lank tempeldiens doen.

Sagaria was ‘n vroom Godsdienstige leier, getrou aan die Wet van God. Dit was ‘n groot teenstelling met baie van die Godsdienstige leiers met wie Jesus later te doene sou kry. Sagaria se vroomheid het uit sy hart gekom. Hy het ‘n opregte liefde vir God gehad, baie anders as die meeste ander waar dit gegaan het om eiegeregtigheid.

Sagaria en sy bejaarde vrou Elisabet het een baie groot probleem gehad: hulle was kinderloos. Dit was in daardie tyd ‘n skande. Dit was 'n hopelose situasie, want albei was al te oud vir kinders. Hoe ironies, dat die ouers van die seun wat die voorloper vir die langverwagte Messias sou word, niks gehad het om te wys nie, niks wat daardie droom sou kon verwesenlik nie!

Lukas begin sy verhaal in die Tempel in Jerusalem en 24 hoofstukke verder eindig sy verhaal weer in dieselfde Tempel. Dit is baie belangrik, want vir die Jode was dit die woonplek van God op aarde, en dáár het Hy Sy teenwoordigheid onder die volk bekend gemaak met die koms van die Christus. Lukas skryf egter sy verhaal in ongeveer 85nC, dus 15 jaar nadat die tempel alreeds deur die Romeine verwoes is.

Daar is egter ook ‘n ander uiters belangrike saak waarop Lukas ons aandag wil vestig: die krag van gebed. Lukas vertel dat die volk buite die tempel besig was om te bid terwyl Sagaria in die tempel besig was. Hulle kon nou wel nie sélf deelneem aan die priesterlike handelinge nie, maar hulle kon deur hulle gebed steeds deel wees daarvan. Vir ons as lesers van die Evangelie skep dit ‘n verwagting: dáár waar mense saam bid kan iets baie dramaties gebeur! Nee, ons kan nie vir God manipuleer deur gebed nie, maar deur ons gebed kan ons besef hoe afhanklik ons in werklikheid van God is. So ervaar ons Sy liefde in sy volle intensiteit.

Op dié besonderse dag word Sagaria aangewys om die wierook op die altaar te gaan brand. Buite hoor hy hoe die volk besig is om te bid. Vir hom is dit ‘n doodgewone werksdag, en met groot toewyding begin hy om sy taak te verrig. Hy plaas ‘n wierookoffer op die altaar soos hy al vir baie jare gedoen het. Maar dan kry hy skielik ‘n gewaarwording wat sy hare laat regop staan. Hy voel dat hy nie alleen is in die heiligdom nie! Regs van die altaar staan daar skielik iemand. Sagaria skrik hom boeglam as hy geskok hierdie vreemde persoon aangaap. Dan praat die man, en dadelik weet Sagaria dat hierdie nie maar ‘n gewone man is nie, maar 'n engel van die Here, niemand anders nie as Gabriël, een van die troonengele van God wat namens God mag praat. Dit is iets wat slegs gebeur by baie besonderse geleenthede, en daarom Sagaria se vrees.

Die engel stel hom gerus, en dan kondig hy aan dat Sagaria en Elisabet se gebed beantwoord is. Hulle sal op hulle oudag ‘n seuntjie hê, maar hierdie kind sal ‘n baie besonderse plek vervul in God se groot Raadsplan. Hy sal alreeds met die Heilige Gees vervul wees van sy geboortedag af. Sy groot taak sal wees om die pad voor te berei vir die Messias, die Seun van God. Hierdie kind het die taak om die volk se gedagtes op God te fokus sodat hulle die Messias sal herken. Die Heilige Gees sal hom die krag gee om ‘n ware profeet van God te word, een wat selfs Elia se skoene sal volstaan.

Sagaria skud sy kop in ongeloof. “Dis onmoontlik”, dink hy. “Hoe sal ek weet of dit waar is?” vra hy vir die engel. God bewys Sy almag deur Sagaria stom te maak.

Die menslik-onmoontlike gebeur, en Elisabet, ‘n ou vrou  raak swanger. Lukas skets hier dat daar vir God absoluut niks onmoontlik is nie. Sy almag is sonder perke! Terwyl Sagaria sy tong kan afbyt dat hy getwyfel het, jubel Elisabet, want sy het geweet dat God se belofte besig was om in vervulling te gaan.

Wonderwerke het nie opgehou by Sagaria of selfs by Jesus se bediening nie. Dag-vir-dag beleef ek God se ongelooflike wonderwerke in my lewe. Elke dag begin vir my met ‘n wonderwerk, wanneer hierdie dagstukkie gebore word, want ek is nie uit my eie in staat om dit te skryf nie. Sy Vaderlike voorsiening in my lewe is asemrowend en ek is totaal van Hom afhanklik. Ek kan Hom maar net loof en dank.

Gebed:

Dankie Here, dat U my so op U liefderyke hande dra elke dag van my lewe!





.

.

.

.



 Vrydag 16 Julie

Maria

Lukas 1:26-38


VIDEO OUDIO
Ses maande verloop sedert die engel aan Sagaria verskyn het. Die wonderwerk het gebeur presies soos die engel voorspel het, en die bejaarde Elisabet het swanger geraak. Sy en die gryse Sagaria het al lankal vrede gemaak met die feit dat hulle kinderloos sou sterf. Maar nou het God die absoluut onmoontlike gedoen! In 'n oogwink is hulle lewens totaal omgekeer!

Hulle is egter nie die enigste wat so ‘n radikale omkeer in hulle lewens ervaar het nie. In Nasaret woon ‘n jong meisie met die naam Maria. Op die brose ouderdom van 14 jaar was sy reeds verloof, soos die gewoonte in daardie jare was. Haar verlowing aan die skrynwerker Josef was deur haar pa gereël. (hierdie besonderhede word nie pertinent deur Lukas genoem nie maar ons kan dit so aanneem.) ‘n Verlowing was so goed soos ‘n huwelik, alhoewel die huwelikseremonie nog nie amptelik plaasgevind het nie. Alles was reeds gefinaliseer. Lukas beklemtoon egter die feit dat Maria nog steeds ‘n maagd was. 

Anders as vandag, was dit in daardie tyd van uiterste belang dat ‘n meisie nooit omgang sou hê, tot die dag van haar huwelik nie. Só gesteld was die gemeenskap oor ‘n rein lewe, dat iemand wat egbreuk gepleeg het gestenig kon word. Hulle kon haar met klippe doodgooi!

Op ‘n dag verskyn daar skielik ‘n baie vreemde man voor Maria. Hy groet haar met: “Ek groet jou, begenadigde! Die Here is by jou!”

Ons moet verder ook in gedagte hou dat ‘n jong meisie soos Maria absoluut géén status gehad het nie, sy was skaars meer as een van haar pa se karige besittings beskou. Wanneer die engel haar dus “begenadigde” noem, skrik sy haar byna dood. Wat het sy, die eenvoudige, onbelangrike meisie gedoen om sulke groot woorde te verdien? Sy is verbysterd, wat kan dit tog beteken? Baie gou stel die engel die arme verbouereerde meisie gerus. Maar dan deel hy vir haar die ontstellende nuus mee dat sy swanger sou raak. Maria se knieë het skielik lam geword, dit was tog onmoontlik? Die engel gaan kalm voort en beskryf in detail allerhande dinge wat haar verstandjie gladnie wil begryp nie. “Hy sal die Seun van die Allerhoogste genoem word”, hoor sy die engel sê.

Maar dis onmoontlik!” skree dit in haar binneste. “Ek droom!” Die engel gaan egter rustig voort en vertel vir haar dat sy haar Seun Jesus moet noem en dat Hy op die troon van Sy voorvader Dawid sal sit. Hy sal vir ewig as Koning heers.

Maria se kop draai! Alles is net hééltemal te veel vir haar. “Maar hoe is dit moontlik? Ek het dan nog nooit met ‘n man omgang gehad nie!”

Die engel verduidelik van die Heilige Gees wat die lewe in haar sal wek en dat haar Seun die Seun van God sal wees. Maria se verstand sê vir haar dat dit sekerlik ‘n fout moet wees, dit is tog totaal onmoontlik! Maar dan vertel die engel vir haar van haar bejaarde tante Elisabet wat ses maande swanger is. As so ‘n wonderwerk met haar kinderlose tante kon gebeur, dan is die wonderwerk wat hier besig is om voor haar oop te vou ook mos moontlik! Absoluut enigiets is vir God moontlik!

En so berus Maria daarby: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.”

Baie jare later toe Maria al ‘n stokou vrou was, het sy alles wat sy in haar hart bewaar het oor daardie asemrowende gebeurtenis met Lukas gedeel. Wat tóé vir Maria as jong meisie na ‘n onmoontlikheid en totaal onwerklik gelyk het, moes sy later uitvind dat alles absoluut waar was, tot op die laaste kommatjie. Uit die woorde van die engel was dit baie duidelik dat Jesus, Maria se Seun, die Messias was waarna die ganse Joodse volk so lank al uitsien. Die verskriklike onderdrukking wat hulle nou al honderde jare lank moes verduur sou op ‘n einde wees wanneer hierdie Messias kom! Hulle het dit egter totaal verkeerd verstaan, want die Messias sou nie ‘n politieke leier wees nie. Hy sou wél Koning wees tot in alle ewigheid. As Messias is Hy die Seun van God, ‘n feit wat Lukas telkemale in sy verhaal beklemtoon. Dit is dus God wat die sentrale figuur in sy verhaal is.

Lukas vertel die verhale van Jesus en Johannes se geboortes as paralelle. Dit is twee groot wonderwerke wat gelyktydig plaasvind. Daardeur wil hy aan sy lesers oordra dat God in die menslike geskiedenis ingegryp het. Deur sy Gees het God gewerk in die geboortes van Johannes en Jesus. Die krag van God is skeppend, so sien ons ook in die skeppingsverhaal waar die Gees van God oor die watervloed gesweef het en dit beheer het in Sy skeppingsmag.

Daar is mense - selfs geleerdes - wat ‘n probleem het met hierdie maagdelike geboorte. Albei hierdie onnatuurlike swangerskappe blyk onmoontlik te wees. Tóg het dit gebeur! Ons wil vandag ál te dikwels beperkings plaas op God se almag. As hy tóé die onmoontlike kon doen, kan Hy dit vandag steeds doen. Gister het ek getuig van wonderwerke in my eie lewe, en ek wil dit vandag beklemtoon, want by Hom is absoluut alles moontlik! “Niks is vir God onmoontlik nie.” (Luk 1:37)

Gebed:

Here, God almagtig, ek wil U vanoggend loof en prys, want aan U almag is daar geen einde nie!



.

.

.

.



Maandag 19 Julie

Swanger

Lukas 1:39-56


VIDEO OUDIO
Om swanger te wees, maak enige vrou baie opgewonde! Binne enkele ure weet almal daarvan en die Whatsapp groepe gons behóórlik! Arme manlief moet net bontstaan, want sy wil elke liewe tydskrif hê oor babas en swangerskap, en sy wil al wat ‘n babawinkel is deeglik deurtrap. En gewillige (?) manlief moet heelpad saampiekel. En as hy durf wys dat hy dit nie terdeë geniet nie, dan is daar móéilikheid met 'n hoofletter “M”! En nog voordat die boepie behoorlik begin wys, word die magie ekstra geaksentueer en uitgedruk sodat niemand die fout kan maak om dit nié raak te sien nie. Sommige brawes sal selfs hier by agt maande rond met die bolmagie ontbloot rondloop om daardie wonderwerk aan die ganse wêreld uit te basuin!

O, en dan is daar mos die saamgekoekery van al die swanger vroutjies, en al hulle gewaarwordinge word tot vervelens toe met hulle mede-verwagtendes gedeel. Dit kekkel en kloek erger as ‘n klomp broeis henne bymekaar!

Daardie opgewondenheid kan seker nie anders nie, want elke swangerskap is ‘n wonderwerk. ‘n Splinternuwe lewe is besig om te vorm in haar buik, ‘n lewe wat God in die klein ongebore kindjie geblaas het.

Vir Maria is hierdie opgewondenheid nog soveel groter want die klein lewetjie wat sy in haar dra, is die Seun van God, die lang-beloofde Messias waarop haar volksgenote so brandend wag! Sy wil dit uitbasuin, dit uitskreeu aan die wêreld. Maar sy mag nie, want sy is nog nie getroud nie. Die gemeenskap sal haar kruisig!

Sy wil dit deel met iemand wat ook soos sy voel. Dan onthou sy van Tannie Elisabet. Dié het mos óók ‘n wonder-swangerskap nes sy, soos die engel haar meegedeel het! Sy sal beslis van Maria se opgewondenheid verstaan! 

Haastig pak Maria haar goedjies en vertrek na Oom Sagaria en Tannie Elisabet se huisie in ‘n klein dorpie in die berge van Judea. Sy is borrelend van opgewondenheid!

Die bejaarde Elisabet sit ongeduldig die dae en aftel want oor nog net drie maande word haar wonder-baba gebore. O blye dag! Dan hoor sy ‘n vrouestem by die deur: “Shalom, tannie Elisabet!” 

Op daardie oomblik skop en beweeg die baba in haar moederskoot asof hy die stem gehoor het en opgewonde is oor die besoeker. As sy sien dat dit haar niggie Maria is, wel ‘n wonderlike gevoel op in Elisabet, en skielik is dit asof die teenwoordigheid van die Here so oorweldigend is, dat sy nie anders kan as om in ‘n lofsang uit te bars nie. Vol van die Heilige Gees jubel sy: “Geseënd is jy onder die vroue en geseënd is die vrug van jou moederskoot!” Maria se mond hang oop: “Hoe het sy geweet wat met my gebeur het?”

Waaraan het ek dit te danke dat die moeder van my Here na my toe kom?” Elisabet is opgewonde en sy babbel voort en vertel vir Maria van haar kindjie wat van pure vreugde in haar beweeg het net toe hy Maria se stem hoor. 

Maria is so meegevoer deur hierdie lofsang, dat sy sélf uitbars in ‘n loflief wat spontaan diep uit haar hart borrel: “Ek besing die grootheid van die Here, ek juig oor God my Verlosser, omdat Hy na my geringheid omgesien het,” borrel dit oor die lippe van die jong meisie in ‘n Geesvervulde loflied. Sy sing van die groot dinge wat die Here aan haar gedoen het en sy besing Sy heiligheid. Sy besing die grootheid en almag van die Here, en van Sy groot ontferming wat Hy aan haar bewys het.

Vir drie maande kuier Maria by haar tante, en ek kan my voorstel waaroor hulle gesprekke gegaan het. Natúúrlik is daar baie gewonder en gegis oor die twee babas wat aan die kom was, en die wonderlike vooruitsig. Maar niks op aarde kon hulle voorberei vir wat werklik op hierdie twee ongebore seuntjies sou wag nie. Johannes het ‘n profeet geword wat voluit vir God geleef het. Uiteindelik is hy deur Herodus onthoof, suiwer vir een van die wrede Herodias se gru-grille. En Jesus? Ons ken die pad wat Hy moes loop......

Soos in daardie tyd die verwagting baie groot was vir die koms van die Messias, so is daar vandag ‘n baie groot verwagting onder gelowiges vir die wederkoms van Jesus. Al die tekens sien ons daagliks gebeur, die tekens wat voorspel is deur Johannes en die ander profete. Is daar by jou ook so ‘n borrelende opgewondenheid? Ja, met ‘n swangerskap wag daar dikwels baie swaarkry, rugpyn, naarheid, komplikasies en uiteindelik die ondraaglike pyn wanneer sy kraam. Net so wag daar vir die gelowiges nog baie swaarkry. Ons in KwaZulu-Natal het dit die afgelope week dééglik gevoel toe ons pragtige provinsie totaal verwoes is! Kovid 19 saai wêreldwyd paniek. En hoe nader dit na die eindtyd gaan, hoe erger raak dit nog. Soms voel dit asof ons wil moed opgee. Maar soos die vasbyt met ‘n swangerskap uitloop op ‘n klein wonderwerkie van God, ‘n splinternuwe lewetjie, so wag daar ook ná al die swaarkry op ons die wonderlike splinternuwe lewe in heerlikheid saam met Jesus. Maranatha! Kom Here Jesus, kom gou!

Gebed:

Dankie vir hierdie heerlike inspirerende verhaal Here. Kweek asseblief ook in my die borrelende opgewondenheid oor die wederkoms van my Here.



.

.

.

.



Dinsdag 20 Julie

Baba vir God

Lukas 1:57-80


VIDEO OUDIO
Elisabet se swangerskap op haar oudag is groot nuus. Almal het voorheen die arme vrou meëwarig aangekyk wanneer sy gaan water haal: “Foeitog, die arme kinderlose vrou!” Nou het dit egter verander na ‘n blik van verwondering: “Wat ‘n ongelooflike wonderwerk!” Hierdie woorde is op elkeen se lippe wanneer die bejaarde swanger vrou die straat afstap. Wanneer die groot dag van die wonderbaba se geboorte aanbreek, is die hele dorp daar om hierdie kindjie te sien. Gaan dit darem ‘n seuntjie wees? Natúúrlik het Elisabet en Sagaria reg van dag een af geweet dat dit ‘n seuntjie gaan wees, die engel het immers sélf so gesê! 

Wanneer die baba se eerste skree uit Elisabet se huis weerklink, gaan daar ‘n groot gejuig op by Sagaria se huisie  in die berge van Judea. En daar word feesgevier tot laataand toe. Agt dae later is die héle dorp weer bymekaar, hierdie keer om te kom sien hoedat Sagaria se seuntjie besny word. Die mense kyk die arme stom Sagaria meëwarig aan: “Foeitog! Dat die arme siel nou so op sy oudag moes stom word!” Hulle skud die kop en klik-klik hulle tonge: “Nege maande nou al wat hy so is!”

Die kindjie moet naam kry, en die ou priester wat die besnydenis behartig neem sommer aan dat die bloedjie na sy pa vernoem word. Sagariatjie, wil hy hom noem. Elisabet keer egter: “Nee, nee, Johannes! Dít moet sy naam wees!” 

Daar sak ‘n ongemaklike stilte toe oor die skare: “Het die ou vrou nou ook koekoes geword nes haar ou man?”

Elisabet, daar is mos niemand in julle familie met daardie naam nie? Wat is dit met jou? Wat sê Sagaria?” En dan onthou hulle dat die arme ou drommel mos nie kan praat nie. En as iemand nie kan praat nie, kan hy mos ook nie hoor nie! Met groot gebare beduie hulle vir hom: “W-A-T M-O-E-T H-Y G-E-N-O-E-M W-O-R-D?” 

Sagaria beduie vererg dat hy g’n doof is nie, en dat hulle vir hom ‘n skryfbordjie moet bring. Almal rek hulle nekke om te kan sien wat hy skryf. En dan snak hulle na hulle asems: “Johannes,” staan daar in groot letters op die bordjie geskryf.

Die volgende oomblik kry ou Sagaria sy stem terug, en tot groot verbasing (en ontsteltenis) van almal begin hy praat en babbel van pure opgewondenheid. Dan bars hy uit in ‘n loflied. Hy sing Geesvervuld van die almag van God en hy sing van die Sterk Verlosser wat die Here aan Sy volk gegee het. Hy sing van hoe die Here Sy volk gered het en van die verbond wat God met hulle gemaak het. Dan slaan hy oor na ‘n profesie, en hy profeteer oor die kleine Johannes, dat hy ‘n profeet sal wees en dat hy die pad gaan gereed maak vir die koms van die langverwagte Messias.

Almal kom diep onder die indruk van die grootheid van die oomblik. Die nuus versprei soos ‘n veldbrand, en vir ‘n lang ruk gaan elke gesprek oor één ding: dáárdie wonderbaba, Johannes. “Wat sal tog eendag van hierdie kindjie word?” wonder almal. 

Lukas merk terloops op: “Dit was duidelik dat die Here by hom was.” (Luk 1:66). En dan som hy Johannes se kinderlewe en jeug op in een enkele sinnetjie: “Die kindjie het opgegroei en sterk geword deur die Gees.”  

Toe hy ‘n jong man word, het hy in afsondering in die woestyn gaan bly om hom voor te berei vir die reuse taak wat op sy skouers sou rus. Op dertigjarige ouderdom tree hy skielik na vore as ‘n kragtige prediker en profeet. Maar dáároor sal ons later meer vertel.

n Baba is altyd ‘n baie groot gebeurtenis in die lewe van ‘n ouerpaar. Daar word die skatlikste kleertjies gekoop en sagte speelgoedjies, en die baba word met groot sorg voorberei vir die lewe. Uiteindelik gee hy sy eerste treetjies, en sê sy eerste woordjie. Hy word met groot sorg geleer van al die dinge rondom hom. Dikwels kan ‘n kind skaars praat, dan verstaan hy al hoe om ‘n rekenaar te werk. 

Die tragiese is egter dat die meeste ouers só behep is om die kind akademies op die lewe voor te berei, dat daar nooit by die geestelike uitgekom word nie. Dalk het dit ook iets te doen met ons lewensstyl, dat daar bloot nie tyd is om nog aan die geestelike óók aandag te gee nie.

My dierbare neef Louis Nel van Melkrivier vertel dat daar nooit 'n dag in sy lewe was waar hy moes kies vir Jesus nie. Vandat hy kon onthou het hy geweet dat hy 'n kind van die Here is. Waarom? Omdat Pa Jannie, destyds skoolhoof van die plaasskooltjie op Melkrivier hom van babatyd af ál die dinge van die geloof geleer het!

Ons lewe in ‘n tyd waar daar ‘n mengelmoes van godsdienste in die skole is, en as ‘n kind nie alreeds vóór kleuterskool ‘n goeie geloofsbasis het nie, gaan hy die pad byster raak in die godsdiens-doolhof van New Age, Moslem, Hindoe en voorvaderaanbidding, waar die Christendom dikwels tweede viool moet speel. Liewe ouer, ek pleit vanoggend by jou om nie jou kind die ewige verdoemenis in te stuur nie, gee hom asseblief die geloofsfondament wat hom kan staande hou wanneer die aanslae van die lewe kom.

Gebed:

Here, gee ons ouers asseblief die insig en wysheid en deursettingsvermoë om hulle kindertjies vir Jesus groot te maak.

.

.

.

.

Woensdag 21 Julie

Volkstelling

Lukas 2:1-7


VIDEO OUDIO
Lukas se verhaal verskuif nou vlugtig na die anderkant van die destydse wêreld, na die swierige stad Rome. Hy vertoef nie lank daar nie, want dis van minder belang. In slegs twee kort sinnetjies skets hy die hele situasie want almal in sy tyd het geweet presies waaroor dit gaan. Ek wil egter verduidelik want ons leef in ‘n totaal ander tyd.

In die weelderige paleis van die keiser in Rome, stap 'n omgekrapte, goudbehangde man in 'n spierwit gewaad ongeduldig op en af terwyl 'n halfdosyn amptenare, óók in wit gewade al agter hom aanstap. Skielik gaan staan hy stil en in die proses veroorsaak hy so byna-byna 'n kettingbotsing van amptenare. “Ja, ek verstáán dat ons dit nie gewoonlik doen nie, maar ek wil wéét hoeveel onderdane in die ganse Romeinse Ryk is!” Hy kan nie verstaan waarom sy amptenare nie onmiddellik sy bevel kan uitvoer nie!

Die amptenare is baie ongemaklik met sy splinternuwe gier, om 'n sensus te wil hou dwarsdeur die Ryk. Besef hy ooit wat hy vra? Maar Augustus is nou eenmaal die keiser, en niemand bevraagteken die keiser nie! “Kry vir Sirenius om die ding te organiseer! Hy is immers die goewerneur van Sirië, hy sal dinge laat gebeur!” beveel Augustus, en daarmee is dit afgehandel. In sy “wysheid” besluit Sirenius dat dit ‘n briljante idee sou wees as elkeen na die geboortestad van sy voorouers gestuur word vir hierdie sensus, want dan is almal wat familie van mekaar is mos bymekaar. Dit maak dinge net soveel makliker!

Nou verskuif Lukas se verhaal na die jaar 7vC. Die plek, die relatief onbekende Betlehem, ook bekend as die stad van Dawid, in die Palestynse provinsie, Judea. In ‘n enkele sinnetjie vertel Lukas dat Josef en sy verloofde, Maria van Nasaret na Betlehem gegaan het. Klink eenvoudig, sommer net gou oorloop soontoe. Maar dit was inderdaad ‘n uitmergelende reis oor gevaarlike, onherbergsame bergpasse wat ‘n volle week geduur het.

n Groot menigte mense stroom die stadjie binne. In die lang tou van mense stap Josef, die timmerman van Nasaret en sy hoogswanger verloofde, Maria op ‘n donkie. Niemand slaan eers ag op hierdie twee eenvoudige mense nie.

