Die Wingerdstok

18 March, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Wingerdstok

Johannes 15:1-8

Dit voel asof die ganse wêreld op Johannes se skouers rus. Sy gemoed is loodswaar terwyl hulle na die tuin stap waar hulle gaan oornag. Hy het só uitgesien na die paasmaaltyd, maar dit het vir hom in ‘n nagmerrie geëindig. Judas! Een van hulle intieme kring! Hy kan dit nog nie verwerk nie. Almal loop in doodse stilte, elkeen besig met sy eie gedagtes. Jesus se woorde, pas voordat hulle vertrek het, maal deur Johannes se gedagtes: “As julle My liefhet, sal julle My opdragte uitvoer.” Hy het ook gepraat van “Die Voorspraak” wat Hy vir hulle sal stuur. Wat presies het Hy bedoel?

Al geluid wat hulle hoor, is die knars van voete op die klippertjies, soos hulle stap. Dan verbreek Jesus die stilte: “Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer. Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af; maar elkeen wat vrugte dra, snoei Hy reg, sodat dit nog meer vrugte kan dra. Julle is alreeds reg gesnoei deur die woorde wat Ek vir julle gesê het. Julle moet in My bly en Ek in julle. 'n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie.”

Die wingerdstok het ‘n baie groot rol gespeel in Jesus se bediening. Johannes onthou hoedat Hy dit keer op keer gebruik het om God se almag te beklemtoon of om die een of ander waarheid tuis te bring of om te dien as simboliek. Hy onthou nog Jesus se eerste groot wonderwerk toe Hy wyn gemaak het uit water. Vroeër vanaand nog het Hy vir Johannes-hulle gesê dat die wyn wat hulle drink, Sy bloed is wat vir hulle gestort is. Johannes sidder!

Ek is die wingerdstok, julle die lote.” gaan Jesus voort. “Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte.”

Johannes is verward. Waarom praat Jesus vanaand so in raaisels, so asof niks gebeur het nie? Waarom juis nóú ‘n storie vertel oor ‘n wingerdstok? Sien Hy dan nie die erns van die saak in nie? Weet Hy nie wat op Hom wag nie?

Verstaan ek en jy vandag die volle implikasies van hierdie gelykenis? Waarom sou Jesus op só ‘n dramatiese tydstip ‘n storie oor druiweboerdery vertel? Dis dan enkele ure voordat Hy gevange geneem sou word!

Jesus se tydsberekening wys net hoe geweldig belangrik die boodskap is, en dat ons dit reg moet verstaan. Daar is drie uiters belangrike elemente in ‘n wingerd: die wingerdstok of stam, die lote en die druiweboer. Sonder die wingerdstok kan daar nie lote wees nie, en is daar géén vrugte of lewe nie. En sonder die druiweboer se intensiewe aandag sal die wingerd so wild rank dat daar geen krag oor sal wees vir vrugte nie. Hulle moet gesnoei word!

In hierdie beeld stel Jesus Homself voor as die Wingerdstok, die Bron van lewe. Die Vader word voorgestel as die Boer wat alles in stand hou. Die gelowiges is die lote. Nou moet ons baie deeglik besef dat die lote aan ‘n wingerdstok van uiterste belang is, want sonder lote gaan daar géén vrugte wees nie. Daar is ook nie ‘n hoofloot wat al die druiwe dra, en ‘n klomp mindere lote wat net ondersteun of saamgroei nie. Nee, al die lote is ewe belangrik, en almal moet vrugte dra. In die kerk het almal ook ‘n ewe groot taak, daar is nie een wat uitstaan nie.

Jesus sê nou dat lote wat niks doen nie, afgesny word, want hulle is waardeloos. Beteken dit dat gelowiges wat nie hulle kant bring nie, uit die Koninkryk uitgesmyt word? Nee, dit is nie die bedoeling nie. Die woord “afsny” (airo in Grieks) kan ook met “oplig” vertaal word. Dit beteken dus dat so ‘n persoon getug (opgelig) sal word om hom weer by God uit te bring. Vir diegene wat weier om te glo, sê Hy egter dat hulle weggegooi en verbrand sal word! (vers 6)

Maar die belangrike is egter, wat met die goeie lote gebeur. Lote in ‘n wingerd word jaarliks kort gesnoei om nuwe groei en vrugte te stimuleer. Hoe meer drasties die snoei, hoe beter die vrugte. Dieselfde geld vir die gelowige wat ook dikwels “gesnoei” word.

Die Vader snoei ons dikwels baie drasties, en dit maak soms bitter seer. Die resultate is egter dat ons geestelik bloei en groei en dat ons vrug kan dra. Ek het al dikwels deur so ‘n snoeiproses gegaan, en ek wil dit uitskreeu: “Here, dit is nou genoeg!” Maar ek weet dat Hy die Boer is wat beter weet as ek, en Hy sal ophou snoei wanneer Hy tevrede is.

n Ander baie belangrike aspek, is dat ‘n loot nie los van die wingerdstok kan groei nie. Hy is totaal afhanklik van hom, want die lewenssap vloei juis uit die wingerdstok om die loot te laat vrug dra. Net so is ons totaal afhanklik van Jesus. Ek moet in Hom bly om te kan oorleef (geestelik en andersins). Maar Hy bly ook in my! Hy is die Een wie se “lewenssap” deur my are vloei en die Een wat die vrug in my lewe gee. Sonder Hom is ek totaal verlore en absoluut waardeloos.

Gebed:

Here, dankie dat ek ‘n loot kan wees aan U Wingerdstok. Gee my asseblief die krag om die snoeiproses te oorleef, sodat ek baie vrug kan dra vir U.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Vergifnis
19 April, 2024
Entoesiasme
18 April, 2024
Wedloop van die Lewe
17 April, 2024
Die Here se Bevel
16 April, 2024
Die Woord
15 April, 2024