1 Samuel 7:13-17
Die volksvergadering by Mispa was vir Samuel die waterskeiding in sy lewe. Vir die eerste keer kon hierdie briljante jong man die volk toespreek, en hulle het na hom geluister. Hy het hulle daardie dag beweeg om na die Here terug te keer. Terselfdertyd het hy hierdie onderdrukte volkie daar gewys dat hulle selfs oor die magtige Filistyne kan seëvier as hulle net die Here toelaat om die geveg vir hulle te veg!
Samuel het in die harte van die volk ingekruip. Nie alleen was hy hulle priester by uitstek nie, maar terselfdertyd het hy ook bewys dat hy ‘n betroubare profeet is wat die Woord van God aan die volk kan oordra. Hulle het baie gou besef dat as hy hulle meegedeel het dat hy ‘n boodskap van God ontvang het, dan gebeur dit presies soos hy gesê het. Dit het al begin toe hy nog maar ‘n klein seuntjie was, toe hy die Here se boodskap aan Eli moes oordra. Hier by Mispa was dit weereens helder en duidelik bevestig. Ons het alreeds in 1 Sam. 3:19 gesien: “Die Here was met hom en het nie een van sy woorde onvervuld gelaat nie. Die hele Israel, van Dan tot Berseba, het geweet dat Samuel betroubaar was as 'n profeet van die Here!”
Hier het dit egter nie geëndig nie en baie gou het die volk agtergekom dat hulle Samuel met alles kon vertrou. Hy moes nie alleen op geestelike gebied raadgee nie, maar ook op die politieke terrein. Hulle het nie mooi geweet hoe om die land te regeer nie en omdat Samuel so ‘n wyse man was, moes hy help. Natuurlik sou Samuel hierdie geleentheid met albei hande aangryp, want as hy mense kon help om die land suksesvol te regeer, sou dit terselfdertyd vir hom deure kon oopmaak om hulle op geestelike terrein te kon bereik. Die uiteinde van die saak was dat Samuel leiding moes neem in die totale regering van die land. Hy word dus eintlik ‘n Rigter.
En dan was daar die Filistyne! Hierdie nasie het die lewe nie slegs vir die Israeliete versuur nie, maar ook vir al die ander volke wat tussen hulle gewoon het, soos byvoorbeeld die Amoriete.
Die Filistyne kom oorspronklik van die eiland Kreta af en het ongeveer in dieselfde tyd as die Israeliete die landstreek beset. Hulle wapentuig en militêre strategie was baie verder gevorderd as dié van Israel en die ander inwoners van Palestina. Hulle het dus al die inwoners van die land Palestina rof geboelie!
Hierdie eerste oorwinning wat die Here vir Samuel gegee het was slegs die begin, en dit het die magtige Filistyne baie seergemaak. Onder Samuel se bekwame leiding kon die Israeliete egter nou slaag om al hulle beleërde stede van die Filistyne te bevry. En natuurlik het die inheemse volke soos die Amoriete ook hierby baatgevind. Daar ontstaan dus nou ‘n goeie vriendskap tussen die Amoriete en Israel.
Terloops, die naam: Palestina is juis afgelei van die naam van die Filistyne.
Net wanneer ons dink dat Samuel nou die hoogste sport in die lewe bereik het, sien ons dat hy ook regsake moes behartig. Hy moes as regter optree by al hoe meer regsgedinge. Dikwels het dit hom gekos om van stad na stad te gaan om regsake te hanteer by al die hoofsentra soos Bet-El, Gilgal en Mispa.
Samuel het hom uiteindelik gaan vestig in Rama, waar sy ouerhuis was. Hiervandaan het hy sy werk behartig as priester, profeet, regter en rigter.
Samuel was sy hele lewe lank ‘n leier in Israel. Daar het egter ‘n tyd gekom toe die volk vir ‘n koning gevra het. Hulle het gesien dat al die ander volke konings het, net nie Israel nie. Samuel het verwerp gevoel oor hulle versoek, nogtans het hy toegegee en vir Saul as koning gaan salf. Maar selfs nadat Saul die koningskap opgeneem het, was Samuel steeds die een wat leiding gegee het in Israel.
Samuel was iemand wat baie naby aan die Here geleef het. Van sy kleintyd af was hy ‘n waardige instrument in die hand van die Here, bloot omdat daar so ‘n intieme verhouding was tussen hom en die Here. Hy was bereid om te luister wat die Here vir hom sê, maar hy het ook gedoen wat die Here van hom gevra het, selfs al was dit dikwels bitter moeilik, soos toe hy uiters ongemaklike nuus aan Eli moes gaan oordra.
Die vraag wat ek myself vandag moet afvra, is of ek ‘n waardige instrument in God se hand is? Hy vra nie van ons die onmoontlike nie. Hy vra bloot dat ons moet luister na Sy stem, en dan doen wat Hy van ons vra.
Hoe hoor ons God se stem?
Hy praat op verskillende maniere met ons. Vir ‘n begin praat Hy met ons deur Sy Woord, die Bybel. Vir die ongelowige is hierdie ‘n geskiedenisboek vol stories en gedigte. Vir die gelowige wat sy hart vir die Heilige Gees oopmaak wanneer hy die Bybel lees, raak hierdie wonderlike boek egter lewendig en die Gees gebruik dit om met jou te praat.
Die Here praat ook op baie ander maniere met die gelowige. Dit kan wees deur die wonder van die natuur, God se skepping. Dit kan dalk wees deur ‘n ander geestelike boek of deur ‘n preek tydens ‘n erediens. Dit kan wees deur musiek of selfs deur ‘n gesprek met iemand of wanneer gelowiges bymekaarkom. Luister wanneer Hy praat en doen wat Hy vra!
Gebed:
Here, maak asseblief my geloofsore oop vir U stem. Gee my die wysheid om dit te kan herken en die gewilligheid om te doen wat U van my vra!