Orde in die Erediens

22 August, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Orde in die Erediens

1 Korintiërs 14:26-40

In 1956 gaan hou Nelle vakansie in Amanzimtoti. Een van die móét-sien plekke is natuurlik die Oosterse mark in Durban. Ek was so agt jaar oud, en hierdie uitstappie was natuurlik vir my gróót opwinding. Die baie geure was oorweldigend! Kerrie wat bitter gevaarlik gelyk het, is in netjiese hopies uitgestal. Liggeel, helder geel, bruin en helder rooi. En dan het die goed die allerverskriklikste name gehad wat ek nie durf nasê nie, anders is my mondjie met seep skoongeskrop! Daar was ook ‘n duiselingwekkende magdom ander handelsware, materiale van skokkend-helder kleure, skoene, handsakke - omtrent enige ding onder die son is op daardie mark uitgestal, selfs vis!

Aan die een kant het ek my verwonder oor al die vreemde dinge, maar as plaasseun was ek tegelyk totaal verbouereerd. Die eng gangetjies en al die verkoopsmanne wat almal gelyk praat en hulle ware aan ons wil opdring. As jy eers so ‘n effe belangstelling toon in ‘n produk, dan probeer hierdie man jou inpraat met ‘n gladde tong en hope oorredingsvermoë, sodat jy later voel dat jy die hasepad wil kies. Dalk was dit juis die totale wanorde van die mark wat soveel mense daarheen gelok het.

As ons terugdink aan gister se dagstukkie, dan kon jy dalk die wanorde wat geheers het in die gemeente in Korinte vergelyk met daardie ou Oosterse mark van die vyftiger-jare. Soos wat die verskillende handelsware op die mark luidrugtig tentoongestel is, was die gawes van gemeentelede in die erediens tentoongestel. Dit laat jou sidder! In die tweede deel van 1 Korintiërs 14, pleit Paulus dan juis vir orde in die erediens.

Paulus begin in vers 27 met glossalalie, die spreek van tale. Hy verduidelik dat slegs twee of drie hierdie gawe mag gebruik, en nie gelyk nie maar elkeen op sy beurt. Daar is egter ook ‘n voorwaarde, dat daar iemand moet wees wat dit kan uitlê, anders moet hulle stilbly en dit by die huis gaan doen, waar jy persoonlik met God kan praat.

Die tweede sakie wat Paulus aanroer, is die een van die profete. Weereens mag slegs twee of drie hieraan deelneem, een-vir-een, en dan moet dít wat hulle sê beoordeel word deur die ander om te verseker dat die dinge wat hulle sê waarlik van God af kom, en nie maar uit die duim gesuig is nie.

Dit klink dalk vir ons baie snaaks, maar ons moet onthou dat die gelowiges in daardie jare nie die wonderlike riglyne gehad het wat ons vandag het nie. Al waarop hulle kon gaan, was Paulus se woord en Ou Testamentiese geskrifte. Die Bybel, soos ons dit vandag ken, het toe nog gladnie bestaan nie. Dit is eers baie jare later saamgestel. Profete het onder die leiding van die Heilige Gees sekere uitsprake gemaak, maar dan moes daar séker gemaak word dat dit werklik die werk van die Heilige Gees is.

Hoe bevoorreg is ons nie vandag om die Bybel te hê, en saam daarmee ‘n magdom kommentare, agtergrondstudies en uitlegte. Boonop het ons leraars wat vir jare lank studeer om ons leiding te kan gee.

Paulus wil dit baie duidelik stel dat daar orde moet wees in die erediens. Elkeen kan nie maar maak soos hy wil, nét wanneer hy wil nie, maar alles moet ordelik en stigtelik geskied.

En dan kom Paulus by ‘n baie teer sakie, een wat al vir baie debatte en hartseer gesorg het, die plek van die vrou in die erediens. “Hulle word nie toegelaat om te praat nie,” sê Paulus. Dan blyk dit dat hy dit eintlik teen die vrae het wat die vrouens vra, en dat hulle dit liewer tuis vir hulle mans moet vra. Wat sou hy hiermee bedoel?

Daar is twee moontlikhede. Die eerste is bloot dat dit in daardie tyd in die spesifieke gemeenskap onbetaamlik vir ‘n vrou was om in die openbaar haar mening te lug. Hierdie was die manne se voorreg! Onthou, vrouens het geen status gehad nie. Hy wou nie hê dat die Christenvroue die sosiale orde omkeer nie. Onthou jy nog die dagstukkie oor die hoed? Vandag is dit (dankie tog!) baie anders.

Volgens die Bybellennium was die gebruik van heidenvroue om na die tempel van Apollo te gaan en al hulle vrae oor dinge soos geboorte, huwelik, hertrou ná ‘n egskeiding en beroepe vir hulle kinders na die priesters te bring. Dit was moontlik dat die Christenvroue nou met dieselfde soort vrae na die profete gekom het in die erediens. Dit is dinge wat nie in die erediens hoort nie, maar eerder in privaat gesprekke.

Paulus sluit af deur te sê dat glossalalie nie verbied moet word nie, maar dat alles ordelik moet geskied.

Nou wonder ek net, sou ‘n erediens soos die een in Korinte vandag vir ons werk? Natuurlik met die nodige orde soos wat Paulus bepleit! Dalk sou dit ‘n baie interessante eksperiment wees, dat gemeentelede vir ‘n slag al die werk sélf doen, en hulle nie gevoer word deur die leraar nie. Watter leraar gaan so braaf wees om dit te probeer?

Gebed:

Here, soos wat daar orde in die Erediens moet wees, so wil ek ook vra dat U orde in my persoonlike geestelike lewe bring.