In slegs enkele kort sinnetjies beskryf Lukas die asemrowende verhaal van die geboorte van Jesus, so asof dit ‘n alledaagse gebeurtenis is. 

Daar is egter baie, baie meer in hierdie verhaal as wat die oog tref. Eerstens die hoofspelers. Aan die een kant twee magtige politieke figure, die magtige keiser Augustus en sy handlanger Sirenius, goewerneur van Sirië. Aan die ander kant van die spektrum sien ons twee doodgewone mense sonder enige status, Josef en Maria. Augustus se mag was astronomies, en baie mense het hom selfs gesien as ‘n soort god. Josef was ‘n eenvoudige timmerman en die jong meisie Maria, se status was totaal niksseggend.

Augustus kondig ‘n wêreldwye volkstelling af. Dit was ‘n ongewone bevel van astronomiese omvang. So ‘n sensus was totaal ongehoord, want die logistieke probleme rondom só ‘n aksie was net eenvoudig te groot. Om dinge te vergemaklik moes elke inwoner na sy voorgeboortelike stad gaan, iets wat ‘n totale ontwrigting van die samelewing beteken het.

Ten spyte van die omvang van Augustus se operasie, het die gebeurtenis totaal in die vergetelheid verdwyn, en selfs in die annale van die geskiedenis word dit nie eers vermeld nie. Die parallelle gebeurtenis, die geboorte van die baba van twee feitlik onbekende mensies in die onbelangrike gehuggie Betlehem, word beskou as die grootste gebeurtenis van alle tye. 

Waarom? 

Die antwoord, in kort, is dat dit alles die werk van God is.

Die feit is dat God vir Keiser Augustus gebruik het om hierdie ongewone ding te laat gebeur, want anders sou Josef nooit, óóit vir Maria na Betlehem geneem het in haar toestand nie. Jesus móés in Betlehem, die Dawidstad gebore word sodat almal sou besef dat Hy die langverwagte Messias, die afstammeling van Dawid is. 

Tweedens was dit ook baie belangrik dat Hy in ‘n stal gebore moes word, en dat Sy eerste bedjie ‘n krip sou wees waaruit diere vreet. Só sou Hy alreeds by geboorte die lydensweg begin wat uiteindelik moes uitloop op die vryspraak en verlossing. Dáárom die volkstelling. Dáárom die horde mense sodat daar nêrens elders vir hulle plek sou wees as in ‘n vuil stal nie. Absolute Goddelike ingryping!

Baie mense wil hierdie dinge verklaar deur te sê dat dit ‘n wonderlike sameloop van omstandighede was. Nee! Die hele gebeurtenis was haarfyn deur God beplan om uit te werk tot op die sekonde en die presiese, regte plek. Elders sien ons dat selfs die sterre en planete presies reg reageer het volgens God se bevel.

Ons staar ons dikwels blind teen die Kindjie in die krip, en vergeet om die groter prent raak te sien, hoe die almagtige God alles laat gebeur het soos wat Hy dit beplan het. Om dit selfs duideliker vir ons as mense te maak, het Hy hierdie dinge in die Skrif laat opteken deur Sy profete, honderde jare voordat dit plaasgevind het. Voor só ‘n God kan ons net neerval in aanbidding.

Gebed:

Here, vanoggend staan ons in verwondering oor U almag. Ons loof en prys U grote Naam.

.

.

.

.

Donderdag 22 Julie

Skaapwagters

Lukas 2:8-20  


VIDEO OUDIO
Die langverwagte geboorte van die Messias het aangebreek! Hy is die Een waaroor Jesaja en Daniël geprofeteer het, die Een wat God almagtig vir Adam beloof het. Hierdie gebeurtenis móés net eenvoudig uitbasuin word! Al die Skrifgeleerdes, priesters, kerkleiers en heersers moes hiervan in kennis gestel word. Die koning en die keiser moes hiervan weet, en al die belangrike mense moes uitgenooi word om hierdie heugelike gebeurtenis te kom vier en aan Hom hulde bring.

Maar God werk anders as wat mense dink. Die toneel van Lukas se verhaal skuif na die oop veld naby Betlehem. ‘n Klompie doodgewone, eenvoudige skaapwagters sit rustig om hulle vuurtjie en gesels oor die gebeure van die dag, ‘n roofdier wat naby een se troppie skape gewaar is, ‘n skaap wat afgedwaal het……. Die volgende oomblik staan daar ‘n vreemde man by hulle. ‘n Vreemde glans omwelf die groepie manne en hulle skrik hulle byna dood. Grootoog staar hulle hierdie wese aan, want hulle kan hom nie anders as ‘n “wese” beskryf nie. Dan stel hy hulle gerus, “Moenie bang wees nie!” Die manne bewe van skok en vrees terwyl hy hulle vertel van die Verlosser wat gebore is, Christus die Here en dat hulle Hom in Betlehem sou kry waar Hy in doeke toegedraai lê in ‘n krip.

Die arme skaapwagters se monde hang oop. Hulle kan nie glo wat hulle sien en hoor nie. Maar dit was nog maar net die begin, die grootste lê toe nog voor! Skielik is dit asof die ganse hemel oopgeskeur word reg rondom hulle, en ‘n groot skare van engele rondom hulle staan. Hemelse musiek vul die valleie en heuwels en die magtige engelekoor sing die mooiste lied wat nog ooit in menseheugenis gehoor is: “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het!”

Verstom staan die skaapwagters en luister na die grootste en aangrypendste kooruitvoering van alle tye. Dit vul hulle ore en liggaam en hele wese terwyl ‘n Goddelike glans om hulle skyn. En dan, skielik, is alles verby, en die verdwaasde skaapwagters word alleen agtergelaat met hulle gedagtes. ‘n Dringendheid om hierdie Verlosser waarvan die engel gepraat het te gaan sien, brand in hulle, en sonder versuim trek hulle soos een man op na die slapende Betlehem.

By die stal kry hulle vir Josef en Maria en die Kindjie in doeke toegedraai in die krip, nét soos die engel dit beskryf het. Vol verwondering vertrek hulle later terug na hulle skape, al singende. Dit wat hulle daardie nag beleef het, het hulle wyd en syd vertel aan elkeen wat hulle teëgekom het, en die mense was vol verwondering oor die asemrowende gebeure.

Maria, die gelowige vrou wat haarself tot beskikking van die Here gestel het, ten spyte van die gevaar dat haar reputasie kon skade ly, het hierdie dinge alles in haar hart bewaar. Drie en dertig jaar later moes sy aanskou hoe haar Baba, toe reeds ‘n jong Man in die fleur van Sy lewe, gemartel, gespot en op gespuug word. Hoe Hy aan ‘n kruishout vasgespyker word om onskuldig ‘n wrede en pynlike dood te sterf.

Hierdie verhaal laat jou baie diep dink. Waarom skaapwagters? Waarom eenvoudige, ongeletterde skaapwagters, en nie ‘n uitgelese klomp Skrifgeleerdes en konings en kerkleiers nie? Daardie magtige koor het hulle héél beste opvoering gegee net vir ‘n klein ou handjievol manne in vuil veldklere wat na sweet en rook stink! 

Ons moet onthou dat God nie na getalle kyk nie, of hoe geleerd of hooggeplaas of grênd aangetrek mense is nie. Vir Hom is die doodeenvoudige, doodgewone mens nét so belangrik as die hoogsgeleerde teoloog. Die boodskap van die eenvoudige skaapwagters het talle mense in verwondering gehad, en by hulle ‘n afwagting geskep vir wat sou voorlê. Dink nou net: as dit ‘n groep Skrifgeleerdes en kerkleiers was, dan het hulle eers ‘n kommissie van ondersoek ingestel en die hele gebeure gedebatteer tot vervelens toe. Die kanse dat die régte boodskap by die mense sou uitkom, sou uiteindelik baie skraal wees. Kyk maar net wat het hierdie geleerdes later met Jesus gedoen! Hulle het Hom vervolg, beledig, betwyfel en uiteindelik ter dood laat veroordeel.

Jesus het later Sélf ook van eenvoudige mense gebruik gemaak om die Evangelie te versprei. Sy dissipels was eenvoudige vissermanne. Hy het ‘n Samaritaanse vrou met ‘n baie slegte reputasie gebruik om ‘n hele dorp in beroering te bring, en ‘n malle wat kaal in die begraafplaas rondgeloop het, het ‘n hele landstreek vir die Evangelie voorberei toe Jesus hom gestuur het.

Vandag maak dit nie saak wie of wat jy is nie - Hy wil jóú ook gebruik!

Gebed:

Here, gebruik my asseblief nés ek is - ek stel myself tot U beskikking.

.

.

.

.

Vrydag 23 Julie

Wetsgehoorsaam

Lukas 2:21-40   


VIDEO OUDIO
Is ek werklik nog verantwoordelik om my kinders kerk en Sondagskool toe te neem? Baie gelowiges skuif daardie verantwoordelikheid opsy. Die gevolg is kinders wat “moeilik” is. In skole raak kinders dikwels totaal onbeheerbaar, en onderwysers se hande is afgekap. Selfs by die huis raak dinge dikwels hééltemal te veel vir die ouers. En dan wonder hulle wat verkeerd geloop het.

In  ons kinders se geestelike opvoeding is daar twee aspekte, dat ek eerstens my kinders geloofswaarhede leer by die huis. Hulle moet van kleins af ‘n liefde aanleer vir die Woord. Tweedens moet ek my kinders na die kerk toe neem om hulle verder te laat leer. Dit is my plig en verantwoordelikheid teenoor my kinders!

Josef en Maria het hulle pligte getrou nagekom, al het hulle geweet dat hierdie Kindjie baie besonders was en dat Hy anders as enige ander kind behandel moes word. Agt dae na Jesus se geboorte is Hy volgens Joodse tradisie besny en het Hy amptelik die naam Jesus gekry. Drie maande later is daar ‘n tweede plig wat nagekom moet word, dat die moeder tradisioneel gereinig moet word, want sy is vir drie maande onrein na die geboorte. Saam daarmee gebeur die sogenaamde “loskoop van ‘n eersteling”. Lukas haal die Ou-Testamentiese voorskrif eintlik baie vry aan, en hy wys daarmee eerder op die feit dat Jesus nie soseer losgekoop word nie, maar eerder tot beskikking van God gestel word - as’t ware aan God teruggegee word, net soos wat Hanna in die Ou Testament vir Samuel aan die Here teruggegee het. Lukas noem hier dat hulle twee duiwe geoffer het tydens hierdie seremonie. Gewoonlik is die offer ‘n lam, maar vir arm mense is duiwe ook in orde, dus weet ons hieruit dat hulle maar arm mense was en uit ‘n nederige sosiale milieu kom.

Lukas beskryf ‘n derde toneel, waar Jesus na die tempel in Jerusalem gebring word “om vir Hom die gebruiklike bepaling van die wet na te kom. Die tempel in Jerusalem was die middelpunt van die ganse Joodse Godsdiens-tuiste. Dit was die spilpunt waarom die wet en kultus gedraai het, en hier kry ons dan ook vir Jesus as baba, en later as jong seun. Dertig jaar later speel die tempel steeds ‘n groot rol in Jesus se bediening. Jesus het nie téénoor die wet stelling kom inneem nie, maar Sy koms het iets baie groter as net die wet tot stand gebring. Later in die verhaal sien ons hoedat Jesus nuwe betekenis aan die wet kom gee het. Waar dit eers streng bepalings was wat ten alle koste nagekom moes word, het dit riglyne geword vir ‘n Godvrugtige lewe. Vandag kan ons byvoorbeeld sê dat ek nie my kind Sondagskool toe neem omdat die kerk dit van my verwag nie, maar juis omdat die kerk my daardie geleentheid bied om my kind meer van die Here te laat leer.

Wanneer Jesus na die tempel geneem word, vertel Lukas, neem die bejaarde ou Simeon Hom in sy arms. Dadelik herken Simeon Jesus as die Verlosser na Wie hy so lank uitgesien het. Vol van die Heilige Gees getuig hy van Jesus en wat daar vir Hom voorlê. Ook die vrome ou Anna, wat haar lewe gewy het aan God, het kom getuig van hierdie Kindjie. Uit Simeon se woorde sien ons dat mense voor ‘n keuse te staan sal kom, en dat nie almal sal saamstem oor Hom nie. Vir Maria lê daar bitter trane voor. As Maria maar geweet het hóé groot die smart nog sou word........ 

Ja, ek en jy word vandag ook nie smart en trane gespaar in ons geloofslewe nie. Teenspoed is iets waarmee ons saamleef. Maar soos wat Maria met haar eie oë aanskou het dat Jesus na al die smart en lyding opgestaan het uit die graf en die dood, en die wonderlike vreugde kon ervaar, net so kan ons ook vandag verséker weet dat ten spyte van vervolging en swaarkry, ons kan uitsien na ‘n opstanding en ‘n lewe saam met Jesus. Simeon en Anna was nie teleurgestel nie, hulle het die Verlosser gesien! Ek en jy hoef ook nie teleurgestel te word nie, want God se wonderlike beloftes staan vir ons opgeteken in Sy heilige Woord wat vas en waar is. Hierdie beloftes behels ook dat ons Jesus sal sien, en baie meer nog, dat ons saam met Hom sal wees vir ewig.

Die gebeure in die Tempel en in Jerusalem moes vir Josef en Maria ‘n sielsverrykende ervaring gewees het. Hulle het egter nie daar gebly nie, maar weer teruggegaan na hulle eie dorp, Nasaret in Galilea. Daar, lees ons, het Jesus opgegroei tot ‘n sterk seun, vol wysheid en gedra deur God se genade. Ja, die Here wil ook hê dat ek en jy ons nie sal afsonder van die wêreld af nie, maar dat ons juis sal aangaan met ons daaglikse taak. In hierdie selfde wêreld moet ons ons kinders grootmaak, maar die geloofsbasis wat ons hulle gee in die huis en deur die kerk, moet sterk genoeg wees om hulle staande te kan hou teen die aanslae van die lewe.

Gebed:

Here, leer ons om ons kinders op te voed om tot eer van U te leef.

.

.

.

.

Maandag 26 Julie

Jesus in die Tempel

Lukas 2:41-52


VIDEO OUDIO
Skaars het ek aan die slaap geraak, of Pa maak my wakker met ‘n “Opstaan! Opstaan!” Flink spring ek uit die kooi uit - bewend van opgewondenheid. “Ons gaan Wildtuin toe!” Waterval Boven se ysige Hoëveldluggie tintel op my vel as ek in die groen Zephyr Zodiac ingebondel word. ‘n Paar uur later skud Ma my wakker: “Kyk, daar’s Leeukop!” Ek vryf die wasem van die venster af.  Dis nog steeds pikdonker, maar duidelik afgeëts teen die lug wat begin verkleur, pryk die silhoeët van Leeukop. Ek spring op en af van opgewondenheid, die Wildtuin is nou naby! By Numbi hek staan die tou motors kilometers ver en wag om in te gaan. Ek spring uit en hardloop langs die ry karre af. Die heerlike geur van die Bosveld vul my longe. Ouma haal ‘n koekblik propvol toebroodjies, hardgekookte eiers en wors uit die kattebak. Sommer daar in die tou waar ons staan en wag om in te gaan, brêkfis ons. Die stomende koffie uit die fles gee ‘n heerlike warm gloed in my maag.

Na ‘n opwindende dag van leeus, olifante en allerhande wonderlike gediertes, kom ons laatmiddag op Onder Sabi aan. Ons word begroet deur ‘n kamp met rye en rye vaalgroen tente. In die middel begin die reuse kampvuur, gepak met Hardekoolstompe alreeds te knetter. Almal in die kamp kom sit om die gesellige vuur en gesels. Ondervindinge van die dag word uitgeruil en mettertyd word rooiwarm kooltjies uitgekrap om ‘n worsie te braai. En as die leeu brul, dan bly almal stil om eers te luister......

Dit was 65 jaar gelede, maar die beelde is diep in my geheue ingegraveer. Onvergeetlike tye!

Tweeduisend jaar vroeër was die opgewondenheid in die dorpie Nasaret ewe groot: Dit was tyd vir die jaarlikse Paasfees, en vir weke lank al was Maria besig om voorbereidings te tref. Die donkie se saalsakke word gepak met padkos en kooigoed. En dan, een oggend vroeg-vroeg word daar in die pad geval. Ma ry op ‘n donkie en die jong seun Jesus hardloop opgewonde saam met sy maats vooruit op die lang pad na Jerusalem. Hoe verder hulle vorder, hoe groter raak die groep. Nefies en niggies wat mekaar ‘n jaar laas gesien het koek saam, totdat dit ‘n reuse fees word van saamsing en skerts en speletjies speel. 

Vir die twaalfjarige Jesus is daar egter ‘n ander soort opgewondenheid, want volgende jaar word Hy dertien, dan word hy ‘n “seun van die wet.” Dis nog ‘n stappie nader aan Sy groot doel hier op aarde. 

Na byna ‘n week se stap, kom hulle in Jerusalem aan, en hulle maak kamp tussen die olyfbome teen die hang van die Olyfberg. Wanneer die ander kinders speel en kattekwaad aanvang, hang Jesus rond by die groot leermeesters en drink elke woord in wat hulle sê. Natuurlik steur die grootmense hulle nie aan wat die kinders doen nie, want die hele spul kuier mos saam. En so vertrek Josef en Maria ‘n week later terug na Nasaret wanneer die fees uiteindelik verby is, salig onder die indruk dat Jesus tussen die bondel nefies en niggies is.

Maar Jesus is elders - tussen die ringkoppe met hulle grys baarde. Nou is Hy nie meer die een wat aan die oumanne se lippe hang nie, maar húlle hang aan Sy lippe, want sulke wysheid het hulle nog nooit uit die mond van ‘n jong seuntjie gehoor nie! Skielik word die bordjies verhang, want die leermeesters word nou die leerlinge en Jesus die Groot Leermeester wat almal oortref. Die res van die verhaal het ons al oor en oor gehoor, van hoe Maria later begin agterkom het dat Jesus nie meer by die groep is nie, en dat hulle begin soek het, en Hom uiteindelik drie dae later eers kon opspoor waar Hy steeds besig was om met die Skrifgeleerdes te gesels oor “die dinge van my Vader”. Wanneer Maria Hom aanspreek oor hierdie “onverantwoordelike” ding, is die heel eerste woorde wat Lukas van Jesus aanteken: “Waarom het u na My gesoek? Het u nie geweet dat Ek in die huis van my Vader moet wees nie?” 

Nou sien ons duidelik Jesus se wysheid en toewyding, maar ook dat Hy Hom aan die wil van God onderwerp. Twintig jaar later, daardie aand voor die Vrydag van Verskrikking, word hierdie onderdanigheid aan God tot die uiterste beproef toe Hy in doodsangs gebid het dat die Vader asseblieftog die gruwel wat op Hom wag ter syde stel. Maar in dieselfde asem het Hy Hom ten volle aan die wil van die Vader oorgegee, want dit was die enigste weg waardeur Hy versoening kon bewerk vir die mens wat verlore is in sonde.

Lukas vertel nie veel meer oor Jesus se jeugjare nie, buiten dat Hy aan sy ouers onderdanig was, en dat Hy in groot guns was by almal om Hom. Alhoewel Hy aan sy ouers gehoorsaam was, was God prioriteit nommer een in Sy lewe.

Die vraag wat ons vanoggend vir onsself moet vra, is waar ons prioriteite lê? Is dit ons werk of ons vriendekring? Niemand - nie eers ons eie gesin - mag prioriteit inneem bo die Here nie. Rondom Hom moet ons al die ander dinge beplan.

Gebed:

Here, ek moet vanoggend bely dat daar so baie ander dinge in my lewe is wat voorrang geniet. Leer my asseblief om U voorop alles te stel.

.

.

.

.

Dinsdag 27 Julie

Johannes die Doper

Lukas 3:1-20  


VIDEO OUDIO
Agtien jaar gaan verby sedert die jong twaalfjarige Jesus die leermeesters en Skrifgeleerdes so op hol gehad het in die tempel. Beide Jesus en Johannes het opgegroei tot volwasse manne. Johannes het hom afgesonder in die woestyn ter voorbereiding van die reuse taak wat op hom wag, die taak om die pad vir Jesus, die Messias voor te berei. In daardie tyd het hy begin blom as ‘n ware profeet, nét soos wat oor hom voorspel was nog voor sy geboorte.

Lukas rits in die eerste verse ‘n klomp name af, Tiberius, Pontius Pilatus, Herodes, Filippus, Lisanias, Annas, Kajafas en nog ‘n paar - almal belangrike mense wat ‘n beduidende rol in die verhaal verder sou speel. Tiberius was op daardie stadium keiser van die Romeinse ryk, die magtigste man op aarde. Pontius Pilatus was die Romeinse goewerneur in Judea. Herodus Antipas, ‘n seun van Herodus die Grote het oor Galilea en Perea regeer. Palestina was in vier verdeel. Lukas noem ook die ander regeerders in hierdie ryk, Filippus, Tragonitis en Lisanias. Om die prentjie af te rond, was daar Annas en Kajafas, die geestelike leiers. Kajafas was die Hoë priester en Annas sy voorganger. Annas het egter nog ‘n baie groot invloed gehad.

Hierdie was nie net ‘n klomp interessanthede nie. Lukas wil beklemtoon watter wêreldwye betekenis die Hooffiguur van die verhaal gaan speel. Die gebeure in hierdie nietige klein landjie het wêreldwyd uitgekring, en mense van alle stande geraak. Ons word voorberei daarop dat God se reddingsplan vir die hele wêreld bedoel is, en nie net vir die handjievol Jode nie.

Lukas wil dit verder beklemtoon dat Jesus nie maar ‘n fiktiewe karakter in ‘n storie is nie, maar Iemand wat aan tyd en omstandighede gekoppel kan word. Die liggelowiges wat steeds dink dat Jesus slegs in die gees van die dissipels was, moet dééglik hiervan kennis neem!

Lukas neem ‘n aanhaling uit Jesaja 40 om te wys hoedat die optrede van Johannes alreeds baie jare tevore voorspel is, en dat sy optrede profetiese gesag kry. As spesiale gesant van God rus die taak vierkantig op sy skouers om die pad voor te berei vir Jesus se optrede, en dit doen hy met volle oorgawe. Hy ontsien niks en niemand nie, en hy gee nie om wat mense van hom dink nie. Tree-vir-tree vul hy die slaggate in die pad op sodat God se verlossingsplan seepglad kan verloop.

Jesaja het hierdie gedeelte natuurlik geskryf terwyl die Israeliete in ballingskap was in Babilon, en alles vir die volk baie donker was. Dit het gelyk asof God se plan met die volk op ‘n doodloopstraat uitgeloop het. Jesaja het die taak gehad om vir die Israeliete hoop te gee: God se groot verlossingsplan sou steeds kom, al lyk die prentjie tans so donker. Dit herinner ons daaraan dat daar selfs in vandag se donker tye van Kovid, plundery, korrupsie en wanhoop, steeds die ware hoop op God is, en vandag nog baie meer so as in die tyd toe Jesaja die stuk geskryf het.

Johannes was ‘n regte “vuur en swael” prediker, wat almal kaalkop die waarheid vertel het. Die Jode het onder die wanindruk geleef, dat solank as wat hulle afstammelinge van Abraham was, hulle die saligheid besit het. Johannes kom ruk die mat onder hulle uit. Abraham is géén waarborg vir hulle verlossing nie! Die regte verhouding met God was wat noodsaaklik was, en dit was slegs moontlik as daar ‘n bekering plaasgevind het. Wanneer jy in die regte verhouding met God leef, moet dit ook deurslaan na jou verhouding met ander mense - aldus Johannes. Dit beteken dat jy mededeelsaam sal wees en die nood by ander sal raaksien en daadwerklik iets daaromtrent doen. Dit beteken ook dat jy eerlik moet wees, selfs al is jy in ‘n hoë magsposisie.

Só eerlik en opreg was Johannes se prediking dat mense begin wonder of hy nie dalk die Christus was nie. Hy het dit egter heftig ontken en dit duidelik gemaak dat hy maar net die wegbereider was. Uiteindelik het Johannes se prediking hom in die moeilikheid gebring. Hy het die magtige Herodus Antipas aangevat en hom aangespreek omdat hy skande gemaak het deur met Herodias, sy broer se vrou te trou. Dit was ‘n daad wat in Levitikus 18:16 duidelik verbied word. Johannes moes boet omdat hy op Herodus se tone getrap het, en hy is in die tronk gesmyt. Later is Johannes onthoof tydens ‘n wilde partytjie van Herodus. Sy bebloede kop is op ‘n skinkbord aan al Herodus se gaste vertoon, tot groot vermaak van Herodias!

Die verhaal van Johannes moet vir elke prediker ‘n voorbeeld wees van die ywer waarmee die Woord van God verkondig moet word, en dat absoluut niks in jou pad durf staan nie, nie eers die dood nie!

