God se Koninkryk

18 February, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie God se Koninkryk

Matteus 6:9-15

Johannes verstaan maar ál te goed van die Naam van God wat geheilig moet word. Dit is dan van babatyd in hom ingegraveer dat jy nie God se Naam ydellik mag gebruik nie. Jy spreek nie eers Sy Naam uit nie, want nét dalk, miskien, per ongeluk sê jy dit “ydellik!”

Maar hy verstaan nie mooi van God se Koninkryk wat moet kom nie. Hoe werk dit? God regeer mos alreeds, waarom moet Sy koninkryk dan kom?

Eers baie jare later het hy die volle omvang van hierdie bede verstaan. Die antwoord is eintlik héél eenvoudig. Die aarde is n betwisde provinsie in God se Koninkryk. Die duiwel maak daarop aanspraak dat dit sy gebied is. Kyk maar net hoe het hy die Koninkryke van die wêreld vir Jesus aangebied tydens Jesus se woestynversoeking! Dit wil so ál lyk asof dit sy eie was wat hy wou verruil vir aanbidding. Hy doen hom voor as die vors van hierdie wêreld. Alhoewel God se Koninkryk met Jesus ‘n aanwesige werklikheid geword het, het dit in hierdie bedeling nog net ‘n voorlopige karakter. Dit sal eers in die toekoms tot volle verwesenliking kom. Wanneer die groot Dag van die Here aanbreek en die teken van Christus aan die hemel sal verskyn, word dit ‘n finale werklikheid. Dan sal Hy “alle bose magte vernietig” (1 Kor. 15:24) en die Koningskap aan God die Vader oordra. “So sal God alles wees vir alles” (1 Kor. 15:28).

Intussen is dit nodig dat ons, die Vader se kinders, steeds volhardend sal bid: “Laat U Koninkryk kom.” Maar dit gaan oor veel dieper as wat dit op die oog af lyk. Dit beteken dat alle gelowiges dienaars moet wees in die Koninkryk van God. Elke burger van die Koninkryk is in werklikheid ‘n krygsman. Jy word vanselfsprekend ‘n soldaat in die stryd teen die magte van die duisternis. Hy wil juis ons gewone mense gebruik om die stryd te stry, maar ook om te werk in Sy Koninkryk en die grense van daardie Koninkryk uit te brei as ambassadeurs van Sy Koninkryk.

Ons kan beslis nie die “Ons Vader” bid en niks doen vir die verkondiging van die komende Koninkryk aan alle nasies nie. Ons moet elke moontlike geleentheid gebruik om vir mense te sê: “Die Koninkryk van God is baie naby” (Luk. 10: 9). As ek bid dat die Koninkryk kom, moet ek bereid wees om burgerskap te aanvaar van hierdie Koninkryk. En saam met burgerskap kom pligte. Maar daar is ook die versekering dat Christus eendag gaan kom om die Koninkryk finaal in besit te kom neem.

As gelowiges verwag ons nie net die koms van die Koninkryk van God nie. Ons bid ook daarvoor, verlang daarna, beywer ons vir daardie nuwe hemel en nuwe aarde wat God belowe het.

God wil hê dat ons moet bid en vra. In Jes. 43: 13 het Hy gesê: “Wat Ek doen kan niemand ongedaan maak nie.” Nou beveel Hy ons om voorbidding te doen dat sy Wil moet geskied! Hoe rym dit dan?

Dit beteken natuurlik nié dat God nie sonder ons gebed kan doen wat Hom behaag nie. Die gebed is op stuk van sake nie om die Here se ontwil nie, maar om óns ontwil aan ons gegee. As Hy ons deur die gebed laat deel hê aan die volvoering van sy wil, doen Hy dit om ons te leer dat sy wil vir ons die beste is. Kyk nou maar byvoorbeeld hoe ‘n wyse pa te werk gaan. Hy doen sy beplanning deeglik en hy dink aan elke detail. Daarna kom bespreek hy die planne met sy kinders. Hy betrek hulle as’t ware in sy beplanning. Hy het reeds sy huiswerk behoorlik gedoen, so hulle insette sal nie die resultate verander nie. Maar deur hulle te betrek raak hulle opgewonde en entoesiasties. En net so maak ons Hemelse Vader. Hy wil ons betrek by Sy Koninkryksbeplanning.

Wanneer ons dus bid dat God se wil geskied, skakel dit die gevaar uit dat ons in stryd met God se wil sal bid. As ons hierdie bede bid, onderwerp ons ons nie maar gelate aan die wil van God nie, maar ons maak die wil van ons Vader ook positief ons eie wil en begeerte.

In hierdie gebed leer Jesus ons om te vra dat die Here se wil op die aarde sal geskied net soos in die hemel. In die hemel geskied God se wil alreeds volledig, want die hemelwesens gehoorsaam Hom ten volle. Daar waar God se woonplek is, word sy heerskappy nie bestry nie. Op aarde gebeur dit nog wel, en daarom die gebed dat dit in daardie opsig op die aarde sal word soos in die hemel.

Laat U wil geskied…” beteken dus: “my Vader, U is wys en goed en liefdevol, ver bo wat ek kan begryp. U wil vir U kinders is volmaak goed, net soos U. Daarom vertrou ek U onvoorwaardelik en begeer ek niks anders nie, as dat U wil tot uitvoering sal kom. Soos in die hemel waar U Koninkryk reeds volmaak is, en die engele as dienende geeste U wil volmaak volbring, laat U wil so ook op die aarde volbring word.”

Gebed:

Here, vanoggend bid ek innig dat U Koninkryk sal kom en U wil sal geskied. Ek verklaar myself dan ook bereid om ‘n volwaardige dienende burger van U Koninkryk te wees. Ek bid dat U my die krag en wysheid daarvoor sal gee.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Goeie Soldaat
28 March, 2024
Onbaatsugtige Liefde
27 March, 2024
As die Las te Swaar Word
26 March, 2024
Herinneringe
25 March, 2024
Laat U Wil Geskied
22 March, 2024