Die Reddingsboei

22 May, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Reddingsboei

Hebreërs 2:1-4

Stel jou voor: Jy is op ‘n salige vakansie by die Victoria waterval. Alles is idillies, en daar is nie ‘n bekommernis in die wêreld nie. Iemand nooi jou uit vir ‘n bootrit op die magtige Zambesi. Jy bruis behoorlik van opgewondenheid, want die boot vaar bokant die waterval, en dit is opwindend. Die skipper verseker jou dat niks verkeerd kan loop nie. Sy boot is absoluut veilig, en hy het nog nooit oor die rand van die waterval gedryf nie.

Die kragtige enjins van die boot brul as hy die groot rivier aandurf. Nader en nader kom hy aan die waterval, en jy hoor die magtige donder vanwaar miljoene liters water oor die afgrond tuimel in ‘n digte rookwolk van waterdamp. Jy word met groot ontsag vervul deur hierdie onbeskryflike natuurwonder. Jy leun behaaglik op die tou-reëling van die boot en vergaap jou aan die asemrowende gesig hier voor jou.

Skielik gee die tou mee! Jy word yskoud as jy voel hoe alles onder jou inmekaar tuimel. Jy verloor jou balans - gryp na iets - daar is niks! Hulpeloos stort jy na benede. ‘n Ysige skok tref jou as jy in die onstuimige water beland. “Help!” wil jy nog skree, maar die koue water ontneem jou van jou stem. Magteloos reik jy na die boot, maar dit is ‘n vrugtelose poging. Met angs moet jy toekyk hoe jy al verder van die boot af wegdryf, ten spyte van jou verbete pogings om te probeer swem. ‘n Gladde klip kom verby - jy gryp daarna. Dit glip deur jou vingers. Jy voel hoe die donderende waterval jou nader suig. ‘n Takkie doem op uit die niet. Dit verkrummel as jy waansinnig met altwee hande daarna gryp. “Dis verby, verby met my!” snik jy histeries terwyl die waterval grynslaggend nader kruip.

Met ‘n swaar slag land daar skielik iets in die water langs jou. ‘n Reddingsboei! Dankbaar gryp jy dit vas en klou verbete terwyl jy ingekatrol word na die veiligheid van die boot. Trane van dankbaarheid stroom oor jou wange. Jy is gered van ‘n gewisse riller-dood. “Dankie, dankie, dankie!” hou jy aan prewel, terwyl jy aan die reddingsboei klou, en die kragtige enjins van die boot hier by jou hoor dreun.

n Rillerstorie? Miskien, maar soveel mense beleef hierdie situasie in hulle geestelike lewe. Etlike lesers van hierdie dagstukkie vandag, is drenkelinge in ‘n hopelose situasie, waar dit vir hulle voel asof hulle ingesuig word deur ‘n donderende waterval van verlorenheid. Is jy dalk een van hulle? Elke halmpie word na gegryp, enige ding wat dalk kan red, maar dit is hopeloos, en ‘n grusame einde grynslag vir hulle.

Maar daar is ‘n reddingsboei! “Om hierdie rede moet ons soveel kragtiger vasgryp aan wat ons gehoor het, sodat ons nie dalk wegdrywe nie,” lees ons in Hebreërs 2:1. Waarna gryp ek? Hoe lyk hierdie reddingsgordel? As jy in die moeilikheid is, gryp jy na enigiets wat verbykom. Baie mense gryp na die wettisisme van die Ou Testament: Ek moet kerk toe gaan, Bybel lees bid, my tiende vir die kerk gee, die tien gebooie onderhou tot in die fynste detail, iets gee vir bedelaars. Alles baie mooi en edele dinge! Maar dit is soos gladde klippe en bros takkies waarna jy vergeefs gryp. Hulle glip deur jou vingers of verkrummel bloot wanneer jy daarna gryp.

Die probleem is, hierdie is ‘n grashalmpie-godsdiens! Met die beste bedoelings in die wêreld kan jy nie eers naastenby God se wil uitleef nie! Elke oortreding en elke ongehoorsaamheid moet regmatig deur God gestraf word. Die kwelvraag is dan: wat is die antwoord? Is daar ooit enige redding? Alles lyk so hopeloos en verlore!

Die antwoord lê opgesluit in die Woord van God. Juwele uit die Woord is soos reddingsboeie, byvoorbeeld Johannes 3:16, Romeine 3:23 ens. Gryp daarna en hou dit vas. Wanneer iemand Jesus se woord aanvaar, gebeur daar skielik dinge. Lewens word verander, en waar daar wanhoop was is daar skielik hoop. Nou is dit nie meer jy wat jouself probeer red met takkies en gladde klippe nie, maar Jesus wat jou red. Al wat jy moet doen is om Sy reddingsboei vas te gryp! Hy doen die res.

Nou word die lysie van “Moet-doen dinge” hier bo “Wil-doen dinge”, want skielik is dit lekker om kerk-toe te gaan, Bybel te lees en te bid. Nou doen ek dit nie meer uit pligsbesef nie, maar omdat ek wil. Skielik gee ek nie meer my tiende omdat ek moet nie, maar omdat dit deel van my liefdeslewe saam met Jesus geword het. Weldra kom ek agter dat ek nie meer die drenkeling in die verhaal is nie, maar dat ek deel geword het van die span mense wat op die boot staan en reddingsboeie vir ander drenkelinge gooi.

Waar is jy op hierdie oomblik? Is jy nog ‘n drenkeling wat na strooihalmpies gryp, of deel jy al sélf reddingsboeie uit?

Gebed:

Here, dankie dat ek vandag met dankbaarheid kan getuig dat U ook vir my ‘n reddingsboei gegee het. Help my om met vrymoedigheid reddingsboeie aan ander uit te gooi.