Gebed:

Here, maak my asseblief onverskrokke om U Woord aan almal uit te dra.

.

.

.

.

Woensdag 28 Julie

Jesus se Doop

Lukas 3:20-21  

VIDEO OUDIO 

In twee kort sinnetjies beskryf Lukas ‘n gebeurtenis wat mense se asems skoon weggeslaan het - die dag toe God uit die hemel neergedaal het en Sy stem duidelik hoorbaar weerklink het tydens Jesus se doop. 

Lukas gee nie veel inligting oor hierdie groot gebeurtenis nie. Hy sê nie eers waar dit gebeur het of dat Johannes die doop-plegtigheid waargeneem het nie. Uit ander gedeeltes in Lukas kan ons wél aflei dat dit in die Jordaanstreek plaasgevind het en dat dit Johannes was wat die doopwerk gedoen het. Dit word natuurlik ook wel deeglik beskryf in die ander evangelies. Lukas wou egter met hierdie beskrywing van die gebeurtenis dit baie duidelik stel dat dit nie Johannes was wat Jesus gedoop het nie, maar God  Sélf! Die weglating van die plek van die doop, beklemtoon ook die feit dat dit vanuit die HEMEL gebeur het. Lukas sê dat die hemel oopgegaan het! 

Wat presies het daardie dag gebeur? As ons al die gegewens rekonstruktureer, sien ons vir Johannes besig om te preek (soos gewoonlik!), en hy moedig die hoorders aan om tot bekering te kom. Hulle moet van hulle sondes wegdraai. As teken dat God hulle sondes vergewe het, doop hy hulle. Die water was dan simbolies die ou sondes skoon af, en hulle staan voor God as nuwe mense. Dit klink asof daar ‘n groot klomp mense was wat daardie dag gedoop is. 

Jesus was ook daar. Toe Sy tyd aanbreek, het Jesus gebid. Hy was dus in gesprek met God, soos ons by verskeie geleenthede sien, elke keer wanneer daar ‘n belangrike gebeurtenis in Jesus se lewe was. Vir Hom, die Heilige, was dit noodsaaklik om te bid, hoeveel te meer nie vir jou en my wat so geweldig afhanklik is van God nie! Gebed is ons geestelike asemhaling, en die manier waarop ons met God kan kommunikeer. Ons absolute afhanklikheid van Hom, maak dit noodsaaklik om elke besluit en gebeurtenis in ons lewe met Hom te bespreek. Hierdie dagstukkie gebeur byvoorbeeld in biddende afhanklikheid aan Hom, want daarsonder kan dit nooit plaasvind nie. Die doel is nie om vanoggend uit te brei op die verskillende soorte gebed nie, maar bloot om te sê hoe geweldig belangrik gebed vir die gelowige is, en hoe afhanklik ons daarvan is.

Die doop was verby, en terwyl Jesus nog daar staan, bid Hy. Die volgende oomblik gaan die hemel oop, en terwyl Hy nog staan en bid sien die omstanders iets wat lyk soos ‘n duif op Hom neerdaal uit die hemel - die Heilige Gees in sigbare gestalte. Vanuit die hemel kom daar terselfdertyd die stem van God wat sê: “Jy is My geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.” God was dus Persoonlik betrokke by die doop van Jesus, en hiermee gee Hy aan Jesus Goddelike gesag. Met hierdie gesag sal Hy vir die volgende paar jaar van Sy bediening optree. Met die beeld van die hemel wat oopgaan, kom God as’t ware Self binne-in die geskiedenis van die mense in. 

Die Heilige Gees wat so sigbaar op Jesus neergedaal het, is nie alleen ‘n teken van die teenwoordigheid van die Gees nie, maar dit is vir ons die hemelse goedkeuring dat Jesus namens God mag optree, asook die teken dat Jesus se bediening amptelik begin het. Hierdie is dan ook ‘n bevestiging van die woorde van die engel Gabriël in Lukas 1:32-35.

Wat sê Jesus se doop vandag vir ons? Is dit maar net nog ‘n gebeurtenis in die geskiedenis waarvan ons moet kennis neem? Baie beslis nie! Die feit dat Jesus saam met ‘n klomp ander mense gedoop is, bevestig die feit dat Hy Hom met doodgewone mense soos ek en jy vereenselwig. Hy is nie ‘n God daar ver in die hemel nie, maar is saam met ons. Hy het dit bevestig in Mat. 28, waar Hy gesê het dat Hy tot aan die voleinding van die wêreld saam met ons sal wees. Dit bring ons by die feit dat ons in gesprek met Hom kan gaan te enige tyd en op enige plek. Ons het hier bo gesien hoe belangrik gebed vir Hom was, en dan kan ons maar net besef hoe belangrik dit vir ons is. Gebed is nie noodwendig die formele aanbidding van God nie, maar ook die informele praat met Hom wat alomteenwoordig is. Hoe meer jy dit doen, hoe nader beweeg jy aan God. 

Die ander sy van die saak moet ons ook baie duidelik sien, en dit is die Goddelike gesag wat Jesus gekry het. Nie alleen is Hy by ons nie, maar in Hom het ons die hoogste gesag wat ooit toegeken is. Ons hoef dus nie met allerhande ompaaie, soos so dikwels in ons aardse rompslomp gebeur, na God te gaan nie, maar ons gebed is ‘n gesprek direk met die allerhoogste gesag. Wat ‘n wonderlike voorreg!

Gebed:

Here, ons kan maar net in verwondering staan by hierdie gebeure, en U loof en dank vir dit wat U vir ons vermag het!

.

.

.

.

Donderdag 29 Julie

Seun van God

Lukas 3:23-4:4  


VIDEO OUDIO
n Geslagsregister kan maar ‘n vervelige ding wees wat jy liewer oorslaan. Maar tóg is die simboliek en orde van name dikwels belangrik. Lukas het ‘n ander benadering tot sy geslagsregister as Matteus. Syne begin by Adam, waar Matteus by Abraham begin. Matteus wou wys dat Jesus ‘n ware Jood was, ‘n afstammeling van die aardsvader Abraham. Lukas wou eerder aantoon dat Jesus uit ‘n eerbare familie kom met ‘n baie lang geslagslyn, reg tot aan die begin van die geskiedenis. Dit sou beteken dat Hy nie net bande met die Joodse volk het nie, maar met alle volke wêreldwyd. 

Die tweede interessantheid wat ons opmerk, is dat Lukas aan die begin sê: “Hy is beskou as die seun van Josef.” Jesus was dus nie werklik die Seun van ‘n aardse vader nie, maar die seun van God, soos hy tereg sy lys afsluit. Op hierdie subtiele manier bring Lukas die begin en einde bymekaar deur dan te impliseer dat Jesus waarlik die ware Seun van God is.

Ons sien verder dat Lukas speel met getalle. Daar is altesaam 77 name wat in duidelike groepe van 7 elk ingedeel is. Nie alleen het die getal 7 ‘n baie diep geestelike betekenis gehad in die Bybelse tye nie, maar ons moet ook onthou dat hierdie boek geskryf is voor die gedrukte boek ‘n werklikheid was. Geskrifte is gememoriseer om dit so oor te dra. ‘n Lys van 77 name is onmoontlik om te onthou, maar bondeltjies van 7 name is nie so moeilik nie. Hierdie bondeltjies van sewe name het dikwels ook ‘n bekende naam aan die begin, soos Dawid, Abraham en Henog.

Die belangrikste boodskap van Lukas se geslagsregister, is om te sê dat Jesus onlosmaaklik van die mensdom deur die eeue is. Hy het ‘n menslike geslagsregister. Terselfdertyd is Hy die Seun van God. Hy het dus ‘n ewe sterk verhouding met God sowel as die mens.

Die geslagsregister is in ‘n sekere sin die inleiding tot die volgende perikoop, want as Seun van God word Sy ware Seunskap nou getoets waar Hy te staan kom teen die duiwel. Lukas wil vir ons weergee wat dit waarlik beteken om die Seun van God te wees, en terselfdertyd die valsheid van die duiwel daaroor aan die kaak te stel. Hierdie dramatiese gebeure skilder vir ons hoedat Jesus se gehoorsaamheid aan God en Sy baie besonderse verhouding met die Vader in uiterste omstandighede getoets word. As Hy hierdie toets sou faal, dan was Sy hele opdrag gedoem!

Ons moet onthou dat Jesus so pas die toerusting ontvang het om Hom te kon dra deur krisistye. Hy is bekragtig met die Heilige Gees by Sy doop. Dit beklee Hom met gesag, en dus is Hy ten volle gereed vir wat op Hom wag in die woestyn.

Dit is interessant dat ons dit dikwels lees dat profete ‘n tyd van afsondering in die woestyn deurgebring het as voorbereiding vir ‘n baie groot taak. Die jongste voorbeeld hiervan is Johannes die Doper. Nou word Jesus sélf ook deur die Heilige Gees gelei om 40 dae in die woestyn deur te bring en in daardie tyd te vas. Dit moes ‘n verskriklike toets gewees het! Hy was rasend van die honger toe die duiwel met sy eerste slinkse versoeking kom en Jesus se desperate situasie uitbuit!

Jesus se ervaring laat ons onwillekeurig terugdink aan die Israeliete wat deur die barre woestyn getrek het op pad na die beloofde land. Hulle het bitter swaar gekry, hoofsaaklik oor hulle eie hardkoppigheid, en uiteindelik het hulle terugverlang na die oorvloedige vleispotte van Egipte. Die feit dat God vir hulle gesorg het met manna en kwartels, het hulle baie gou vergeet. Hulle wou vir hulleself sorg en sonder God se voorsiening klaarkom. Nou wil die duiwel dieselfde soort gesindheid by Jesus skep. Die duiwel het gemeen dat Jesus mos baie maklik vir Hom brood kon skep uit ‘n klip,  hy was immers ten volle by magte om dit te doen en later sien ons ook dat Hy vir 5000 mense brood skep uit feitlik niks! Dit is soos om met ‘n motor langs ‘n uitgeputte maratonatleet te ry en dan vir hom aan te bied dat hy ‘n entjie kan saamry. Dit sou hom mos diskwalifiseer!

Jesus antwoord met ‘n aanhaling uit Deuteronomium 8:3, wat daarop neerkom dat die Here op Sy eie manier en met Sy eie besonderse gawes sal voorsien.

Dalk is jy ook vandag in die “woestyn”, en die duiwel wink vir jou met ‘n wonderlike uitkoms. Wéét vandag dat God op die regte tyd sal voorsien op Sy besonderse manier. Moenie toegee nie!

Gebed:

Dankie Here, dat ek vandag weet dat ek op U kan vertrou, en dat U sal voorsien op U tyd.

.

.

.

.

Vrydag 30 Julie

Versoekings

Lukas 4:5-13  


VIDEO OUDIO

Ons is êrens in die bos - ek weet sélf nie eers presies waar nie. Dit is in die vroeë 70ger-jare, en ek is opgeroep deur die weermag vir ‘n 3-weke kamp. Die son bak warm op die mobiele bevelspos waarin ek sit. Hierdie voertuig het geen vensters nie, slegs ‘n luik in die dak waar die offisier staan om vir die manne by die kanonne bevele te gee. Ek het ‘n swaar rubber kopstuk om my ore, en dag en nag moet ek wakker wees, want enige oomblik kan daar ‘n boodskap oor my radio kom wat ek aan die offisier moet oordra. Soms is daar ‘n halfdosyn manne van verskillende bevelsposte wat gelyk oor die radio praat, en dikwels is dit ‘n histeriese gebabbel waarvan jy moet sin uitmaak. My ore is bitter seer en die sweet tap my af. Ek is dors, maar ek durf nie opstaan om water te gaan soek nie - die kritieke boodskap kan dalk net in daardie minuut kom.

Om ‘n seiner te wees in die weermag, was een van die”sagter” werkies, dis die kanonniers oftewel “konondonkies” wat die harde klippe gekou het! Maar hoe lekker sou dit nie wees om ‘n offisier te wees wat heeldag daar buite in die vars lug sy eie ding kon doen nie! In my kop maal die aanbod van een van die hoë offisiere, dat ek dit moet oorweeg om ‘n offisier te word - hulle het my nodig! Dit sou egter beteken dat ek baie langer in die weermag moes aanbly. Die blote gedagte van die heerlike lewe as offisier, en die mag wat ek sou hê, maak dat ek so byna-byna val daarvoor en my vryheid prysgee. Mag het ‘n baie hoë prys!

Toe die duiwel na Jesus gekom het om Hom te versoek, was dit in ‘n baie kritieke stadium in Sy lewe. Die uitmergelende woestynlewe, honger, dors, stof, versengende hitte - dit was beslis nie maklik of net ‘n lekker avontuur nie! Boonop moes Jesus sékerlik al geworstel het met die gedagtes aan die bitter stryd wat vir Hom voorgelê het. Hy het vir séker geweet dat sy eie dorpsgenote hom by ‘n krans sou wou afgooi en dat baie mense, Sy eie broers inkluis, Hom sou verwerp. Dan was daar die intieme groep van twaalf wat vir Hom gewag het, manne wat onder mekaar sou baklei oor Sy guns, maar Hom selfs in kritieke tye sou verloën. En een van hulle sou Hom verraai! Van die bespotting, vernedering, marteling wat op Hom gewag het, het Hy reeds geweet. En veral daardie verskriklike dag van Sy teregstelling - daaraan wou Hy sékerllik nie eers dink nie!

Dan kom die slinkse duiwel met ‘n baie aantreklike voorstel wat sou maak dat al daardie onsmaaklikhede totaal oorbodig sou wees. Hy kon die mag kry oor die volkere van die wêreld, sonder dat Hy deur al daardie moeite hoef te gaan. Hy sou al die vernedering, teenstand en marteling gespaar word. Al wat Hy moes doen, was om die knie voor die duiwel te buig!

Die duiwel is steeds besig met presies dieselfde taktiek, en dikwels word ons verlei met ‘n maklike uitweg om al die probleme wat vir jou wag te omseil. Ek onthou as jong seun is daar gefluister dat as jy jou siel vir die duiwel gee, dan kan jy ongelooflike, bonatuurlike magte kry. Daardie tyd het die gedagte my nogal aangestaan, maar gelukkig was ek te vrek bang gepraat oor die duiwel! Vandag is Satanisme ‘n reuse trekpleister vir menige jongmens, en die gruwels wat daar plaasvind, alles suiwer vir mag, is om van naar te word. Gewoonlik begin dit met “onskuldige” okkulte-speletjies soos fortuinvertellery, die outjo-bord en geeste oproep. En voor jy weet waar jy is, hoor jy die stem van die duiwel wat vir jou groot dinge op ‘n skinkbord aanbied. “Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien,” haal Jesus vir die duiwel aan uit Deut. 6:14.

Die derde versoeking wat op Jesus se pad kom, is van ‘n ietwat ander aard. Hy word op ‘n baie hoë plek gebring, en as Hy afkyk kan Hy die mense daar ver onder sien rondloop op die tempelplein. “Spring af,” por die duiwel Hom aan, “U is mos die Seun van God?” Jesus het die ganse engeleskaar tot Sy beskikking gehad om Hom op die hande te dra. As Hy gedoen het wat die duiwel voorstel, sou dit ‘n skouspelagtige vertoning gewees het, en die skare daar onder sou Hom aanbid het as ‘n Goddelike wese. Dit sou egter om totaal die verkeerde rede wees, en dit was gladnie wat God beplan het nie. Jesus moes kies tussen die aanskoulike en die wil van God, wat ‘n bitter moeilike pad sou behels. Die duiwel neem selfs ‘n aanhaling uit die Bybel aan om Jesus te oortuig. 

Soos wat Jesus die keuse gemaak het om nie eise aan God te stel nie, so moet ons ook baie versigtig wees om nie te maak asof God slegs daar is om in ons (dikwels sefsugtige) behoeftes te voorsien nie. Selfsugtige gebed is ‘n ding wat in baie gelowiges se lewe ‘n daaglikse item is, en ek is dikwels sélf daaraan skuldig. Ons noem hulle geestelike “inkopielyste” of “wenslysies.” Berus by die wil van God en wend jou gebede aan tot eer van Hom en om in te tree vir ander mense.

Gebed:

Here, vergewe my asseblief waar ek so dikwels selfsugtig is - selfs in my gebedslewe. Leer my om volgens U wil te bid.

.

.

.

.

Maandag 2 Augustus

Verwerp in Nasaret

Lukas 4:14-30  

VIDEO OUDIO

Dit is ‘n groot dag in die dorpie Nasaret. ‘n Seun van hulle eie gemeenskap, wat al baie roem verwerf het elders, kom die Sabbatsoggend preek in hulle eie sinagoge. Sedert die Babiloniese ballingskap het die Jode begin om in elke dorp sinagoges te bou waar hulle kon bymekaarkom om saam te bid, die Wet te lees en onderrig te word. Hierdie oggend is die sinagoge stampvol, want almal wil hoor waaroor die groot bohaai gaan. Dalk sal Hy hier ook van die wonderwerke doen waarvan hulle gehoor het! Daar heers al hoeka ‘n ontevredenheid dat Hy hulle hier in Nasaret afskeep en elders Sy groot wonders verrig en preek.

Die sinagoge-amptenaar haal die groot boekrol van die rak af en rol dit oop by die profeet Jesaja. Die lywige manuskrip word vir Jesus aangegee en Hy begin lees. “Toevallig” is die gedeelte in Jesaja 61 waar die man vir Jesus oopgemaak het, een van die talle profesieë wat spesifiek op Jesus betrekking het. Nee, absoluut niks is toeval nie! God het dit so bewerk dat die man hier móés oopmaak want dit was waaroor Jesus se preek daardie oggend MOES gaan.

Nadat Hy die gedeelte aan die skare voorgelees het, maak Hy die swaar ou boekrol toe en gee dit terug vir die amptenaar. ‘n Doodse stilte heers in die vertrek, ‘n gees van groot afwagting om te hoor hoe hulle dorpsgenoot preek. Hulle hang aan Sy lippe as hy begin: “Vandag is hierdie Skrifwoord wat julle nou net gehoor het, vervul.” Sy woorde is soos heuning vir hulle. Wat ‘n mooi gedagte is dit nie wat Hy uitspreek nie. Is Hy nie dalk ook ‘n profeet soos sy nefie Johannes nie? Almal maak hulleself reg vir ‘n heerlike soetsappige preek waar hulle net mooi dinge hoor van bevryding en herstel en alles wat mooi is. “En om te dink dat hierdie wonderlike prediker al die tyd reg in ons midde was!” fluister hulle vir mekaar.

Maar dan bars die bom: “Geen prediker word aanvaar in die plek waar hy grootgeword het nie,” sê Jesus vir hulle. Die klomp begin ongemaklik rondskuif. Hy moet darem nou nie kom staan en persoonlik raak nie. Jesus haal voorbeelde aan uit die geskiedenis van hoe die profete dikwels deur hulle eie mense geminag is, en weldra is daar ‘n gebrom van ontevredenheid. Dit is tóg snaaks, dat toe Johannes hulle sleg gesê het en al hulle sondes oopgekrap het, het hulle hulleself gewilliglik deur hom laat kasty. Maar toe Jesus dit maar ligtelik doen, raak hulle kwaad, want Hy is één van hulle en nie ‘n buitestaander nie. So woedend raak hulle, dat hulle Hom die dorp uitjaag, en toe drom hulle saam en druk Hom teen ‘n afgrond vas. Vandag is die dag wat hulle hierdie jong kêrel wat dink dat Hy vir húlle kan preek, oor die krans gooi! Hulle het egter nie met God rekening gehou nie, en sonder dat hulle dit agterkom stap Jesus doodluiters tussen hulle deur en skud Hy die stof van Nasaret vir goed van Sy voete af.

Dalk gaan ek vanoggend ‘n ding of twee sê waar ek op tone gaan trap, en dit gaan seer maak: Die prediker in jou eie gemeente is vervelig! Hy herhaal te veel, preek te eentonig en hy preek gans te veel oor liefde! Of hy preek knaend oor sonde. Almal wil gaan luister as Oom Angus preek want daar is ‘n miljoen mense en dis opwindend! Baie gelowiges hardloop van gemeente na gemeente na gemeente omdat hulle nêrens tevrede is nie. Gewoonlik is hulle dan ook die ouens wat die lewe vir hulle mede-gemeentelede versuur in elke gemeente waar hulle kom! En hulle laat die arme prediker minderwaardig voel! 

As jy dalk een van hulle is, hou op daarmee! Luister liewer vir ‘n slag wat die Heilige Gees deur daardie “vervelige” leraar vir jou persoonlik wil sê! Die groot probleem is dat ‘n mens dikwels net die dinge wil hoor wat vir jouself aanvaarbaar is. As dit daarvan afwyk, dan raak jy ongemaklik, en dikwels luister jy dan nie eers verder nie, en maak net ‘n moordkuil van jou hart oor hoe pateties die prediker is.

Dalk is jy vanoggend ‘n prediker wat al klaar met ‘n yslike knop op die krop van jou maag sit oor Sondag se preek, want jy wéét al by voorbaat van die kritiek wat gaan volg. Troos jou daaraan dat selfs die baie gewilde Oom Angus Buchan swaar deurloop onder kritiek. Jesus is so byna-byna by ‘n krans afgegooi oor ‘n preek. Jy is beslis nie alleen nie! Die groot geheim is dat jy jou laat lei deur die Heilige Gees met elke preek wat jy voorberei (eintlik is dit gladnie ‘n geheim nie!) Wanneer jy dus preek, is dit nie jy nie maar die Heilige Gees wat deur jou praat.

Dit bring my by ‘n ander baie belangrike punt, dat indien jy iemand is wat gedurigdeur kritiseer, dan is dit in der waarheid nie die prediker wat jy kritiseer nie, maar eintlik die Heilige Gees, want jy sê dat die Heilige Gees liewer iets anders vir jou moet sê wat jy eerder graag wil hoor. Dink maar daaroor!

Gebed:

Here, vergewe my asseblief vir al die kere wat ek U Heilige Gees gekritiseer het.

.

.

.

.

Dinsdag 3 Augustus

Welkom in Kapernaum!

Lukas 4:31-44  

VIDEO OUDIO

Ons het nét gister gelees van hoe die inwoners van Nasaret vir Jesus die dorp uitgejaag het omdat hulle nie Sy aanspraak kon aanvaar dat Hy die Seun van God is nie. Nou sien ons presies die teenoorgestelde in Kapernaum, waar selfs die demone Jesus as die Seun van God herken en érken.

Maar nou loop ek die verhaal vooruit. Na Jesus se noue ontkoming in Nasaret, vertrek hy na ‘n dorp in Galilea met die naam Kapernaum, en soos Hy in Nasaret gedoen het, gaan hy ook hier op die Sabbatdag na die sinagoge en leer die mense. Die reaksie is uiters positief. Almal hang aan Sy lippe. En dan gebeur die riller. Skielik begin ‘n man iewers daar agter aan die skreeu gaan. Almal kyk vererg om, maar die kêrel steur hom nie aan hulle nie.

Wat het ons met U te doen, Jesus van Nasaret?” bulder hy.  Die man is duidelik onder die mag van demone en dit is ‘n demoon wat deur hom praat. “Ek weet wie U is.” Nou koggel hy vir Jesus en al die aandag is op hom gevestig. “U is die Heilige van God!”

Dan neem Jesus beheer van hierdie onmoontlike situasie. Met ‘n enkele bevel dryf Hy die bose gees uit die man uit en bevry hom terwyl almal snak na hulle asems. Sowat het hulle nog nóóit beleef nie! Skielik klink die stil, stemmige sinagoge na ‘n byenes soos mense gons oor hierdie wonderwerk en die gesag waarmee Jesus met hierdie demoon gewerk het. “Watter soort van mens het dan gesag oor die Bose?” Soos ‘n veldbrand versprei die nuus regdeur die omgewing. Was daar destyds ‘n koerant, dan was hierdie beslis voorbladnuus!

Ek het jare gelede die onbenydenswaardige voorreg gehad om saam met ‘n sendeling ‘n Hindoefees by te woon op Tongaat. Terwyl ons tussen die hordes deurloop, ril ek as ek sien hoe hierdie mense die allerverskriklikste dinge met hulle liggame aanvang, duidelik onder die mag van die bose. Ons gaan staan stil by een jong kêrel wat besig was met ‘n ritueel. Hy kry koud - ‘n sagte misreëntjie het uitgesak, en waar hy met sy kaal bolyf staan, bewe hy van die koue. Dan steek hy sy olie lampie aan en begin prewel. Voor ons verbaasde oë ondergaan hy ‘n totale verandering. Hy voel nie meer die koue nie en sy twee oë word dié van ‘n wilde dier wat vuur spoeg! Iemand kom haak groot vishoeke deur sy rugvel. Hy knip nie ‘n oog nie! Hulle steek dik breinaalde deur sy wange en tong en lippe. Hy voel niks! Nie ‘n druppel bloed nie.

