Geloofsbelydenis

20 May, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Geloofsbelydenis

Hebreërs 1:1-4

Hebreërs begin met 'n geloofsbelydenis oor Jesus. Wat glo ons van Jesus? Die skrywer wil hierdie punt opklaar en duidelik maak voordat hy verder gaan met sy skrywe, sodat ons sal weet van Wie hy skryf.

As gelowiges, word ons verswelg deur ‘n wêreld van ongeloof, so voel dit dikwels vir ons. “God is dood!” blaker baie mense dit uit. Ons hoor vrae soos: “Hoe kan daar ‘n God wees as die wêreld in so ‘n gemors is? Waar was God op 11 September, toe die grootste ramp in Amerika se geskiedenis plaasgevind het? En waar was God toe die tsoenami die Ooste getref het, en skokgolwe reg om die wêreld gestuur het? Dink jy dat as daar werklik ’n God is, dat Hy die verwoesting van die vloede in Mosambiek en Zimbabwe sou toelaat? Kyk maar hoe lyk dit vandag in Suid-Afrika en baie ander lande, waar die sonde hoogty vier!”

As jy die dag met sulke neerhalende en gelooflose vrae en stellings gekonfronteer word, is die eerste paar verse van Hebreërs soos die lafenis van ‘n koel fontein in die versengende hitte van die Namib. Die Hebreërskrywer wil dan rég aan die begin van sy preek, met hierdie geloofsbelydenis vir ons sê dat ons met sékerheid kan glo in Jesus.

In Hebreërs se eerste verse lei die skrywer ons om te glo dat Jesus hierdie wêreld gemaak het. Hierdie is nie sommer ‘n ligtelike bewering nie. Dink vir ‘n oomblik presies wat die omvang van hierdie bewering is. As die skrywer sê dat Jesus die wêreld gemaak het, sluit hy hiermee outomaties die heelal in. Vandag weet ons natuurlik dat die wêreld maar ‘n bitter klein spikkeltjie in die heelal is.

Maar kom ons vergeet vir ‘n oomblik van die onbeskryflik groot ruimte daar buite, en ons kyk net na die dinge hier reg rondom ons.

Mosbolletjie roep my nou die oggend weg van my rekenaar af om te kom kyk. In die platkroonboom voor die huis sit twee langkuifarende, pikswart en trots. ‘n Metaalblou flits trek my oog na links - ‘n paar blou glansspreeus wat hulle blink-blou veredos laat glinster in die sonlig.

My hart slaan ampertjies bollemakiesie as ek die koddige Hoep-hoep met sy naald-dun snaweltjie gewaar waar hy soek vir krieke op die grasperk. Sy kleurvolle swart en oranje kuif staan windmakerig in die vroeë oggendsonnetjie. 'n Mikstert byvangertjie kom sit parmantig op 'n takkie en wonder watter by om eerste by te kom. Sy pikswart veredos blink in die strale van die son.

Ek het hierdie wondere soveel maal al gesien, maar elke keer is dit ‘n onvergeetlike ervaring. Daardie kleure kan géén kunstenaar namaak nie. Ek het al verskeie kere probeer om dit met my kamera vas te vang, maar elke keer is ek teleurgestel in die resultaat, want hoe kan jy óóit Jesus se skepping namaak?

Ten spyte van die feit dat die mensdom so hard probeer om Jesus se wonderlike skepping te verwoes, hou Hy dit steeds in stand. Hy is steeds in beheer! Dit neem natuurlik nie ons eie verantwoordelikheid weg om op te hou om Sy skepping op te mors nie! Inteendeel: dit plaas op ons ‘n groot verantwoordelikheid om juis die skepping te respekteer, en te koester, want dit is die handewerk van Jesus!

Die skrywer snak met verwondering na sy asem as hy beskryf hoe die heerlikheid van God uit Jesus straal. Die Hebreërskrywer se geloofsbelydenis word ‘n borrelende lofbetuiging aan Hom wat verhewe is bo alles en almal. “Hy is die Ewebeeld van die Wese van God!”, jubel hy.

n Geloofsbelydenis kan net eenvoudig nie volledig wees as jy nie ook bely dat Jesus die Een is wat reiniging van sondes bewerkstellig het nie. Hier word dit dalk net in ‘n enkele sinnetjie gemeld, maar daar is veel meer aan hierdie gedagte. Ons vryspraak het behels dat Jesus, die Almagtige Heerser en Skepper-God Homself moes verneder om as baba gebore te word in ‘n stinkende stal vol diere. Dat Hy moes werk as ‘n timmerman en al die vernederings deurgaan wat ‘n kind in daardie jare aan onderwerp was. Dat Hy uit Sy eie tuisdorp weggejaag is. Dat Hy verskeie male uitgejou is, vals beskuldig is, gemartel is en uiteindelik die vloekdood aan die gewraakte kruis moes sterf. So moes Hy betaal vir my en jou sondes, en so het Hy die reiniging van sondes bewerkstellig.

Maar nou sit Hy “aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel” (vers 3). Hy is verhewe, selfs bo al die engele.

Voor Jesus kan ons maar net neerval in aanbidding, as ons lees hoe heilig en hoog verhewe Hy is. Ons durf nooit vergeet dat Hy nie maar net ‘n “speelmaatjie” is, of Iemand wat net daar is wanneer ons skielik in die moeilikheid is nie. Nee, Jesus is groot bo alles, Sterke Verlosser, Magtige Heer en Heiland, Immanuel, God met ons, Reddende Here, Lewende Woord! Kom ons jubel dit vandag uit in ons lofbetuiging teenoor Hom, terwyl ons terselfdertyd weet dat Hy wat so hoog verhewe is, Homself oor my en jou ontferm.

Gebed:

Jesus, ek loof U want U is groot bo alles!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Hosanna, Hosanna!
25 April, 2024
Nasaret Verwerp Jesus
24 April, 2024
Jesus se Doop
23 April, 2024
Géén Plek vir Jesus
22 April, 2024
Vergifnis
19 April, 2024