Matteus 21:1-11
Jesus het die grootste deel van Sy drie-jaar lange bediening in Galilea, en veral rondom die see van Galilea deurgebring. Daar was wel enkele besoeke aan Jerusalem asook 'n besoek aan die Heidense streek van Tirus en Sidon. Nou het Hy hierdie plattelandse bediening afgesluit. Die laaste week van Sy lewe as Mens op aarde het aangebreek. Nou onderneem Hy sy héél laaste reis na Jerusalem vir die Paasfees. Hierdie Paasfees sou egter baie anders wees as al die ander voor dit, en dit sou die ganse geskiedenis van die mensdom radikaal verander.
Jesus se intog in Jerusalem is gelaai met simboliek. Hy het nie maar daarheen gegaan net om Paasfees te vier, of om ’n laaste desperate poging aan te wend om die Jode tot bekering te lei nie. Die hele proses gloei van Koningsgesag - van dié Koning wat gekom het om Sy regmatige eiendom, Jerusalem, te kom opeis. Hier sou die vyand, wat arrogant vir die wêreld uitbasuin dat hy in volle beheer is, verslaan word op ‘n wyse wat alle verstand te bowe gaan.
Wanneer Jesus naby Jerusalem kom, stuur Hy sy dissipels om ‘n donkie te gaan haal vir Hom om op te ry. Kon dit nie liewer ‘n pragtige pronkende perd gewees het nie? Jesus het ‘n donkie verkies, want dit het gepas by Sy nederige persoonlikheid. ‘n Perd word geassosieer met ‘n militêre inval! Perde was in daardie tyd immers oorlogsdiere! Jesus het nie Jerusalem militêr kom binneval nie. Hy bring vrede! Hy het die magtige skaar van engelmagte tot Sy beskikking gehad om in glorie die stad te kom verower. Hy verkies egter om eerder as Vredeskoning te kom sonder om geweld te gebruik. Alhoewel ons dalk vandag op ‘n donkie neersien as 'n halsstarrige, moedswillige dierasie, was dit in die Joodse tradisie ‘n koninklike rydier. As ons Genesis 49:10-11 lees, sien ons die profetiese woorde van Jakob, dat die Heerser op ‘n donkie ry.
Jesus se intog in Jerusalem spreek inderdaad van Koningsgesag. Wanneer Hy die donkie laat haal was dit oorgenoeg vir die dissipels om maar net vir die eienaar daarvan te sê dat die Here die donkie nodig het. Die man het dadelik ingestem sonder om vrae te vra en sonder teëstribbel. Die groot skare pelgrims wat Jesus vergesel, rol boonop as’t ware die rooi tapyt vir Hom oop. Hulle borrel van opgewondenheid want hulle kan aanvoel dat iets baie groot gaan gebeur. Hulle dans en sing en gooi hulle klere voor Hom in die pad. Takkies word van die bome afgepluk en triomfantlik rondgeswaai uit eerbetoon vir hierdie Koning. Volgens Johannes 12:13 was dit palmtakke.
In Jerusalem gaan daar ‘n gedruis op van mense wat in ‘n groot beroering kom. Die nuus van die Koning se intog versprei soos ‘n veldbrand. Hierdie beroering is egter nie van opgewondenheid oor Jesus se koms nie, maar eerder van ontsteltenis. Jy sal sékerlik onthou dat daar nét so ‘n groot ontsteltenis in Jerusalem was tydens Jesus se geboorte. Herodus was woedend toe hy hoor dat daar 'n nuwe Koning gebore is! Jesus se vrede bring dus ook terselfdertyd onvrede!
Dit gaan ‘n mens se verstand te bowe dat Jesus vir drie jaar lank die hele Israel deur gepreek het en wonderdade gedoen het en dat reuse skares mense agter Hom aangeloop het. Maar wanneer Hy Jerusalem binnekom, wil die mense weet wie hierdie Man dan tog is? Vir baie van die mense wat aan die optog deelgeneem het was Jesus slegs “die Profeet van Nasaret.” Was hulle ore en oë dan bottoe vir alles wat Jesus gedoen het? Vir hulle was Hy ‘n volslae vreemdeling, ‘n Vreemdeling met ‘n vreemde boodskap. Dit voorspel niks anders nie as stryd! Jesus het tog immers gesê dat Hy nie alleen gekom het om vrede te bring nie, maar ook stryd - gaan lees gerus maar weer wat Hy gesê het in Matt. 10:34.
Inderdaad bring Jesus gewis stryd vir diegene vir wie Sy vredesboodskap te rewolusionêr klink, omdat dit hulle lewe totaal kan omkeer. Talle mense kom vandag steeds in beroering van ontsteltenis wanneer Jesus se vredesboodskap weerklink. Talle misdadigers kry voorkeurbehandeling, of word summier hulle wandade kwytgeskeld, maar wanneer die boodskap van Jesus se vrede oor ‘n Christelike radiostasie weerklink, word dit uitgedoof. Dit word stilgemaak uit vrees dat dit dalk die een of ander wet sou kon oortree. In skole is dit ’n misdaad om die vredesboodskap te verkondig. Is dit dalk uit blote vrees vir die vredesboodskap?
Vir diegene wat egter bereid is om voor hierdie Vredeskoning te buig in aanbidding, bring Hy ware vrede en rus, ’n onbeskryflike vrede wat alle verstand te bowe gaan.
Vanoggend is Jesus se dringende vraag aan jou: het jy al by daardie punt in jou lewe gekom waar jy jou lewe aan die Vredeskoning oorgee? Of is jy dalk steeds bevrees om die stap te neem, omdat dit dalk ‘n radikale verandering in jou lewe sou beteken? Genadetyd het bitter min geraak! Dalk is dit selfs more al te laat..........
Gebed:
Here Jesus, Vredeskoning, ek buig vanoggend in aanbidding voor U neer, want aan U behoort al die eer en verheerliking. Dankie dat ek vandag U volle rus en vrede kan beleef. Dankie dat U die Koning is van my hart.
(As jy nie hierdie gebed kan bid nie - kontak my asseblief dringend by louis@dagstukkie.co.za - voordat dit dalk vir ewig te laat is!)