Koue rillings trek deur my ruggraat en ek bid baie hard: “Here, bewaar my asseblief!”

Hulle haak ‘n swaargelaaide waentjie, versier met afgode aan die man se vishoeke, en dan loop hy met sy grusame vrag teen die bult uit op die maat van opruiende Oosterse musiek. 

Ek het naar gevoel, ek kon dit net nie meer vat nie! Ons is huistoe terwyl ek bitterlik jammer gevoel het vir hierdie arme mense wat so mislei was deur die duiwel!

Skielik word Kapernaum die episenter van Jesus se wonderwerke. Petrus se skoonma het in die bed gelê met ‘n hewige koors. ‘n Enkele woord van Jesus het haar oombliklik genees, en toe staan sy op, en die eerste ding wat sy doen is om die mense met ‘n ete te bedien. Vir my en jou is dit ‘n vingerwysing van hoe jy God se genade behoort te ervaar. Jy dank Hom daarvoor deur dinge vir ander mense te doen.

En skielik is die sluise oop en van heinde en verre kom al wat leef en beef met hulle siekes en besetenes, sodat Jesus tot laatnag toe moes werk om almal te genees. Keer op keer erken die demone in vrees en bewing dat Jesus die Seun van God is. Baie vrae is al gevra oor waarom Jesus hulle stilgemaak het as hulle Hom as Seun van God aanspreek. Eerstens wou Hy hê dat die erkenning van Sy volgelinge kom eerder as wat dit van die duiwel se trawante kom. Maar tweedens het Sy tyd van verheerliking nog nie aangebreek nie.

Na al hierdie dinge sien ons vir Jesus vlug vir ‘n bietjie stilte en eensaamheid. Dit is egter kortstondig, want baie gou spoor die skare Hom maar weer op. Die tyd het aangebreek dat Hy moet aanskuif na ander dorpe en stede sodat die Evangelie van die Koninkryk van God oor die hele wêreld kon weerklink. 

Wat behels hierdie Evangelie? Dat God die ware Heerser is oor alles en almal! Jesus het so pas bewys dat Hy selfs volle mag het oor die Bose, en dat die gevreesde, magtige demone nie alleen in vrees en bewing voor Hom wegvlug nie, maar dat hulle Hom selfs volle erkenning gee vir wie Hy werklik is!

Wat sê hierdie verhaal vir ons vandag? Tydens Jesus se tyd as Mens het Hy doelbewus Sy mag beperk. Na Sy hemelvaart openbaar Hy egter Sy volle almag, en dáárop kan ons vandag steun. Hy het die Bose finaal oorwin, sodat die duiwel slegs beperkte mag het. Hy kan gelowiges nie beroof van hulle saligheid nie! Maar meer nog, Jesus het ook aan ons van daardie mag gegee. As ons toelaat dat die Heilige Gees deur ons werk, dan gee Hy ons onmeetbare krag. Angus Buchan het dit bewys deur ‘n saamtrek te reël vir ‘n miljoen mense - ‘n logistieke nagmerrie! Maar vir iemand wat die Heilige Gees as Vennoot het, is dit ‘n “kleinigheid”. Dit is egter nie alleen die “groot” manne wat die wonderbare krag van die Heilige Gees ondervind nie. Doodgewone mense ondervind dit elke dag en daarvan kan ek persoonlik getuig!

Gebed:

Here, dankie vir die wonderbare Krag wat U vir ons gegee het. Leer ons om dit reg te gebruik.

.

.

.

.

Woensdag 4 Augustus

Vissers van Mense

Lukas 5:1-11  

VIDEO OUDIO

Die spanning bereik breekpunt in Rome. Die wrede Keiser Nero was op die troon en hy het talle Christene laat doodmaak op die mees grusame wyse. Sommiges word leeukos, ander oefensakke vir die Gladiators. In die strate hang die walglike reuk van verbrande mensvleis en verkoolde lyke hang oral aan pale waar hulle die vorige nag as lewende straatligte gebrand het - besmeer met teer. ‘n Vreemdeling kom vra padaanwysings van ‘n klein groepie mense wat saggies staan en gesels. Terwyl hulle praat, teken hy ongemerk met sy kierie in die stof, die buitelyne van ‘n vissie. Skielik gryp een van die groepie hom en omhels hom: “Jy is ook een van ons! Jy is ‘n man van die Weg! Welkom!”

Jy het nie geweet wie om te vertrou nie, want as die verkeerde persoon uitvind dat jy ‘n Christengelowige is, word jy verkla. Dis so goed as jou doodsertifikaat! Christene het mekaar herken deur die teken van die vissie te maak. Maar waar kom dit vandaan? 

Wel, dit het eintlik ‘n dubbele betekenis. Die Griekse woord vir “Vis” is “Ixthus”. Die Christene het die woord gebruik as ‘n akroniem, waar die letters uitspel: Iesous Xristos Theou Uiou Soter - Jesus Christus God se Seun, Verlosser. Maar daar is meer! Dit het sy oorsprong een mooi dag gehad, toe Jesus langs die See van Galilea vir ‘n klomp mense gepreek het. Die woord het soos ‘n veldbrand versprei dat Hy daar was, en weldra was daar ‘n reuse skare wat mekaar letterlik vertrap het om hierdie Jesus te kon hoor preek. Hulle druk en stoot en stamp, en die arme Prediker word tot aan die waterkant gedruk, want elkeen wil naby wees. 

En toe kom daar ‘n oplossing vir die probleem uit ‘n onverwagse oord: Twee visserskuite met moedelose vissermanne kom aan land. Daar is nie ‘n enkele vissie van ‘n dagoud in die skuite nie, en die arme ou Petrus se gesig hang. Vir Jesus is hierdie skuite die oplossing, en hy oorreed vir Petrus om Hom op te laai sodat Hy vanuit die skuit met die mense kon praat. 

Nadat Hy “Amen” gesê het, sê Jesus vir Petrus en sy maats, Jakobus en Johannes - Sebedeus se twee seuns: “Kom ons gaan vang vis!” Petrus kyk hierdie Prediker half skepties aan. Weet Hy dan absoluut niks van visvang af nie? Hulle is al donkeroggend uit op die skuite, en daar was nie ‘n stinkende sardientjie in die ganse see om te vang nie! Waar gaan hulle nou skielik vandaan kom? Baie teensinnig stem hy uiteindelik in, en net om vir hierdie onkundige Man te wys dat daar nou rêrag nie visse in die see is nie, gooi hy sy net uit. Maar dan rek Petrus se oë baie groot wanneer hy baie skepties die net intrek, maar hy amper nie die net kan beweeg nie, so swaar is dit van visse. Toe hy en sy maters uiteindelik die nette in die twee skuite leeg gemaak het, was hulle bang dat die bote dalk sal sink met die swaar vrag.

Daardie dag was ‘n baie groot keerpunt in Petrus se lewe. Skielik het hy besef dat hierdie “Profeetjie” nie maar ‘n gewone mens is nie, en hy het op sy knieë voor Jesus neergeval en om verskoning gevra dat hy so ongelowig was. 

Jesus glimlag vir hom: “Moenie bang wees nie! Jy gaan van nou af ‘n visser van mense word.”

Petrus het vir séker nie geweet wat Jesus bedoel het nie. Dit sou nog drie jaar neem, drie baie moeilike, maar opwindende jare, voordat hy die ware betekenis van Jesus se woorde sou verstaan. Ek dink dat Petrus sékerlik op daardie pinksterdag toe daar drieduisend mense tot bekering gekom het, oor Jesus se woorde gedink het. Hy, Petrus, die eenvoudige, hardkoppige, ongelowige visserman het met die skare gepraat. O, hoe het die “visse” nie daardie dag ingestroom nie! ‘n Visser van mense! Jesus het mos vir hom gesê dat hy een sou wees! Maar uit sy eie krag sou hy dit nooit, óóit kon regkry nie! Petrus was maar net die spreekbuis van die Heilige Gees wat die wonder op pinksterdag laat gebeur het.

Die wonder van die vissie het nooit opgehou nie. Ten spyte van al die vervolging wat Petrus beleef het, en al die wrede vervolging wat die Christene onder Nero moes deurmaak, was daar steeds mense wat bereid was om die nette uit te gooi as vissers in diens van Jesus. Dieselfde asemrowende krag van die Heilige Gees wat Petrus op pinksterdag beleef het, is steeds vandag beskikbaar vir elkeen wat bereid is om die net op te neem. En dieselfde Ixthus simbool wat die vervolgde Christene in Nero se tyd moed gegee het, sê steeds vir ons dat Jesus Christus, die Seun van God vandag nog al die tyd ons Verlosser is soos wat Hy eeue gelede was en vir altyd sal bly.

Dalk is jy ook vandag, nes ou Petrus, skepties om die net op te neem. Dalk is jy bang dat jy nie die mas gaan opkom nie. Wees verseker dat Jesus steeds daar is langs jou sy soos Hy belowe het. En wees verseker dat die Heilige Gees steeds daar is, nes met Petrus, om jou die waagmoed, krag en wysheid te gee. Hy vra net jou gewilligheid.

Gebed:

Here, nes Petrus is ek ook dikwels bang om ‘n visser van mense te wees. Gee my asseblief die moed om U op u Woord te neem en die net uit te gooi.

.

.

.

.

Donderdag 5 Augustus

Die Melaatse

Lukas 5:12-16  


VIDEO OUDIO
Petrus en die twee seuns van Sebedeus, Jakobus en Johannes het alles nét so gelos na die groot visvangepisode en Jesus se volgelinge geword. Vir die volgende drie jaar sou Jesus dag-vir-dag ‘n klompie leerlinge hê wat oral saam met Hom gegaan het. Hulle groepie sou gedurig omring wees met skares van duisende mense wat Hom as “publieke eiendom” beskou het omdat Hy so mooi kon preek en boonop siekes gesond kon maak. Ek sou gek word as mense my so sou verdring! Die filmsterre voel nogal so ‘n ietsie van wat Hy moes deurmaak, met elke Jan Rap en sy maat wat hulle private lewe verdring, en die talle joernaliste en fotograwe wat elke oomblik probeer om ‘n steelfoto te kry. G’n wonder dat hierdie mense soms uithaak en die fotograwe aanrand nie!

Lukas vertel die verhaal van ‘n melaatse man wat Jesus teëgekom het. Die melaatsheid waarvan hier gepraat word is nie noodwendig melaatsheid of Hansen se siekte soos ons dit vandag ken nie, maar enige erge velkwaal is melaatsheid genoem. Vir enige Jood was hierdie ‘n verskriklike ding want dit maak jou “onrein!” Jy word ten alle koste vermy! Melaatses moes in ‘n kolonie buite die stad bly en mag nie eers kontak gehad het met hulle families nie. Dit het beteken dat hulle nie meer kon werk of vir hulle gesinne kon sorg nie. ‘n Melaatse is soos die pes vermy. As dit sou gebeur dat hy in ‘n publieke plek moes kom, moes jy die hele tyd skree: “Melaats, melaats!” om die ander mense te waarsku om uit sy pad te bly.

Ek kan my die prentjie voorstel van hierdie arme, desperate man wat sy lewe gewaag het tussen die skare deur wat om Jesus saamgekoek het. Hy het alle sosiale reëls verbreek om daar te wees. Dit kon selfs beteken dat ‘n spul opgewerkte Jode hom kon stenig! Nogtans het hy alles gewaag en op sy knieë voor Jesus neergeval en gesmeek vir genesing. 

Jesus verbreek terselfdertyd ook die sosiale reël deur nie ‘n paar treë terug te staan soos die skare rondom Hom waarskynlik skielik gedoen het toe hulle die melaatse tussen hulle sien nie. Inteendeel, Jesus vat selfs aan die man! Hy het neergedaal tot daardie verstoteling se misrabele sosiale vlak. 

Jy kon duidelik hoor hoe almal hulle asems ingetrek het: “Wat dóén Hy? Jy raak mos nie aan ‘n melaatse nie!” Dan snak die mense na hulle asems want eensklaps, voor hulle verbaasde oë, is die sere wat die man se liggaam oortrek het, weg! Spoorloos!

Jesus het die man opdrag gegee om vir niemand te vertel van wat gebeur het nie. Dit het nie veel gehelp nie, want hoe anders kon hy as om dit aan die wêreld uit te blaker! 

Jesus het die man verder opdrag gegee om die Mosaïese voorskrifte vir reiniging te ondergaan sodat hy weer in die gemeenskap opgeneem kon word. Dit sou beteken dat hy weer kon werk, sy familie sien, sy eer herstel, sy Godsdiens vryelik beoefen en sy respek in die samelewing herwin. Kan jy jou indink hoe dit moes wees om totaal afgesny te wees van alles wat vir jou belangrik en dierbaar is? En dan skielik, wanneer alles totaal verlore lyk, dan kom hierdie wonderwerk wat alles oombliklik totaal herstel!

Die nuus van hierdie wonderwerk het soos ‘n veldbrand versprei, en die skares het al groter en groter geword. In menslike standaarde gemeet, het dit uitstekend gegaan met Jesus se bediening. Maar dit was ‘n uitmergelende werk om dag-vir-dag van vroegoggend tot laat saans die toue en toue siekes te moes sien. Eindelose toue mense met hartverskeurende siektes en kwale en gebreke en selfs duiwelbesetenheid het ál Jesus se kosbare tyd opgeneem. Hy het gesmag na daardie luukse van net ‘n klein bietjie alleenwees. Lukas vertel dan ook dat Jesus tyd gemaak het deur Sy besige skedule om Hom af te sonder sodat Hy kon bid.

As dit vir die Seun van God - Sélf God - nodig was om alleen te bid - hoeveel te meer is dit dan nie vir my en jou wat so geweldig afhanklik is van Hom, nodig om dit te doen nie. ‘n Mens moet jouself dissiplineer om juis wanneer dit goed gaan, of as die werk swaar druk, ‘n tydjie af te knyp om iewers alleen met God te gaan gesels en verkeer. Ek het eenmaal iemand hoor sê: “Ek is te besig om NIE te bid nie!” Dit is juis wanneer die druk op sy ergste is, dat ons die verfrissende krag van God nodig het om weer aan te gaan. Maar dan is dit nie net ‘n vinnige noodroep om te vra: “Here, help asseblief!” nie, maar maak jou hart oop teenoor die Heilige Gees en laat Sy wonderbare krag oor jou gemoed spoel. Sing in jou hart ‘n loflied vir Hom, die Heerser van alle heersers. Raak rustig en gee jou oor aan God. Slegs ‘n paar minute is nodig om jou gemoed te lig en jou op God te laat fokus. Die wonder hiervan is nie alleen dat dit jou gedurig herinner aan jou afhanklikheid van God nie, maar ook dat jy totaal verfris weer jou werk kan aanpak met nuwe ywer terwyl jy ‘n jubellied in jou hart sing. En almal wat jou sien sal wonder wat met jou gebeur het!

Gebed:

Heilige Gees, leer my asseblief om gereeld tydjies met U deur te bring, selfs wanneer dit besig is.

.

.

.

.

Vrydag 6 Augustus

Man deur die Dak!

Lukas 5:17-26  


VIDEO OUDIO
Die nuus van die sukses van Jesus se bediening, Sy genesings, Sy besielende preke het soos ‘n veldbrand versprei. Dit was onvermydelik dat hierdie nuus ook die kerkleiers se ore sou bereik, en hulle was jaloers oor hierdie onbekende Leermeester. Vir baie jare moes hulle studeer, die wette oor en oor hoor van hulle leermeesters. Hulle moes die Skrifte bestudeer tot in die fynste detail, en dan na jare se harde werk kon hulle eers deel word van die elite Fariseërs. Die naam Fariseër beteken “Afgesonderde.” Die beweging het sy ontstaan gehad tydens die ballingskap. Dit was ‘n natuurlike stap dat hierdie geleerde manne juis hulleself kon opwerk om die kerkleiers te word. 

Die klomp geleerdes moes sékerlik onder mekaar gesels het oor hierdie nuwe onbekende “Profeet” wat skielik soveel opslae gemaak het. Hy was op g’n Bybelskool nie! Waar sou Hy skielik sy kennis vandaan kry? Deur die wandelgange van die tempel het daar sékerlik ‘n murmurering opgegaan: “Hierdie Man kan vir ons edele beweging ‘n baie groot bedreiging word as Hy nie gou gestop word nie! Ons sal onsself móét gaan vergewis van wat Hy alles kwytraak, voordat Hy dalk die volk op ‘n groot dwaalspoor lei.”

En so gebeur dit dan een mooi dag terwyl die skares rondom Jesus begin saamdrom waar Hy besig was in ‘n huis. Van oral oor het die Fariseërs en leermeesters gekom en die voorste gestoeltes ingeneem om mooi te kan sien wat hier gebeur. Die mense verdruk mekaar om tog net naby hierdie wonderlike Prediker te kan kom.

Intussen is daar iewers in Kapernaum ‘n totaal ander drama besig om hom af te speel. “Daardie Jesus is in die dorp”, vertel ‘n man vir sy vriende, “en julle moet my asseblief help om vandag by Hom uit te kom. Dis my enigste kans!” Hy is verlam, en die lewe het vir hom ondraaglik geword. Die arme man is totaal afhanklik van ander se gunste. 

Toemaar, ons sal sorg dat jy daar kom.” Sy vriende is besorg oor hom. Op ‘n draagbaar dra hulle hom in die stofstrate af in die rigting waarheen hulle die skares mense sien stroom. Hulle is nog ver van die huis af, dan sien hulle al dat dit ‘n hopelose situasie sal wees, want die mense is rondom die huis gekoek soos ‘n swerm bye. “Moenie wôrrie nie,” troos hulle hom as hy in trane wil uitbars oor die onmoontlike situasie, “Ons sal ‘n plan maak!” 

Hulle sit hom neer en hulle koukus: “Kyk, as ons hom net op die dak kan kry, dan kry ons hom van bo af in.” 

Almal stem saam dat dit ‘n briljante voorstel is. “Ek gaan kry gou toue, en dan laat sak ons sy draagbaar deur die dak!”

Jesus word wreed onderbreek in die middel van Sy preek, deur ‘n rumoer op die dak. Almal kyk gesteurd op as iemand die dakteëls begin oopbreek. “Wat gaan aan daarbo?”, wil een ou nors Fariseër vererg weet. En dan hou almal asem op as hulle toekyk hoedat iemand wankelrig op ‘n draagbaar aan vier toue deur die opening afsak. Mense rek verbaas hulle nekke om te sien. Dan herken hulle die man op die draagbaar as die arme verlamde van die onderdorp. 

Wanneer Jesus opkyk, sien hy vier beangste gesigte deur die gat loer, en Hy bewonder hulle geloof en vindingrykheid.  Hy kyk vol deernis na die man op die draagbaar. “Mens, jou sondes is jou vergewe.”

Die arme Fariseërs val byna van hulle stoele af oor hierdie “Godslasterlike” uitspraak. Hulle het geweet dat daar iewers ‘n swak plek in sy mondering moet wees. “G’n mens durf homself die reg tot sondevergifnis toeëien nie! Alleen God kan mos sondes vergewe!” redeneer hulle onder mekaar.

Maar Jesus het van die begin af regdeur hierdie skynheilige klomp gesien. Natuurlik het Hy geweet dat hulle Hom as ‘n bedreiging vir hulle eie reputasie beskou. Hy het ook geweet dat hierdie maar net die eerste van baie konfrontasies met hulle sou wees, en dat dit uiteindelik sou lei tot Sy teregstelling!

Slegs ‘n paar woorde van Jesus genees die man voor almal se oë, en hy staan op asof hy sy lewe lank nooit iets makeer het nie. Al singende en jubelende dans hy daar uit, draagbaar in die hand terwyl die skares hulle koppe skud in ongeloof. Maar nie almal is beïndruk nie. Die Fariseërs het die eerste rondte slég tweede gekom......

Die genesing van die verlamde is ‘n wonderlike verhaal waar ons nie alleen die geloof en begeerte van die man sien om by Jesus uit te kom nie, maar ook sy vriende se geloof. Hulle het dit nie maar net by geloof gelos nie, maar dit omskep in aksie deur uit hulle pad te gaan om hom by Jesus te kry. Dit is ‘n verhaal van naasteliefde sonder grense. Dit is ‘n voorbeeld vir elkeen van ons! Die verlamde man is beloon met iets baie groter as waarvoor hy gevra het! Nie alleen het hy genesing gekry nie, maar vergifnis. Jesus herstel die totale mens en bring hom so in harmonie met God.  Het jy al God se vergifnis ontvang?

Gebed:

Here, ek loof en prys U wonderlike Naam, want U is groot en goed en almagtig. Dankie dat U my ook vergifnis geskenk het sonder dat ek dit enigsins verdien het.

.

.

.

.

Dinsdag 10 Augustus

Levi

Lukas 5:27-39  


VIDEO OUDIO
Toe die Romeinse regering die pos adverteer van belasting gaarder, het Levi die gaping gesien en dadelik sy tender ingesit. Hierdie kon ‘n betalende besigheid wees! Dit sou behels dat hy belastings moes invorder van die Jode, en dan ‘n sekere persentasie daarvan hou vir homself. Meeste Jode het nie rêrag geweet wat presies die belasting moes behels nie. Levi het gehoor dat die ander tollenaars goed geld gemaak het. Hulle het hier en daar iemand verkul en ‘n bietjie meer ingevorder as wat hulle moes, en dan die res in hulle sakke gedruk. Baie gou het Levi geleer hoe om mense af te pers en te verneuk om elke hoek en draai.

Wat Levi egter nie mee rekening gehou het nie, was dat almal hom skielik begin vermy het. Daardie stigma van Tollenaar-verneuker het aan hom begin kleef, en weldra het al sy vriende opgedroog. Daar was maar een genade oor: hy moes hom maar by die res van die tollenaars skaar. Hy was met ope arms ontvang! Die ongeluk was egter dat hierdie spul nou rêrag die skuim van die samelewing was. Hulle het gesuip en partytjie gehou - nie mense met wie énige goeie Jood hom sou meng nie. 

Dit was dus ‘n baie groot skok vir Jesus se volgelinge toe hulle een mooi dag by Levi se tolkantoortjie verby stap, en Jesus vir daardie gehate tollenaar aansê om Hom te volg! 

Ek kan my die prentjie indink: Petrus is sommer dadelik vererg: “Meester, hoe durf U! Sy reputasie stink!” Jesus glimlag…..

Levi kan nie sy ore glo nie - niemand buite sy misrabele spul maats wil hom as vriend hê nie, en hier kom hierdie heilige Profeet en Hy roep hom, armsalige Levi! Net daar besluit hy dat dit die ideale geleentheid sou wees om vir Jesus aan sy vriende voor te stel. As Hy bereid is om vir Levi te aanvaar, dan sal sy spul vrot pêlle ook mos vir Jesus aanvaarbaar wees. Hy versprei vinnig die woord, en daardie aand nog hou hulle gróót makitie met ál die fluitjies en klokkies. 

Petrus-hulle is maar bitter ongemaklik saam met hierdie spul, maar hulle móét erken dat dit nogal baie jolig gaan - ámper lekker! Hulle kan egter nie verstaan hoe Jesus so gemaklik tussen die spul sondaars inpas nie. Hulle Meester is beslis anders!

Die volgende dag was die duiwel behóórlik los: ‘n Afvaardiging Fariseërs het vir Petrus-hulle voorgekeer en sommer lélik uitgetrap oor daardie berugte partytjie van die vorige aand. “Hoe kón julle! Wat het julle besiel om te meng met daardie skuim? Julle het sowaar saam met sondaars en tollenaars gaan staan en eet en drink!” Jesus het gehoor wat aangaan, en toe kom red Hy die situasie: “Dit is siek mense wat die dokter nodig het, nie gesondes nie!” verduidelik Hy vir hulle.

En Levi? Hy was bereid om alles nét so te los om vir Jesus te volg. En ek is oortuig daarvan dat nie alleen Levi tot bekering gekom het nie, maar sékerlik ook baie van sy berugte vriende! 

In hierdie verhaal sien ons dat dit nie noodwendig die mense is wat hulle hele lewe lank ‘n voorbeeldige lewe gelei het wat dissipels van Jesus word nie, maar ook die ouens wat ‘n baie vrot verlede het. By ‘n gebedsgeleentheid was een van die sprekers ‘n tyd gelede ‘n ou tronkvoël. Die ou kon nie eers behoorlik praat nie, maar die boodskap wat hy gebring het was dat die Here hom gered het, en dat hy begin werk het onder gevangenes. Ek het half ongemaklik gevoel, maar ek het net weereens besef dat Jesus nie na die persoon kyk nie.

