Verraad in die Nag

20 March, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Verraad in die Nag

Markus 14:41-51

Johannes word weereens wreed uit sy slaap geruk wanneer Jesus die derde keer na die drie manne toe kom: “Slaap en rus julle nog?” Johannes voel asof hy inmekaar kan krimp van skaamte. “Die tyd het gekom,” kondig Jesus aan, en skielik voel dit vir Johannes asof sy hart wil gaan staan. Daar is iets in Jesus se stem wat vir hom sê dat al die dinge waarvan die Meester gepraat het, nou gaan gebeur. “Die Seun van die Mens word in die hande van die sondaars oorgegee.”

Staan op, kom ons loop,” sê Jesus. “Kyk, die man wat My verraai is hier naby.”

Fakkelligte kom tussen die bome aangesweef. Sagte voetstappe, asof hulle iemand bekruip.

As die optog tussen die olyfbome deur voor hulle verskyn, herken Johannes die man wat heel voor stap onmiddellik. “Jou lae uitvaagsel!” wil hy skree. “Jou addergebroedsel!” Maar hy kry nie ’n geluid uit nie. Magteloos kyk hy toe hoe Judas reguit na Jesus loop. Johannes voel dat hy wil ontplof. Skielik is die stilte ook weg en almal praat gelyk. Bevele word uitgeskree, en daar heers chaos. Van al die lawaai het die ander manne nou ook wakker geskrik, en hulle kom aangehardloop om te sien wat gebeur.

Jesus staan net daar, soos ’n Lam wat gedweë wag om geslag te word. Judas groet Jesus half stotterend: “Rabbi....” Hy het niks meer as dit om vir sy vriend en Leermeester van die afgelope drie jaar te sê nie. Jesus kyk hom vol in die oë, ’n kyk wat vir Judas sê dat Hy so innig jammer voel vir hom. Hy het die ewige lewe verruil vir ’n paar muntstukke. Judas se hande bewe onbedaarlik. Hy tree vorentoe en soen Jesus, dan draai hy om. Niemand merk die trane in sy oë as hy oorhaastig verdwyn tussen die mense deur nie.

Die spul wat saam met Judas gekom het beur vorentoe om Jesus te gryp, ’n mengelmoes van manne, gewapen tot die tande. Die paar tempelwagte is die enigstes wat ’n bietjie georganiseerd lyk. Hulle tree nader met ontblote swaarde. Die res swaai stokke en kieries wild rond om hulle misnoë en hulle aggressie te vertoon.

Petrus het nou net mooi genoeg gehad. Hy pluk sy swaard uit en storm wild af op die klomp. Vandag is die dag wat hy sy Meester gaan red uit die hande van hierdie klomp skurke. Hy sal veg tot die bitter einde! Hy swaai sy swaard wild na die eerste man wat hy teëkom en tref die man skrams teen die kop, sodat jy net bloed sien spat. Nou is Petrus goed opgewerk, en hy is gereed om die ganse leër aan te vat.

Simon! Stop!” Petrus begin stadig kalmeer. Eenkant staan die hoëpriester se slaaf kermend. Hy hou sy oor vas, oftewel daar waar netnou nog ’n oor was voordat Petrus hom bygekom het. Jesus wink hom nader. Sy oor is ’n gemors en die bloed stroom teen sy nek af. Jesus sit Sy hand op die wond en oombliklik stop die bloed. As Jesus Sy hand terugtrek, is die slaaf se oor genees, asof Petrus se swaard nooit naby hom was nie. Die kêrel kan sy oë nie glo nie!

Dreigend staan die manne nou nader om Jesus gevange te neem. Dan praat Hy, Sy stem spreek van kalmte en aanvaarding: “Het julle gekom met swaarde en stokke om My te vang asof Ek ’n rower is?” In die flikkerende fakkellig herken Hy etlike gesigte wat gereeld na Hom kom luister het in die tempel. “Dag vir dag was Ek by julle besig om die mense te leer in die tempel maar julle het My nie gevange geneem nie.” Dan glimlag Jesus, want Hy weet presies waarom hulle Hom nie gevange kon neem nie – die tyd was nog nie reg nie! Dit was nie hoe God beplan het dat Hy gevang moes word nie. God het bepaal dat dit in die nag moes wees, en dat een van Sy dissipels, Sy eie vriende Hom moes verraai. “Die Skrif moes in vervulling gaan.” Verduidelik Jesus.

Woedend storm die spul nou op Jesus af. Hulle ego is geknak! “Kom ons gryp Sy aanhangers ook!” Verskrik spat die elf manne uitmekaar en laat spaander die nag in.

Hardhandig word Jesus teen die steil paadjie van die Olyfberg af, deur die Kidronvallei tot in Jerusalem begelei. Versigtig volg Johannes die stoet op ‘n veilige afstand, geklee slegs in die doek om die lyf waarmee hy gaan slaap het. Dan merk een van die tempelwagte hom op. “Gryp daai man!” Johannes skrik hom yskoud en vlieg om. ‘n Tempelwag kry hom aan die klere beet. In ’n laaste desperate poging ruk hy homself los. Maar hy betaal duur, want in die proses word sy enigste kledingstuk van sy lyf afgeruk. Al laggende kyk die manne hom agterna as hy vreesbevange en poedelnaak die straat afhardloop en dan tussen die huise verdwyn.

Die optog kom naby die hoëpriester se huis. Vir Jesus is dit nou eers die begin van Sy smarte.

Gebed:

Here, saam met Petrus wil ons ook kwaad word, en saam met Johannes wil ons weghardloop! Maar dan besef ons dat sonder U lyding, ons nie die verlossing sou kon smaak nie. Dankie dat U die volle prys vir ons betaal het.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Vergifnis
19 April, 2024
Entoesiasme
18 April, 2024
Wedloop van die Lewe
17 April, 2024
Die Here se Bevel
16 April, 2024
Die Woord
15 April, 2024