Ek en my Samelewing

31 May, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie Ek en my Samelewing

Titus 3:1-7

In Paulus se brief aan Titus (en ook Kreta en Suid-Afrika) het hy nou al verskeie punte aangeraak oor die Christelike lewe. Vandag kom hy by ‘n baie belangrike punt, naamlik jou gedrag in die samelewing. As gelowige moet ons wel baie deeglik onthou dat ons nie afgesonderd lewe nie maar dat ons deel is van ‘n samelewing waar ek en jy ‘n instrument in God se hand kan wees om diegene rondom ons tot geloof te lei. Blykbaar het sommige gelowiges op Kreta hulle egter totaal uit die samelewing onttrek!

Gelowiges se grootste kopseer, is die liewe owerheid wat oor ons aangestel is. Dink jy net daaraan, dan raak jy klaar warm onder die boordjie! Ja, daar sit wel ‘n handjievol gelowiges in ons parlement, maar die res is uitgesproke ongelowiges. Daar word soms selfs Sangomas gebruik om die parlement te "reinig"!

Die vraag is, wat ek moet doen omtrent daardie gesag? Moet ek dit maar gelate aanvaar? “Inderdaad!” sê Paulus. Hy beklemtoon dit dat Titus die gelowiges “nadruklik” daaraan moet herinner dat hulle hulle aan die owerheid en gesag moet onderwerp. Boonop moet hulle daaraan gehoorsaam wees. Dit is harde woorde hierdie, veral as ons besef dat Kreta se regering dalk nog meer korrup was as ons eie! Die feit is dat onderdanigheid aan God ook onderdanigheid aan die owerhede insluit. In Romeine 13:1-7 skryf Paulus dat daar geen gesag is wat nie van God kom nie! Dit is om hierdie rede dat ons ons nie alleen moet onderwerp aan die gesag nie, maar selfs ons positiewe samewerking moet gee om alles te doen wat goed is (Titus 3:1). Dit beteken natuurlik nie dat ons kan meedoen aan die onheilighede nie, maar dat ons so sal lewe en optree dat selfs ‘n nie-Christelike owerheid sou wens dat al sy onderdane Christene is.

Maar hy gaan verder as net die regering: In vers twee sê Paulus dat ons inskiklik en altyd bedagsaam moet wees teenoor ALMAL. Wie is hierdie “almal?” In Titus se geval is dit die berugte Kretense. Daardie selfde leuenaars, dronkaards, geweldenaars en selfsugtige luiaards waarvan ons vroeër gelees het.

Nou sal jy dalk vir my sê dat jy heeltemal ver genoeg gelees het, en dat dit nou ‘n bietjie dik vir ‘n daalder word. Hoe kan daar van my verwag word om nog steeds met ‘n soet glimlaggie op my gesig op te tree teenoor ‘n spul skurke? Ons natuurlike reaksie is om sulke mense ten alle koste te vermy en niks met hulle te doene te hê nie. Jesus het vir ons die voorbeeld kom stel toe hy saam met ‘n spul skurke gaan partytjie hou het. Ter wille van die verkondiging van God se Evangelie van genade, moet ons juis moeite doen om teenoor hierdie hopeloos-verlore mense soos dié gelowige op te tree wat God van jou vra.

Kyk, maklik is dit baie beslis nie! Christenskap is definitief nie vir sissies nie! Dit beteken immers dat as hulle van jou kwaadpraat, dat jy nie sal terugkap nie, maar jou kleinserigheid in jou sak sal steek. Dit beteken ook dat jy ‘n situasie wat op rusie kan uitloop sal probeer ontlont of vermy. Van jou eie belang en eer moet jy liewers maar vergeet, nes Jesus gedoen het. Ons moet onvoorwaardelik bereid wees om ander mense se belange voorop te stel. Op hierdie manier vertoon jy die beeld van Christus in ‘n verrotte samelewing. So kan jy help om God se genade op ‘n geloofwaardige manier sigbaar te maak vir mense wat dit bitter dringend nodig het. Inderdaad kan jy op hierdie wyse meehelp om die siek samelewing te genees.

Ek en jy moet deeglik besef dat ons nie durf hoogmoedig wees teenoor die vrot samelewing nie, en ons durf ons nie daaraan onttrek nie, want as jy terugdink aan jou eie lewe, dan besef jy dat jy dalk ook eenmaal daar was, en dat God uit Sy groot genade vir my en jou daaruit kom red het. Ons was eenmaal net so haatlik as die mense op wie ons nou wil neersien. Die feit is dat nie ek of jy die saligheid gekry het deur ons eie goeie werke of eie toedoen nie, maar dat dit slegs God is wat ons hieruit kon red.

Nou kom ons by die kernboodskap van die Titusbrief, naamlik dat die goedheid en liefde van God aan mense moet verskyn (vers 4). As ons wil help met die geestelike opbou van Suid-Afrika, moet ons as gelowiges nie net heeltyd kritiseer en die foute uitwys nie, maar ons hooftaak is om mense te konfronteer met God se goedheid en liefde. God het ons geroep om met sy Woord en met óns lewens ongelowiges te oortuig van God se goedheid.

Twee dinge moet ons gedurigdeur motiveer vir so ‘n lewe: ‘n opregte jammerte in jou hart vir die lot van die gemeenskap wat verslaaf is aan hulle eie begeertes, en terselfdertyd die besef van die absolute onverdiende genade van jou eie verlossing, en die besef dat hierdie genade die enigste redding is vir die verlorenes van ons samelewing.

Gebed:

Here, leer my asseblief om U genade elke dag uit te leef teenoor ander mense op so ‘n wyse dat hulle Jesus se wonderbare liefde in my kan sien.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Vergifnis
19 April, 2024
Entoesiasme
18 April, 2024
Wedloop van die Lewe
17 April, 2024
Die Here se Bevel
16 April, 2024
Die Woord
15 April, 2024