Byt Vas!

22 March, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie Byt Vas!

1 Timoteus 1:3,4

Timoteus is moedeloos: “Ek gaan my goedjies pak en huistoe gaan!” maal dit in sy gedagtes, “Nou kan ek dit net eenvoudig nie langer uithou met hierdie spul Efesiërs nie. Ek gaan huistoe!”

Ja, die afgelope tyd was nie maklik vir hierdie jong man nie. Toe Paulus hom daardie tyd aanstel as leraar in Efese, het hy op en af gespring van opgewondenheid. Vir die jong Timoteus was dit ‘n geweldige uitdaging. Maar nou het dinge begin suur raak, want hy het uitgevind dat om leraar te wees nie ‘n maklike taak is nie, want die gemeentelede is maar net mense - bitter sondige mense! Dikwels ruk die sonde maar handuit, soos wat dit nou alweer die geval is. Dáárdie tyd toe Paulus nog in Efese was, het dit al begin. Hy onthou nog hoe Paulus die gemeente gewaarsku het teen dwaalleer wat besig was om kop uit te steek. Natúúrlik het hy dit in die kiem gesmoor, maar die dag toe hy vertrek, was sy waarskuwing aan hulle: “Ek weet dat daar ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal indring, en hulle sal die kudde nie ontsien nie!” (Hand. 20:29). Ja, hoe reg was Paulus nie! Daardie einste “wolwe” probeer nou al hóé lank om sy skape op te vreet!

En dan is daar die geskinder en gekwaadpratery en gerugstekery. Dis om van siek te word, en praat wil net eenvoudig nie meer help nie!

Dit is ‘n baie moedelose Timoteus wat daardie dag Paulus se brief oopmaak. Met bewende vingers breek hy die rooi was-seël. “Paulus gaan vir my sê dat ek moet huistoe kom!” borrel dit opgewonde in die jong man. Die eerste woorde in hierdie brief is soos balsem op ‘n seer wond. “Paulus het net eenvoudig die gawe om jou goed te laat voel,” dink Timoteus as hy Paulus se mooi trooswoorde indrink. Maar sommer in die eerste sinnetjie sak sy moed in sy skoene, want daar staan nie geskryf wat hy graag sou wou sien nie. “Paulus dring aan dat ek in Efese moet aanbly!” Geskok lees hy weer en weer en weer die sinnetjie, net om seker te maak dat hy dit nie misverstaan nie. “Weet Paulus dan nie? Verstaan hy nie wat ek alles hier moet deurmaak nie?” Timoteus is só ontsteld, dat hy sommer daar en dan die brief wil opfrommel. Maar hy kan nie die versoeking weerstaan om verder te lees nie. “Daar is sekere mense wat vals leerstellings versprei, en jy moet hulle dit verbied!” lees hy verder deur sy trane van moedeloosheid.

O, hoe het hierdie Jode nie al sy lewe suiwer hel gemaak nie! Ja, hulle het die Evangelie gehoor, en hulle het die wonderlike verlossing wat Jesus, die Messias, die Verlosser gegee het aanvaar. Hulle het almal hulle hart vir Jesus gegee. Maar toe kom hulle met hulle óú stories van “afstammelinge van Abraham.” Hulle gaan staan en diep eindelose geslagsregisters op om te bepaal presies hóé hulle nou eintlik van Abraham familie is, en watter voortreflike konings iewers in daardie voorgeslag ingesluit is. En die klomp stry oor wie se voorouers nou eintlik beter is. By die éintlike belangrike ding, die Evangelie, kom hulle nooit uit nie. Boonop is hulle fiemies iets om oor siek te word - eet nie dit nie en eet nie dát nie. En die een wil slimmer as die ander probeer wees met hulle “hoëre” Skrifkennis. As hulle dit maar vir hulleself gehou het, dan was dit dalk nie so sleg nie, maar nou probeer hulle almal beïnvloed met hulle sogenaamde kennis waarvan net húlle weet.

Paulus het baie goed geweet waardeur Timoteus gaan. Hy het hierdie selfde dinge immers al telkemale beleef, en daarom weet hy presies hoe om vir Timoteus raad te gee. Die belangrikste is egter dat Timoteus nie moet moed opgee en vlug nie, maar die bul by die horings pak en die probleme ‘n nekslag toedien.

Hoe dikwels voel ek en jy nie ook dat ons nou genoeg gehad het, en dat ons ons goedjies wil pak en padgee nie. Vir óns sê Paulus ook vanoggend deur hierdie gedeelte dat ons moet vasbyt en gaan kyk waar die wortel van die probleem lê. Inderdaad is dit alles die werk van die duiwel, wat ons probeer onderkry. Aan hierdie selfde gemeente in Efese het Paulus eenmaal geskryf dat hulle slegs die probleme wat die duiwel veroorsaak te bowe gaan kom as hulle God se wapenrusting aantrek. Gaan lees gerus maar daarvan in Efesiërs 6:10-17. Dit sou mos nou darem sleg lyk as die leraar onder die druk swig en weghol!

In ons eie gemeente het ek moedeloos geword omdat dit begin voel het asof ‘n ou klein handjievol mense ‘n “verloorstryd” voer. Die afgelope tyd het ek egter met groot vreugde begin agterkom dat daar ‘n nuwe wonderlike gees van liefde en gasvryheid in ons gemeente begin posvat. Die harde werk van daardie handjievol leiers het uiteindelik vrugte afgewerp, met wonderlike gevolge!

Vanoggend wil die Here jou versterk deur vir jou te sê: “Byt vas!” Moenie moedeloos raak nie - bly op jou pos. Wanneer jy dit doen en jou werk wat God jou gegee het getrou doen, stel jy die beste voorbeeld van Christenleierskap. Jesus was immers sélf só tot die bitter einde toe getrou.

Gebed:

Here, gee my asseblief moed en krag om aan te hou ten spyte van al die teenstand.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Hosanna, Hosanna!
25 April, 2024
Nasaret Verwerp Jesus
24 April, 2024
Jesus se Doop
23 April, 2024
Géén Plek vir Jesus
22 April, 2024
Vergifnis
19 April, 2024