Op die Rooi Tapyt

28 September, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie Op die Rooi Tapyt

Handelinge 4:1-22

Petrus het die verlamde man gesond gemaak - ‘n asemrowende wonderwerk! Al huppelende en singende is hy agter Petrus en Johannes aan, tot groot ontsteltenis van die Joodse Raad, wat nie geweet het wat om hiervan te maak nie. Wat daar gebeur het is tog totaal onmoontlik! ‘n Man wat veertig jaar lank verlam was, en nou skielik spring hy rond soos ‘n Karoosprinkaan op trek! Dit sal nie deug nie! Die ergste is egter die toespraak wat Petrus daarna gemaak het: “Hierdie manne is gevaarlik!” brom die kerkmanne onder mekaar. “Ons het so pas van hulle Jesus ontslae geraak, en nou dreig ‘n gevaarlike vuur om uit te breek. As ons nie nóú hierdie ding in die kiem smoor nie, het ons moeilikheid met ‘n hoofletter M!”

Vir 'n klompie Sadduseërs was die saak nog véél erger. Hulle glo nie dat daar lewe is na die dood nie, dus verkondig hierdie visserman boonop mos 'n gruwelike dwaalleer as hy wil beweer dat Jesus uit die dood opgestaan het!

n Groot skare mense het intussen in die Tempelgang saamgedrom om te sien wat gebeur het. Petrus en Johannes is nog besig om vir hulle te verduidelik waaroor dit alles gaan, toe storm die beswaarde Sadduseërs en ander kerkleiers op hulle af met woede op hulle gesigte. Die twee apostels word nét daar in hegtenis geneem.

Na ‘n nag in die tronk verskyn hulle voor die Joodse Raad. Almal is daar: die Skrifgeleerdes, Familiehoofde, Sadduseërs en natuurlik die Hoëpriester. Al 71 sitplekke in die Raadsaal is gevul. Hierdie is immers ‘n baie ernstige saak, ‘n saak van lewe en dood! Almal is bekend met die feit dat die klein handjievol van hierdie “sekte” op een dag aangegroei het tot drieduisend entoesiastiese dissipels, en in die paar dae sedertdien het dit nou al weer verder gegroei tot vyfduisend mense. Daar moet dringend iets aan die saak gedoen word, anders kan dit die Joodse geloof baie skade berokken, dalk tot in sy fondamente skud!

Een en sewentig stroewe gesigte gluur vir Petrus en Johannes aan: hierdie simpele vissermanne het nie ‘n kat se kans om hulleself teen die geleerde manne te verdedig nie. “Kom vertel ons ‘n bietjie: watter soort van krag het julle gebruik om hierdie man gesond te maak? In wie se naam het julle dit gedoen?” Die vraag is veronderstel om die twee totaal van stryk te bring.

Maar die Joodse Raad het nie rekening gehou met die Heilige Gees nie, want wanneer Petrus die vloer vat, is hy beslis nie alleen nie. Petrus gryp die geleentheid met albei hande aan en bring die Evangelie aan die Raad, helder en duidelik, sodat elkeen van die geleerde manne dit kan verstaan. Hy vertel van Jesus wat gekruisig is en weer deur God uit die dood opgewek is. Dit is Hy alleen wat verlossing bring!

n Doodse, bitter ongemaklike stilte sak oor die raad toe nadat Petrus gepraat het. In die agterbanke van die raadsaal, tussen die ander Apostels, staan ‘n man met ‘n glimlag wat dreig om reg rondom te gaan. Dit is net sy ore wat in die pad is. Hierdie glimlag maak die Raad nog meer seer, want hier is die bewys van die krag van die twee vissermanne.

Ons, die hoogste gesag in Israel, verbied julle om nog een enkele woord te sê van hierdie Jesus, anders is julle in gróót moeilikheid! Is dit duidelik?”

Petrus-hulle word eers uitgestuur sodat die bekommerde Raadslede kon koukus oor hulle lot. Hierdie saak is baie meer kommerwekkend as wat hulle gedink het! Hulle weet nie herwaarts of derwaarts hoe om die saak te hanteer nie. Hulle enigste oplossing: “Ons moet hulle dreig!” Petrus en Johannes se antwoord op die dreigemente is egter dat die Raad maar self moet besluit wat die belangrikste is: om aan húlle gehoorsaam te wees of aan God.

Jare gelede is ‘n kêrel voor ons kerkraad gedaag oor ‘n klagte wat ons van ‘n ander gemeente ontvang het: hy het evangelisasiewerk binne hulle gemeentegrense gedoen. Hy het aan ons verduidelik: “Dit is vir my onmoontlik om stil te bly! Die wonderlike geleentheid was daar om die Woord van God te verkondig. Hoe kon ek dit óóit laat verbygaan?”

Die kerkraad het half tong in die kies geantwoord: “Probeer tog maar om nie weer in daardie gemeente se gebied te preek nie.”

Kom ek en jy maak vandag één voorneme, om soos Petrus en Johannes onwrikbaar op te staan vir ons geloof. Ons het immers die Heilige Gees wat vir ons die krag gee om dit te kan doen, net soos Petrus-hulle van ouds. Kom ons gryp elke moontlike én onmoontlike geleentheid aan om te getuig van Jesus met woord en ook ons hele lewe. Kom ons leef so ‘n stralende, jubelende blydskapslewe dat elkeen met wie ons in aanraking kom sal wonder wat ons getref het. As hulle vra, dan is dit mos ‘n ope uitnodiging om te kan getuig, en dan durf jy nie stilbly nie! My innige gebed is dat jy, liewe leser, en ook ek die wonderlike krag wat die Heilige Gees tot ons beskikking stel ten volle sal gebruik.

Gebed:

Here, maak my gewillig om U getuie te wees, maak nie saak wat die omstandighede is nie.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Hosanna, Hosanna!
25 April, 2024
Nasaret Verwerp Jesus
24 April, 2024
Jesus se Doop
23 April, 2024
Géén Plek vir Jesus
22 April, 2024
Vergifnis
19 April, 2024