Hierdie ongemaklike situasie wat Levi geskep het, het gelei tot ‘n onvermydelike konfrontasie. Jesus het egter juis die situasie gebruik om te toon dat Hy bereid is om enigeen te vergewe. As dit selfs moontlik is vir tollenaars en sondaars om hulle verhouding met God te herstel, dan is dit moontlik vir enige soort mens. Wat meer is, menslike taboes word onbelangrik! Ons moet leer om verby ons tradisies te kan kyk, en ander te aanvaar vir wat hulle is - skepsels van God net soos ek en jy!

Terwyl hulle besig was om oor tradisies te praat, trap die Fariseërs sommer ook vir Jesus uit omdat Hy nie soos Johannes die Doper, sy dissipels geleer het om te vas en al die ander Joodse tradisies na te kom nie. Met Jesus se antwoord gee hy ‘n nuwe perspektief op die ou Joodse gebruike. Hy verwerp nie die tradisies nie, maar Hy sê dat daar ‘n tyd en ‘n plek is vir alles. Om dus bloot ‘n tradisie na te volg omdat dit tradisie is, het absoluut géén waarde nie. Maar op sy regte tyd en plek en met die regte doel voor oë is dit nuttig.

Dalk staan jy vanoggend met ‘n dilemma omdat jy nie weet of jy ooit goed genoeg is om vir die Here van enige nut te wees nie. Sal die Here jou ooit kan gebruik? Dalk is jou sonde te groot of jou verlede te duister. Uit hierdie verhaal gee die Here vanoggend vir jou die versekering dat Hy verby al hierdie dinge kyk en iemand sien wat na Sy beeld geskep is. Hy wil jou beslis gebruik! Al wat Hy vra is jou bereidwilligheid.

Of dalk is jou dilemma vanoggend dat jy sukkel om ‘n sekere persoon te aanvaar, moontlik oor sy duistere verlede of sy kultuur. Jesus vra van jou as gelowige om daardie persoon te aanvaar nes hy is, en om hom ‘n kans te gee in die lewe, soos wat Hy bereid was om selfs vir Levi ‘n kans te gee.

Gebed:

Here, leer my asseblief om mense te aanvaar soos hulle is.

.

.

.

.

Woensdag 11 Augustus

Uitgevang op die Sabbat

Lukas 6:1-11  


VIDEO OUDIO

Dit was ‘n rustige Sabbatsoggend: Terwyl Jesus met sy dissipels deur die veld stap, kom hulle op ‘n wuiwende groen koringland af. Die manne kwyl, want dis harde werk om saam met Jesus te wees, en die werk betaal maar ‘n hongerloon! Boonop gee die skares wat so om hulle saamdrom hulle nie juis tyd om aan kos te dink nie. Nou lyk die vet koringare darem al te aanloklik. “Mag ons maar?” vra een vir Jesus, en Hy knik instemmend. Deut 23:25 is baie duidelik hieroor, dat as jy deur iemand se koringland stap, dan mag jy maar ‘n paar are pluk, dis nie diefstal nie.

Maar hulle word fyn dopgehou deur iemand wat net gesoek het vir ‘n enkele misstap: “Ha! Het julle!” ‘n Groepie Fariseërs storm op Jesus en sy manne af. Onmiddellik word die arme verbouereerde manne gekonfronteer met die feit dat hulle gewerk het op die Sabbat!

Watse werk?” Hulle trek die skouers op.

Julle het ge-oes! En dit op die Sabbat!”

Fariseërs het ‘n baie diep studie van die Skrif gedoen. Ongelukkig het hulle so hard gekonsentreer op kennis van die wet dat hulle nooit die ware gees van die Skrif gesnap het nie. Dit het vir hulle gegaan om die wet tot in sy fynste besonderhede te onderhou, en dat absoluut niks hulle een enkele stukkie van die wet sou laat oortree nie. Hierdie filosofie het hulle op die samelewing probeer afdwing. Alles klink baie edel! Oor die jare het die Fariseërs egter begin besef dat dit nie so maklik is om wette te onderhou nie. Een rede is dat daar soveel skuiwergate is. As die wet byvoorbeeld sê dat jy nie mag doodslaan nie, sou dit dan teen die wet wees as jy iemand doodwurg? En so het hulle begin om wette rondom die wette te formuleer sodat iemand nie dalk per ongeluk ‘n wet sou oortree nie! Seker die moeilikste wet was die een oor die Sabbat, want daar is soveel skuiwergate. Wanneer is werk dan nou eintlik werk? Almal het geweet dat om te oes, werk is, en totaal taboe is. Maklik! Een ou Fariseër het waarskynlik een dag vir sy kollegas gesê: “Gisteroggend sien ek my ou vrou op die Sabbat haar ooghare staan en pluk voor die spieël, en toe dink ek mos by myself: maar dis mos dieselfde as om te oes! Nou vra ek julle, moet ons nie ‘n wet maak dat vrouens nie hulle ooghare op die Sabbat mag uitpluk nie?” 

Kyk”, sê een van die ander ringkoppe, “As sy in die eerste plek nie in die spieel gekyk het nie, sou sy nie haar ooghare eers raakgesien het nie!” Een van die Fariseërs se wette lees dus dat ‘n vrou nie op die Sabbat in ‘n spieël mag kyk nie, want dit kan lei tot werk. ‘n Ander wet lui dat jy nie ‘n stoel onder ‘n tafel mag uittrek nie, want dit maak voortjies in die stof, wat presies dieselfde is as om te ploeg en wat natuurlik werk is. En so kan ons aangaan. Daar was uiteindelik 39 wette rondom die Sabbatswet alleen geweef. En die Fariseërs het hulleself gesien as die bewakers van die Wet.

Toe die dissipels dus uitgevang word dat hulle op ‘n Sabbat “werk”, was daar groot moeilikheid! Jesus probeer vir hulle verduidelik dat ‘n mens nie so onwrikbaar moet wees nie, en dat selfs Dawid die wet “oortree” het toe daar nood was. Daar moet ‘n balans wees in jou lewe, en boonop het hulle eintlik hier te doen met die Skepper van die Sabbat. Maar dit sou hulle gladnie verstaan nie, want hulle het net een ding op die brein gehad!

Nie lank na hierdie insident nie, sit Jesus een Sabbat in die sinagoge, besig om te preek. Natuurlik was daar weer ‘n paar Fariseërs wat nie noodwendig na Jesus se preek kom luister het nie, maar slegs daarop uit was om Hom uit te vang. En toe gebeur dit ook! ‘n Man met ‘n gebreklike regterhand sit tussen die mense, en die Fariseërs sê vir mekaar: “Ha! Hier kom ‘n ding!” Jesus het egter hulle gedagtes gelees, en die man nader geroep. “Mag ‘n mens goed doen op ‘n Sabbat?” Hy kyk die Fariseërs in die oë. En toe maak hy die man gesond, en gee hom só ‘n nuwe kans in die lewe om te kan werk en sy gesin te onderhou. Ons lees dat die spul wetsmanne woedend was omdat hulle uitoorlê is!

Het Jesus die Wet as onbelangrik beskou en die Sabbat summier verwerp? Nee, dit is beslis nie die geval nie! Jesus wil egter  vir die Fariseërs wys waaroor die wet werklik gaan. Later het Hy dit pragtig opgesom as liefde vir God en liefde vir jou medemens. Na Jesus se soenverdienste aan die kruis, het daar nog ‘n dimensie bygekom: dankbaarheid. Omdat Jesus ons skuld betaal het en ons verlossing gegee het, is ons dankbaar en daarom leef ons hierdie liefde waarvan Jesus gepraat het uit. Dit gaan nou nie meer vir ons soos die Fariseërs om die wet te onderhou ter wille van die wet nie, of om ons saligheid te verdien nie, maar bloot omdat ons God liefhet, en daarom Sy wil probeer doen.

Gebed:

Here, gee asseblief vir my ‘n ware liefde in my hart - liefde gebore uit dankbaarheid vir U groot verlossingsdaad!

.

.

.

.

Donderdag 12 Augustus

Twaalf Apostels

Lukas 6:12-19  


VIDEO OUDIO
Gebed is ‘n baie belangrike deel van enige gelowige se lewe, veral as hy ernstig is oor sy geloof. Prakties sien ons in Jesus se lewe op aarde hoedat Hy ook hierdie stelling uitgeleef het. As dit vir Hom belangrik was, hoeveel te meer nie vir jou en my nie! Telkemale sien ons dat Jesus lang tye in gebed deurgebring het, veral voor groot gebeurtenisse. Ons is so geneig om groot besluite vooraf te gaan met ‘n ou skietgebedjie. Kom ons kyk ‘n bietjie wat Jesus gedoen het.

Jesus se volgelinge het groot aangegroei en reuse skares het Hom elke dag gevolg. Alles het begin toe Jesus daardie drie vissermanne by hulle skuite gekry het, en hulle gevra het om saam te kom met die belofte dat hulle vissers van mense sou word. Van daardie dag af het die gevolg net al groter geword. 

Nou het die tyd aangebreek dat daar ‘n paar spesiale manne aangewys moes word om intensiewe opleiding te kry. Hulle moes leiding neem, veral nadat Jesus se taak afgehandel was. Daar sou dus later ‘n reuse taak op hulle skouers lê. Vir Jesus was dit tweede natuur om eers te gaan bid oor die groot besluit van die regte keuse van manne. Lukas vertel dat Hy die hele nag in gebed deurgebring het. Hy het die eensaamheid van ‘n berg uitgesoek en met God geworstel oor daardie belangrike besluit.

Deurnag gebedsgeleenthede is dikwels heilige oomblikke, en elkeen wat al aan so ‘n geleentheid deelgeneem het, kan alleen getuig van die heerlike geestelike verkwikking wat dit bring. Om op so ‘n ernstige wyse te bid, verheerlik jy nie alleen die Here nie, maar jy word gevoed met geestelike krag waaraan daar géén einde is nie. Elke groot besluit in jou lewe hoef nou nie juis voorafgegaan te word met ‘n deurnagsessie nie, maar jy moet veral wanneer groot besluite op hande is tyd maak om met die Here deur te bring en Hom te vra vir wysheid. Moenie toelaat dat jou besige program in jou pad staan om die Here se aangesig op te soek nie. Ek het eenmaal iemand hoor sê dat hy gans te besig is om NIE te bid nie. As dit die geval is, dan moet jy eintlik baie meer tyd aan gebed spandeer as dinge onmoontlik besig begin raak. Dit mag dalk van jou “kosbare” tyd opneem, maar die resultaat is astronomies!

Toe die dag breek, kom Jesus van die berg af en daar kry Hy sy klomp volgelinge. Twaalf van hulle kies Hy uit om “Apostels” te word. Die Griekse woord Apostolous is afgelei van die werkwoord wat beteken “om met opdrag uit te stuur”. Ons kan hulle dus gevolmagtigde afgevaardigdes noem.

Vandag het ons ook “gewone” gelowiges en gelowiges met ‘n spesifieke opdrag. Dit beteken nie dat die een belangriker as die ander is, of dat die een ‘n groter werk moet doen in die Koninkryk as die ander nie. In die geval van die apostels was hulle die manne wat verantwoordelik sou wees om leiding te neem, mense te leer wat Jesus húlle geleer het, en die kerk te organiseer. Die “gewone” gelowiges was die mense wat later verantwoordelik was om die Woord uit te dra en die Evangelie deur die hele wêreld te versprei. Dit is ook my en jou taak vandag om ons dankbaarheid só uit te leef, nie alleen met wat ons vir ander sê nie, maar deur ons ganse lewe, sodat daar ‘n honger sal ontstaan vir die Evangelie by almal met wie ons in aanraking kom.

Op die vlakte het daar ‘n groot skare mense vir Jesus gewag. Nie alleen was daar Jode nie, maar Lukas noem ook dat daar mense was uit die kusgebied van Tirus en Sidon, ‘n nie-Joodse landstreek. Jesus se eerste taak was om Sy bediening toe te spits op Israel omdat hulle uiteraard die volk van God was. Daarom was die uitkies van die twaalf manne ook sterk simbolies van die herstel van die twaalf stamme van Israel. God se genade is egter ook vir almal daar buite, selfs ook die heidene. Mense het van heinde en verre gekom met hulle siekes vir genesing. Jesus het hulle nie teleurgestel nie maar nou het daar ‘n nuwe dimensie in Sy bediening aangebreek, naamlik om mense te leer. Eintlik was dit hoofsaaklik gerig op die twaalf manne, maar elkeen wat teenwoordig was kon ook luister na hierdie wonderlike preke van Jesus.

Die sogenaamde “Bergpreek” waarna ons DV. môre gaan kyk, het hierna gevolg, en die mense het behoorlik aan Jesus se lippe gehang. Selfs vandag, 2000 jaar later, is hierdie preek steeds vars en nuut, en kan elkeen van ons dit maar oor en oor gaan lees, want elke keer as jy dit lees sien jy iets nuut daarin raak. Ek nooi jou dus uit om saam met my Jesus se preek ons eie te maak, en nie alleen deur dit te lees nie, maar dit ons lewenswyse te maak.

Gebed:

Here, dankie vir die wete dat U my uitgekies het om ‘n gelowige in U Koninkryk te wees. Leer my om my Christenskap op elke terrein uit te leef!

.
.
.
.

Vrydag 13 Augustus

Seëninge

Lukas 6:20-26  


VIDEO OUDIO

Jesus gaan sit teen die hang van ‘n berg. Onderkant Hom drom ‘n reuse skare saam. Hy beduie vir hulle om te gaan sit, en dan sak ‘n doodse stilte toe as Jesus begin om Sy beroemde bergpreek te lewer. Almal is in groot afwagting want Sy woorde gryp jou aan die hart, só anders as die Skrifgeleerdes se hoogdrawende preke.

Jesus begin om met die armes te praat. Die meeste van die mense hier aan Sy voete val in hierdie klas, selfs die twaalf manne wat Hy as apostels uitgekies het. Hulle is vissermanne en hulle het vrywillig al hulle karige aardse besittings net so gelos om Jesus te volg. Hulle het sékerlik eers waarlik hulle volle afhanklikheid van God begin besef die dag toe hulle dissipels geword het. Skielik was daar nie meer die inkomste uit hulle vissersbedryf nie en toe moes hulle ander mense in die oë kyk vir kos. 

Armoede en swaarkry is dikwels nodig in jou lewe om jou totale afhanklikheid van God te besef! Die teenoorgestelde is dikwels ook waar, dat rykdom gevaarlik kan wees, in die sin dat jy kan vergeet van jou afhanklikheid van God. ‘n Ryk persoon moet baie harder werk aan sy geestelike lewe as ‘n arme want dit is soveel makliker om selfversekerd en egosentries te wees. 

Ons moet hierdie uitspraak van Jesus oor die Koninkryk van God  in die wydste sin verstaan. Die redding van God neem ook armoede weg. Dit beteken dat Hy ten volle moet heers oor alle aspekte en omstandighede in jou lewe. Hy moet in beheer wees van jou besittings sowel as jou gees.

Die volgende uitspraak raak so baie van ons. Ons word daaraan herinner dat wanneer ons honger of hartseer is, ons steeds nooit, óóit deur God vergeet word nie. In die wêreld van Jesus is die sosiale strukture oorheers deur diegene met baie besittings. Niemand het iets verniet gekry nie, en dikwels het mense honger gely. 

Vandag is dit steeds so. Honger mense is steeds baie pertinent met ons. Ek het al sélf honger geken in my lewe, maar ek het in daardie tyd die liefde van Jesus so geweldig intens ervaar. En wanneer droefheid dreig om jou te verswelg, moet jy weet dat Hy elke oomblik daar is vir jou. Ek het al so dikwels gesien by ‘n begrafnis, dat die persoon se lewensmaat steeds kan glimlag en nie uitmekaar geskeur word deur droefheid nie, bloot omdat sy God se wonderlike nabyheid en troos ondervind.

Jesus praat vervolgens met diegene wat verstoot is deur die samelewing. So dikwels word so ‘n persoon uitgeskel en selfs vermy soos iets wat sleg is. ‘n Baie goeie voorbeeld hiervan sien ons ‘n bietjie later in Jesus se bediening, waar Hy sit en gesels met ‘n Samaritaanse vrou. Sy het ‘n reputasie gehad en sy moes wag tot almal by die put weg was voordat sy kon gaan water haal, uit vrees vir die skewe, spottende kyke en verwyte. Ja, sy het wel in sonde geleef en dit was dalk haar eie skuld. Maar toe ontmoet sy vir Jesus. Hy keer alles onderstebo. Nadat sy van Hom af weg is, het sy die wêreld aan die brand gehad toe sy nie kon ophou om vir al die mense wat haar so vermy het, te vertel van die wonder van Jesus nie. Hierdie verstote vrou was die oorsaak dat talle mense uiteindelik vir Jesus ontmoet het. 

Jesus kan steeds vandag jou omstandighede so totaal omkeer as jy Hom net wil toelaat om dit te doen!

In hierdie parallel gaan dit egter meer oor iemand wat verstoot word as gevolg van sy verbintenis met Jesus. Ook dáár kan wonderwerke gebeur wanneer jy die dag besef dat dit nie oor jou as persoon gaan nie, maar oor God. Jesus sê hier ‘n baie waar ding: “Wees bly op daardie dag en spring rond van vreugde…!” As jy beledigings of ‘n koue skouer begroet met ‘n opregte borrelende vreugde, sal jou teenstanders nie weet wat hulle getref het nie. Daardie vreugde moet egter nie aangeplak wees nie, maar diep uit jou hart kom. 

Paulus het dit prakties so wonderlik uitgeleef. Toe sy rug stukkend geslaan is en hy en Silas vasgeketting in die tronk hulle wonde sit en lek, het hulle gedoen wat hulle die beste kon doen - om lofliedere tot God te sing! Die resultate was absoluut verstommend. En later toe hy vir jare in die vuil, stinkende Romeinse gevangenis ingekerker was, was hy steeds ‘n bondel borrelende vreugde!

Jesus is die Een wat al die verskil maak. Iemand wat Jesus nie het nie, sal in die beste omstandighede nooit ware vreugde kan ondervind nie. Vir die gelowige is dit die wonderlikste vreugde beskikbaar. Dit verg egter ook iets van jou kant af - jy moet dit jou eie maak! Besef vandag dat Jesus jou die potensiaal gee om daardie borrelende vreugde te ondervind. Ek daag jou uit: gaan leef dit prakties uit! Die verskil in jou lewe sal absoluut verstommend wees!

Gebed:

Dankie Here, dankie vir ‘n wonderlike lewensvreugde wat U my gegee het. Help my aseblief om vir geen oomblik daarvan te vergeet nie!

.

.

.

.

Maandag16 Augustus

Lééf jou Liefde Uit

Lukas 6:27-38


VIDEO OUDIO
Wat beteken Bybelse Liefde? In kort is dit ware omgee, uit die hart uit sowel as prakties. Is dit beperk tot jou gesin, familie, vriende, mede-gelowiges? Die eise wat Jesus in vanoggend se Skrifgedeelte stel, plaas ons onder ‘n baie duidelike keuse: jy moet liefde lééf of jy sal deur die wêreld verswelg word! Jesus begin met die harde woorde: “Julle moet julle vyande liefhê!Dit beteken letterlik dat jy nie maar net neutraal of afsydig teenoor jou vyande moet staan nie, maar dat dit ‘n aktiewe uitleef van liefde moet wees. Lees ons verder deur hierdie preekgedeelte, dan sien ons dat dit selfverloëning van ons vra om hierdie liefde waarlik te kan uitleef!

Ons samelewing vandag verskil radikaal van dié in Lukas se verhaal. Tóg is daar sekere ooreenkomste wat beide samelewings baie moeilik maak vir die gelowige. Jesus se samelewing was een van gee en neem. Die rykes en vooraanstaandes het gegee, maar dan alleen as hulle baie seker was dat hulle dit weer gaan terugkry. Dit het nie net gegaan oor aardse goed nie, maar ook oor dinge soos lojaliteit en ondersteuning. Jesus kom met hierdie preek en Hy keer die hele gedagte van “Ek sal goed wees vir jou solank jy goed is vir my,totaal onderstebo. Dit is nie liefde nie! Jy laat nie jou gedrag bepaal deur wat mense aan jou doen of van jou sê nie, maar jou gedrag moet alleen bepaal word deur wat God wil hê dat jy moet doen!

Ons wil dalk baie gou sê dat hierdie preek van Jesus darem ‘n bietjie onregverdig is! Hoe kan Hy dan nou van my verwag om iemand aktief lief te hê as die persoon lelik is teenoor my? Dalk moet ons in perspektief  kyk na hierdie opdrag.

Laat ‘n bietjie jou gedagtes terugdwaal na die tyd voordat Jesus jou gered het. Hoe het jou lewe toe gelyk? Het jy in daardie tyd waarlik probeer om volgens God se wil te leef? Ek dink nie so nie! Was jy toe waarlik lief vir Hom? Ek betwyfel dit sterk! As ek maar terugdink aan my eie lewe - ja, ek het tog halfhartige pogings aangewend om Hom te plesier. Ek het kerk toe gegaan en Bybel gelees, wel net af en toe, en ek het probeer bid, maar dit was nie baie suksesvol nie. Boonop was alles slegs om my gewete te probeer sus. As ek terugdink aan die sondes in my lewe, dan staan my hare orent! Dat ek waarlik kon dink dat die Here my nie sien nie! As ek in daardie eerste 25 jaar van my lewe waar ek verantwoordelik gehou kon word vir wat ek doen, slegs tien keer per dag gesondig het (eintlik was dit baie meer!) dan het ek 90’000 oortredings agter my naam gehad! Dit sou baie sleg afgaan in ‘n hof!

Ten spyte van al hierdie dinge het die Here besluit om my ‘n totale nuwe begin te gee met ‘n silwerskoon doek. Al was ek Sy vyand, en al het ek alles gedoen wat sleg was, het Hy nogtans my sondes vergewe en my ‘n splinternuwe lewe gegee. Al het ek Hom so bitter seer gemaak, het Hy vir my die grootste geskenk van alles gegee, die ewige lewe saam met Jesus. Al was my lewe vuil en verrot, het Hy steeds vir my die Heilige Gees in my lewe gegee.

Toe eensklaps verander alles, en ek lewe ‘n skoon, rein, heilige lewe........ Nooit gesien nie! Wys my die gelowige wat ‘n sondelose lewe lei - hy is dood! Al probeer ek ook hóé hard om volgens God se wil te lewe, kry ek dit nie eers naastenby reg nie, en elke dag trap ek maar weer in die talle slaggate van sonde. Ten spyte van die feit dat ek die Here so diep teleurstel elke dag, bly oorlaai Hy my steeds met liefde en goedheid. Hy bly maar elke keer weer vergewe en vergewe en vergewe.

Lees nou weer ‘n slag wat Jesus sê terwyl jy dit hier bo in gedagte hou. Dan begin dit sin maak en dit klink gladnie meer so onregverdig nie! As die Here soveel keer die oë toemaak oor my eie vyandigheid teenoor Hom, en my dan boonop oorlaai met liefde, dan durf ek nie anders as om ook ander mense lief te hê nie. Dan maak dit net sin dat ek ten spyte daarvan dat iemand my afknou, slegsê en lelik is teenoor my, die persoon steeds aktief liefde sal gee. Dit moet ‘n liefde wees wat nie maar net ‘n glimlag van my kant wys nie, maar wat aktief aan daardie persoon gee nét soos die Here vir my gee.

Die laaste gedeelte handel oor oordeel. Wie gee my die reg om iemand anders te oordeel? Ons is so gou om mense te veroordeel, en dan boonop nog ‘n groot bohaai daarvan te maak as dit ‘n lekker sappige stukkie skindernuus is. Die afgelope ruk was ‘n paar groot name in die nuus en elkeen van ons het al ons oordeel uitgespreek oor hierdie mense. Maar die vraag is of ek en jy dan sulke engeltjies is? Wie van ons is sonder sonde? Wie van ons durf die vinger na iemand anders wys? Is hulle sonde dan soveel groter as die sonde wat ons doen? Sonde is om NIE die wil van God te doen nie. Of jy dit gróót versuim of net effentjies, dit bly steeds sonde. Ek praat nie die sondes van diegene wat ons land besteel of oproermakers vir een oomblik goed nie, maar ek durf nie oordeel nie, want ek het sélf hope sondes in my lewe! Oordeel behoort slegs aan God!

Gebed:

Here, vergewe my, waar ek so verskriklik versuim om my liefde uit te leef, en waar dit steeds so lekker is vir my om ander te veroordeel. Help my om ander, selfs my vyande waarlik prakties lief te hê!

.

.

.

.

Dinsdag 17 Augustus

Gelykenisse en Vrugtebome

Lukas 6:39-45

VIDEO OUDIO

Soos jy seker al agtergekom het, is ek lief daarvoor om waarhede tuis te bring deur middel van storietjies, veral stories oor die Bos. Dis iets wat my baie na aan die hart lê. Wel, ek moet erken dat ek ‘n baie goeie Leermeester het - die beste wat daar ooit was: Jesus! Kyk maar net hoedat Hy die wonderlikste waarhede by mense tuisgebring het met storietjies en gelykenisse. Jy vergeet hulle nie sommer nie! Elke keer as jy by so ‘n situasie kom, dan dink jy onmiddellik aan wat Jesus gesê het.

