En Toe was daar Noag

25 October, 2017
Luister Na Hierdie Dagstukkie En Toe was daar Noag

Genesis 6:5-12

Wanneer ons die verhaal van Noag lees, is die een groot gebeurtenis wat uitstaan in sy lewe die sondvloed.

Daar is verskeie buite-Bybelse verhale oor hierdie gebeurtenis. Ander volke vertel ook van die een of ander katastrofale vloed wat die wêreld getref het, en daar is heelwat ooreenkomste met die verhaal wat in die Bybel opgeteken is, soos byvoorbeeld van die ark wat gebou is en die uitstuur van die duif. Daar word selfs vertel van die offer ná die vloed en die genadeteken wat die mense ontvang het in die reënboog. Daar is egter ook baie veskille in hierdie verhale, waarvan die grootste is dat God hierdie vloed gestuur het teenoor ander verhale waar dit anders gebeur het.

Hierdie verhaal word oorheers deur die verval van die mensdom. Dit was slegs die enkelinge soos Henog wat nog aan God gedink het. Alles het alreeds begin by Adam en Eva wat teen God in opstand gekom het. Daarna Kain en sy nageslag, en veral gewelddadige kleinkinders van hom soos Lameg.

In Gen. 6:5 sien ons hoe bedroef God geword het oor al die verdorwenheid van die mensdom. Hulle bedink heeldag lank net slegte dinge!

Maar ten spyte van al die slegte, sien ons steeds God se liefde en genade. Wanneer Kain die eerste groot misdaad pleeg en sy broer vermoor, dan is dit God wat ten spyte hiervan steeds vir Kain genadig is en hom beskerm met ‘n belofte (Genesis 4:15). Maar Kain het God se belofte ook geminag en van die Here af weggegaan (vers 16).

Soos reeds gesê, was Lameg uit die nageslag van Kain die man van geweld. Boonop het hy ook twee vrouens gehad. Maar daar was ook ‘n tweede Lameg. Hy was uit die nageslag van Set. Wanneer Lameg nommer twee alreeds 182 jaar oud is, word daar vir hom ‘n seun gebore. Lameg is lewensmoeg. God het die grond waarop hy ‘n lewe probeer maak vervloek (so het hy geglo). Dit was swaarkry elke dag, en dan vestig hy sy hoop op hierdie klein seuntjie, want dalk sal die outjie hom ‘n bietjie opbeur. En hy noem hom Noag. Sy naam beteken letterlik “Rus”. Sal hierdie klein seuntjie werklik daarin slaag om vir Lameg rus te bring vir sy siel?

Maar steeds duur die onreg voort. Inteendeel, dit raak al hoe erger en erger sodat God ernstig gegrief is hieroor.

Klein Noag het groot geword en Pa Lameg het oud geword. Na Noag se geboorte het hy nog so byna 600 jaar geleef en ‘n stokou grimmige man geword wat op die rype ouderdom van 777 jaar genadiglik dood is.

En Noag? Hy het uiteindelik ook vrou gevat en op 500 jaar word hy die pa van drie seuns, Sem, Gam en Jafet. Noag was nie ‘n super-mens wat sondeloos gelewe het nie. Maar één ding het in sy guns getel: hy was lojaal teenoor God. Daar was ‘n persoonlike verhouding tussen hom en die Here, en dit het Noag anders gemaak as al die ander mense van sy tyd. Genesis 6:9 beskryf Noag as ‘n regverdige man wat onberispelik gelewe het. Hy het ook, nes sy grootoupa Henog, naby aan God geleef.

Wat was dit dan wat daartoe aanleiding gegee het dat God besluit het om die vloed te stuur? Weereens moet ons terug gaan na die begin, toe God so kort nadat die skepping voltooi was, daarna gekyk het. Hy het gesien dat dit alles baie goed was. Kort daarna slaan die kroon van Sy skepping ‘n verkeerde rigting in. In die familiegeskiedenis lees ons van die stygende lyn van goddeloosheid totdat alles uiteindelik onuithoudbaar word. Weereens sien ons dat God na die aarde kyk. Hierdie slag het Hy gesien dat dit korrup was. Dit wat oorspronklik goed was, het die mens geruïneer. Nou bly net een ding oor: om die ruïnes plat te vee en oor te begin.

Ons sien dus duidelik dat die mens sélf verantwoordelik was vir die vloed. Dit was hulle eie toedoen, en God se besluit om alles te vernietig was bloot die gevolg van die mens se verskriklike dade.

Ek en jy leef vandag ook in ‘n bitter deurmekaar wêreld. Misdaad, geweld, onreg, bedrog, moord, verkragting - al hierdie dinge is by ons baie bekend. Baie mense het moeg geword vir al hierdie gemors, selfs ook ongelowiges. Almal soek na ‘n klein “Noag” wat rus kan bring. Maar elke “Noag” wat gebore word het ook maar voete van klei. En die onreg stoomroller voort!

Maar daar is hoop, want Jesus bring redding waar alles totaal verlore lyk. Ja, en inderdáád het Hy die dood oorwin! Hy vra slegs van jou en my om in ‘n persoonlike verhouding met Hom te staan en naby aan God te leef soos Noag van ouds.

En dan is daar boonop ook nog die groot hoop waarna alle gelowiges reikhalsend uitsien, daardie groot hoop waarvan Johannes skryf in Openbaring. En daardie groot hoop waarvan die engel gepraat het tydens Jesus se hemelvaart. Wanneer Jesus se wederkoms die dag plaasvind, sal alles splinternuut gemaak word. Daar sal ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde wees waar alles absoluut perfek en vlekkeloos sal wees, sonder die geringste teken van sondesmet. Sien jy ook uit daarna?

Gebed:

Here, vandag is daar baie vrae in ons gemoed oor hierdie verhaal. Maar dan kan ons troos kry dat U genade vir ons oorgenoeg is. En boonop is daar die vooruitsig van die Wederkoms! Dankie daarvoor Here.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Entoesiasme
18 April, 2024
Wedloop van die Lewe
17 April, 2024
Die Here se Bevel
16 April, 2024
Die Woord
15 April, 2024
Volhard Deur Ontbering
12 April, 2024