Die dagstukkies is 'n inisiatief van Ballito Gesinskerk se Jesus In Aksie span en word geskryf deur Louis Nel.
 
Gratis E-boeke     -    BROODKRUMMELS  -  Ballito Gesinskerk
  

Diensbaarheid

14 October, 2026

Matteus 20:17-28

Daardie was 'n dag wat Johannes liewer hééltemal wil vergeet! Sy ma het dit seker maar goed bedoel, maar......

Die oggend sien Johannes dat sy dierbare Mammie ook tussen die mense is. Sy wink vir hom om na haar toe te kom, en hy moet sommer sy ouboet, Jakobus saambring. Sy verduidelik dat sy baie graag met Jesus 'n woordjie wil hê, maar hulle tweetjies moet saam met haar kom. Sebedeus se vrou kom kniel baie eerbiedig voor Jesus, sy het ‘n ernstige versoek vir Hom: Haar twee seuntjies moet asseblieftog die ereposisie by Jesus se troon kry wanneer Hy gaan regeer. Dit klink nie na ‘n vreeslike onbillike versoek nie, want uiteraard is hulle mos deel van ‘n ou klein groepie wat Jesus se intieme vriende was vir die afgelope paar jaar al. Sy het egter nie die vaagste benul waaroor alles werklik gaan nie.

In plaas daarvan dat hulle sê: “Ag Ma, los tog maar, want ons weet mos dat dit oor baie meer gaan as net ‘n ereplekkie langs die troon,” speel hulle egter saam. Ná al die dinge wat Jesus hulle geleer het, besef hulle steeds gladnie WIE en WAT Jesus is nie.

Natúúrlik is Jesus nie gelukkig nie: “Julle besef nie wat julle vra nie. Kan julle die lydensbeker drink wat Ek moet drink?”

En hulle antwoord? “Ja ons kan.”

Die ander manne is bitter ontsteld oor hierdie absurde versoek. Hoe kan die twee so arrogant wees?! Jakobus en Johannes het sowaar die vermetelheid gehad om hulle voor te spring! Hulle wou dan eintlik sélf mik vir daardie ereposisie!

Jesus moet mooi praat met die manne. Hulle moet bereid wees om die minste te wees, nie gedien te word nie maar eerder om te dien.

Ek dink dat Jesus seker baie moedeloos met hierdie klomp moes gewees het. Vir drie jaar lank gee Hy hulle intensiewe opleiding, en verduidelik vir hulle presies waaroor alles gaan. Hy verduidelik vir hulle van diens en demonstreer selfs wat dit is om 'n Dienskneg te wees! Daar kom wél pragtige oomblikke wanneer dit lyk of hulle besef wie Jesus is. Oomblikke wanneer hulle bely dat Hy die Seun van God is.

En dan, DIT.......

Miskien het hierdie pelgrimsreis van hulle na Jerusalem, gedagtes by hulle losgemaak, dat Jesus dalk 'n staatsgreep sou uitvoer en Israel van die Romeine verlos. Maar het Jesus nie al by verskeie geleenthede vir hulle uitgespel wat in Jerusalem sou gebeur nie? Het hulle ooit gehoor toe Hy vir hulle vertel het van die lyding en die dood wat daar op Hom gewag het? As Jesus dan vir hulle vra of hulle bereid sal wees om die lydensbeker saam met Hom te drink, antwoord hulle onomwonde "JA!" Hulle praat sonder om te dink, sonder om te besef wat hulle sê.

As Jesus die twaalf eenkant roep, begin Hy vir hulle ‘n prent skilder, ‘n prent waarin Hy verduidelik wat die verskil is tussen ‘n wêreldse Koninkryk en ‘n Goddelike Koninkryk. In vandag se terme sou Jesus waarskynlik sê dat die regeerders hulle magte totaal misbruik. In plaas van om die land te dien, wil hulle gedien word, in mooi motors ry, in paleise woon en onbeperkte mag hê.

In God se Koninkryk werk dit baie anders: daar word jy nie gedien nie, maar jou hoogste taak is eintlik om diensbaar te wees. Jesus het hierin telkemale die voorbeeld gestel, waar Hy die minste was om sy leerlinge se vuil voete te was, iets wat slegs ‘n slaaf sou doen. Hy het weggeskram van alle eerbetoon, en telkemale as Hy iemand gesond gemaak het, het Hy die persoon beveel om stil te bly daaroor. Jesus se dag van glorie, die dag toe Hy die vyand finaal verslaan het, was nie ‘n reuse jubelfees nie, maar uit ‘n wêreldse oogpunt ‘n uiters tragiese dag. Daardie dag het Hy, die Koning, die Oorwinnaar immers aan ‘n vloekhout gehang en is Hy bespot en geslaan. Jesus verwag nie van enigeen van ons om óóit so ver te gaan nie. Sy boodskap is egter dat die hoogste eer wat jou kan tref is dat jy die geleentheid kan kry om te dien. En dan, dat jy daardie geleentheid met albei hande sal aangryp.

Ek het dit al dikwels beleef dat mense wat die hoogste posisies beklee in die kerk, juis die mense is wat bereid is om die skottelgoed te was en die laagste werkies te doen.

As gelowiges moet ons strewe wees om diensbaar te wees, nie alleen teenoor God nie, maar ook teenoor elkeen wat ons paadjie kruis. Saam met diensbaarheid kom natuurlik ook nederigheid en die bereidheid om die minste te wees. Dit is baie beslis nie maklik nie! Dit verg baie moed om van daardie troontjie af te klim! En nog meer so, as jy moet toesien dat die persoon wat jou plek inneem beslis nie waardig is om daar te sit nie. My gebed vanoggend vir jou is dan ook dat hierdie ‘n kenmerk van jou lewe sal wees!

Gebed:

Here, help my om diensbaar te wees in U Koninkryk maar ook nederig. Stuur vandag asseblief geleenthede oor my pad waar ek kan dien, en maak my gewillig om die minste te wees!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Diensbaarheid
14 October, 2026
Jesus Word Verheerlik
13 October, 2026
Om Op Water Te Loop
12 October, 2026
Kos vir ‘n Reuse Skare
9 October, 2026
Vervolging
8 October, 2026