Jesus se bergpreek is geen uitsondering nie, en vandag kyk ons na ons vier kort gelykenisse wat Hy gebruik het om baie diep waarhede tuis te bring. In die eerste gelykenis wil Jesus daarmee vir jou op die hart lê dat jy moet weet wat jou tekortkominge is, en dat jy dan daarvolgens moet leef. Hy gebruik die beeld van twee blindes wat mekaar probeer lei. Uiteindelik beland albei in ‘n sloot! In die praktyk het ek dit al baiemaal beleef dat mense my vrae vra wat ek net eenvoudig nie kan beantwoord nie. My natuurlike reaksie is om my eie opinie te gee, al is ek nie eers seker of dit korrek is nie. In ‘n sondagskoolsituasie is dit dalk nog erger, as ‘n kind jou ‘n strikvraag vra, dan is die versoeking groot om maar ‘n antwoord uit jou duim te suig! Hoe sal die kind tog weet? Ek bedoel, ‘n mens het darem tog jou eer en jy moet slim lyk! Hoe sal dit nou lyk as die kinders agterkom dat hulle onderwyser te “dom” is om ‘n eenvoudige ou vragie te antwoord? Dieselfde geld vir wanneer iemand jou ‘n strikvraag vra oor ‘n geloofsaak - dalk iets wat hom al jare pla.

Ons moet onthou dat niemand volmaak is nie, en dikwels moet jy maar jou trots sluk en sê: “Jammer ek weet nie wat die antwoord is nie, maar ek sal probeer uitvind!” Persoonlik het dit my al dikwels gekos om by ander mense te gaan kers opsteek met strikvrae. Ek moes dikwels al mense na iemand anders verwys om hulle vraag te probeer antwoord. Mense verloor nie hulle respek vir jou as jy nie alles weet nie! Hulle sien eerder dat jy nét so ‘n mens soos hulle is, en dat hulle daarom makliker met jou kan kommunikeer. Sluk dus maar gerus jou trots!

In die tweede gelykenis wil Jesus sê dat ek my eie beperkinge moet ken en my eie foute en sondes moet kan raaksien. Dit is dan ook belangrik dat jy nie ander mense gaan veroordeel nie, veral nie terwyl jy sélf nog met ‘n sak vol sondes in jou lewe sit nie. Alleen die persoon wat totaal sonder enige sonde is, het die reg om ander te kan oordeel! En dit verséker ek jou, daardie ou is nog nie gebore nie! Die enigste Mens wat nog óóit sonder sonde was, is Jesus! Dit is so lekker om ander mense te kritiseer en vinger te wys, veral as die persoon ‘n hoë sosiale profiel het. In die proses is daar dikwels mense wat bitter seerkry en dikwels ook onskuldiges wat in die ding betrek word!

In ons derde gelykenis vanoggend herinner Jesus ons dat ‘n goeie mens nie slegte dinge doen nie. As voorbeeld gebruik hy ‘n vrugteboom. Dis iets wat almal natuurlik ken. Oee, ek onthou uit my kinderdae, wanneer dit vyetyd was. As jy by die vyeboom verbyloop, begin jou mond outomaties al te water vir daardie heerlike, sappige, stroopsoet vye wat so in jou mond wegsmelt, en jou hele wese vul met die aromatiese geur van boom-vars vye. Ai toggie! Toe ek kind was het ek die wonderlike voorreg gehad van ‘n byna onuitputlike bron van vrugte te hê op ons plaas, geelperskes, lospitperskes en witperskes; appels, pere, pruime en appelkose; vye, druiwe en turksvye. Nie eers te praat van al die wilde vrugte nie, want teen die kliprandjie het mispels gegroei en stamvrugte en nog baie ander. Daar was te kies en te keur van die heerlikste sappige vrugte, elkeen met sy eie unieke smaak. In die kliprandjie was daar egter ook ‘n boom met galbitter wit vruggies wat tóg op sy eie manier lekker was. En daar was ook bome wat vrugte gedra het wat stink. Die varke het húlle nogal geniet!

Inderdaad is dit so dat jy geken word aan die vrugte wat jy dra. Soos ‘n goeie boom wat gereeld gesnoei, bemes, versorg en natgelei word op die regte tyd, die sappigste vrugte dra. So is dit ook nodig dat ons in die geloofslewe gereeld versorg, gesnoei en gevoed word, en gereeld drink uit die fontein van die lewe. Dán dra ons geloofsvrugte wat aanneemlik is vir God maar wat ook ‘n advertensie is van die lewe van ‘n gelowige, en ander die honger gee vir daardie lewe.

Die boom op ons plaas wat die stink vrugte gedra het, het terloops reg langs die varkhok gegroei. Gn wonder dat sy vrugte so aaklig gestink het nie! As jy jou meng met slegte vriende, gaan hulle beslis ‘n slegte invloed op jou lewe hê. Dan kan jy séker wees dat jou geloofsvrugte dalk óók gaan stink! Kry jou wortels eerder in die ryk, voedsame grond van die vrugteboord van God - die kerk. Daar moedig gelowiges mekaar aan om begeerlike, sappige geloofsvrugte te dra.

Gebed:

Here, ek wil asseblief goeie vrugte dra, en sodoende U heilige Naam verheerlik. Help my asseblief!

.
.

.
.

Woensdag 18 Augustus

Fondamente

Lukas 6:46-49

VIDEO OUDIO

n Jong paartjie het in die jare sewentig vir hulle ‘n huis met ‘n uitsig oor die wye oseaan aangeskaf in Ballito. As jy Ballito ken, sal jy weet dat huise met daardie soort uitsig hoog teen die skuinste van ‘n oer-sandduin gebou is.

En toe eendag kom die groot reëns. Die tweetjies is die aand kooi toe met die heerlike gesuis van reën in hulle ore. Terwyl sy nog so rustig lê en lees, kry sy die vreemde gewaarwording van gróót water wat ruis, maar sy steur haar nie juis daaraan nie en sy verdiep haar in haar boeiende boek.

Skielik is daar ‘n onaardse rammeling en ‘n sieklike gekraak, en sy voel met ‘n skok hoedat haar bed begin beweeg. Sy vlieg vervaard op, net betyds om te sien hoedat hulle huis besig is om onder hulle voete uitmekaar te breek. Beangs hardloop hulle in hulle nagkabaai uit die huis uit in die gietende reën. Oopmond moet hulle toekyk hoedatn stroom water uit ‘n gebreekte stormwaterpyp ‘n reuse sloot onder die huis deurvreet. Helfte van die fondasies hang in die lug, en die huis is letterlik besig om stadig middeldeur te breek.

Vandag, baie jare later, is daardie einste sandduin steeds die gewildste deel van Ballito en die duurste paleise pryk teen die helling. Argitekte besef egter vandag die gevaar van so ‘n sandduin en die huise daar word ontwerp met hypale (piles) wat diep ingesink word tot op vaste rots om te verhoed dat stormwater die sand onder die fondasies kan uitspoel en die paleis kan laat intuimel.

Jesus het ‘n gelykenis gebruik oor twee tipes bouwerk, een waarvan die fondament op die rotsbodem gelê was en die ander wat sommer so op die sandgrond was. Op die oog af sien jy nie ‘n verskil tussen die twee huise nie, maar wanneer die vloedwater kom, dan tuimel die huis sonder behoorlike fondamente inmekaar, terwyl die ander bly staan. Tydens die vloede wat Ballito in 2007 getref het, was daar huise wat eenvoudig verkrummel het onder die aanslag van die golwe. Een gebou het egter almal verstom - die lewensredders se geboutjie wat reg op die strand gebou was, het ongeskonde daarvan afgekom. Die rede? ‘n Inginieur wat daarop aangedring het dat die fondament met groot moeite op vaste rots gegiet word!

Waaroor gaan dit alles?

Jesus vra die hoorders aan Sy voete:Watter sin het dit dat julle My aanspreek met ‘Here, Here!’ en nie doen wat Ek sê nie?” Jesus is die Rots waarop ons die gebou van ons lewe moet bou, want sonder daardie Fondament sal daar die een of ander tyd baie groot probleme kom. Soos met ‘n huis, sal alles piekfyn lyk solank dit goed gaan, maar wanneer die aanslae van die lewe kom, is dit slegs die persoon wat Jesus as Fondament het wat sal staande bly.

Die vraag is: Hoe bou ek op daardie Jesus-fondament?

Jesus gee die antwoord helder en duidelik: “Doen wat Ek sê!”

Maar waar begin ek? Daar is so baie dinge?

Begin by die begin! In Openbaring 3:20 nooi Jesus jou uit met die woorde: “Ek staan by die deur en Ek klop!” Hy vra jou dus om jou hart vir Hom oop te maak en Hom binne te nooi. Jy hoef Hom nie te gaan soek nie - Hy is reeds rég by jou, en Hy wag net om toegelaat te word in jou lewe. Dit is die eerste en belangrikste stap.

Moontlik sê jy: “O, maar Jesus is reeds deel van my lewe!”

Volg My,” het Jesus vir Petrus gesê in Mat 4:19. “Volg My”, sê Hy vandag ook vir jou en my. Om Jesus te volg is baie beslis nie maklik nie! Petrus en sy maters het dit op die harde manier uitgevind. Maar die beloning is een wat jy nie kan beskryf nie.

Om Jesus te volg, beteken nie noodwendig dat jy jou werk en huis en alles moet los, soos Petrus-hulle gedoen het nie, en te gaan sendingwerk doen in Timboektoe. Nee, maar dit beteken egter wél dat jy sekere opofferings moet maak en voluit vir Hom lewe. Dit beteken dat jy die regte prioriteite in jou lewe moet hê, waar die saak van Jesus voorrang moet kry bo énige wêreldse dinge. Dit beteken dat jy ‘n ambassadeur vir Jesus sal wees in jou werksituasie en oral waar jy gaan. Dit is baie moeilik, maar gelukkig het die Here geweet dat ons dit nie sommer so op ons eie kan doen nie, en daarom het Hy ons die Heilige Gees gegee om ons die krag, wysheid, inspirasie en moed te gee om op te staan vir Jesus.

Jesus het ook by verskeie geleenthede die groot belangrikheid van Liefde beklemtoon. Om waarlik jou lewenshuis op die Jesus-fondament te bou, is die sement van liefde uiters noodsaaklik, want daarsonder val alles uitmekaar. Jy kan die beste beton-mengsel aanmaak vir ‘n fondasie, maar sonder sement is alles puur verniet. In 1 Kor. 13 besing Paulus die betekenis van liefde. Ek en jy behoort hierdie gedeelte gereeld te lees om ons geheue te verfris, en dit dan prakties te gaan uitleef. Liefde, soos wat Paulus dit beskryf, is waarlik die sement van die fondament waarop ons lewenshuis gebou moet word.

Kom ons bou vandag in alle erns op die Jesus-fondament!

Gebed:

Here, vandag pleit ek alweer skuldig want my bouwerk is nie op standaard nie. Help my asseblief om te begin by die regte fondament.

.
.

.
.

Donderdag 19 Augustus

Twee Wonderwerke

Lukas 7:1-17  

VIDEO OUDIO

Die nuus van Jesus se genesingskrag het al verder en verder versprei, totdat dit uiteindelik ook die kwartiere van die Romeine bereik het. Na Jesus se groot bergpreek is Hy terug na Kapernaum, waar hulle een oggend ‘n groepie Joodse familiehoofde aantref. Die manne het by Jesus kom pleit oor ‘n Romeinse offisier se slaaf wat dodelik siek was. Die offisier was in bevel van ‘n honderd soldate. Hy het egter besef dat hy eintlik ‘n buitestaander was in die Joodse gemeenskap omdat hy ‘n Romein was en dat Jode maar baie ongemaklik gevoel het as heidene te naby aan hulle gekom het, want hulle reinheid was aangetas. Hy wou nie dinge kom deurmekaarkrap en self daar aangestap kom nie, dus maak hy maar gebruik van tussengangers om die situasie te beredder.

Vir die familiehoofde was dit ‘n plesier om namens die offisier te gaan onderhandel met Jesus, want hy het baie invloed gehad, en hy het nie geskroom om dit uit te oefen om iets vir die gemeenskap te beteken nie. Hy het selfs vir die Jode ‘n sinagoge laat bou, iets wat jy beslis nie van ‘n Romeinse offisier sou verwag nie!

Ten spyte van die Romein se hoë posisie en sy goedhartigheid, het hy een baie groot probleem gehad, die groot afstand tussen hom en die God van Israel. Hy was nie ‘n Jood nie, dus het hy nie toegang gehad tot daardie God van Wie hy al so baie gehoor het nie. Jesus was die enigste Weg om daardie gaping te oorbrug.

Sonder versuim het Jesus dan ook die moeite gedoen om nie bloot die offisier te laat haal nie, maar Sélf na die man se huis te gaan.

Op pad daarheen stuur die offisier iemand om Jesus te stop, want hierdie invloedryke man het homself totaal onwaardig gevoel in Jesus se geselskap. Hoe durf hy, wat geen reg het op die God van die Jode nie, daardie God se heilige “Profeet” na sy huis laat kom?

Jesus was verstom dat hierdie man so hardnekkig bly glo het! Hy maak dit duidelik dat selfs Romeine en ander heidene ook deel is van die Koninkryk van God. Sonder verdere seremonie word die slaaf gesond.

Kort na hierdie episode vertrek Jesus na ‘n dorpie met die naam Nain. Sy dissipels was soos gewoonlik saam met Hom, gevolg deur ‘n groot skare aanhangers. Naby die dorp kom hulle op ‘n begrafnis af. Dit wasn baie droewige storie, en die arme vrou wie se seun leweloos op die draagbaar gelê het, was troosteloos. Vir haar het die ganse wêreld om haar ineengestort: haar man - haar versorger - het sy reeds aan die dood afgestaan. Dit het haar as weduwee alreeds baie weerloos gelaat. En nou moes sy boonop haar enigste seun ook kom begrawe. Die ganse dorp se mense was daar, en ‘n ge-weeklaag het sekerlik die lug om die dorpie gevul. Haar situasie was absoluut hopeloos!

Jesus se eerste reaksie was dat Hy dadelik die vrou se groot nood raakgesien het en baie jammer gevoel het vir haar. Dit bly egter nie maar net by ‘n blote emosie van jammerte nie, maar Hy doen iets daadwerklik aan die situasie. Hy gaan staan by die draagbaar en raak daaraan. Hy waag sy eie reinheid deur aan hierdie “onrein” lyk te vat, iets wat volgens Joodse beskouings taboe was. Dit het weereens net gewys hoeveel Jesus werklik omgegee het. Hy was bereid om alle sosiale taboes te verontagsaam ter wille van ‘n vrou se smart. En dan gebeur die wonder wanneer Jesus haar seun beveel om op te staan. Hy het onmiddellik regop gesit en begin praat. Nie alleen het die weduwee haar geliefde seun terug gekry nie, maar sy word ook sosiaal en ekonomies deur hierdie wonderdaad gered.

Hierdie wonderwerk het groot opslae veroorsaak oor die ganse Israel. Mense het dit as ‘n daad van God gesien, en Jesus is as die Messias erken.

In die eerste perikoop word klem gelê op die geloof van die Romeinse offisier, en dat sy geloof Jesus aangespoor het om die wonder te verrig. In die tweede perikoop is daar egter geensins van geloof eers sprake nie. Hier sien ons bloot Jesus se groot deernis en barmhartigheid. Geloof was nie ‘n voorwaarde vir die wonder nie.

Waar ons dikwels ons eie goeie lewe of ‘n groot geloof wil sien as ‘n voorwaarde vir God se genade oor ons, is dit vir ons ‘n openbaring om te sien dat ons welsyn nie van ons geloof of goeie dade afhanklik is nie, maar dat dit suiwer God se barmhartigheid en genade is wat ons deur die lewe dra. Hy weet alreeds wat ons behoeftes is nog lank voor ons iets vir Hom vra!

Maar is dit dan ooit nog nodig om te bid?

Inderdaad! Deur gebed wil ons bevestig hoe afhanklik ons werklik van Hom is, en dat ons vir geen oomblik kan bestaan as dit nie vir Sy genade is nie.

Gebed:

Here, vanoggend wil ek net weereens bevestig dat ek totaal van U afhanklik is. 

.

.

.

.

Vrydag 20 Augustus

Twyfel

Lukas 7:18-23

VIDEO OUDIO

Het jy al ooit getwyfel in jou geloof? Het die gedagte al ooit deur jou kop geflits, dat hierdie hele “Godsdiens-storie” dalk net iets in ons koppe is? Ek lees eendag ‘n beriggie vann nuwe gier in Engeland om jou te laat ont-doop. Mense wat besluit het dat hulle niks met die Christengloof te doene wil hê nie, maar deur hulle ouers laat doop is, wil hulle op hierdie manier distansieer daarvan. Mense verlaat die kerk omdat hulle nie meer wil glo nie. Ek het geril toe ek dit lees! Hoe kan énigiemand dan net eenvoudig sy geloof prysgee?

Tóg moet ek bieg dat die twyfelgedagtes my ook al getref het, en dan wou ek myself skop dat ek my gedagtes vir ‘n oomblik aan die duiwel uitgeleen het! Elke dag beleef ek God se genade en wonderdade intens! Hoe kan ek óóit ophou glo?

Maar ek troos my daaraan dat ek nie alleen staan in hierdie stryd nie. Selfs die grootste van die profete het al in dieselfde bootjie gery. Een so ‘n voorbeeld is Johannes die Doper: skielik het twyfel hom begin oorval oor Jesus. Nie lank voor hierdie episode nie, was Johannes die een wat Jesus gedoop het. By daardie geleentheid het hy nog vir Jesus gesê dat hy onwaardig was om Jesus te doop. Met sy eie oë het hy aanskou hoe die Heilige Gees daardie dag op Jesus neergedaal het. Met sy eie twee ore het hy die stem van God uit die hemel gehoor. In Johannes 1:29 lees ons dat Johannes die doper na Jesus verwys het as die Lam van God wat die sonde van die wêreld sou wegneem. Nogtans begin Johannes só twyfel dat hy boodskappers na Jesus stuur om Hom te vra of Hy werklik die Messias is.

Lukas skryf dat Jesus juis op daardie tydstip besig was om ‘n klomp siekes gesond te maak. Natúúrlik moes Johannes mos hierdie wonderwerke van Jesus beleef het of ten minste daarvan gehoor het. Jesus se antwoord aan Johannes was dan ook dat hy maar net moes kyk na alles wat gebeur het - die blindes wat skielik weer kon sien, die lammes wat kon loop en selfs dooies wat weer lewendig geword het. Was dit nie al klaar genoeg vir Johannes om enige twyfel uit sy gemoed te kry nie? “Gelukkig is die man wat nie aan My begin twyfel nie,het Jesus vir Johannes se volgelinge gesê, en daarmee het Hy hulle teruggestuur na Johannes.

As jy ooit begin om twyfelgedagtes te kry, dink maar net aan die talle wonderwerke wat dag-vir-dag rondom ons gebeur. Maak jou oë oop hiervoor, en sien hulle raak. Die paramedikus, Hans Hartmann se verhaal kom skielik in my gedagtes op. Jy onthou sekerlik nog van die Mighty Men konferensie waar Oom Angus Buchan die hartaanval gekry het? By die spesifieke geleentheid het Hans die taak gekry om siekes by die konferensie by te staan. Met die voorbereiding tref talle teenslae hom, maar hy bly steeds vertrou. En dan vertel hy van wonderwerk op wonderwerk wat hom uiteindelik in staat gestel het om na 200’000 mans om te sien. Hy is ook die persoon wat ontbied was toe Angus onder die verhoog inmekaar gesak het. In sy verslag beskryf hy Oom Angus se simptome, en dat dit beslisn hartaanval was. En dan, nadat ‘n skare mense vir hom gebid het, kom die verslag later van die hospitaal dat daar niks met Oom Angus verkeerd was nie - absoluut niks wat daarop gedui het dat hy óóit ‘n hartaanval beleef het nie! Is dit nie ‘n wonderwerk nie? En dis maar een van talle wat daagliks plaasvind!

Jesus se antwoord aan Johannes se dissipels maan ons om Hom te aanvaar vir wie Hy is. Nie alleen het Hy siekes gesond gemaak nie, maar ook die Evangelie aan armes verkondig (v.22). Ons soek graag die skouspelagtige wonderwerke van Jesus, maar vergeet gerieflikheidhalwe die wonder van doodgewone mense - sondaars - vir wie die skille skielik van hulle oë afgeval het, en hulle vir Jesus vir die eerste keer kon raaksien. Daardie wonder het waarskynlik al met jouself gebeur, die dag toe Jesus jou uit die modderpoel van verlorenheid geruk het en jou die ewige lewe gegee het. Dieselfde wonder speel hom dag-vir-dag af waar mense Jesus ontmoet. Wonderwerke ontvou voor ‘n mens se oë wanneer jy sien hoedat mense verander wanneer Jesus deel van hulle lewens word.

Ek sélf kan maar net oor en oor getuig van die wonder wat hom elke dag in my lewe afspeel, wanneer ek, eenvoudige mens, ‘n dagstukkie voortbring. Ja, die Here het my die talent gegee om te kan skryf, maar sonder die wonderlike inspirasie wat ek elke dag van die Heilige Gees beleef, sou hierdie stukkies nooit, óóit kon gebeur nie. Géén skrywer kan elke dag, week na week, jaar na jaar voortgaan en aanhou skryf nie! Ek hoor dikwels hoe gróót skrywers vertel hoe hulle soms vir maande lank nie ‘n woord kan skryf nie. Slegs ‘n wonder van die Heilige God kan dit bewerkstellig dat ek nooit sonder inspirasie is nie!

Wanneer daar dus ‘n twyfelgedagte dreig om my te kom piets, dan dink ek aan al die wonderwerke wat ek beleef. Ons aanbid ‘n almagtige God vir wie absoluut niks onmoontlik is nie!

Gebed:

Here, U is groot en goed en almagtig! Aan U wonderdade is daar geen einde nie!

.

.

.

.

Maandag 23 Augustus

Kritiek

Lukas 7:24-35  

VIDEO OUDIO

Nadat Johannes die Doper se dissipels vertrek het om hom die goeie nuus oor te dra dat Jesus tóg die Messias is, lewer Jesus ‘n getuienis oor Johannes. Inderdaad was hy ‘n baie besonderse man, maar waaroor dit éintlik gegaan het is die besonderse verhouding wat daar was tussen hom en Jesus. Watter rol het elkeen van hulle in God se verlossingsplan gespeel? Johannes word uitgebeeld as die grootste profeet van alle tye. Nogtans is hy slegs die profetiese voorloper van Jesus. Alhoewel Johannes so ‘n besonderse persoon was, kan ons nie werklik by hom stilstaan nie, want dit wat Jesus verkondig - die Koninkryk van God - bied soveel meer as wat Johannes bied. Johannes was die een wat boete-prediking moes doen. Daarmee moes hy die mense begin voorberei vir Jesus en vir die groot genade wat God besig was om op die aarde uit te stort. Wat Jesus verkondig is só belangrik dat Hy verklaar dat die geringstes in die Koninkryk van God selfs groter is as Johannes, die groot profeet.

Almal het nie dieselfde op Johannes en Jesus se prediking gereageer nie. Doodgewone mense het op Johannes se oproep gereageer het, selfs die gehate tollenaars het aggeslaan op Johannes se prediking. Hulle het berou gehad oor hulle sondes en tot bekering gekom en hulle laat doop deur die profeet, as teken dat God hulle sondes afgewas en vergewe het. Maar daar was ook diegene wat hierdie “sektery” uit die hoogte aangekyk het, en hulle daarvan gedistansieer het. Dit was veral die geestelike leiers, die Skrifgeleerdes en Fariseërs wat nie kon byt aan Johannes se eenvoudige prediking nie. Deur Johannes se doop te verwerp, het hulle ook God se verlossingsplan verwerp. Hulle was dus nie gereedgemaak vir die Een wat baie groter is as Johannes nie.

In die laaste gedeelte van hierdie perikoop sien ons Jesus praat oor die mense wat nie wil verstaan oor Johannes en Jesus se prediking nie. Hulle preke het radikaal van mekaar verskil, tóg tree albei op as agente van God. Jesus gebruik die beeld van kinders wat speel om te beklemtoon wat Hy bedoel. Johannes het treurige musiek verskaf, maar die mense wou nie huil nie. Jesus het vrolike musiek gespeel, maar die mense wou nie dans nie. Dikwels hoor jy vandag ‘n tipiese Johannes-preek wat sê: “Bekeer jou! Breek weg van jou sonde!” Baie mense druk hulle ore toe vir daardie preke! Hulle wil dit nie hoor nie. Dan hoor jy weer ‘n preek metn totaal ander styl, waar die leraar preek oor God se genade en liefde. Baie mense wil ook nie hierna luister nie, want dis ou nuus, soetsappig, te eenvoudig! Iemand sal met elke preek fout vind!

