Briefslot

29 August, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Briefslot

1 Korintiërs 16:13-24

Soos ons oor die afgelope twee maande agtergekom het, het Paulus hierdie brief aan ‘n gemeente geskryf wat hom nagmerries gegee het. Alles wat kon verkeerd loop in die gemeente, hét verkeerd geloop! Daar was tweespalt, dwaalleringe en gruwelike sondes. Sommige gemeentelede het gedink dat hulle verhewe is bo die res, en die gawes van die Heilige Gees is liederlik misbruik.

Tóg gesels Paulus in die briefslot met hulle met die grootste liefde, soos ‘n pa sou maak met sy klein kindertjies. “Wees waaksaam,” dikteer hy vir sy sekretaris. “Staan vas in die geloof, wees manmoedig, wees sterk!” Paulus bemoedig hulle, al het hulle hom so liederlik diep bedroef.

In my geestesoog sien ek ‘n stokou oumatjie op haar rystoel. Rondom haar raas en speel en gil die kindertjies so erg, dat sy lus voel om haar ore toe te druk. Klein Jannie trek Sannie se vlegsel, en sy tjank al gillende dat hoor en sien vergaan. Kosie gooi vir Pietie met ‘n modderkoek dat hy so hik, en dan is die duiwel behóórlik los.

Skielik wink Ouma hulle almal nader, en dan, sonder om kwaad te wees of geïrriteerd te klink, maak sy hulle bymekaar soos ‘n ou broeis hen haar kuikentjies. En dan begin sy hulle liefdevol en met groot passie ‘n storie vertel. Al die frustrasie wat sy so pas beleef het, is vergete as sy met volle oorgawe die kindertjies se onverdeelde aandag vasvang met haar wonderlike stories.

Om maar net altyd beskuldigings te gooi en te verdoem, mag dalk regverdig wees teenoor ‘n gemeente wat skoon skuins-dwars is. Vir ons voel dit dalk asof dit die enigste weg is met sulke moeilike mense. Om egter slegs te beskuldig en te bestraf, gaan daardie mense net die harnas injaag, en vet op hulle vuur gooi. Dis immers dalk nét wat hulle wil hê! Deur egter die saak in liefde en met baie deernis te hanteer, kan jy moontlik nét daardie mense wen vir die Here. Het Paulus nie immers júís die uitnemendheid van die liefde so besing in hoofstuk 13 nie? Hier sien ons hoe hy dit prakties toepas in sy eie lewe, en met hoeveel liefde en deernis hy daardie afvallige gemeente hanteer. Wat ‘n pragtige voorbeeld vir my en jou om na te volg.

Maar dit is nie net in die hantering van ‘n gemeente wat jy iemand met sulke liefde hanteer nie. Dit werk ewe goed op persoonlike vlak. Gaan probeer dit gerus uit op iemand wat moeilik, ongeskik en skuins-dwars is met jou. Jy sal baie gou agterkom dat daar wonderwerke besig is om te gebeur! Die voorwaarde is egter dat daardie “liefde” van jou nie bloot aangeplakte toneelspel moet wees nie, maar waarlik ongeveins diep uit jou hart uit kom.

Paulus pleit nou by die gemeente om tog vir Stefanus en sy huisgesin te erken as leiers in die gemeente. Hierdie man is bereid om tot diens van die gemeente te wees, maar as hy nie aanvaar word nie, is dit tevergeefs. Met aanvaarding kan hy ‘n groot verskil maak in die gemeente. Mense soos Stefanus behoort erkentlikheid te ontvang.

Hoe dikwels sien ons nie, dat ‘n leraar, wat bereid is om absoluut alles te gee vir ‘n gemeente, groot kritiek moet verduur van sommige lidmate. Ek het dit al baie male beleef, dat daardie arme leraar net eenvoudig niks reg kan doen in hulle oë nie. Gee hom die nodige ondersteuning en erkentlikheid, en maak sy werk vir hom ‘n plesier. Dan sal hy blom, en waarskynlik nog ‘n baie beter diens lewer in die gemeente. Natuurlik geld dit ook vir enige gemeenteleier.

In die paar slotsinne van Paulus se brief, dra hy groete oor van ander gemeentes en van bekende persone, soos Akwilla en Priscilla. Hulle het vroeër ook in Korinte gewoon. Hulle het destyds daarheen gevlug toe die Jode uit Rome verban is, maar nou het hulle hulle in Efese kom vestig. Later het hulle weer sendingwerk gedoen in Rome. Met hierdie groete wil Paulus op ‘n baie subtiele manier vir die gemeente in Korinte laat verstaan dat hulle nie maar ‘n alleenstaande gemeente is nie, maar dat hulle deel is van ‘n baie uitgebreide groter organisasie, die gelowiges van regoor die wêreld. Hulle moet inpas in hierdie groter gemeenskap, en deel wees daarvan. So is dit natuurlik vandag nog steeds. Géén gemeente is ‘n losstaande struktuur nie! Jy is in die eerste plek natuurlik deel van die groter organisasie van jou eie denominasie, maar ook van al die ander denominasies. As gelowiges is ons almal deel van God se uitgebreide gesin, maak nie saak watter kerk jy aan behoort nie. En so moet ons in liefde teenoor mekaar reageer. Ons moet mekaar ondersteun en onderskraag en dra in die gebed.

Ten slotte skryf Paulus self met sy eie bewerige hand die laaste sinne: “Maranata - kom Here!” Hy sug sy verwagting uit op JESUS se koms. En dan bevestig hy sy liefde vir hulle: “My liefde is by julle almal in Christus JESUS.”

Gebed:

Dankie Here, vir hierdie inspirerende en opbouende brief van Paulus, en dat dit ook op my lewe ‘n invloed kan hê.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Hosanna, Hosanna!
25 April, 2024
Nasaret Verwerp Jesus
24 April, 2024
Jesus se Doop
23 April, 2024
Géén Plek vir Jesus
22 April, 2024
Vergifnis
19 April, 2024