Ek, my Werk en my Lewe

30 May, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie Ek, my Werk en my Lewe

Titus 2:1-15 (deel 3)

Die derde teiken vir Paulus is die slawe. Dit is opmerklik dat hy nie hier pleit dat slawe vrygelaat word nie. Dit sou mos die regte ding wees, of hoe? Nee, hy preek juis vir die gelowige slawe dat hulle hulle slaaf-wees só moes uitleef in hulle samelewing dat buitestaanders die indruk sou kry dat Christene geensins die sosiale orde wou omverwerp of ondermyn nie, maar dat selfs húlle, die laagste van die laagstes, kon help met die geestelike opbou van die bankrot gemeenskap.

Die dinge wat Paulus hier oor slawe te sê het, kan ons vandag feitlik nét so op ons werkplek toepas. Inderdaad word gelowiges dikwels soos slawe behandel, en soms voel dit bitter onregverdig. As die ander werkers staak, dan stap jy gebelgd saam om hierdie onreg wat jou aangedoen word met wortel en tak te probeer uitroei. In die proses word daar dikwels met so ‘n staking geweldig baie skade aangerig, en kos dit die land miljoene! Die feit is dat werknemers wat net die heeltyd kyk waar hulle hulleself kan bevoordeel, aan ‘n geestelike armoede ly, en dat hulle nie hulle verantwoordelikheid teenoor God besef nie. Terselfdertyd ly die onderneming waarvoor hulle werk soveel skade as gevolg van die staking, dat dit op die einde van die dag ook die werknemer benadeel.

Natuurlik moet die werkgewer ook sy verantwoordelikheid nakom, en die werkers behoorlik vergoed vir hulle dienste. Volgens 1 Tim. 5:18 en Kol. 4:1 het ook húlle ‘n verantwoordelikheid teenoor God in hierdie opsig. Maar nou praat Paulus spesifiek met werknemers, en hy sê dat gelowiges hulle roeping teenoor God vervul deur gehoorsame, eerlike en betroubare werk te lewer. Hierdeur lewer hulle nie alleen ‘n groot bydrae tot die geestelike opbou van die samelewing nie, maar gee hulle ook geloofwaardigheid aan die Christelike geloof.

Die vraag is nou, nadat ons al hierdie voorskrifte vir mans, vrouens en slawe gelees het: hoe moet my persoonlike, huislike lewe dan daar uitsien? Kan ek nie maar net in my huis gaan sit en my daar besig hou met geestelike dinge nie? Hoekom kan ek nie maar die bose samelewing aan hulle eie lot oorlaat, en my met God besig hou nie? Die feit is dat God se genade nie maar net vir die klein groepie gelowiges bedoel is nie, maar vir alle mense. Hy wil nie hê dat enige mens verlore sal gaan nie.

Maar daar is ‘n voorwaarde aan God se genade, dat dit alleen geskied deur die verlossingswerk van Jesus Christus. Die ander feit is dat God bitter selde engele of wonderwerke gebruik om mense tot geloof in Jesus te lei. Dit is die taak van doodgewone gelowiges soos ek en jy. Ons durf onsself dus nie onttrek uit ‘n bose samelewing, of bloot toekyk hoedat die samelewing homself vernietig nie. Nee, ons moet juis die boodskap van verlossing in hierdie samelewing indra sodat God se genade ook daar tot volheid kan kom.

Ons moet egter baie versigtig wees dat ons visie nie te nou gestel word nie. ‘n Gelowige se visie moet baie breër wees as bloot die teenswoordige wêreld. Paulus verkondig nie ‘n sosiale Evangelie wat net die opbou van die samelewing in gedagte het nie. As jy die Evangelie só wil sien, kan jy baie skade aanrig, want dit is bloot ‘n materialistiese interpretasie van die Evangelieboodskap. Met só ‘n boodskap sê jy dat sonde sosiale verkeerdhede is, en dat bekering die belydenis is van jou oortredings teenoor mense. Dat verlossing die verandering is van sosiale en politieke strukture. Sodoende word Jesus ‘n revolusionêre bevrydingsfiguur!

In Suid-Afrika het ons as Christene lank reeds in gebreke gebly om voluit met ons lewe te wys dat die verhouding met God deur Jesus Christus geloofwaardige betekenis het vir alle mense. Die tyd het nou aangebreek dat ek en jy uit hierdie tregter van geestelike verarming uitklim. Inderdaad het God se genade sosiale implikasies en ons moet hierdie implikasies ten volle uitleef. Terselfdertyd moet ons egter ook deeglik besef dat God se genade baie, báie meer behels as net sosiale implikasies. As gelowiges is ons deel van God se eie volk wat deur Jesus se offer van sondes gereinig is, en wat uitsien na ‘n dag wanneer hierdie bose, gebroke wêreld vervang sal word met ‘n absoluut volmaakte nuwe wêreld. Hierdie toekomsvisie moet nooit daar wees sonder die praktiese uitleef van ons Christelike geloof nie. Terwyl ons die volle implikasies van God se groot genade besef, moet ons elke dag hierdie genade prakties sowel as geestelik uitleef.

Elke gelowige moet wel deeglik besef dat volgehoue opbouende betrokkenheid in hierdie huidige wêreld van ons, op die lang duur slegs betekenis kan kry deur die wonderlike verwagting van die ewige lewe. Verder kan ons absoluut niks doen uit eie krag nie, maar alleen deur die kragtige werking van die Heilige Gees in ons.

Gebed:

Here, help my asseblief om uit my dop te kruip en ‘n verskil te maak aan die bose wêreld.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Petrus se Verraad
26 April, 2024
Hosanna, Hosanna!
25 April, 2024
Nasaret Verwerp Jesus
24 April, 2024
Jesus se Doop
23 April, 2024
Géén Plek vir Jesus
22 April, 2024