Vir die predikers wat vanoggend hierdie stukkie lees, wil ek net sê, dat jy in goeie geselskap is, want selfs die grootste profeet van alle tye (Jesus se beskrywing van Johannes) en Jesus Sélf het héwig onder kritiek deurgeloop. Om maar ‘n voorbeeld te noem: toe Johannes hom weerhou het van alles wat sleg is, en ‘n kuis lewe streng volgens die wet geleef het, het mense hom daaroor gespot en selfs beskuldig dat hy duiwelsbesete is. Toe Jesus presies die teenoorgestelde doen, en Hom meng met sondaars en slegte mense en saam met hulle fees vier, is Hy óók gespot, en uitgekryt as ‘n “vraat en wynsuiper”. Die kritiek wat Angus Buchan moet verduur is totaal onmenslik. Ek het dokumente gelees wat jou hare laat regop staan, waar sy prediking selfs sou grens aan die werk van die duiwel!

Kom ons hou op om te kritiseer. Natúúrlik stem ek nie altyd saam met alles wat alle predikers sê nie. Dit gebeur van tyd tot tyd dat ‘n prediker iets sê uit die oortuiging van sy hart, maar wat nie heeltemal met die Skrif strook nie. Ons moet onthou dat selfs predikante en pastore ook maar net mense is, en dat hulle ook kan foute maak. Wanneer ons egter na ‘n preek luister, moet ons bid dat die Heilige Gees nie alleen deur die prediker sal praat nie, maar dat Hy ons harte oop sal maak om die boodskap te hoor wat Hy, die Heilige Gees, vir ons wil gee deur die prediker. Ons moet luister met ‘n oop gemoed en nie met vooropgestelde idees nie. Alhoewel jy bedag moet wees op enige vorm van dwaling, moet ons nie krities wees nie. Iemand merk eenmaal op dat die leraar dinge te veel herhaal, en sy kan dit nie vát nie. Toe wonder ek net oor dieselfde lied wat ons so dikwels sing en herhaal omdat dit mooi is en lekker is om te sing. As Skrifwaarhede die moeite werd is om te herhaal, kan jy dit doen tot vervelens toe! Ons durf nooit moeg word daarvoor nie! Gepraat van vervelige herhaling - hoeveel keer het jy al Psalm 23 in jou lewe gelees? Ek vra maar net........

Kom ons vergeet van die mens agter die preek, en sien die God raak wat deur die prediker praat! 

Gebed:

Here, ek is sélf so lief daarvoor om te kritiseer. Vergewe my, en help my om U raak te sien eerder as die leraar op die kansel.

.

.

.

.

Dinsdag 24 Augustus

Simon en Dáárdie Vrou

Lukas 7:36-50

VIDEO OUDIO

Ons verhaal vanoggend is ‘n hartroerende een wat trane van aandoening in jou oë bring. Hier kom demonstreer Jesus God se groot en onverklaarbare vergifnis.

n Fariseër met die naam Simon nooi vir Jesus uit vir ete. Dit was die gebruik om by ‘n lae tafel te eet. Rondom die tafel was daar kussings waarop die gaste op die sy gelê en op een elmboog geleun het. Omdat jou voete so naby aan die volgende gas se gesig was, was dit net goeie maniere vir ‘n gasheer om ‘n slaaf te kry om die gaste se stowwerige voete te was voor die ete. Onthou, die mense het sandale gedra en kaalvoet om die tafel gelê. Duidelik het hierdie Simon nie sy gaste as belangrik genoeg geag om hulle voete te laat was nie.

Net toe almal mooi hulle lê gekry het kom dáárdie vrou die vertrek binne en sy gaan neem stelling in by Jesus se voete. Vererg kyk almal die vrou aan - wat maak sy hier? Hierdie was ‘n aangeleentheid vir die manne, en vrouens was net eenvoudig taboe! Veral hierdie vrou, want haar reputasie het haar vooruit geloop! Gn ordentlike man wou in hierdie vrou se geselskap verkeer nie!

Maar dit sou nóg erger word want die vrou gaan bitterlik aan die huil en haar smart-trane val op Jesus se voete. Dan doen sy die ondenkbare en maak haar hare los in die openbaar. Sulke onbetaamlikheid was totaal onverskoonbaar. Sy is ‘n skaamtelose vrou! Terwyl sy Jesus se voete met haar los haredos afdroog, begin dit al brom hier om die tafel. Die spanning in die atmosfeer bereik breekpunt as sy ‘n flessie kosbare reukolie te voorskyn bring en dié oor Jesus se voete smeer.

n Man kan uit “ordentlikheid” nie altyd sê wat jy wil nie, maar jy kan darem dink wat jy wil! Só het Simon gereken. Maar hy het nie in gedagte gehou dat Jesus presies geweet het wat in sy skewe gedagtes aangaan nie. In sy gemoed verwerp hy Jesus as profeet, want as Hy ‘n profeet se sout werd was, sou Hy mos geweet het van hierdie vrou se reputasie. Hy sou beslis nie dat sy aan Hom kon staan en raak nie. “Nee wat!”, dink Simon. 

Maar Lukas vertel dat Jesus reg dwarsdeur Simon gesien het. As ware Profeet het Jesus ook regdeur die vrou gesien, en het Hy geweet dat, juis omdat sy ‘n vrou met ‘n slegte reputasie was,n sondaar, het sy God se vergifnis soveel te meer nodig gehad. Die verskil tussen hierdie vrou en Simon was dat hy gesteun het op sy eie geregtigheid. As Fariseër het hy gedink dat, omdat hy die wet tot in die fynste besonderhede onderhou het, sy saak met God reg was. Op sy eie stoom sou hy eendag die hemel binne-marsjeer. Die vrou, aan die ander kant, het besef dat sy verlore was, en dat Jesus die enigste uitweg was vir haar om God se vergifnis te kon kry. Sy het haar totale afhanklikheid van Hom besef.

Simon was op die oog af nie ‘n slegte ou nie. Hy het ‘n baie voorbeeldige lewe gelei en al die regte geluide gemaak. Ons kan aanneem dat hy beslis ‘n vooraanstaande lid van die gemeenskap was, want net ‘n welaf persoon kon ‘n klomp mense vir ete onthaal. Dit maak hom boonop nog vrygewig ook. Ek is oortuig daarvan dat hy ‘n steunpilaar was vir die kerk.

Ons gelowiges moet egter baie versigtig wees dat ons nie dalk soos Simon word nie. Ons kan so maklik soveel selfvertroue in die lewe opbou dat ons van die ware sin van die lewe begin vergeet. As dit finansieel met jou goed gaan en jy elke Sondag in die kerk sit, dan is jy reg. As jy boonop nog op elke kommissie dien en jou deel vir die kerk doen, dan voel jy dat jy gemaak is. Jy gee gereeld jou dankoffers, bid, lees die Bybel en neem selfs deel aan ‘n Bybelstudiegroep se bedrywighede. Moenie my verkeerd verstaan nie, ek sê nie dat hierdie dinge verkeerd is nie. Inteendeel, dit is baie goed, en die Here wil hê dat ons hierdie dinge doen. Die probleem kom egter dat sulke voorspoed kan veroorsaak dat jy jou totale afhanklikheid van God dan so maklik kan vergeet. Iemand wat voorspoedig lewe, moet tweekeer so hard werk aan sy verhouding met die Here.

Die héél basiese dinge van die geloof durf ons nooit vir ‘n oomblik vergeet nie. Waarom het ons skuldvergifnis ontvang? Ons was verlore in ons sonde, en God het uit Sy groot genade deur die soenverdienste van Jesus vir ons vergifnis gegee, nie omdat ons goed was of goed gedoen het nie, maar uit genade! Wanneer ons hierdie skuldvergifnis gekry het, leef ons ‘n dankbaarheidslewe deur goed te probeer doen, maar in die gedurige besef van hoe geweldig afhanklik ons steeds van God is vir elke ding in ons lewe. Dit is Hy wat vir ons voorspoed gee, en dit is Hy wat vir ons die geleenthede gee om Hom te kan dien in die kerk en alle ander terreine. Wanneer jy dus agter die orrel sit of jou plek inneem as leier-ouderling of selfs op die kansel staan met ‘n gemeente voor jou - wees dankbaar vir daardie geleentheid wat jou gegun is, en besef dat jy steeds van Hom afhanklik is.

Gebed:

Here, dankie dat ek in U diens kan staan - hou my asseblief op my knieë afhanklik van U.

.

.

.

.

Woensdag 25 Augustus

Vroue saam met Jesus

Lukas 8:1-3

VIDEO OUDIO

Dit was sékerlik nie ‘n maklike taak vir Jesus om die evangelie te verkondig nie. Dag-vir-dag, van vroegoggend tot laataand was Hy omring en verdruk deur ‘n skare wat dikwels baie duisende beloop het. Boonop het elkeen Sy persoonlike aandag gesoek. Jesus was egter nie die enigste wat hierdie druk gevoel het nie. Die twaalf wat Hy uitgekies het, het dit sékerlik hotagter gehad om die skare in bedwang te hou en te sorg dat alles vlot verloop. Hulle moes keer dat Jesus nie totaal platgetrap word nie!

Ek dink nie ons besef aldag waardeur hierdie span gegaan het nie. Dit was uitputtende werk wat dikwels tot diep in die nag aangegaan het. Vir kosmaak en die algemene versorging was daar net eenvoudig nie tyd nie. Hier het ‘n paar vroue wat alreeds Jesus se wonderlike genesing ervaar het, die nood raakgesien en besluit om te kom help.

Dit was nie rêrag ongewoon vir vroue om ‘n rabbi met geld en kos te voorsien nie, maar hier het dit ‘n stappie verder gegaan. Hierdie vrouens het alles gelos om saam met Jesus en sy geselskap rond te trek deur die land. Dit was absoluut ongehoord en eintlik was dit as ‘n skande beskou in hulle samelewing. G’n wonder dat baie mense ongemaklik gevoel het oor Jesus nie want Hy het veroorsaak dat mense dinge doen wat jy nie normaalweg veronderstel was om te doen nie. Die sosiale strukture en tradisionele gebruike was tot in hulle fondamente geskud toe Jesus die dag begin preek!

Die name wat Lukas hier noem, hoor ons later in die verhaal weer, en aan die einde van Lukas se verhaal sien ons hoedat hulle saam met die apostels getuies word van Jesus se opstanding. Ons weet nie hoeveel vroue betrokke was nie, maar Lukas noem enkeles. Daar was Maria wat van die vissersdorp Magdala afkomstig was. Sy het die bynaam Magdalena gehad. Johanna was getroud met Gusa, die bestuurder van Herodus Antipas se huishouding. Hy was dus ‘n hoë amptenaar! Ons sien dus dat daar vroue was uit alle vlakke van die samelewing. Sonder hierdie vroue se ondersteuning sou die hele operasie platgeval het, want die manne sou net eenvoudig uitgebrand het!

Ons is so geneig om op die geringer takies in koninkrykswerk neer te sien as onbelangrik. Dikwels is dit juis daardie “geringer takies” wat die ratte geolie hou en die wiele aan die rol hou. Ek onthou as kind, hoe ek dikwels met minagting staan en kyk het na ‘n kêrel wat op Waterval Boven langs die treinspoor gestaan het met ‘n klein langsteel hamertjie. Met elke trein wat verbykom klop hy teen die wiele met sy hamertjie, dag-in, dag-uit, tot vervelens toe! Dis al wat hy heeldag gedoen het! Ons het spottenderwys na hom verwys as die “Tappiologist”. Almal het neergesien op hierdie arme kêrel. Tóg het hy ‘n uiters verantwoordelike werk gehad, want hy het fyn geluister na die geluid wat elke hamerslag maak, en as een dalk anders geklink het as die res, was die trein summier gestop, want dan het dit beteken dat daar fout was met die wiel. Dit kon dalk ‘n tragiese ontsporing veroorsaak het wat selfs mense hulle lewe kon kos. Nét so het almal neergesien op die stokers op die stoomtreine, ‘n nederige bloedsweet werk. Maar sonder hulle uitmergelende taak om heeldag grawe vol steenkool in die lokomotief se gloeiende, honger keelgat af te gooi, sou die trein nie ‘n enkele treetjie kon ry nie!

Johanna was ‘n vooraanstaande vrou in die samelewing, maar sy het haar reputasie op die spel geplaas om Jesus en Sy twaalf manne te versorg. Kosmaak, klere was, water aandra, slaapplek voorberei, kindertjies troos...... Ek neem aan dat sy dikwels dalk in die veld moes slaap op die harde grond saam met die res. Hierdie vroue was die ruggraat van die hele bediening. Ons sien hulle hier as dieondersteuningspan”. Later in die verhaal sien ons dat hulle die enigste was wat kopgehou het toe alles besig was om uitmekaar te val. Toe die twaalf uitgesoekte apostels moedeloos uitmekaargespat het en selfs begin sê het dat hulle Jesus gladnie eers ken nie, was dit hierdie vroue wat tot op die bittere einde by Jesus gestaan het. Selfs toe Hy aan die kruis gehang het, was hulle daar om Hom te probeer ondersteun in Sy laaste oomblikke. En dit was hulle wat Sy lyk versorg en Hom begrawe het. Daardie Sondagoggend was dit weereens húlle wat eerste by die graf was om die laaste reëlings te kom tref. Dit was ook hulle wat die goeie nuus aan die ander dissipels uitgeborrel het oor Jesus se opstanding.

Het jy dalk ook een van daardie “geringe” takies in die Koninkryk? Voel jy dalk minderwaardig omdat jy nie eerder op die kansel kan staan nie? Wees verseker dat die ganse koninkryksmasjien tot stilstand sal kom sonder hierdie klein, onbenullige ratjies. Wees trots op jou takie, en doen dit met vreugde en oorgawe!

Gebed:

Here, dankie vir die taak wat U my gegee het om te doen. Help my om dit voluit te verrig.

.

.

.

Donderdag 26 Augustus

Die Saaier

Lukas 8:4-15

VIDEO OUDIO

Jesus se preke moes absoluut asemrowend gewees het. Lukas vertel hier dat “’n groot menigte” van al die verskillende dorpe in die omgewing gekom het om na Jesus te luister. Dit klink amper soos die ou nagmaalsgeleenthede waarvan Oupa my vertel het. Op Machadodorp het die mense elke drie maande saamgetrek en sommer vir ‘n week aanmekaar kerk gehou. Dit was gróót makiti. Die boere het met ossewaens daar opgedaag en tent opgeslaan op die kerkterrein en kerk gehou dat die byle huil!

Jesus se preke was nie hoogdrawend soos die groot geleerdes s’n nie. Hy het eenvoudig en op die man af gepraat in ‘n taal wat die gewone mense verstaan. Hy het beelde gebruik van dinge waarmee hulle elke dag te doene gekry het om vir hulle waarhede tuis te bring. Ten spyte hiervan was daar steeds baie mense wat dit gehoor het en nie verstaan het nie. Selfs vandag nog is daar baie mense wat Jesus se gelykenisse verkeerd verstaan of dalk gladnie wil verstaan nie omdat die gelykenisse te eenvoudig is.

Een voorbeeld is die eenvoudige storie van die saaier wat Jesus hier vertel het. Later het Sy dissipels hom uitgevra oor die betekenis van die gelykenis. Jesus was geduldig en toe verduidelik Hy dit breedvoerig vir hulle.

Dalk moet ons weer ‘n slag gaan kyk na presies wat hierdie gelykenis in vandag se moderne terme vir ons beteken. In my geestesoog sien ek die prentjie wat Jesus skilder, die boer wat besig is om te saai, saadsak op sy heup en elke paar treë vat hy ‘n handvol van sy kosbare saad. Sy treë is afgemeet sodat hy nie dalk party plekke minder saad gooi as ander nie. Die probleem is egter dat die land nie lyk soos ‘n Vrystaatse mielieland nie, maar dit is ‘n tipiese kleinboer-land besaai met groot rotse wat hy nie kon uithaal nie. En plek-plek het die halsstarrige bossies ook nog hulle deeltjie afgekleim. Die boer saai wyd, en natuurlik val al sy saad nie netjies in die voortjies nie.

Sondag-na-Sondag word die Saaier se saad in ons harte gestrooi wanneer ons luister na die Woord van God wanneer dit gepreek word van die kansel af. Ons kry elke dag dosyne dagstukkies en boodskappies op E-pos en Whatsapp. Sommige van hulle praat baie hard met ons! Dis nog steeds van daardie selfde saad. Wanneer ek stiltetyd hou, word die saad weereens gesaai. Daar word ‘n reuse kongres vir manne gehou, en die saad word weer mildelik gesaai. Die vraag is: groei daardie saad ooit?

Nee, vanoggend is die vraag nie oor wat ander mense maak met daardie saad nie. Kom ons maak dit ‘n persoonlike ding, en ons gaan kyk ‘n bietjie wat ek sélf daarmee gedoen het!

Jesus vertel van saad wat op die pad geval het en wat summier deur voëls opgepik is en nie eers kans gekry het om te ontkiem nie. Nie een van ons kan vandag sê dat ons nie die Woord gehoor het nie. Inderdaad het ek ook die Woord vir baie jare al gehoor! Uit my eie lewe kan ek getuig dat ek vir 24 jaar lank soos ‘n klipperige pad was waar die saad net opgepik was. Vandag kan ek die Here net dank dat Hy my oë daardie tyd oopgemaak het!

Die tweede ontvanger wat Jesus beskryf is soos ‘n klipbank waar daar wéln dun lagie grond is. Die Woord skiet wortel en groei vinnig, maar dan skielik is al die grond uitgeput omdat daar nie diepte is nie. Is daar diepte in my eie lewe? Ek het al dikwels mense hoor kla dat hulle nêrens in die geloof kom nie. Baie gee moed op. Dit kos harde werk, deursettingsvermoë en dissipline om werklik diepte in jou geloof te kan kry.

Die derde ontvanger is die een waar die onkruid welig groei en die saad verstik. Daar is niks wat jou geloof so vinnig kan aftakel as die wêreldse dinge nie. Wilde partytjies, dobbelhuise, slegte geselskap - jy kan net eenvoudig nie twee Here dien nie! Na ‘n aand in die kroeg saam met die manne, waar vieslike grappe, te veel drank en vuil of Godslasterlike taal die botoon gevoer het, voel jy vuil en wil jy beslis nie met die Here gesels nie! Is daar onkruid in my lewe wat besig is om my verhouding met die Here te vertroebel?

Die vierde porsie saad het op vrugbare grond geval. Ek glo dat die oorgrote meerderheid van ons vanoggend kan getuig dat ons daardie vrugbare grond is, en dat ons plantjies welig groei. As dit wél die geval is, dan moet die oes dit wys! As ek myself as die vrugbare grond sien, dan moet die resultaat wys in die vrug wat ek dra. As ongelowiges na my lewe kyk, wek dit by hulle ‘n honger om ook daardie lewe te hê? Was ek al die oorsaak dat iemand tot geloof gekom het? Lyk my lewe soos dié van iemand wat Jesus waarlik liefhet? Is die vrugte van liefde waarvan Paulus in 1 Kor 13 skryf deel van my lewe? As hierdie dinge nie teenwoordig is nie, dan moet ek diep gaan besin, want dalk is ek nie die vrugbare grond wat ek altyd gedink het ek is nie........

Gebed:

Here, ek staan vanoggend skuldig, want die vrugte wat ek behoort te dra, die dra ek nie. Ek wil graag vrugbare grond vir U wees!

.

.

.

.

Vrydag 27 Augustus

Die Olielampie

Lukas 8:16-18

VIDEO OUDIO

Iemand beskryf onlangs hoe geweldig groot die skepping is en hoe verskriklik nietig en klein ek in hierdie groot heelal werklik is. Hy stel die son voor as die grootte van ‘n tafeltennisballetjie. Dan sal die aarde skaars ‘n derde van ‘n millimeter groot wees en 3,7 meter van die son af weg wees. As ons dan hierdie tafeltennisbal-son Saterdag op Loftus sou plaas tussen die onderste skare, 20m anderkant die noordelike doelpale, sal die verste planeet in ons sonnestelsel, Pluto, 4m anderkant die suidelike doodlyn wees, reg by die onderste sitplekke. En dit is maar net ons eie ou “klein” sterretjie, die son, en sy satelliete! Volgens hierdie skaalmodel sal die naaste ster aan ons, Alfa Centauri, op die strand in Jeffreys Baai wees, 1000km verder. Dan het ons nog maar skaars begin, want ons het slegs die buiterandjie van die Melkweg, die sterrestelsel waarvan ons deel is en wat uit miljoene sterre bestaan, bereik. Nog erger: die melkweg is maar een van miljoene sulke sterrestelsels, sommige van hulle baie, baie groter as die Melkweg!

Hoe klein is my ou lampie in vergelyking met die oorweldigende gloed van biljoene-der-biljoene sonne wat in die heelal hang, maar tóg is my liggie belangrik en die Here wil hê dat ek moet skyn vir Hom!

Jesus vertel nóg ‘n gelykenis, een van ‘n lamp. Die lampie waarna Hy verwys wasn klein ronde kleibakkie vol olie, met ‘n tuitjie waarin die pit gelê en brand het, baie primitief maar tóg prakties. Elke huishouding het van hierdie lampies gehad, en almal het presies geweet wat jy daarmee maak. Daarom het Jesus die alledaagse bekende goed gebruik om ‘n groot waarheid by die luisteraars tuis te bring.

In kort beteken dit dat die Woord van God soos ‘n lig moet wees wat die duisternis oorwin. Deur die lamp van die Woord hoog te sit, word die lig na elke uithoek versprei. In die praktyk beteken dit dat diegene wat verstaan wat die Koninkryk beteken, dit behoort bekend te maak aan diegene wat dit nie verstaan nie. Daar is absoluut niks geheimsinnig oor daardie Woord nie, en elkeen moet daarvan weet.

Om terug te kom by die sterre: ons naaste ster, Alfa Centauri is ‘n volle 40 miljoen miljoen kilometer van ons af, maar sy lig skyn so helder dat ons dit nie kan miskyk nie. Dit is die helderste van die twee aanwyser-sterre langs die Suiderkruis. Hierdie is nie die helderste ster in die hemelruim nie. Daar is baie ander wat selfs helderder is en baie, baie verder weg.

Die hartseer ding is dat die meeste gelowiges hulle ou lampies onder ‘n emmer sit en smoor sodat niemand kan sien dat hulle Christen-gelowiges is nie. Hulle lewens wys niks van die liefde van Jesus nie, en hulle sal g’n sprook sprak wat ooit hulle geheim sal verklap dat hulle gelowig is nie. Kyk, jy hoef nou nie heeldag te loop en uitblaker dat jy een van die “eksklusiewe” kinders van die Here is nie, maar deur jou voorbeeld moet jy ‘n olielampie vir Hom wees.

Hoe straal jy die lig van Jesus uit? Daar is baie maniere, en elkeen van ons het ander talente gekry waardeur ons hierdie lig kan laat skyn. Sommige se lampe is ‘n miljoen-kerskrag kollig terwyl ander maar fyn feëtjie-kersies is. Maar dit maak nie saak nie! Die belangrikste is dat albei die donker verdryf! Sommige se lampe kan skyn deur op ‘n kansel te staan en met selfvertroue die Woord te verkondig. Ander weer voel gemaklik om een-tot-een met iemand te gesels oor die Evangelie. Persoonlik leef ek my getuienis die gemaklikste uit wanneer ek kan sit en skryf, hetsy vir ‘n groot klomp mense of slegsn enkel persoon. Vir sommige gelowiges beteken dit om hulle lamp te laat skyn, om bloot die liefde van Jesus uit te straal in hulle algemene optrede deur vriendelikheid ofn glimlag. ‘n Vrolike gesig is baie aansteeklik, en dit kan sommer in ‘n japtrap ‘n morbiede geselskap opkikker. Die belangrike is egter om aan Jesus die eer te gee vir jou opgeruimde gesiggie.

Dade preek baie harder as woorde. Die dominee preek in die kerk vir gelowiges. Hy gee hulle opleiding om die wêreld in die oë te gaan kyk. Hy vul hulle lampies as’t ware daar met olie sodat hulle deur die week helder kan skyn daar buite. Jou taak deur die week is dan nie noodwendig om die preek te gaan herhaal vir almal wat jy teëkom nie, maar om prakties uit te leef wat jy in die erediens beleef het. Terloops, as jy ‘n olielampie aanhou vol maak sonder dat hy behoorlik brand, gaan die olie naderhand die pit versmoor, en dan is die lamp totaal nutteloos. Dus, as jy nie jou lamp gebruik nie, gaan sy vlammetjie doodgaan. Aan die ander kant kan ‘n lamp ook nie sonder olie brand nie! Dit is dus absoluut noodsaaklik dat jy gereeld hervul word. Moenie kerkbyeenkomste afskeep nie - dit is noodsaaklik vir jou geestelike oorlewing en uitlewing.

Gebed:

Here, dankie dat ek ook vir U ‘n lampie kan wees. Help my asseblief om helder vir U te skyn!

.

.

.

.

Maandag 30 Augustus

Storm op die See

Lukas 8:19-25

VIDEO OUDIO

Hoe groot is die almag van God? Om net so ‘n klein kykie te kry is skeppingsmisterie en grootheid van God, kan ons weereens ons oë ophef na die sterre. In die baie bekende Orion-sterrebeeld is daar ‘n paar sterretjies wat baie helder uitstaan. Die een wat die regterskouer van die reus uitmaak trek dadelik jou aandag. Sy naam is Betelgeuse. Hierdie is ‘n baie besonderse ster, een van die sogenaamde “Super reuse”. Hy is 60’000 keer so helder as die son en het ‘n deursnee van 5,6 AE. ‘n AE (astronomiese eenheid) is die afstand van die son na die aarde. Dus, as hierdie ster in die plek van die son sou wees, dan sou sy buiterand byna 3 keer so ver as wat die aarde van die son af is, gestrek het. Betelgeuse is dus so groot dat hierdie enkele ster die helfte van ons hele sonnestelsel met al sy planete sou kon insluk! En steeds is dit maar slegs een van baie biljoene ander groot sterre, en slegs ‘n spikkeltjie in die heelal - God se skeppingswerk! Kom ons vra dan nou weer: hoe groot is die almag van God?

As ons hierdie beeld in die agterkop hou, en jy gaan lees die verhaaltjie wat Lukas skryf oor die gebeure in die boot, dan maak alles sin en jy begin so ‘n ietsie van Jesus se mag sien. Die probleem is egter dat ons eie probleme vir ons dikwels so groot lyk dat ons skoon toeslaan en gladnie die Here se almag kan raaksien nie!

Rondom die see van Galilea is daar etlike berge en klowe. Dikwels vorm daar sterk winde wat in hierdie klowe afstroom, amper soos deur ‘n tregter, en dan veroorsaak dit baie skielike en hewige storms op die meer. Jesus en die twaalftal was juis in ‘n vissersbootjie op pad na die oorkant van die meer, toe een van hierdie onvoorspelbare storms hulle tref. Jesus het gelê en slaap. Gn wonder nie, want Hy moes sekerlik uitgeput gewees het na maar net nóg ‘n marathon-dag van preek, siekes gesond maak, duiwels uitdryf en vertrap word deur duisende mense wat almal Sy persoonlike aandag wou hê.

Die manne was doodsbenoud, want hulle klein skuitjie het soos ‘n dobbertjie in die groot oseaan gevoel, en hulle het al gesien hoe hulle die dieptes insink. Hulle skud Jesus wakker. Hy het deur al die opgewondenheid steeds rustig gelê en slaap. “Ons sink! Ons vergaan!” skree hulle benoud. ‘n Enkele woordjie van Hom laat die woeste wind en golwe bedaar sodat daar skielik ‘n doodse stilte en kalmte kom.

Jesus verwyt die manne oor hulle ongeloof. Vir die afgelope tyd sien hulle elke dag die wonderwerke wat Hy doen. Hulle sien die mees asemrowende dinge gebeur. As dit egter hulle eie basse begin raak, dan begin hulle twyfel oor presies waartoe Jesus in staat is. Hulle het duidelik nog ‘n baie lang pad gehad om te loop voordat hulle gereed was om die leiding van die kerk oor te neem.

Wie is Hy tog?” vra hulle in ongeloof. Hulle het nog nie eers begin om te verstaan wie hierdie Jesus is wat al die wondere laat gebeur nie.

Die vraag is of ek en jy mooi verstaan presies wie Jesus werklik is? Ek dink dat, nes die twaalf manne van daardie tyd, dat ons nie aldag werklik besef met wie ons te doene het nie. In die eerste plek dink ek dat ons ou verstandjies net eenvoudig te klein is om ‘n begrip van Hom te kan kry, want Sy almag, alwetenheid en alomteenwoordigheid is baie groter as wat ons kan verwerk. ‘n Man sê eendag vir my dat hy nie aan God kan glo nie, want hoe is dit ooit moontlik vir iemand om tegelyk op baie verskillende plekke te wees? Ja, hy is reg! Ons verstand kan nie sulke dinge begryp nie, want dit pas nie in ons verwysingsraamwerk in nie.

Tóg is die bewyse oorweldigend. Dink maar aan die ster waarvan ons hier bo praat, Betelgeuse. Ons kan nie ‘n begrip vorm van hoe verskriklik groot daardie ster werklik is nie. Nogtans is hy ‘n werklikheid, bewys deur die sterrekundiges. Dit lyk absoluut onmoontlik vir iemand wat dodelik siek is om eensklaps blakend gesond te wees. Medies gesproke is dit nie moontlik nie! Nogtans gebeur dit, en dan moet die dokters dikwels net hulle koppe in ongeloof skud!

Al hierdie dinge moet ons net weereens onder die besef bring van die absolute grootheid en almag van die Here. Dit is nie nodig dat ons die wonderwerke ervaar en moet sien nie - al die bewyse is alreeds daar. Maar hierdie dinge moet ons aanspoor tot aanbidding van Hom wat oor alles heers en vir Wie niks onmoontlik is nie. Besef ons ooit nog wie God werklik is? Ons bring nie eers naastenby genoeg lof aan Hom nie, en ons praat van Hom asof Hy maar net nog ‘n deeltjie is van ons geloof. Kom ons raak vandag diep onder die besef van Wie ons aanbid, en ons gee Hom die lof en eer wat Hom toekom.

Gebed:

Here, vanoggend val ek voor U neer in aanbidding, want ek is maar net ‘n stoffie voor U groot almag.

.

.

.

.

Dinsdag 31 Augustus

Die Besetene

Lukas 8:26-39

VIDEO OUDIO

Jesus en die twaalf het in Kapernaum, op die noordelike oewer van die See van Galilea in die vissersboot geklim. Hulle vaar reg suid, verby Tiberias en Hippus waar die verskriklike storm hulle getref het. Aan die suidelike punt van die meer hulle bestemming, die landstreek Gadara. Skaars sit hulle voet aan wal, of die volgende groot “storm” tref hulle - dié slag in die gestalte van ‘n besete man wat kaal op hulle afstorm.

Jesus en sy dissipels bevind hulle hier in die “buiteland,” in die land van die Geraseners. Die gebied maak deel uit van die sogenaamde Dekapolis, oftewel “Tien Stede,” ‘n nie-Joodse gebied. Die Joodse wette het dus gladnie hier gegeld nie, en die mense het selfs met varke geboer, iets wat elke goeie Jood met afsku sou vervul!

Die man wat op hulle afstorm bly lankal nie meer in ‘n huis nie omdat die samelewing hom totaal verwerp het. Tussen die grafte het hy sy lêplekkie gekry. Sy onbeheerste optrede het al daarvoor gesorg dat die inwoners hom probeer vang en met kettings probeer boei het om hom in bedwang te hou, maar hy het bloot die kettings gebreek!

In skrille kontras met hierdie wilde besetene, sien ons vir Jesus wat doodkalm teenoor hom optree en bloot vir hom vra wat sy naam is. Vir die dissipels is dit ‘n traumatiese ervaring. Boonop moet hulle hoor dat die man Jesus aanspreek as “Seun van God, die Allerhoogste”. Hulle sluk sélf nog maar swaar aan hierdie gedagte, en nou kom ‘n besete heiden en blaker dit uit! Wat hulle egter nie besef nie, is dat dit die duiwelse demone in die man was wat met Jesus praat deur die man se liggaam te gebruik. Natuurlik ken die duiwel en al sy demoniese aanhangers vir Jesus baie goed. Hulle weet presies wie Hy is! Hulle sal Hom egter nooit dien nie, want die duiwel wil sélf op die troon sit!

Terloops, kan ons ook die vraag vra, of dit moontlik sou wees dat iemand wél vir Jesus kan ken, maar dat hy nie noodwendig gered sou wees nie? Inderdaad ja! Voordat jy jou lewe aan Jesus toevertrou het en in Hom as jou persoonlike Verlosser glo, het jy nie die saligheid nie! Selfs al weet jy álles van Hom af!

Die man, oftewel die demoon wat besit van hom geneem het antwoord dat sy naam “Legio” is, dit beteken “Baie”. Die Latynse woord “legio” verwys na ‘n afdeling of legioen van tussen 3’000 en 6’000 soldate in die Romeinse leër. Die man se lewe word dus oorheers deur ‘n groot aantal demone.

Die demone wil niks met Jesus te doen hê nie. Hulle wil net alleen gelaat word en Jesus se teenwoordigheid is vir hulle ‘n groot bedreiging. Wanneer hulle egter in ‘n hoek gedryf word, smeek hulle om eerder na die varke verban te word. Die varktrop sit skielik op loop wanneer die demone in hulle invaar, en die mense van die omgewing moet vreesvervul toekyk hoedat hulle hele trop oor ‘n afgrond stort en in die see versuip.

En die besetene? Hy is onmiddellik genees, bevry van die bande van Satan! Hy vra vir Jesus of hy by hulle groep kan aansluit en Hom volg, maar Jesus weier. Hy moet terug na sy eie mense!

Dit is tóg ironies dat die mense Jesus smeek om liewer hulle land te verlaat! Hulle is meer besorg oor hulle finansiële verlies as oor die besetene wat hier voor hulle oë genees word en ‘n splinternuwe lewe kry!

Die vraag is, waarom het Jesus gehoor gegee aan die versoek van die demone, maar as die man wat genees is smeek om saam met Hom te gaan, weier Jesus sy versoek? Daar is baie vraagstukke in die Bybel waaroor ons maar net kan raai, want ons ken nie God se volle raadsplan nie. Waarom Hy nie die demone direk die verdoemenis ingestuur het nie, is nóg ‘n raaisel. Wat ons wél kan sê, is dat dit ‘n gedeeltelike oorwinning oor die duiwel was, maar dat die finale slag nog gelewer sal word, en dan sal dit ‘n baie groot slagting vir die duiwel en sy demone wees.

Wat die man betref - hy het ‘n baie groot taak op hande gehad. Hy moes die mense van sy omgewing van Jesus gaan vertel. En wát ‘n taak was dit nie! Hy moes die mense wat voorheen in vrees van hom af weggevlug het, nou gaan oortuig dat Jesus die Verlosser is. ‘n Paar jaar later, toe die vervolging van Christene in Jerusalem op die ergste was, het die gelowiges gevlug. Baie van hulle het skuiling gevind in hierdie einste streek en hulle was daar met ope arms ontvang. Waarom? Ek glo dat die mal man wat eens kaal in die begraafplaas gebly het, sulke goeie sendingwerk gedoen het, dat almal daar ryp was vir die Evangelie toe die groot stroom Christene daar aankom.

God se raadsplan is oneindig groter as ons gedagtes!

Gebed:

Here, dankie dat ons weereens vanoggend U almag kon aanskou!

.

.

.

.

Woensdag 1 September

Twee Dramas

Lukas 8:40-56

VIDEO OUDIO

By hulle terugkeer uit Gadara word Jesus en die manne alreeds weer ingewag deur n groot skare. Dan speel daar twee dramas af wat inmekaar geweef is en sorg virn spannende toneel vir die lesers van hierdie boek.

Alles begin wanneer Jaïrus aangehardloop kom en uitasem voor Jesus se voete neerval. Jaïrus was ‘n gerespekteerde kerkleier en raadslid van die sinagoge. Hy was ook een van slegs enkele geestelike leiers wat goedgesind was teenoor Jesus. Die man was hoog in die nood want sy dogter het op sterwe gelê. Met ‘n bewende stem het hy Jesus gesmeek om saam met hom te kom.

Opgewonde het die skare vir Jesus plek gemaak om agter Jaïrus aan te stap, toe die verhaal skielik onderbreek word. Jesus het stil gaan staan en omgedraai. “Wie het my aangeraak?” wou Hy weet.

Ons wil amper vir Jesus sê: “Here, daar is nie nou tyd om te wil weet wie aan U geraak het nie, die meisiekind is besig om dood te gaan!”

Petrus het sélf ongeduldig geraak met Jesus wat nie Sy loop kon kry nie. Daar was immersn reuse skare mense wat hulle die hele tyd verdruk het. Almal het gestamp en gestoot! Wat sou verkeerd wees met sy Meester?

Agter Jesus was daar ‘n vrou met ‘n geweldige groot nood. Sy het aan ‘n volgehoue menstruele vloeiing gely, iets wat in vandag se terme alreeds ‘n baie ongemaklike situasie is. Wat dit egter vir haar vererger het, was die feit dat sy volgens die Joodse gebruike permanent onrein was. Sy kon dus met niemand direk in aanraking kom nie. Vir twaalf jaar lank het sy in hierdie onhoudbare situasie geleef en sy kon dit net nie meer vat nie! Jesus was haar laaste en enigste hoop!

Volgens Joodse wette van Lev 15:19-30 het sy nie durf raak aan Jesus nie want dit sou Hom sélf vir sewe dae lank onrein gemaak het. Dus raak sy slegs aan die verste punt van Sy klere se soom.

Petrus het vir Jesus aangepor om asseblieftog voort te gaan na Jaïrus se huis, maar Jesus het bly staan! Hy wou eers weet wie dit was wat aan Sy klere geraak het.

Die spanning bou op, want die tyd was besig om uit te loop vir die sterwende dogtertjie. Maar vir Jesus was die drama wat hier afsgepeel het belangriker. Toe die vrou besef dat Jesus geweet het dat dit sy was, kom val sy bewend van angs voor Hom neer en erken haar daad. Sy vertel van haar verskriklike dilemma, maar die wonderlikste was dat sy gevoel het hoedat haar liggaam genees was die oomblik toe sy aan Jesus geraak het!

Liefdevol het Jesus haar aangespreek as “dogter.” Skielik was die twaalf jaar waarin sy deur die ganse samelewing verwerp en verstoot was, verby. Sy het besef dat sy vir die eerste keer in jare weer deel van die samelewing en selfs haar eie familie was.

Jesus weier om Sy verlossingswerk te laat beperk deur enige sosiale of politieke grense!

Maar dan keer die verhaal weer terug na Jaïrus se twaalfjarige dogter. Van die huis af het die berig gekom dat dit te laat was - sy het reeds gesterf!

Ons wil vir Jesus vra: “Here, hoe kón U? Die vrou kon mos maar ‘n bietjie gewag het?” Menslik gesproke was enige verdere optrede van Jesus sinneloos. Maar Jesus het vir Jaïrus getroos: “Moenie jou ontstel nie. Glo net, en sy sal gered word.” Skokkende woorde!

Maar sy is dan dood, Here!” wil ons vir Jesus sê, “Moenie nog die man se lyding erger maak nie!”

Vir diegene wat egter so pas gesien het hoedat die vrou se verskriklike siekte eensklaps genees was, gee Jesus se woorde nuwe hoop! Haar geloof was wonderbaarlik beloon! Sou Jaïrus se geloof ook so beloon kon word?

By Jaïrus se huis tref Jesusn troostelose prentjie aan van mense wat huil en weeklaag oor ‘n kind wat gesterf het. Hulle het van Jesus niks verder verwag nie want alle hoop was verby. Dis verstaanbaar dat hulle so gereageer het. Maar toe Jesus vir hulle gesê het dat die kind net slaap, het hulle Hom uitgelag! Hulle het immers sélf gesien dat sy dood was, en dit was finaal! Jesus se eenvoudige reaksie was om bloot die meisie se hand te vat en haar te beveel om op te staan. Haar ouers kon hulle oë nie glo toe sy onmiddellik reageer het nie. Dit beklemtoon net weereens die feit dat Jesus alle mag het, selfs oor die dood!

Inderdaad weet ons vandag dat die dood vir ‘n gelowige gladnie meer finaal is nie. Jesus het nie alleen gewys dat Hy heerser oor die dood is met hierdie kind se genesing nie, maar enkele jare later het Hy die dood finaal oorwin, toe Hy, nadat Hy die volle prys van verlossing betaal het aan die kruis, daardie Sondagoggend uit die graf opgestaan het. Ek en jy het ook deel hieraan as ons slegs glo in Hom. Jesus se woorde aan Jaïrus: “Glo net en sy sal gered word.” kry later soveel groter betekenis wanneer Paulus in Hand 16:31 sê: “Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word.” Of wanneer Jesus in Joh 3:16 vir Nikodemus sê: “Elkeen wat in Hom glo .... sal die ewige lewe hê”.

Die vraag is: glo jy?

Gebed:

Here, dankie dat U my ook gered het en dat die dood nou geen houvas meer op my het nie!

.

.

.

.

Donderdag 2 September

Uitgestuur in die Wêreld

Lukas 9:1-6

VIDEO OUDIO

In ‘n keldervertrek in ‘n gebou aan die rand van Welkom se groot sirkel kom ons bymekaar. Ek is opgewonde, maar terselfdertyd baie bang. Almal wat in die kringetjie sit is gelowiges wat erns maak met hulle geloof. Ons het die afgelope paar weke intensiewe opleiding gekry, en nou het die dag aangebreek om dit wat ons geleer het prakties te gaan toepas. Dit was in die tagtigerjare, en Welkom was maar ‘n redelike woeste myndorp met berugte myners van regoor die wêreld wat daar hulle fortuin kom soek het. Dit was veral hierdie groot sirkel wat die manne getrek het. En nou is ons taak om die Evangelie aan hierdie rowwe klomp te gaan uitdra.

Dan breek die oomblik van waarheid aan, en in groepies van drie vaar ons die strate in. As ek die trappies uit die kelder uit opstap, klink die vulgêre gelag van ‘n paar gesuipte manne op van die straat af. Ek wil omdraai, maar dan kom die wonderlike wete dat die Heilige Gees in my is en my die nodige krag sal gee vir hierdie taak wat lyk asof dit jou wil verswelg. Agter my hoor ek die gebede opgaan van die paar wat agterbly - gebede wat ons deur die onseker nag moet dra. Wanneer ons die eerste mense konfronteer met die Evangelie, is my vrees skielik weg, en ek kan met vrymoedigheid praat oor Jesus, my Verlosser.

Twintig jaar later het ek weer in vrees en bewing gesit toe ek my eerste dagstukkie moes skryf en die wêreld instuur. En weereens moes ek baie gou agterkom dat die Here wonderlik voorsien en my die nodige krag en wysheid gee, as ek maar net gewillig is om myself tot Sy diens te stel. Ek het nooit weer teruggekyk nie.

Die twaalf apostels was op daardie stadium nog maar net volgelinge aan Jesus se voete, besig met intensiewe opleiding. Elke dag het hulle vol verwondering toegekyk hoedat Jesus die mees asemrowende wonderwerke voor hulle verbaasde oë uitgevoer het. ‘n Enkele woordjie of aanraking was dikwels genoeg om iemand oombliklik van ‘n kwaal te genees. Selfs blindes kon weer sien en verlamdes loop.

Toe breek die dag aan waar hulle die eerste voorsmakie moes kry van wat dit waarlik beteken om ‘n apostel, ‘n uitgestuurde te wees. Jesus het vir hulle verduidelik dat hulle op hierdie “oefenlopie” sélf die geleentheid sou kry om siekes gesond te maak en duiwels uit te dryf. Ek kan my voorstel hoe die manne daar gebewe het van angs! “Hoe gaan ons dit óóit regkry?” Die ergste was dat die Meester nie eers naby sou wees om te gaan help as hulle sou vasbrand nie! Hulle sou die wye wêreld ingestuur word, ver van Jesus af. En daar moes hulle alleen klaarkom!

Jesus het die twaalf angstige manne volledige instruksies gegee. Hulle was nie toegelaat om énigiets saam te vat nie, nie eers ekstra klere, reissakke of selfs padkos nie. Hulle moes totaal afhanklik wees van die mense se gasvryheid. Op hierdie manier moes die manne op die harde manier leer wat dit werklik sou beteken om totaal van God afhanklik te wees vir alles in die lewe.

Jare later sou die manne eers werklik besef waarvoor Jesus hulle sulke harde bene laat kou het, want hierdie voorbereiding het hulle gebrei vir ‘n lewe wat alles behalwe maanskyn en rose sou wees! Jesus het hulle ook gewaarsku dat hulle nie oral welkom sou wees nie. Almal het nie met ope arms staan en wag vir die Evangelie nie en daar sou beslis ook mense wees wat hulle vyandiggesind sou wees ten spyte van al hulle goeie bedoelings. Wanneer dit gebeur het, moes hulle letterlik die stof van hulle voete afskud as ‘n aanklag teen daardie mense, dat hulle die Evangelie gehoor het en die goeie nuus verwerp het.

In vandag se terme kan ons sê dat jy nie moet sit en tob daaroor as jou boodskap van hoop aan iemand begroet word met ‘n afjak nie. Dit het al menigmaal met my gebeur wanneer ek vir die eerste keer ‘n dagstukkie aan iemand stuur, dat die persoon my lelike woorde toesnou omdat ek die vermetelheid het om van hom ‘n Christen te probeer maak. Ons natuurlike reaksie is om sleg en verwerp te voel oor sulke uitlatings. Onthou net dat dit eintlik niks met jou te doen het nie, want jy is maar net die Here se boodskapper, en dit is nie vir jou as persoon wat hy uitvreet nie, maar eintlik vaar hy teen God uit. Dit is met ander woorde uit en uit ‘n saak tussen hom en die Here en jy is slegs die tussenganger. Dit is dieselfde as om ‘n sekretaresse uit te vloek wanneer jy kwaad is vir haar baas, iets wat nogal dikwels gebeur!

Lukas vertel dat die twaalf manne die wye wêreld ingegaan het en dat hulle nie alleen die Evangelie verkondig het nie maar sélf ook siekes gesond gemaak het. Ek dink niemand was meer verbaas oor hulle nuwe vermoëns as hulleself nie. Al wat die Here van my en jou vra is ons gewilligheid om in Sy diens te staan, Hy sal al die nodige toerusting vir die taak voorsien. Hiervan kan ek uit my eie lewe getuig, want Hy voorsien wonderlik elke dag in die taak wat ek vir Hom verrig.

Gebed:

Here, ek kan nooit genoeg vir U dankie sê vir alles waarin U vir my voorsien nie. Dankie dat U so getrou is.

.

.

.

.

Vrydag 3 September

Wie is Hierdie Jesus?

Lukas 9:7-17

VIDEO OUDIO

Herodus Antipas, een van die vier seuns van Herodus die Grote, was ‘n man vir wie almal bang was. Joodse profete het inmekaar gekrimp by die blote aanhoor van sy naam, want vir hulle was hy ‘n verskrikking. Johannes die Doper was een van hierdie wrede man se slagoffers. Sy bebloede kop is in ‘n skottel by een van Herodus se wilde partytjies aan die gaste vertoon, nadat Herodus hom laat onthoof het om sy vrou, Herodias se grille te bevredig.

Maar Herodus het ook ‘n ander sy gehad wat hy nie graag aan die wêreld wou vertoon nie wantn baie onseker mens het agter hierdie wrede masker geskuil. Toe hy te hore kom van die wonderdade wat Jesus gedoen het, skrik hy hom spierwit. “Het Johannes uit die dood opgestaan?” Hy was vas oortuig daarvan dat Jesus Johannes se spook was! Herodus het sy bes probeer om Jesus te siene te kry, maar dit was hom nie beskore nie. Uiteindelik het hy wél vir Jesus gesien, maar dit was in tragiese omstandighede, pas voor Jesus tereggestel sou word. Daar het Herodus die ideale geleentheid gehad om met Jesus te kon praat. Hy het selfs die kans gekry om Jesus se lot te bepaal, en Hom ‘n billike kans te gee. Maar hy het alles deur sy vingers laat glip!

Wie is hierdie Man tóg?” wou Herodus weet.

Op meesterlike wyse beantwoord Lukas juis hierdie vraag in die volgende vier episodes met vier beskrywende titels vir Jesus. In Luk 9:10-17 beskryf hy Jesus as die Voorsiener. In vers 18-22 is Hy die Gesalfde van God. In vers 23-27 is Hy die Lydende Seun van die mens en in vers 28-36 die Seun van God.

Jesus het Sy bediening in Galilea afgesluit en ons tref Hom aan op pad na die dorp Betsaida, op die noord-oostelike oewer van die meer van Galilea. Hierdie was die magsgebied van Herodus Antipas se broer Filippus. Die twaalf was sekerlik doodmoeg maar baie opgewonde na hulle eerste ervaring as evangeliste en hulle het mekaar skaars kans gegee om alle